blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die toekoms van Afrikaanse onderwys? Lesse van Ermelo Hoërskool 2008-02-12
Johan Ernst

As ’n mens die situasie wil ontleed en spesifiek kyk na Ermelo Hoërskool (EHS), wat daar gebeur het en waarom, kan ons nie anders nie as om te sê die geskiedenis van ons land speel ’n belangrike rol in hierdie konfrontasie.
Na veertien jaar van demokrasie kon Afrikaners in die oë van die huidige regering hulle nog nie losmaak van die assosiasie met apartheid en dit wat sleg en kwaad vir ander inhou nie. Dus gaan die grootste deel van die stryd van die EHS oor politiek en nie oor onderwys nie.
Wat is die uitdaging vir Afrikaners wat hulle kind in ’n Afrikaanse enkelmediumskool wil sit? Op die platteland, waar daar nie noodwendig die getalle van die stad is nie, verg dit ouers wat ’n passie vir die skool het en wat hulle doopbelofte gaan nakom om die beste vir hulle kind te doen. Die uitslae van die afgelope matriekeksamen het weereens bewys dat moedertaalonderrig by verre die beste prestasie lewer. EHS word vanaf die jaar 2000 elke jaar getakel om toe te gee aan dubbelmediumonderrig. Oor die jare is daar verskillende aksies vanuit die provinsiale onderwysdepartement geloods.
Die vraag oor hoe nuttig regsaksie is, kan beantwoord word deur te sê dat daar aanvanklik geen ander uitweg is nie. Geen onderhandeling tussen die skool en die department kan ’n oplossing ten gunste van die skool teweeg bring nie. Die skool sal altyd slegter daaraan toe wees as voorheen. Dus is dit net die hof wat jou posisie met ’n beslissing kan verskans.
Wat die EHS egter uit die hedendaagse regstelsel leer, is dat dit moeiliker as in die verlede word. Dus moet enige skool wat in regsaksie betrokke wil raak, uit die staanspoor weet dat hy dit sal moet kan deurvoer tot in die hoogste hof. Die Mikro-saak het dit eerste bewys, en nou volg die EHS.
Dit bring my by ouerbetrokkenheid. Met die ondersteuning van ouers en oud-ouers, sowel as mense dwarsoor die land, kan ’n skoolbeheerliggaam so ’n aksie loods. As jy dít nie het nie, gaan jy jou êrens vasloop. Die koste van so ’n saak beloop meer as ’n halfmiljoen rand.
Die ander been waarop so ’n aksie staan, is ’n eensgesinde skoolbeheerliggaam. Nog belangriker: die bestuurspan van die skool moet die oortuiging hê dat dit die mileu is waarin hulle wil skoolhou. Die aantygings teen die hoof en die dreigemente van dissiplinêre optrede, skorsing, ens. omdat hy nie die wil van die Departement uitvoer nie, is legio. Dus moet hy die vermoë hê om op sy regte te staan, en moet die skoolbeheerliggaam presies weet wat hulle regte en taak is. Daar is baie grys areas in die Skolewet: maak dus seker jy is op hoogte daarvan, sodat jy jou bestuurspan kan beskerm.
Skoolprivatisering is nooit haalbaar op die platteland nie. Die koste van privaatskole haal meer as 80 % van alle Afrikaanssprekende kinders uit die model. Die doelwit moet juis wees om die ouer wat swaarkry en soms nie sy skoolgeld kan betaal nie, se kind die geleentheid te gee om die beste onderwys te bekom.
Daar is dus net een oplossing vir die enkelmedium Afrikaanse skool. Ouers moet hulle kinders soontoe stuur en die skool vol hou. Afrikaners moet die hand na mekaar uitsteek en mekaar onderskraag. Niemand behalwe ons self gaan ons red nie.
Dit ís moontlik. Kom ons doen dit.
* Voorsitter, Skoolbeheerliggaam: Ermelo Hoërskool

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=988
Artikel nagegaan:
    -