Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Die VSA se nalatenskap | 2008-02-12 | |
|
Peter Vale
|
* Nelson Mandela Professor van Politieke Wetenskap aan Rhodes-universiteit. In die eerste maande van 2008 sal hy as Gasprofessor in Internasionale Betrekkinge aan die Macquarie-Universiteit in Sydney, Australië optree.
Naomi Klein, The Shock Doctrine. The Rise of Disaster Capitalism. London: Allen Lane, 2007.
In opvolging van die triomf van haar anti- globaliseringsboek, No Logo, het Naomi Klein haar visier gestel op die vertolking van die “post- globaliseringsmoment” – daardie arrogansie van die VSA se Neokonserwatiewes, daardie land se geslaagde betreding van eers Afghanistan en toe Irak in ’n deurlopende poging om die post-Koue Oorlogse wêreld te herskep. Die resultaat is ’n boeiende boek – ryk aan eietydse geskiedenis, sterk aan vergelykende politiekery, maar oplaas uiters neerdrukkend.
As haar aanvoeling van ons tyd suggereer dat die presidentskap van George W Bush ’n breukmoment in die VSA se plek in die wêreld verteenwoordig, vra Klein ons om te herbesin. Wat belangrik was – en nog belangriker gaan word – is die teendeel van ’n breuk, naamlik die voortsetting van die VSA se globale doelwit oor die afgelope ses dekades. Maar haar argument is nie – soos dié van soveel ander kritici van Bush en sy Neo-Con-ondersteuners – gesetel in die hoë ideale van die VSA se aanvangs- buitelandse beleid wat met Woodrow Wilson se 1917-visie vereenselwig word, om ‘die wêreld ’n veilige plek vir demokrasie te maak’ nie.
Nee, Naomi Klein begin haar ontleding by die hoogtepunt van na-oorlogse optimisme, toe daar veral in die VSA geglo is dat alle kwale besweer kan word. En sy verken ook nie die verhewe (maar knaend misplaaste) aansprake van internasionale politiek nie, maar die tegnieke van elektro-skok wat ‘geheuewissing en herskepping van die menslike gees’ behels het. In daardie stadium is disoriëntering, ontbering en herprogrammering van die maatskaplike doelwit ’n betroubare wyse geag om psigologiese patologie op te los. Teen die middel-60’s het hierdie benadering die Amerikaanse Intelligensiediens al hoe meer geboei as “nuwe” metode om inligting uit mense te onttrek – met ander woorde, deur martelmetodes. Klein wend haar tot die genealogie van Westerse marteling, wat briljant verken is deur die Amerikaanse historikus, Alfred W. McCoy.
Hierdie klas spesiespronge van een stel maatskaplike roetine na die ander –psigologie tot marteling – vorm die spil van ’n Naomi Klein- argument. In haar volgende stap neem die tegnieke van psigologiese disoriëntering die volgende sprong – hierdie keer tot in die ekonomie, deur die uitvinding van die markgebaseerde ekonomiese ortodoksie wat die meeste benaderings tot die moderne ekonomiese beleid oorheers. Die plegers van hierdie sprong was natuurlik nie die Amerikaanse Intelligensiediens nie, maar die Chicago-Skool vir Ekonomie (Chicago School of Economics), oorheers deur die miniatuurfiguurtjie van Milton Friedman.
Sedert sy dood in 2006 is daar heelwat oor Friedman geskryf. Baie daarvan het aan hom ’n leeue- aandeel toegeken vir sy bydrae tot die herontdekking van “die mark” en sy onvermoeide pogings om in die oë van die publiek die idee te vestig dat “vrye markte” die enigste lewensvatbare ekonomiese waarheid en die enigste ware menslike vryheid beliggaam. Die verslag oor Friedman wat in Klein se bladsye staan, is begryplik meer krities as hierdie lofredes. Om eerlik te wees, is Klein onvergewensgesind jeens die Chicago- skool en veral Friedman. Dit is omdat Friedman so invloedryk was terwyl sy messiaanse energie die eerste skuif gemaak het om diktators van die Koue Oorlog nader en nader te lok na die persepsie dat die vrye mark hulle sal help om die wêreld veilig te maak – nie soseer vir demokrasie nie, maar vir Amerikaanse kapitaal.
Hoe werk hierdie benadering – wat sy ’n “skokleerstelling” noem?
’n Krisis lei sonder uitsondering tot eenvoudige oplossings. So het die disoriëntasie wat deur vinnige politieke verandering meegebring is, die vrees vir die verlies van rykdom verdiep, wat op sy beurt deur die moontlikheid van ekonomiese versmelting gegenereer word. Die teenvoeter hiervoor word gesuggereer deur ’n inkantasie: die belofte van stabilisering gebied deur markgedrewe kitsoplossings soos die verlaging van subsidies op stapelvoedsels, devaluering van die geldeenheid en die privatisering van noodsaaklike dienste. In bykans elke uithoek van die wêreld, insluitende die VSA., voer Klein aan, is hierdie benadering tot openbare beleid sedert die Chicago- rewolusie op die proef gestel.
Beginnende met die staatsgreep teen Salvador Allende se Chili in 1973 word die ontwikkeling van hierdie “ekonomiese” skokleerstelling sorgvuldig gekatalogiseer. Dis nie vreemd nie dat dit Augusto Pinochet was, die diktator wat die ondergang van Allende se Sosiale Demokrasie opgevolg het, wat die ‘plakkaatkind’ geword het van die Friedman-tipe markekonomieë. In die geval van Chili is die weg na die nuwe orde deur die sogenaamde “Chicago Boys” beveilig – die slimste en beste van Chili se elite wat onder Friedman gestudeer het en gereed was om hulle land in ’n markgebaseerde paradys om te skep na die militêre greep.
Onderwyl die ekonomie oëskynlik die toon aangee, is daar ’n verbintenis met politieke mag wat vir die skokleerstelling noodsaaklik is om te slaag. Soos Klein dus verduidelik, sou die vrye mark se sukses nooit sonder die politieke knoeiery van Washington gewaarborg gewees het nie. In September 1973 was die medepligtigheid van dr Henry Kissinger – destyds nog Veiligheidsadviseur vir die Amerikaanse President, maar op die punt om as Minister van Buitelandse aangewys te word, kritiek. Maar tesaam gesien, was die politieke intervensie en sy ekonomiese aspek ’n “provokasiekrisis” en het dit ’n patroon begin wat in Asië, Afrika en Latyns-Amerika herhaal sou word. Inderdaad is die besef van die mag van opsetlik aangehitste krisisse in 1993 deur John Williamson, ’n adviseur van die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds, toegejuig, wat vir sy skepping van die frase, “the Washington Consensus” (die Washington- Konsensus) , nog beroemder is.
Klein se vroeëre argument kan teruggevoer word tot die sameloop van die Koue Oorlog en die Ekonomie, maar die krag van die boek lê nie daarin om hierdie twee idees met mekaar te verbind nie: daar is ander wat reeds hierdie soort werk gedoen het. Buitendien loop Klein se betrokkenheid, soos ons sal sien, wyer as die Koue Oorlog. Maar as dit nodig is om die boek binne ’n konseptuele raamwerk te plaas, dan is dit ’n boek oor die maatskaplike mag van idees. In wese voer dit aan dat idees belangriker is as enigiets anders!
Die ware energie van Klein se narratief lê in haar onbewuste gebruik van maatskaplike teorie om te verklaar hoedat sowel mag as waarneming die mag van die ekonomie versterk. So, en in navolging van die werk van teoretiese kritici, spreek sy haar duidelik uit oor die rol wat dinktenks en talle van Friedman se dissipels wat dit beman, in eietydse politiek speel. Sy is ook bewus van die dubbelsinnige gebruik van die taal van die maatsaplike teoriste en die meerduidige betekenisse wat die teoloë van die mark aan woorde soos “staatsbestuur”, “deursigtigheid” en “aanspreeklikheid” heg.
Teologies mag hulle wel deeglik wees, maar die mag van hierdie woorde kan nie onderskat word nie, soos die volgende verhaaltjie uit my eie ervaring illustreer. Enkele jare gelede het die Direkteur-generaal van die Presidensie, Frank Chikane, Rhodes- universiteit besoek. By ’n openbare vergadering waar hy die aanwesiges toegespreek het oor “Accountability in Government” (Aanspreeklikheid in die Regering), was die universiteitsdepartement wat die sterkste verteenwoordig was, die Departement van Rekeningkunde!
Die mag van hierdie “prisma van ekonomie” – ’n frase uit die pen van John Ralston Saul, Naomi Klein se Kanadese landgenoot, is op ’n reeks lande toegepas, veral nadat die Berlynse Muur ineengestort het. Klein ondersoek hierdie lande – Pole, Rusland, ens. – asook Asië na die krisis van 1997.
In ’n afsonderlike hoofstuk getitel “Democracy Born in Chains” (Demokrasie In Kettings Gebore), kyk sy na Suid-Afrika. Die koers wat sy inslaan, kan as voorspelbaar beskou word, aangesien die omtreklyne van hierdie werk reeds deur Hein Marais, Patrick Bond en verskeie andere getrek is. Klein se werk is egter konseptueel veel interessanter, omdat sy die Vryheidshandves met die Friedmanistiese ekonomie jukstaponeer, wat nagestreef is sedert die ANC se omhelsing van die Washington-Konsensus in 1995. Natuurlik is Thabo Mbeki se omskakeling na GEAR (Strategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling) deur die markte verdiskonteer (“discounted by the markets”) – ’n opsetlike gebruik van hierdie beroemde frase – maar soos Klein aandui, is die onderduimsheid waarmee GEAR in beleid herlei is, tiperend van die skokdoktrine. Vanselfsprekend (soos deur baie indertyd opgemerk is) was die verhewe demokratiese ideale rondom “deursigtigheid”, “aanspreeklikheid” en “staatsbestuur” grotendeels afwesig toe die ommeswaai van Heropbou en Ontwikkeling (HOP) na GEAR gemaak is. Geen wonder dat baie mense dwarsdeur hierdie terme sien as blote retoriese foefies nie.
In haar bespreking van Suid-Afrika kyk Klein egter ’n paar sake mis. Eerstens merk sy nie op dat daar tussen die Vryheidshandves en die vrye mark ’n aantal ekonomiese posisies in anti-apartheidskringe saamgesmelt het nie. In weerwil van sy skril Marxistiese retoriek, was die UDF per slot van sake ’n breë kerkverband. Tweedens kan die mag van die scenario-manie wat van die middel 1980’s in Suid- Afrika vaardig was, nie misken word nie. Soos die beroemde Mont Fleur Scenaria geïllustreer het, was die effek hiervan om komplekse maatskaplike realiteite tot ’n paar simplistiese veranderlikes te reduseer wat maklik gemanipuleer kan word. En oplaas verontagsaam sy die knaende spannings oor ekonomiese beleid wat die Mbeki-presidensie gekenmerk het.
Maar terwyl die skokleer ’n troebel lens is om die onmiddellike verlede deur te bekyk, is dit na die post-globaliseringsmoment – lees die post-9/11, post- Asiatiese Tsunami, post-Orkaan Katrina-moment – dat hierdie skok in ’n klugspel verander.
Indien die ekonomie sedert die val van die Berlynse Muur die toekoms van die politiek verteenwoordig, dan het onlangse gebeure veiligheid en ekonomie sinoniem gemaak. Ironies genoeg het die Bush-bewind se obsessie met hierdie skakel die wêreld nie onveilig vir demokrasie nie, maar onveilig vir almal gemaak. Dit het ’n wêreld geskep wat beheer en gemonitor word deur waarneming: waarvan laasgenoemde vervolmaak is in Israel, die mees veiligheidsbewuste van alle plekke. Die vaardigheid wat vereis word om dit te verkry, word verklaar deur die instroming van Sowjet-wetenskaplikes waarvan nie almal Jode is nie, maar mense op soek na ’n ander tuiste – in Israel na die ineenstorting van die Kommunisme. Klein haal ’n ekonoom aan wat verklaar “hulle het vuurpylbrandstof vir Israel se tegnologiebedryf geword”.
Hoewel die VSA se vasberadenheid om demokrasie na Irak te bring, die plakkaatkind is van die persepsie dat “9/11 alles verander het”, lê die werklik interessante deel van Naomi Klein se verslag in ’n ander voorbeeld wat sy bespreek, Sri Lanka.
Voor die Asiatiese Tsunami van 26 Desember, 2004 het die eiland se regering die land gereed gemaak vir ’n opbloei in toerisme. Die grootste struikelblok in die verwesenliking van hierdie ambisieuse plan was die miljoene kleinboere wat ’n bestaan uit die see gemaak het, en wie se slordige lewens die land se ongerepte strande ontsier het. Natuurlik het die tsoenami dit opgelos: toe die krisis oor was en mense na hul werkplekke terugkeer, is hulle meegedeel dat ‘nuwe regulasies’ nou van krag is. Die strande is nou vir hulle verbode, maar geen grond was vir hulle beskikbaar om hulle elders te gaan vestig nie.
Irak is egter belangrik: die gebeure van hierdie afgelope vyf jaar bly ’n bedreiging vir wêreldvrede en, ja, dit moet gesê word, ’n klad op die edele gedagte van demokrasie. Maar Bush se aansprake op die verhewe saak soos deur Woodrow Wilson uitgespreek om die wêreld veilig te maak vir demokrasie, het lankal opgeroes. Maar ironie het sy merk op die verhaal gelaat.
Ofskoon ’n politieke ramp, was Irak ’n meevallertjie vir Amerikaanse besigheid. Die stemwerwing van die Keynesiese staat – waarteen die Chicago-skool gekrakeel het – word deur massiewe militêre uitgawes gevoed. En Halliburton – waarvan Dick Cheney, Adjunkpresident van die VSA eenmaal die voorsitter was – is die grootste begunstigde. Die militêr-industriële kompleks waarvan Dwight Eisenhower, Amerikaanse Generaal wat ’n Republikeinse president geword het, eenmaal gepraat het, bekruip meer as die land wat Amerika genoem word: dit bekruip die ganse planeet.
Naomi Klein het ’n kragtige boek geskryf – soos egter tweemaal hierbo gemeld is, is dit baie morbied. Maar onderwyl hierdie woorde getik word, is die VSA se hawe van hoop – die Demokratiese party van John Kennedy se Camelot, van Lyndon Johnson se “Great Society” en van die heel sonderlinge Jimmy Carter – besig om hulle presidensiële kandidaat te kies. Meer as in enige ander stadium van my volwasse lewe is hulle taal die taal van “Verandering” – verandering in gesondheidsorg, in openbare onderwys, verandering in buitelandse beleid, selfs verandering in die versorging van oorlogsveterane.
Elke kandidaat het ’n brandende saak uitgemaak vir ’n ander VSA – een wat saam met die res van die planeet in plaas van daarteen leef. Kan hierdie oomblik die einde beteken van die Skokleer? Verteenwoordig die agt jaar van George W Bush ’n breuk, eerder as kontinuïteit?
Dis vrae hierdie wat Naomi Klein ongelukkig nie in hierdie insiggewende boek beantwoord nie.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=990