Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Le Monde diplomatique: TV sonder advertensies? | 2008-02-12 | |
|
Marie Bénilde
|
* Joernalis en skrywer van On achète bien les cerveaux: La publicité et les médias, Parys: Raisons d’agir, 2007.
Frankryk moet in die tyd van ’n baie vreemde republiek leef wanneer hy toekyk hoe die liberale regtervleuel homself aanstel as die vaandeldraer van ’n openbare diens wat van sy “suiwer kommersiële kriteria” verlos is. Of as die sosialistiese parlementslid, Arnaud Montebourg, verontwaardig vra “Van wanneer af is reklame gelykstaande aan swak gehalte?” (1). Of as die Rewolusionêre Kommunistiese Liga (LCR) hom haas tot die redding van die reklamefinansiering van France Télevisions in die naam van die “versmoring” van die groep openbare TV-kanale wat sy sluiting sal meebring (2).
Sodanige verwarring van verwysingspunte is die handewerk van die Franse president, mnr. Nicolas Sarkozy. Hy het almal op 8 Januarie tydens sy nuwejaarsmediakonferensie verras met sy aankondiging dat hy oorweging wil skenk aan die algehele skrapping van reklame op openbare TV, en hierdie “kulturele omwenteling” deel wil maak van sy “politieke beleid van beskawing” soos ontleen aan die sosioloog, Edgar Morin.
Die wyse waarop hierdie aankondiging oënskynlik geïmproviseer is, is sprekend van mag wat hoogs persoonlik hanteer word: nóg die Franse premier, François Fillon, nóg die Franse minister van kultuur verantwoordelik vir openbare TV, nóg die president van France Télévisions, Patrick de Carolis is vooraf daaroor ingelig. Slegs enkelelinge naby aan Sarkozy is ingelig: die president se hooftoespraakskrywer, mnr. Henri Guaino, asook die nyweraar Vincent Bolloré se raadgewer, mnr. Alain Minc, wat blykbaar die idee aan die President voorgestel het.
Watter verdediger van die openbare diens het nie al gedroom van TV bevry van sy kommersiële juk nie, wat nie net sy programme nie, maar ook sy programbeleid bepaal? France Télévisions ontvang 30 % van sy bronne uit reklame, oftewel 830 miljoen euro (sowat 8,3 miljard rand) uit ’n totale begroting van 2,8 miljard euro (sowat 28 miljard rand). Ofskoon reklame nie kultuurprogramme op kanale uitgelewer aan die beperkings van kykergetalle as sodanig uitskakel nie, word sulke programme egter laat uitgesaai. Ook word die programroosters opgestel met die doel om adverteerders te lok na gleuwe met groot kykersgetalle.
As gevolg van die mark georganiseer rondom die grootste Franse TV-kanaal, TF1, verdeel die mark in segmente: “tuisteskeppers jonger as vyftig”, werknemers in die hoër, professionele inkomstegroepe en huishoudings met kinders. Met ander woorde, groot openbare TV-kanale se afhanklikheid van reklame moedig hulle bestuur aan om ander, armer segmente van die bevolking te ignoreer, soos werkloses, bejaardes, jong volwassenes sonder inkomste, of huishoudings wat op ’n minimumsalaris leef.
Nog meer as die aantal kykers, is dit die strewe na ’n “nuttige” gehoor wat tel in die najaag van reklameteikens wat bepalend is vir die balansering van ’n brose begroting waarin TV-lisensie-inkomste bly krimp. Hierdie toertjie word uitgevoer teen die prys van die standaardisering van programme en dus ’n vermindering van die demokratiese ruimtes op die kassie.
Hierdie ekonomiese vergelyking lei ook tot al minder kreatiewe risikoneming, selfs al gee mnr. de Carolis tekens van welwillendheid deur die finansiering van ’n gehaltereeks gebaseer op de Maupassant se kortverhale, of deur teater- of opera- uitsendings een keer per maand.
In die strop van verskerpte mededinging vasgevang, wat feitlik uitsluitlik deur advertensieinkomste gefinansier word, het die groot openbare kanale hulle gewend tot die vervaardiging van kloonprogramme, wat dieselfde resep as private kanale volg vir aanbieders en programme – werklikheidsprogramme uitgesluit – met die uitsluitlike doel om te kan meeding in die mark van adverteerders. “Paradoksaal,” skryf die navorser Nathalie Sonnac, “lei meer mededinging tot ’n kleiner verskeidenheid in aanbod. So kan reklamefinansiering die verskeidenheid van media-inhoud benadeel deur die aanmoediging wat dit soms skep om inhoud te dupliseer (3).”
Mnr. de Carolis het dus rede om vandag die President se onderneming vir “uitklaring” te verwelkom, selfs al het hy self enkele maande gelede gevra vir ’n reklamebesnoeiing ten einde die “redaksionele skuif” van sy groep te finansier. Maar kan ’n deugsame diskoers of ’n verklaring van voorneme geskei word van die omstandighede waarin dit uitgespreek word?
Die staatshoof se posisie het verwarring gesaai onder die verdedigers van die openbare diens, wat al die hoop laat vaar het dat die linkervleuel ’n hervorming sou takel wat so verbode is dat die voormalige sosialistiese premier, Michel Rocard, meer as twintig jaar gewag het om te onthul dat hy dit sonder welslae aan die eertydse president, François Mitterrand, voorgestel het (4). Maar in die gemoed van mnr. Nicolas Sarkozy, die hoof van ’n media-clan waaraan hy ’n groot deel van sy verkiesingswelslae te danke het, is so ’n stap nie net skerpsinnig nie, maar logies.
Dit stel hom eerstens in staat om die guns terug te betaal van die land se grootste privaat kanaal, TF1, wie se aandeelhouer, die nyweraar Martin Bouygues, die aand van sy verkiesingsoorwinning saam met hom by die spogrestaurant, Fouquet’s, feesgevier het, op dieselfde oomblik wat die sjampanje gevloei het in die ateljee van die kanaal se nuusprogram (5).
Die idee om openbare TV in die toekoms te finansier deur ’n spesiale belasting te hef op private kanale en op ’n “breukpersentasie” van die inkomste van telekommunikasiemaatskappye (ingesluit Bouygues Télécom), is niks in vergelyking met die 300 miljoen euro ekstra inkomste wat TF1 sal verdien as die openbare kanale France 2 of France 3 se reklame na hom toe kom nie – ook gegewe sy 30 % verlies aan inkomste in 2007. Bowendien het die Franse regering hom daartoe verbind om vanaf die tweede helfte van Januarie die belastingnet wyer te gooi deur nie net, soos beplan, internetdiensverskaffers daarby in te sluit nie, maar ook gewilde elektroniese produkte en reklamekatalogusse.
Mnr. Laurent Solly, die voormalige adjunkdirekteur van Sarkozy se verkiesingsverldtog, wat terug is by die bestuur van TF1, het rede om tevrede te voel. Nes die nyweraars Arnaud Lagardère en Vincent Bolloré, vriende van die President, wat nie anders kan as om in hierdie herskikking manna vir hulle gratis digitale kanale te sien nie. Wat mnr. Nicolas de Tavernost, die president van die jeug- en musiekkanaal en ander groot wenner van dié nuwe reklamebedeling, M6, betref: hy ken Sarkozy al meer as twintig jaar lank as voormalige lid van sy klub Neuilly Communication.
Die President se aangekondigde hervorming pas ook aan by sekere huidige faktore. Die besluit wat op die oggend van 8 Januarie se mediakonferensie geneem is (7), gee gehoor aan die versugting om ’n “skeureffek” te veroorsaak, ’n teaterslag in ’n vertrek waar die joernalistoeskouers ook die akteurs is. Die opskudding wat dit veroorsaak het – omdat dit groot omwentelinge in die mediamark inlui – het die aandag afgelei van die verwagte temas, soos die regering se optrede met betrekking tot die koopkrag van huishoudings.
Wat maak dit dan nou saak dat die nuwe moontlikheid nie vooraf nagevors is nie, dat die aangekondigde vergoedingstappe wat kenners betref slegs op grond van mnr. Minc se allesbehalwe belangelose raad bedink is, en dat hulle selfs nie vir seker die goedkeuring van die Europese Kommissie sal wegdra nie ... (8). Die belangrike is dat mnr. Sarkozy sy stempel op die oudiovisuele kan afdruk deur terloops gebruik te maak van ’n linkse idee wat, toe dit in 1989 deur onder andere die sosioloog Pierre Bourdieu voorgestel is, as totaal vergesog beskou is.
Met die einde van reklame op France Télévisions word die hele kontrak rakende die doelwitte en middele van die openbare groep, wat nege dae voor Sarkozy se verkiesing onderteken is, oorbodig. En so kan die staatshoof mnr. de Carolis se roetekaart “van bo af” heeltemal herskryf deur te ontsnap aan die strik van staatsinmenging waarin sommige gemeen het hy besig is om te trap.
Terselfdertyd ontketen sy besluit feitelik arbeidsherstrukturering wat tot die effektiewe werkloosheid van die 317 werknemers van die reklameafdeling van France Télévisions lei. Die vakbonde van die openbare groep kondig reeds ’n “presidensiële maatskaplike ondersteuningsplan” aan en vrees dat die aangekondigde vergoedingstappe gou as onrealisties ontbloot sal word en tot die aftakeling van France Télévision sal lei – met verdere personeelafleggings.
Maar moet die privatisering van ’n openbare kanaal so erg gevrees word? Terwyl die sekretaris- generaal van die regerende UMP-party, mnr. Patrick Devedjian, blyke gegee het van die wens van “hergroeperings” of van “miskien ’n paar privatiserings van kleiner kanale”, is hy onmiddellik tot orde geroep deur Sarkozy en Fillon. In wese is ’n nuwe private kanaal ’n obsessiewe vrees van die Bouygues-groep, terwyl die oudiovisuele projekte van die regering sy belange getrou bevorder.
Waarom vra die direkteur-generaal van TF1, mnr. Nonce Paolini, vir ’n hersiening van die verhouding tussen vervaardigers en uitsaaiers, meer reklame op sy kanaal en ’n hersiening van die reëls betreffende oudiovisuele groepe se monopolieë? (9) Juis omdat dit punt vir punt die sleutelelemente van me. Christine Albanel, die minister van kultuur en kommunikasie, is.
Private groepe vra reeds lankal vir die afskaffing van reklame op openbare TV-kanale. Mnr. de Tavernost verklaar sonder omhaal: “Oor die algemeen gaan dit beter met televisie in lande waar daar minder reklame op openbare kanale is.” Wat nog oorbly, is om die reklamekapasiteit van M6 en TF1, wat tans versadig is, te herorganiseer. Die oordrag van die Europese direktief op oudiovisuele mediadienste sal dit moontlik maak deur die nuusbeperkings in spitskyktyd te verslap, of deur ’n tweede advertensiepouse in rolprente te plaas (10).
Die “uitklaring” van openbare televisie kom dus neer op ’n oorvloed reklame op privaat kanale. Met die risiko om die bestaande gaping tussen gewilde televisie met ’n groot kykerstalle en sogenaamde gehaltetelevisie vir ’n meer eksklusiewe publiek te vergroot. Die beginsel van die belasting van privaat kanale sal so ’n gaping vergroot in die mate waartoe openbare kanale indirek belang daarby sal hê om hulle kykersaandeel te gunste van privaat kanale te verminder: dit sal die sekerste manier wees om die druk af te haal van hulle begroting, wat nou afhanklik van die goeie gesondheid van kommersiële TV sal wees.
In die afwesigheid van die verbetering van lisensie-inkomste kan die paradoks voorkom van openbare televisie wat daartoe verskraal word om te kies tussen die waarborg van sy oorlewing deur sy eie isolasie (soos die Public Broadcasting Service in die VSA), en die behoud van sy kykersgetalle deur dieselfde soort programme as sy privaat mededingers te maak, soos BBC1 in Brittanje met sy werklikheidsprogramme.
Maar intussen moet die regering nog die fondse bymekaarskraap om openbare televisie se tekort te finansier. Gedagtig aan die bykomende programme wat vervaardig gaan moet word om die ekstra lugtyd te vul wat voorheen deur reklame opgeneem is, sal dit waarskynlik 1,2 miljard euro kos. Natuurlik sal dit moontlik wees deur lisensiegelde (tans 116 euro) te verhoog tot die vlak van Brittanje (183 euro) of Duitsland (204 euro), wie se openbare TV ’n hoë standaard stel.
Dit kan egter moeilik wees om so ’n stap te regverdig, aangesien so ’n vorm van ekstra belasting wat nie individuele kykers se inkomste in aanmerking neem nie, onregverdig is (11). Dit sou ’n ander kwessie wees as die verhoging eerder proporsioneel volgens individuele inkomste bepaal word. Is dit idealisties? Die voorstanders van die markwerklikhede het tot en met 8 Januarie vanjaar niks anders oor die afskaffing van reklame op openbare kanale gesê nie.
Mnr. Sarkozy sal ongetwyfeld verkies om die verbruiker op die rekenaar of die TV-stel te belas eerder as om af te sien van ’n beleid wat tot dusver die gegoedes begunstig het. En as hy die omtrek van openbare televisie moet hersien, sal hy ongetwyfeld toesien dat nog ’n geprivatiseerde kanaal in die hande van vriende beland ...
(1)Economie Matin, Parys, 21 Januarie 2008.
(2) Communiqué van LCR oorgeneem deur AFP op 11 Januarie 2008.
(3) In Le Temps des Médias, Parys, lente 2006, p.57.
(4)Oor die Sosialiste Party en TV, lees die uittreksel uit Jacques Attali se boek “François Mitterrand et la privatisation de l’audiovisuel”, Le Monde diplomatique, April 2007.
(5) Kyk Patrick Le Bel, Madame Monsieur Bonsoir, les dessous du premier JT de France, Parys: Editions Panama, 2008.
(6) Lees “M. Sarkozy déjà couronné par les oligarques des médias?”, Le Monde diplomatique, September 2006.
(7) Volgens Télérama, Parys, 16 Januarie 2008. (8) Wat mag oordeel dat die uitkering van belasting op die reklame-inkomste van privaat kanale na openbare kanale neerkom op ’n ondermyning van mededinging.
(9) Lees die onderhoud met Nance Paolini in Le Monde, Parys, 1 Desember 2007.
(10) Onderhoud met Claude Cohen in die Journal du dimanche van 20 Januarie 2008.
(11) Huishoudings vrygestel van belasting word ook hiervan vrygestel.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=993