blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die toekoms van Afrikaanse onderwys? Onafhanklike Afrikaanse skole? 2008-02-12
John Lobban

Daar is al gesê dat enigiemand wat dit oorweeg om ’n onafhanklike skool te stig eers ’n sielkundige moet gaan sien! In weerwil van hierdie waarskuwing was die toename in die aantal onafhanklike skole in Suid-Afrika oor die afgelope vyf tot tien jaar taamlik dramaties. Daar is talle redes hiervoor, maar dit val buite die bestek van hierdie artikel.
Wat wel ’n bron van kommer is, is dat van hierdie inisiatiewe tot mislukking gedoem is weens ontoereikende oorweging van die faktore wat tot ’n suksesvolle onafhanklike skool bydra. Die belangrikste van dié faktore word hieronder uitgestippel. Aangesien die kwessie van die vestiging van ’n onafhanklike Afrikaanse skool vir lesers van belang mag wees, word sommige van die betrokke uitdagings wat dit inhou hier bespreek.
Voordat enige stappe vir die oprigting van ’n onafhanklike skool gedoen word, moet professionele marknavorsing (behoeftepeiling) gedoen word. Indien daar nie ’n genoegsame behoefte bestaan nie of, nog belangriker, is onder die voornemende ouers nie volle begrip is aangaande die aard van onafhanklike skoling, kostes en kontraktuele verpligtinge verbonde aan die inskrywing van ’n kind in ’n onafhanklike skool nie, sal die projek nie van die grond af kom nie. Erger nog – dit sal wankelrig begin en uiteindelik in duie stort.
Tydens die marknavorsing moet die geprojekteerde skoolgeldvlakke en ander finansiële implikasies duidelik gemaak word aan voornemende ouers om vas te stel of die skool vir ’n groot genoeg groep bekostigbaar sal wees. Ouers moet verstaan dat ’n verbintenis tot onafhanklike onderrig ’n verbintenis tot die betaling van onderriggelde en ander kostes is wat substansieel hoër is as in die openbare sektor.
Slegs ’n klein hoeveelheid Suid-Afrikaners het enige tradisie van onafhanklike skoling. Die oorgrote meerderheid van vandag se wit en swart ouers het openbare skole bygewoon. Meer as enige ander groep gedurende apartheidsonderwys, is die Afrikaners goed gedien deur die staatstelsel, sodat Afrikaanse privaatskole nie gestig is nie. Aangesien dié gemeenskap nie ’n kultuur van betaling vir private onderrig het nie, het dit in die meeste dele van die land baie moeilik geblyk om genoeg Afrikaanssprekende ouers te kry wat gewillig is om ’n lewensvatbare skool in stand te hou.
Tesaam met marknavorsing moet ’n goeie sakeplan ontwikkel word. So ’n sakeplan moet vanselfsprekend ’n realistiese skatting van die finansiële behoeftes vir elke fase van die plan insluit, asook strategieë om te verseker dat daar aan hulle voldoen word.
Om finansiële volhoubaarheid te verseker, is ’n kritieke leerderstal onontbeerlik. Navorsing toon dat enige skool met minder as 150 leerders per fase (primêr of sekondêr) uit die volhoubaarheidsoogpunt in gevaar is. Die kwessie van die totale aantal leerlinge in die skool hang saam met die vraag na klasgrootte.
Een van die algemeenste motiverings wat onafhanklike skole inspan om inskrywings aan te moedig, is “kleiner klasse”. Onafhanklike skoolklasse is oor die algemeen kleiner as dié in openbare skole, maar die gevaar skuil in die nastrewing van klasse wat te klein vir volhoubaarheid is. Die Onafhanklike Skolevereniging van SA (ISASA) beveel klasse van 25 leerders aan, ten einde finansiële stabiliteit en voldoende individuele aandag vir leerders te verseker. Daar bestaan geen navorsingsgetuienis dat leerders in klasse van byvoorbeeld 18 of 20 beter uitslae as dié in ’n klas van 25 sal behaal nie.
Baie onafhanklike skole begin as laerskole wat dan later uitbrei na hoërskoolgrade. Op sy beurt vereis ook dit ’n nuwe sakeplan wat noukeurig bepaal hoe dit met welslae gedoen kan word. Die bestaande neiging is om eenvoudig na ’n hoërskool te beweeg as die eerste groep leerders graad sewe voltooi, sonder om die bykomstige finansiële implikasies in berekening te bring. Hoërskoolkostes is aansienlik hoër as laerskoolkostes, om ’n aantal redes waarvan die belangrikste die behoefte is aan meer vakonderwysers om groter vakkeuses te verseker, dus sal die salarisrekening (by verre die belangrikste begrotingsitem) beduidend styg.
Suksesvolle onafhanklike skole moet ook voldoen aan talle statutêre vereistes voordat hulle wettig en geslaagd kan opereer. Die skool moet ’n grondwet of artikels van vereniging opstel, by die betrokke provinsiale onderwysdepartement geregistreer wees, sekere vereistes vir belastingvrystelling nakom (indien dit ’n skool sonder winsbejag is), aan die vereiste vir ’n provinsiale subsidie voldoen, asook akkreditering verkry van Umalusi, die gehaltebeheerliggaan van onafhanklike skole.
Indien ’n onafhanklike skool ouers en leerders wil trek, moet dit ’n duidelik onderskeibare missie hê, wat die skool se stigters tydig moet bepaal en duidelik moet verwoord. Die missie moet uitspel waarom kinders hierdie eerder as ’n ander skool moet bywoon, oftewel die onderskeibare “waardetoevoeging” van die skool. Die missie kan eweseer geloofsgebaseerd wees as wat dit voorsiening kan maak vir ’n spesifieke soort leerder (slegs dogters of ’n kosskool), of ’n spesifieke akademiese, filosofiese of kulturele benadering.
́n Doeltreffende beheerliggaam is wesenlik. Dit moet saamgestel word uit die verskillende belanghebbendes, insluitende huidige ouers en ’n aantal van die “grotes en die goeies”: onafhanklike, gerespekteerde individue wat ’n werklike belangstelling in en verbintenis tot die skool het. Goeie beheer in onafhanklike onderwys is absoluut noodsaaklik omdat onafhanklike skole nie onder die gesag van die provinsiale onderwysdepartement ressorteer nie en dus die vaardighede en wysheid van beheerliggaamlede vereis om te verseker dat die skool gedy en oorleef vir die huidige kinders se kinders. Die samestelling van die beheerliggaam moet dus baie sorgvuldig oorweeg word.
Daarbenewens moet die verspreiding van gesag, rolle en verantwoordelikhede tussen die hoof, beheerliggaam en ouervereniging in ooreenstemming met die beste internasionale praktyke vir onafhanklike skole wees. Die swak uitklaring van rolle lei tot grensoorskryding en uitvalle.
Ons Handves van Regte waarborg die beste belange van die kind bo alles, en dit moet in berekening gebring word wanneer alle beleide en stelsels in plek gestel word.
Indien ’n wit of swart gesin instem dat hulle kinders deur die medium van Afrikaans onderrig word, selfs al is hulle huistaal nie Afrikaans nie, kan hulle nie toelating tot die skool geweier word nie, aangesien dit onregverdige, onwettige diskriminasie sal wees.
́n Bykomende uitdaging vir ’n Afrikaans- medium onafhanklike skool is hoe om die koestering van die Afrikaanse taal en kultuur te balanseer met die groeiende eis van Afrikaanse ouers dat die akademiese program deur die medium van Engels aangebied word, veral na die grondslagfase (eerste drie skooljare).
Dit begin tradisioneel in die hoër grade, maar dit is ISASA se ervaring dat, al begin ’n skool ook as Afrikaans, ouers druk uitoefen om in al hoe laer grade na Engels oor te skakel. Die trekkrag van Engels as die taal van onderrig in die meeste hoëronderwysinstellings, en as dié taal van die arbeidswêreld en die globale ekonomie is die rede hiervoor. Ouers redeneer korrek dat ́n kind in ’n wêreldtaal moet kan kommunikeer ten einde in die wêreldmark te kan werk.
Dit is besonder waar in areas waar daar ’n beperkte aantal potensiële Afrikaanse gesinne is en Engelssprekende ouers hulle kinders by die skool wil inskryf: ten einde voldoende inskrywings vir die skool te verseker, moet hulle dan die Engelse kinders oorweeg. ’n Aantal skole het dus parallelle bane van Afrikaanse en Engelse onderrig in die laer grade ingestel, wat dan in die hoër grade saamvloei in Engels. Gegewe die opmerkings hierbo oor die onderskeidende missie van die skool moet die beheerliggaam van ’n onafhanklike skool van hierdie moontlike ontwikkeling bewus wees.
Fisiese fasiliteite is van sleutelbelang vir die versekering van die skool se sukses: hoe hoër die onderrigfooie, hoe meer word die fisiese fasiliteite wat benodig word om die skoolgeld teenoor die ouers te regverdig. Ouers het die reg om toereikende fasiliteite te verwag ten einde die verwesenliking van die skool se doelwitte soos in die missie uitgestippel, te verseker asook goeie instandhouding en netheid.
Wanneer die nodige personeel vir die skool oorweeg word, is ’n aantal faktore belangrik. Die eerste hiervan is die aanstelling van die skoolhoof – die enkele belangrikste aanstelling in enige skool. Die skoolhoof as “hoof- uitvoerende beampte” van die instelling sal die persoon wees van wie verwag word om die beleide en strategieë soos deur die beheerliggaam vasgestel, in werking te stel. Dit sluit in die gesag om alle ander personeellede te keur, aan te stel en te bestuur.
Die hoof moet dus iemand wees wat die volle vertroue van die beheerliggaam geniet en hom/haar volkome vereenselwig met die missie, etos en strategiese ingesteldheid van die beheerliggaam. Dit is ons aanbeveling dat die werwing van die hoof op hoogs professionele wyse gedoen moet word, waarvoor ’n onderhoud nie genoeg is nie, en waarby die raadpleging van ervare mense in die sektor en psigometriese toetse ingesluit moet word. As die verkeerde persoon aangestel word, kan dit tot ’n krisis in die skool lei.
Daarna is die aanstelling van gekwalifiseerde, bevoegde en toegewyde personeel ’n vereiste. Hoewel nie elke personeellid ervare sal wees nie (skole moet altyd opleidingsterreine vir nuwe onderwysers wees), moet daar minstens een baie ervare personeellid in elke fase of vakarea wees. Hierdie “mentors” moet die verantwoordelikheid gegee word om die ander onderwysers te begelei in daardie fase en hulle vordering te monitor. Binne die konteks van SA se ernstige onderwyserstekort is dít nie maklik nie en sal daar opwaartse druk op die vergoeding en byvoordele van onderwysers wees.
Op die heel minste moet onafhanklike skole verseker dat hulle die vier essensiële dinamikas wat in suksesvolle skole werk, beliggaam, soos berig deur die Ministeriële Komitee in Desember 2007. Die Komitee het bevind dat die vier dinamikas die volgende is:
- Al hierdie skole was gefokus op hulle sentrale take van onderrig, leer en bestuur, met ’n sin van verantwoordelikheid, doelmatigheid en toewyding;
- Al hierdie skole het hulle take met bevoegdheid en vertroue uitgevoer;
- Hulle het almal organisasiekulture of denkraamwerke wat ’n werksetiek ondersteun, prestasie verwag en sukses erken, en
- Hulle het almal sterk interne rekenskapsisteme gevestig wat hulle in staat gestel het om die eise van eksterne aanspreeklikheid te vervul, veral wat prestasie in die Senior Sertifikaat betref.
Die verslag het voortgegaan deur te sê dat “suksesvolle skole sterk ‘innerlike vermoëns’ rakende onderrig en leerkultuur vertoon, ondersteun deur bestuur en leierskap en ’n sin van dringendheid”. Buiten hierdie essensiële kenmerke moet ’n suksesvolle onafhanklike skool ook nog onderskeibare waardetoevoeging bied, wat die ouers wat die skoolgelde betaal, tevrede sal stel.
*Adjunkdirekteur: Lidmaatskap by ISASA (Onafhanklike Skolevereniging van SA)

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=989
Artikel nagegaan:
    -