Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Rock-rubriek: Johnny Cash: Skadus oor die skouer | 2008-02-12 | |
|
Shiloh Noone
|
* Skrywer van die rock-ensiklopedie Seeker’s Guide to the Rhythms of Yesteryear,
[email protected]
Die country-snykant van die 1960’s was duidelik verdeel tussen die sieklike Pat Boone-kring en rebelse, kitaarsnaarplukkende plaasseuns. Die oortuigende Johnny Cash, wat sterk daarop gefokus het om vermaak te bring na die Folsom- en San Quentin-gevangenisse, word in dié verband hoog aangeslaan.
Die San Quentin-klankbaan het veel daartoe bygedra om die toenmalige gevangene Merle Haggard van misdaad weg te lei. Die album het meer as die Folsam Sessions verkoop en dit bly sy gewildste album buiten die Greatest Hits-pakket, waarvan verkope die hoogte ingeskiet het na sy dood kort na dié van sy vrou, June Carter, in 2003.
Anders as wat die mite dit wil hê, was Johnny Cash nooit in die tronk nie, maar het hy op eerbaarder wyse die harde pad gestap, synde gebore in ’n arm gesin tydens die Depressie in Arkansas, waar hy die grootste deel van sy kinderjare in ’n spoorweghuisie deurgebring het.
In die beginjare het hy getoer met ’n groep genaamd die Tennessee Two, waar hy sy eerste twee treffers, “Folsom Prison Blues” en “So Doggone Lonesome”, vrygestel het. Cash het as een deel van die toerpakket van Sun Records menige vertoning vir die jong Elvis Presley geopen.
Teen 1956 het Cash die pas verlangsaam met sy selfgekomponeerde “I Walk the Line”, wat vir 44 weke op die treffersparades was – en ’n groot deel van Presley se vinnige-tempo mark gesteel het. Toe Johnny “I Walk the Line” vrygestel het, was die boodskap duidelik en beslis: ‘Ek kan dit self doen’. Hierdie waterskeidende treffer het die toekoms uitgespel vir diegene wat te swaar op liedjieskrywers staatgemaak het. Dit was Cash se tweede album wat goue status verwerf het, selfs al was dit heropnames van ou Sun- sessies soos “Hey Porter”, “Big River”, “Give My Love To Rose”, “Wreck Of The Old 97” en “I Walk The Line”.
Johnny Cash het sy ritmiese boem-boem styl ontwikkel via die leiding van Luther Perkins en die baskitaarspeler, Marshall Grant. Dit was Cash wat Carl Perkins oorreed het om die skryf van “Blue Suede Shoes” te voltooi.
Die Cash-repertorium is beslissend opgehelder deur ’n verskeidenheid cowboys, by name Charlie Rich se “Don’t Take Your Guns to Town” en Jerry Lee Lewis se “The Ballad of Billy Joe”. Emmylou Harris en Flatt & Scruggs het sy bekendste komposisies heropgeneem.
Johnny Cash het in 1958 aangesluit by Columbia Records, na sy swanesang by Sun – Johnny Cash with His Hot and Blue Guitar. Ironies had Elvis se tussentydse vervaardiger Sam Phillips min geloof in die toekoms van die donker Cash.
Die koperensemble Blood, Sweat & Tears het hulle naam ontleen aan Johnny se 1963-album Blood, Sweat & Tears, terwyl Bob Dylan sy aweregse Cash- duet “Girl from the North Country” op sy Nashville Skyline album ingesluit het. In ruil daarvoor het Dylan vir Cash die onvrygestelde “Wanted Man” gegee. Dit is nog meer ironies dat Johnny Cash sy eerste Britse treffer in 1965 behaal het met Dylan se “It Ain’t Me Babe”.
Heelwat van Johnny se lewe en krag is te danke aan die treffende skoonheid en liedjieskrywery van June Carter, wie se “Ring of Fire” in 1968 ’n Engelse hupstoot van Eric Burdon op die album Love Is gekry het. Frank Zappa het dit ook opgeneem. Johnny Cash & June Carter het ook “Jackson” van Bill Wheeler uitgedra – laasgenoemde skrywer beroemd vir die hippieballade “High Flying Bird”. Die vercountryde, hoëriff “Jackson” het later lewendig geword met Lee Hazlewood & Nancy Sinatra.
Cash met sy ruwe, hoekige gesig, hol basstem en altyd in swart geklee het nooit gefaal om die skares te verras met die mees byderwetse nommers, soos die Rolling Stones se “No Expectations”, John Prine se “Unwed Fathers”, Bruce Springsteen se “Highway Patrolman” nie. Tog was roots-musiek altyd Johnny se ruggraat, by name Jimmy Davis se “You Are My Sunshine” en Jean Ritchie se “The L&N Don’t Stop Here Anymore”. Nie sleg vir iemand wat meer as 70 albums met oorspronklike materiaal vrygestel het nie. In die jaar 2003 het Johnny met sy swart ros gery na daardie sonsondergang wat hom al die vorige drie jaar geroep het. Cash was die eensame soldaat wat op die frontlinie gestaan en sy skaduwee gewerp het oor gedagtes wat verberg gelê het in die uithoeke van ’n man se gees.
In ’n spookagtige grafskrif het Johnny hom aangesluit by die oorlede Joe Strummer van The Clash vir ’n duet van Bob Marley se “Redemption Song” kort voor albei se dood. Albei het aan kanker gesterf, maar nie van mekaar se siekte geweet nie. Hierdie klassieke lied, gekanoniseer deur Manfred Mann, kan gevind word op die Johnny Cash boksstel getitel Unearthed.
In die laaste dae het Johnny ’n ongelooflike kruin in verkope en gewildheid bereik, met hartlike ontvangs by feeste dwarsdeur Europa en die Verenigde Koninkryk. Uitstaande weergawes van Neil Diamond se “Solitary Man”, Cat Stevens se “Father & Son”, Norman Blake se “Chattanooga Sugar Babe” en Hartford se “Gentle On My Mind” met Glen Campbell het op die boksstel voorgekom. Cash se nalatenskap is oplaas na die silwerdoek in die Grammy-bekroonde I Walk The Line, waarin River Phoenix se broer, Jacquin, uitstaande toneelspel en sang gelewer het.
Sowat drie jaar gelede het ek deur die strate van Camden Down Street Market in Shepard’s Bush, Londen gedrentel. Minstens tien van die stalletjies waar ek verby is, had Johnny Cash op hulle luidsprekers. Soos ek die einde van die mark genader het, het ek ’n baie byderwetse vrou met pers hare, ’n swart fluweelrok en ’n groot kruis om haar nek gevra, “Wat is die storie met al hierdie musiek van Cash?”. Sy het na my gekyk en gesê, “O Vader, Johnny is soos in die oupa van Gothic; hy’s die man in swart.” “Mmm, dit ís hy,” het ek geantwoord en in die stinkende moltreinstelsel met ’n glimlag op my gesig verdwyn ...
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=994