blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Om na die kosmos te luister 2008-02-12

Die Vrye Afrikaan gesels met Francois Bredenkamp oor sy Afrikaanse vertaling van Marcus Aurelius se Meditasies.

Die Vrye Afrikaan: Waarom het jy hierdie vertaling gedoen?

Francois Bredenkamp: Toe ek jare gelede nog by die ou Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, in die destydse Afdeling vir Politieke & Grondwetlike Studies, gewerk en dag vir dag met die keiharde werklikhede van die naderende politieke oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika te doene gekry het, het ek op ’n bepaalde oomblik besef dat die wêreld van groter omvang as bloot die politieke dimensie was. ’n Mens moes te midde van die relativering van feitlik al jou selfgekoesterde waardes gaan soek na ’n nuwe bron van oorspronklike idees wat jou wankelende waardes in ’n nuwe lig kon stel. Ek het onlangs in Jacques Barzun se interessante geskiedenis van die Westerse kultuurlewe (From Dawn to Decadence, HarperCollins, 2001) gelees dat die voortgesette ywer, in die Renaissance-tydperk, in die volke van die antieke oudheid aangewakker is deur hul aanvoeling dat die oorgeërfde 16de eeuse kultuur in ’n proses van oplossing vasgevang was en dat die antieke kultuur met sy letterkunde, filosofie en kunste ’n skatkamer van idees en gesindhede verteenwoordig het waarmee oplossing gestuit en omgekeer kon word. Dienooreenkomstig het my vertalingsarbeid in ’n soortgelyke proses dus die kleur van ’n “besig-wees-met-hoëre-dinge” aangeneem en troos gebied in daardie omgewing waarin almal besig was om van ’n hele lewenswyse afskeid te neem.

Dit was ook nodig om altyd maar my kennis van Grieks skerp te hou en dit voortdurend deur oefening te slyp – so ’n projek het hierdie konkrete moontlikheid gebied. Twintig jaar tevore het ek tydens my Honneursjaar vlugtig met Marcus kennis gemaak; die werk het ’n diepe indruk op my gelaat en ek was altyd van voorneme om die werk later volledig in Afrikaans die lig te laat sien. Die werk het dus nog altyd veel vir myself te sê gehad. Só het die geleentheid homself dan aangemeld en het ek daarmee weggespring.

DVA:Wat sê Marcus Aurelius se Meditasies vandag vir die Afrikaanse wêreld?

FB: ’n Komplekse vraag, wat ’n komplekse antwoord benodig! Die werk sê steeds vandag duidelik dat die mens binne hom- of haarself ’n vaste burg van redelikheid en van ewige waardes moet ontdek. Geoefende konsentrasie (dus: meditasie) kan hom daarmee in aanraking bring en hom bystaan om alle aanslae van die lewe die hoof te bied. Die mens word deur oefening bewus van sy integrasie met die totale werklikheid, met sy gemeenskap en met sy medemens, en verkry volledige rustigheid en versoening met die gedagte aan sy naderende dood.

Ek meen dat Marcus se Meditasies spesifiek vir Afrikaners die boodskap inhou dat hulle tot ’n bepaalde gemeenskap behoort, een wat hulle met oorgawe moet dien. Hulle moet ook weet dat alle ander mense (en gemeenskappe) dieselfde menswaardigheid en vermoëns as hulself deelagtig is, en dat hulle daarom alle ander mense as hul gelyke moet behandel en ag. Dit beteken egter nie dat hulle nooit in ’n staat van vyandskap of stryd teenoor ander persone of groepe mag verkeer nie, maar wel dat hulle op ’n natuurlike etiek moet staatmaak in hul omgang met andere. Marcus se Stoïsisme beklemtoon dat die mens en sy groepsbelange, trouens die belange van die hele wêreld, geïntegreer is. Die mens, en daarmee Afrikaners, staan onder die verpligting om noukeurig vir en na die stem van die kosmos te luister en in harmonie daarmee te leef.

DVA: Daar word dikwels parallelle getrek tussen die era van die einde van die Romeinse Ryk, met Rome wat in 476 val, en ons era. Hoe sien jy die ooreenkomste en verskille tussen die twee eras?

FB: Ek meen dat hierdie vraag taamlik ‘gelaai’ is, enersyds met die onderliggende veronderstelling (een wat sover terug as die Viktoriaanse tydperk teruggespoor kan word) dat die magtige Romeinse Ryk merendeels as gevolg van ’n diepe en voortslepende morele krisis tot sy val gekom het, en andersyds dat die wêreld vandag in ’n soortgelyke situasie van morele verval verkeer, ’n situasie wat in ons dag deur die groot moondheid van die Verenigde State van Amerika teweeg gebring is. Ekonomiese en politiese globalisering en militêre intervensie in die Midde-Ooste het ’n krisissituasie geskep, ’n verval, dus, van politieke moraliteit wat voor die deur van Amerikaanse ekspanionisme gelê word en wat die vraag laat ontstaan of die VSA, soos Rome, op die punt van ’n val staan. ’n Waargenome diep morele onreg word deur talle (vooraanstaande) kommentatore vandag as die voorspel tot dekadensie en val beleef.

Terwyl ek nie myself enigsins as goed ingelig oor hierdie saak sou beskryf nie, val dit my egter op dat die VSA glad nie goedskiks teen Rome en die destydse antieke wêreld opgeweeg moet word nie. Na my mening het Rome oor ’n besonder uitgestrekte gebied die bewind gevoer waarbinne die kommunikasiekanale, vergeleke met die hedendaagse, besonder tengerig en heel stadig was; die Romeinse regering was imperiaal-outokraties en, is teen die vierde en vyfde eeue gekonfronteer deur ’n menigte verowerde volkere wat besig was om hulleself te emansipeer. Die grootskeepse bekering van die bevolking na die Christendom het die verbrokkeling van die Ryk aangehelp deurdat dit die tradisioneel verenigende keiserkultus afgeskaf het en die Ryk in alternatiewe administratiewe- en regeringsgebiede verdeel het.

Die VSA, daarenteen, beskik oor ’n heg geïntegreerde en afgeslote moederland – feitlik buite die bereik van sy vyande met ontsaglike bates, waarvan sy groot, wel-opgeleide bevolking waarskynlik die grootste is. Dit is geen toeval nie dat die VSA aan die voorpunt staan van alle ontwikkelinge in die kommunikasie- en inligtingsbedrywe en op die gebiede van die wetenskap en die tegnologie. Ontwikkelinge in die Amerikaanse ekonomie bepaal die gang van die wêreldekonomie, en die land beskik oor waarskynlik die enkele mees gesofistikeerde politieke sisteem ter wêreld.

Ek glo nie dat die VSA teen dieselfde tempo en om dieselfde redes as Rome sal verbrokkel nie. Die VSA vertoon myns insiens groter ooreenkomste met die Atheense Ryk, wat ’n opkoms van sowat tweehonderd jaar beleef het en na sy verliese in die sogenaamde Peloponnesiese Oorlog met Sparta en haar bondgenote ’n lang en geleidelike afname in invloed ervaar het, maar vir eeue daarna steeds ’n vername, selfs toonaangewende rol, in die polities-kulturele konteks van die antieke oudheid gespeel het. Maar dis ’n ander ondewerp van bespreking.

DVA: Marcus Aurelius se keiserskap gaan natuurlik die val van Rome met sowat 300 jaar vooraf. Watter ooreenkomste en verskille sien jy tussen sy era en ons s’n?

FB:Verskeie belangrike studies (Dodds, Perkins, Newman en Grant) het daarop gewys dat Marcus se Meditasies hul ontstaan in ’n tyd van geweldige persoonlike angsvalligheid en soeke na eksistensiële sinrykheid gehad het. Vandaar ook die skouspelagtige opkoms van die Christendom in daardie tyd. Mense het dit nodig gevoel om as individue na die ware sin van hulle bestaan te soek. Ek bespreek juis hierdie element in ’n nuwe artikel wat tans by die Tydskrif vir die Geesteswetenskappe dien vir plasing en waarskynlik in hierdie jaar nog die lig gaan sien.

Hierdie soeke is myns insiens ook duidelik sigbaar in ons eie tyd. Die opkoms van die post-modernisme het alle waardes in die doofpot geplaas en mense genoop om hulself te verantwoord ten opsigte van hul eie bestaan en die waardes wat hulle najaag. My eie ervaringe in hierdie verband kan moontlik as verwysing dien. Die Meditasies – en dis volledig akkommodeerbaar binne die Christendom en sy eie volwaardige gebeds- en meditatiewe tradisie – spoor ons aan om aktief na onsself op soek te gaan, ons in fyne harmonie met die kosmos en ons naaste te begeef en om ons volwaardige rol in hierdie een lewe te speel.

DVA: Hoewel die Romeinse republiek vir die Afrikaners van die 19de eeu as inspirasie gedien het, byvoorbeeld baie eksplisiet met die stigting en uitleg van Pretoria, is Afrikaners oënskynlik minder vertroud met die gedagte van die ryk. Wat dink jy kan Afrikaners uit die Romeinse en selfs ander klassieke ryke toepas in die soeke na ’n nuwe politieke toekoms? En wat leer die klassieke ryke vir Afrikaners oor die harmonieuse saambestaan met ander gemeenskappe?

FB: Imperiale denke was natuurlik aan die orde binne die Britse denke wat Suid-Afrika vir ruim honderd-en-vyftig jaar lank beheer het. Die Transvaalse en Vrystaatse Republieke het eerder teruggeloop op die tradisies van die Romeinse Republiek (Cicero) en die Amerikaanse en Franse Republieke van die agtiende en negentiende eeu. Afrikaners kan vandag steeds baie leer uit daardie Europese tradisies, en ’n mens let met kommer op dat hierdie tradisies vandag feitlik uit ons politieke woordeskat en onderwyskurrikula verdwyn het. Ons sal eenvoudig na weë moet soek om alle Afrikaners, jonk en oud, ‘breedvoerig hieromtrent te onderrig’. As ’n mens na die geskiedenis van alle periodes kyk, besef jy dat die vreedsame naasbestaan van groepe altoos maar ’n tameletjie vir die mensdom was. Die groot aangeleenthede waarmee ons as Suid-Afrikaners en Afrikaners worstel – fundamentele klowe tussen groepe ten opsigte van ontwikkeling, onderwys, besit, verdienste, kultuur, belange – was nog altyd endemies aan die mensdom. Dit het nog altyd ruim verdraagsaamheid en vernuftige praktyk geverg om met persone van ander groepe saam te leef.

DVA: Aurelius het sy Meditasies geskryf in dieselfde Griekse dialek (“koine-” of ‘algemene’ Grieks) waarin groot dele van die Nuwe Testament ook geskryf is. Watter spesifieke uitdagings en interessanthede het die vertaling na Afrikaans vir jou opgelewer?

FB: Ek meen nie dat die Meditasies in die Koine-dialek geskryf is nie, maar wel in die meer intellektuele “Attiserende” dialek van Grieks wat opgang binne filosofiese en teologiese kringe gemaak het. Teenoor die Koine, wat as’t ware ’n monument vir die gesproke taal was (Browning), het geleerde Grieke en Romeine ’n meer verhewe taalvorm nagestreef, en dis baie duidelik dat Marcus se Griekse leermeesters ’n waardiger vorm van Grieks by hom ingeprent het.

Die vertaling het ’n ruime aantal jare geduur om te voltooi: die teks is driemaal oorgedoen, die tweede maal om die nuwe insigte wat uit die nuwe Teubner-teksuitgawe van Dalfen voortgekom het, te integreer en die derde (en vierde en vyfde!) maal om die vertaling skaflike Afrikaans te laat praat. Ek was bevoorreg om Martjie Bosman van Protea as uitgewer te hê. Sy het met ’n groot mate van takt, uiterste geduld en met die filoloog se respek vir die teks en liefde vir ons eie taal Marcus help Afrikaans praat.

Marcus Aurelius se Meditasies is beslis nie ’n ‘maklike’ teks om in Afrikaans te vertaal nie. Die teksoorlewering bied ’n aantal probleme, Marcus se styl is idiosinkraties (dikwels aforisties en wemelend van tegniese terminologie ontleen aan die Stoïsisme) en ’n mens moet jou trap ken tussen die slaggate van fyne filosofiese betoogtrante.

Na soveel jare van werk aan hierdie vertaling, staan ek steeds verwonderd oor die gesofistikeerdheid van Marcus se teks, sy diepe menslikheid, sy nederigheid voor sy lewenstaak as Romeinse keiser en veldheer, sy bereidwilligheid om sy volk op alle terreine pligsgetrou te dien en die standvastigheid waarmee hy hierdie moelike gedagtes dag vir dag bly neerpen en beoefen het.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=997
Artikel nagegaan:
    -