blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: ’n Ander blik op die inheemse 2008-02-12
Dominique Godrèche

*Joernalis. Vertaal deur André Crous, [email protected]

Verlede Junie in Montreal het die Emile Gamelin-plein gasheer gespeel vir die ongewone vertoning van ’n versameling Indiaanse hutte tussen kolossale moderne konstruksies, ’n verrassende toneel van ’n Amerindiaanse eiland in die hart van die stad. “Ons het ons ingerig in die denkbeeldige landskap van die hede,” verklaar André Dudemaine, stigter van die fees getiteld Présence Autochtone. (1) Hierdie fees van film, literatuur, musiek en dans, georganiseer deur die vereniging Terres en Vue, verenig jaarliks die stamme van Kanada, waarvan die werk oor ’n tydperk van tien dae uitgestal word in museums, filmoteke en biblioteke.

Die president van die vereniging, Alanis Obosamwim, ’n Abenaki regisseur wat die Amerindiaanse filmbedryf versinnebeeld – die Museum of Modern Art (MoMA) in New York sal in Mei ’n terugblik op haar werk hê – het haar tevredenheid uitspreek: “Sewentien kulturele instellings het hulle oopgestel vir inboorlinge wat hulleself met video en kuns wil opbou. Wat ons beleef, is revolusionêr! Aan die begin was dit so moeilik vir die organiseerders van die fees: hulle moes mure verskuif!”

Met die Imagine Native-filmfees in Toronto en Montreal se Présence Autochtone het die onsigbaarheid van die sogenaamde Eerste Nasies en die vernedering wat ’n generasie inboorlinge verduur het in “residensiële skole” en “Indiaanse losieshuise” – koshuise waar jongmense, weggestuur onder dwang, van hulle families afgesny is, van hul taal en hul kultuur vervreem is en soms die slagoffers van seksuele mishandeling was – in vertonings verander wat hulle identiteit bevestig, danksy film en gemeenskapsmedia.

APTN (Aboriginal Peoples Television Network), die inheemse televisiekanaal in Kanada wat in 1999 gevorm is, neem aktief deel aan hierdie proses, met ’n televisierooster van Amerindiaanse programme sewe dae ’n week, vier-en-twintig uur ’n dag. “APTN verteenwoordig ’n stryd vir die kulturele en linguistiese oorlewing van die Eerste Nasies,” verduidelik die direkteur, Jean Larose. “Daar word gepoog om weg te doen met die negatiewe en stereotipiese beeld van “die primitiewes”. Vandag word ons nog steeds beskou as dronklappe wat bedel vir welsyn. Met APTN word die Kanadese daarvan bewus gemaak dat dit wat hulle geleer het, niks met die werklikheid gemeen het nie. Dit is die geval met die “residensiële skole” of die “Indiaanse losieshuise”, waar ’n strategie van assimilasie geïmplementeer is waarvan hulle niks geweet het nie. Ons het uitsendings gedoen oor hierdie onderwerp, en dit help om die slagoffers te genees.”

Hierdie dors na erkenning kom ook na vore in die geesdrif van die jong inboorlinge vir die Wapikoni mobile – ’n woonwa wat omskep is in ’n video-ateljee – die eerste inheemse oudiovisuele produksiekoöperasie wat vertonings regoor Quebec organiseer. Dit was tydens die verfilming van l’Armée de l’ombre in 2004, met jong agtergeblewe Amerindiane, dat die regisseur Manon Barbeau besluit het om omgewings te skep waar debat vir almal oop sou wees.

Die filmfees in Toronto, Imagine Native, en die Montrealfees (die enigste een wat multidissiplinêr van aard is) is twee hoogtepunte van die Amerindiaanse jaar in Kanada, maar die feeste in Vancouver en Winnipeg, wat kleiner is, laat ook die verspreiding van plaaslike produksies toe. “Die kaalvoet video-regisseurs maak meer en meer gemeenskapsvideos,” verduidelik Dudemaine. “In sommige areas is die hoofdoel om hulle werklikheid te deel met hul stamgenote, of om te skakel met gemeenskappe wat verder verwyder is.”

Zacharias Kunuk, die regisseur van die Inuitfilm Atanarjuat (“Die Vinnige Man”), die eerste vollengte film in die Inuktituttaal en wenner van die Goue Kamera by Cannes in 2001, werk vanaf Igloolik, waar hy die produksiemaatskappy Isuma (« Om te dink ») bestuur. Vir hom bly taal die grootste probleem: “In Kanada, waar Frans en Engels die twee amptelike tale is, bestaan ons, die Inuit, nie. Tog wil ons programme in Inuit hê, want die Inuits druk hulleself nie in Engels uit nie. Dit is hoekom ek kies om in Inuktitut te werk: die karakters praat! Ons geskiedenis is mondeling; niks is in 4 000 jaar neergeskryf nie, en ons praat maar net die afgelope sestig jaar Engels. Ons produksies in Inuktitut stel ons in staat om uiteindelik onsself uit te beeld soos ons werklik is. Ons is moeg vir Hollywood-akteurs wat ons rolle vat en ons hoegenaamd nie weerspieël nie! Ons films verkondig ons identiteit. Ons ganse gemeenskap is daarin teenwoordig, oud en jonk … En ons akteurs is nie professioneel nie, daarom wou niemand aanvanklik Atanarjuat ondersteun nie!”

Militante films het die transversale taal geword van bevolkings wat lank verskrik, stom en woedend was en wat vanuit hul onderskeie oorde van hulle laat hoor. Só getuig Alanis Obomsawim, wat Kanehsatake, 270 ans de résistance in 1990 gedurende die 70 dae van die Oka-krisis verfilm het en fokus op die stryd van die Mohikane teen die oprigting van ’n gholfbaan op hul grond. In Réparation, wat by die fees in Montreal vertoon is, kyk Anne Marie Reynaud na die wonde van kinders wat in die “Indiaanse losieshuise” geskool is, mishandel en beledig is deur die gelowiges: “Red die mens, maak dood die Indiaan,” sê een van hulle ironies. Want dit is as ’n identiteitsmoord dat die inboorlinge hierdie “opvoedkundige” beproewing van kind tot jongmens beleef het.

Jamie, ’n Algonkin van ongeveer veertig jaar wat in 1969 op die ouderdom van vyf by die Oblate skoolgegaan het tot op die ouderdom van nege, onthou: “Die polisie het my geneem na die residensiële skool, waar ek met my aankoms gewas is met bleikmiddel en ’n militêre haarstyl gekry het: ek moes my lokke sien val ... elke keer wat Algonkin by my mond uitgekom het, het die priester my geslaan. Dieselfde priester het my kamermaat, ses jaar oud, gemolesteer. Ons is werk van derderangse burgers geleer. Hierdie herinneringe sal nooit verdwyn nie. Op sestien was ek woedend vir enigiemand wat wit was ... Ek kon myself nie meer losmaak van die spoke van die koshuis nie. Vir die meerderheid van die inboorlinge is die intergeslagsgevolge van hierdie ontberinge onherstelbaar.”

Bo en behalwe die kulturele en feitelike dimensie, bring die filmproduksies ’n terapeutiese dinamika teweeg: vir die gemeenskappe wat in stilte toegesluit is, word die visuele beitel didakties en bevrydend en bemiddel dit ’n onuitdrukbare werklikheid. Dit verbreek die slagofferstatus en verlig die trauma van herinnering. Vandag voer die inboorlinge die stryd met ’n kamera in die hand.

Die impak van oudiovisuele skeppings in die Amerindiaanse gemeenskappe dra by tot die ontwikkeling van APTN se programme, aangevra deur die inheemse bevolkings van Australië, Japan en Suid-Amerika. Larose het ons meegedeel: “Sommiges het reeds hul eie kanaal – soos die Maori’s – maar APTN is uniek, en so ook die versameling van groepe wat met ons kom praat oor die stigting van hul eie televisiekanale.” Die kanaal se programme in tale van die Eerste Nasies het ’n duidelik didaktiese funksie. Alexis Wawanoloath, ’n jong afgevaardigde van Oos-Abitibi by die nasionale vergadering in Quebec, spreek egter sy kommer uit: “ Oor vyftig jaar sal uit die elf inheemse nasies slegs die Cri en die Inuit se tale nog bestaan. Die stadsjeug is geakkultureer, vandaar die belangrikheid van gemeenskapsmedia, die Wapikoni mobile en die inheemse vriendskapsentrums: met ’n pa van Quebec en ’n ma wat Abenaki is, het ek in een van hierdie sentrums ’n deel van myself ontdek en polities bewus geword.”

Geleë in die stede, dien hierdie inheemse vriendskapsentrums as identiteitsbakens en kulturele skakels vir die jeug in ’n stedelike omgewing. Dit is daar waar Nina, ’n Inuit van die Noordelike gebiede wat uit haar familie geneem en in Montreal aangeneem is, weer haar familie opgespoor het: “Ek was baie gelukkig, want die Inuits vind nie dikwels weer hul families nie. En met rede: die maatskaplike dienswerkers is nie lus om ons dossiere oop te maak nie.” Nina het die proses van akkulturasie moeilik gevind: “Ons het onsself bevind in ’n nie-Indiaanse wêreld, waar ons geskiedenis verborge was: ons het nie geweet wie ons is nie, selfs al weet ons ons is Inuit. Dit was eers by my kontak met die oudstes dat ek my werklikheid kon integreer. Dit is waarom ons tien jaar gelede ’n vereniging op die been gebring het wat aangenome inboorlinge ondersteun, omdat ons almal dieselfde identiteitskrisisse deurmaak.”

Teenoor ’n landskap wat histories bevlek is deur gedwonge aannemings, “residensiële skole”, boelies en vernedering, en deur die ontkenning van sigself wat in onderdrukkende stelsels vereis is, swaai die inheemse mense van Kanada vandag kulturele wapens wat hulle waardigheid herstel en ’n stem gee om oor te dra aan toekomstige generasies.

Die president van die vereniging Terres en Vue, Alanis Obomsawim, wat ook sangeres, verteller, skrywer van ongeveer dertig films en bedrywige regisseur is, (2) beliggaam dié stryd: “Ons het oorgegaan van ’n tydperk waar ons nie die reg had om ons taal te praat nie na een waar ons daarin onderrig. En ons het die enorme mag van beelde begryp: vandag, danksy films, praat ons ons taal en doen ons mee aan die vernuwing van ons tradisies. Ons kyk films op soek na onsself. Maar die geveg duur voort, want dit is onmoontlik om ’n lewe te bou sonder geskiedenis en tradisie. Dit is deur middel van ’n vertoning van geskiedenis dat genesing kan begin.”

_____________

(1) Die sewentiende Présence Autochtone-fees het in Montreal plaasgevind tussen 10 en 21 Junie 2007. Nativelynx.qc.ca.

(2) Onder meer van Waban Aki, Pluie de pierres à Whiskey Trench, Je m’appelle Kahentiiosta, la Maison Poundmaker en la Voie de la Guérison.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=996
Artikel nagegaan:
    -