blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Rewolusionêre radio 2008-02-12
Danielle Follett en Thomas Boothe

“Ons geweste is baie konserwatief, die Republikeine oorheers die politiek en die radio; ’n mens hoor net die regses of die evangeliste. Die klein minderheid mense hier wat nie Republikeins is nie, voel so gemarginaliseer dat hulle bereid is om ten alle koste hierdie skamele ruimtetjie wat aan ons, die progressiewes, behoort, te beskerm.” Joseph Fitsanakis, hoof van die radioprogram Democracy Now, Tri-Cities, Washington deelstaat

Twee jaar gelede, in ’n klein landelike gemeenskappie in die noordooste van Tennessee, het ’n groepie aktiviste gewapen met bloot ’n petisie met sewentig handtekeninge die plaaslike radiostasie oorreed om “Democracy Now”, ’n progressiewe nuusprogram wat wegbreek van die private stasies se gebruiklike uitsendings, op die lug te plaas. Nie dat hierdie afgeleë uithoek van die Appalaches juis lyk na die ideale plek vir so ’n inisiatief nie. Die oorgrote meerderheid van sy mynwerker- en boeregemeenskappe stem Republikeins (75 % met die laaste presidentsverkiesing). Die soort plek, aldus mnr. Joseph Fitsanakis, “waar ’n mens dertig jaar gelede amper niks polities kon doen tensy jy lid was van die Ku Klux Klan nie” (1). Hy en ander aktiviste het onlangs aan die weskus Democracy Now Tri-Cities (DNTC) gestig. Dié vereniging beskerm dié radioprogram in die Washington deelstaat waar dit sedert 2005 uitgesaai word. Die uitsending word bedreig omdat die plaaslike radiostasie WETS, wat hoofsaaklik van luisteraars se skenkings leef, oproepe ontvang wat eis dat dit van die lug afgehaal word. WETS se uitsaaigebied is uiters konserwatief, selfs al stem die Washington deelstaat merendeels Demokraties. Om hier ’n aktivis te wees, beteken om soms selfs fisiek aangeval te word (vensters stukkend geskiet, honde vergiftig, ens.). “Vakbondlede in Wes-Virginië wat die stryd in die mynbedryf gevoer het, sal vir jou heelparty soortgelyke stories kan vertel,” sê mnr. Fitsanakis. Elders ook krap die uitsending om: verlede jaar op 13 Augustus trek ’n koeël deur die venster van die radiostasie wat “Democracy Now” in Houston (Texas) uitsaai rakelings by die omroeper verby. Maar “Democracy Now” se sukses is sy beste wapen. Volgens mnr. Wayne Winkler, bestuurder van WETS, is luisteraars se reaksies “besonder bemoedigend; ons kry heelwat meer positiewe as negatiewe kommentaar. Ons tel nie eens meer hoeveel luisteraars ons geldelik ondersteun nie.” Donasies en aanbiedings om vrywillig te werk, stroom as ́t ware in. Gestig deur Amy Goodman en Pacifica Radio in 1996, word “Democracy Now” spoedig die stasie se nuusprogram met die grootste luistertal. In 1999 maak interne onenigheid byna ’n einde aan die avontuur (2). Hoewel dinge uitgestryk is, verkies Goodman en haar medewerkers om in 2002 onafhanklik te word om hulle outonomie te behou. Die twee netwerke handhaaf noue bande, en Pacifica gaan voort om die program uit te saai.
Gemiddeld twee nuwe radiostasies en televisiekanale voeg elke week “Democracy Now” by hulle programrooster. Die uitsaaiersnetwerk bestaan teenswoordig uit kampusradiostasies, verenigings se stasies, die nasionale openbare radio NPR, kabel- of sateliet-televisiekanale, asook die internet, waar die program in video-, klank- en teksformaat versprei word. Toe dit gestig is, is “Democracy Now” deur slegs dertig stasies opgeneem; vandag staan dié syfer op sewehonderd. ’n Deel van die program word ook in Spaans vertaal en deur dosyne Spaanstalige radiostasies in die VSA en Latyns-Amerika uitgesaai. Sodanige sukses veronderstel dat ’n nie- onbeduidende deel van die Amerikaanse bevolking graag ’n progressiewe uitkyk op nuusgebeure wil hoor, gebaseer op kritiese joernalistiek en debatte wat die naam werd is. Op dieselfde wyse as die hoofstroommedia se nuusprogramme som die uitsending die dag se belangrikste gebeure op. Maar eerder as om net nog ’n fonogram vir die regering se kommunikasie te wees, ontleed dit in diepte – en op kritiese wyse – die verklarings en besluite van die heersende owerheid, hetsy Demokraties of Republikeins. “Democracy Now” se vervaardiger en ster-aanbieder, Amy Goodman, haal graag die woorde aan wat die groot ondersoekende joernalis, Isidore Feinstein Stone, aan sy studente gerig het: “As julle net drie woorde onthou, laat dit dié wees: alle regerings lieg.”
Die veelsoortigheid van die netwerk wat die program uitsaai, waarborg ook sy onafhanklikheid. Want, soos Bill Moyers, een van die min linkse joernaliste wat vir die Amerikaanse TV werk, dit uitdruk, het “Democracy Now” dit sodoende “vermy om ’n instelling te word” (3). Nogtans is dié “netwerk”, anders as dié van talle onafhanklik media wat onlangs die lig gesien het, geensins virtueel nie. Sy bestaansruimte strek wel deeglik verder as die internet. Die mediadeskundige, Robert McChesney, reken dat “dit die omvang van sy sukses self is wat ‘Democracy Now’ van die res onderskei. Beperk tot ’n handjie vol stasies tien jaar gelede, bereik die uitsending vandag ’n ontsaglike gehoor en beskik dit oor ’n uitstekende uistaaistelsel.” In weerwil van dit alles bly “Democracy Now” op die kantlyn van die Amerikaanse mediastelsel staan. In ’n joernalistieke wêreld wat – dikwels heeltemal valslik – met sy professionalisme en politieke onsydigheid te koop loop, kom dié program gereeld onder die spervuur vanweë die partydigheid waarvan hy beskuldig word. En tog, wie anders kan hulle met soveel waarheid daarop roem dat hulle die aktualiteit sonder winsoogmerk behandel, sonder partyverbintenis en sonder enige inkomste uit advertensies, maatskappyborgskappe of openbare fondse? Die program se inkomste kom uitsluitlik uit skenkings (van ouditeurs en verenigings), uitsaairegte wat deur die uitsaaiers betaal word, en die verkoop van DVDs en T- hemde. Voor hy na die noordooste van Tennessee verhuis het, het mnr. Fitsanikis met aktiviste saamgewerk wat hulle daarvoor beywer het dat die program in Nashville, hoofstad van die deelstaat, uitgesaai word. Hy onthou nog: “Ons het ’n petisie opgestel wat deur tussen 3 000 en 4 000 mense onderteken is. Die radiostasie vir wie ons genader het, het geantwoord dat die getal, hoewel beduidend, nie ter sake was nie. Na hulle mening was die program te ‘partydig’ vir die streek, uit en gedaan.”
Om so ’n aantyging in perspektief te sien, moet ’n mens kyk na die verskynsel van saamgroepering wat die afgelope twintig jaar die Amerikaanse media deurspoel het. En ook na die kolossale somme geld wat die enkele konglomerate wat bykans die ganse sektor besit, aan die stemwerwing van parlementslede bestee. Want hulle dominansie weerhou hulle nie daarvan om altyd nog meer te wil hê, en om regeringsamptenare te probeer oorreed om telkens die regulasies in hulle guns te wysig nie. Soos Eric Klinenberg, professor in sosiologie aan die Universiteit van New York, beklemtoon, het hierdie fenomeen in die loop van die 1990’s opgevlam as gevolg van wette wat onder mnr. Bill Clinton se bewind (1993-2001) aanvaar is. In dié tydperk “het die regering nie die mark ‘gedereguleer’ nie, maar dit eerder ‘herreguleer’ ten einde private maatskappye in staat te stel om al meer televisiekanale, koerante en radiostasies te bekom” (4). ’n Wet van 1996 het byvoorbeeld besonder negatiewe gevolge vir diversiteit op die radiogolwe gehad. Dit laat ’n enkele maatskappy toe om agt stasies op ’n gegewe plek te besit (5).
Hoewel hulle verantwoordelik is vir die skep van eenvormigheid in redaksionele riglyne en die vermindering van redaksionele poste, is dit in hierdie oligopolieë van die nuuswêreld se belang om ’n skyn van neutraliteit in hulle programkeuses te handhaaf. En om onafhanklike media van “partydigheid” te beskuldig, is ’n gerieflike manier om dit te doen. Volgens McChesney kom dié aantyging neer op “blatante propaganda: ‘Democracy Now’ is net so versigtig om die feite te respekteer soos die media in private besit, indien nie nog méér nie. Maar in hierdie land het politieke joernalistiek alle kritiese denke jeens die heersende belange verloor. ‘Democracy Now’ daarenteen bejeën alle maghebbers met dieselfde wantroue, of hulle nou Republikeine of Demokrate is.” Die program het sy sukses in ’n groot mate te danke aan die leemtes van ’n alte eerbiedige benadering tot inligtingsbronne. Volgens Goodman nader die hoofstroommedia “altyd dieselfde sogenaamde deskundiges wat niks weet van alles af. Tog is dit juis een van die grondreëls van joernalistiek om te kyk na die mense wat ly onder die gevolge van die politieke keuses wat op ’n land afgedwing word” (6). Die aanhoudende verontagsaming van hierdie reël het volgens haar “ ́n oorweldigende begeerte na verandering” geskep.
Met heelwat minder middele tot sy beskikking as sy mededingers, kan “Democracy Now” nie groot ondersoeke finansier of hoop op vertroulike mededelings van hooggeplaaste bronne nie. Die nuusaanbieders op openbare radiostasies verdien ongeveer vyf keer soveel as Goodman, en dié op kommersiële TV-kanale se salarisse is honderd maal groter as hare ... Onder die vyf-en-twintig voltydse lede van die span, is die meerderheid ervare joernaliste. Maar weens die daaglikse werk wat die voorbereiding van ’n kwaliteit nuusprogram verg, het hulle min tyd om veldondersoeke te doen. Die uitsending se krag lê dus eerder in die keuse van gaste en ’n ontleding van nuusgebeure wat blyke gee van ’n hiërargie wat anders is as dié in die hoofstroommedia. Die vervaardigers maak gebruik van bronne wat vir almal beskikbaar is, veral op die internet. Die massa inligting wat beskikbaar is, stel hulle in staat om onderwerpe en benaderings te kies wat ’n mens feitlik nêrens anders kry nie, maar dit maak hulle redaksionele taak nog meer deurslaggewend.
Uiters gewild in die VSA sowel as in Latyns- Amerika, is die tien tot vyftien minute wat die joernaal open met ’n opsomming van die dag se nuus, die werk van ’n enkele persoon, gewapen met ’n skootrekenaar. “Democracy Now” teken in op nuusagentskappe, maar put ook uit ’n ryk internetbron van tientalle nuusblaaie, nieregeringsorganisasies se webwerwe en blogs, meestal Engelstalig. Die ongeveer vyftien onderwerpe wat aan die begin van die program opgesom word, bevat telkens sowat drie of vier wat in geen van die hoofstroommedia genoem word nie. En nuus wat ook elders uitgesaai word, word gewoonlik uit ’n radikaal verskillende hoek benader.
Die dag toe Gerald Ford byvoorbeeld oorlede is (26 Desember 2006), het die Amerikaanse pers die Republikeinse oudpresident (Augustus 1974-Januarie 1977) beskryf as die held wat, ná die Watergateskandaal en Richard Nixon se bedanking, dit reggekry het “om die nasie weer met homself te versoen”. “Democracy Now” huiwer nie om luisteraars daaraan te herinner dat dié veronderstelde held (en sy minister van buitelandse sake, Henry Kissinger) ’n beslissende rol in die slagtings in Wes-Timor gespeel het nie: in 1975 “was dit Ford wat die Indonesiese diktator, generaal Suharto, toestemming gegee het om dié helfte van die eiland binne te val”.
Tydens onderhoude in die ateljee spaar die omroepers hulle luisteraars die gebruiklike geselsies van die private media, wat nie meer weet hóé om die nuus op te vrolik nie. Hulle laat hulle gaste praat sonder om hulle te onderbreek. Die program ontvang ondersoekende joernaliste, gewone burgers, lede van die intelligentsia, parlementslede, aktiviste, betrokke kunstenaars en verteenwoordigers van nieregeringsorganisasies. Selfs wanneer dit bekendes is, word die meeste mense wat op “Democracy Now” gehoor word, nie dikwels deur die hoofstroommedia genooi nie. Evo Morales, Noam Chomsky, Naomi Klein, Ralph Nader, Robert Fisk, Hugo Chávez en Arundhati Roy het al aan die program deelgeneem, asook Edward Saïd (oorlede in 2003).
Die lys name spreek vanself: die program poog om die woord te gee aan ’n progressiewe bewustheid wat grotendeels afwesig is op die luggolwe. Maar “Democracy Now” wil ook nie die eggokamer van die Amerikaanse linkses raak nie. Waar verteenwoordigers van die owerheid of groot maatskappye gewoonlik die program se uitnodigings van die hand wys, het die (Republikeinse) oudpresident van die Federale Reserwebank, Alan Greenspan, ingestem om ’n debat te voer met Naomi Klein, die antiglobalistiese skrywer van No Logo (7).
In November 2000, op presidensiële verkiesingsdag, nooi president Clinton homself op die lug, per telefoonoproep, in die hoop om luisteraars te oorreed om vir mnr. Albert Gore, sy destydse visepresident, te stem. Amy Goodman laat hom nie toe om die program te monopoliseer nie: “U bel nou radiostasies om die mense te oorreed om te gaan stem. Maar wat sê u vir dié wat glo dat albei partye deur privaat belange uitgekoop is, en dat dit dus nutteloos is om die moeite te doen?” ’n Wydlopige gesprek volg oor onderwerpe so uiteenlopend soos die sanksies teen Irak, en sommige Demokrate (onder andere menere Clinton en Gore) se steun vir die doodstraf. Vererg beskuldig die Amerikaanse president Goodman daarvan dat haar vrae “vyandig en aggressief” is. “Nee, hulle is onpartydig,” antwoord sy.
Die volgende dag kla die Wit Huis se persafdeling dat Goodman nie die “reëls” van die onderhoud nagekom het nie. “Watter?” vra sy. Die president se oproep was onverwags, dus kon geen “reëls” vooraf vasgestel word nie. Maar Goodman word daarvan beskuldig dat sy die bespreking laat afdwaal het van die oorspronklike onderwerp (om mense te oorreed om te gaan stem), en sodoende haar gespreksgenoot te lank op die lyn gehou het. “President Clinton is die magtigste man op aarde, hy kan die foon neersit wanneer hy lus het,” kap sy terug, en maak haar eie gevolgtrekking uit die voorval: “Ek gee nie voorkeurbehandeling aan dié met mag nie. Hulle is die werknemers van die volk” (8).
“Democracy Now” verseg om tydens verkiesings die gebruiklike houding in te neem wat eie aan die Amerikaanse pers is. Die veldhere in die verkiesingstryd weet dat hulle op laasgenoemdes kan reken om kolossale klankborde vir hul taktiese besluite te wees. Tydens die huidige stryd om die Demokratiese kandidaatskap, toe mev. Hillary Clinton ’n moeilike oomblik in die meningspeilings beleef het, het haar raadgewers besluit om haar ’n “aggressiewer” houding te laat inneem. Die media het oombliklik munt geslaan uit dié veranderde aanslag, en mev. Clinton is oorval met geleenthede om haar nuwe persoonlikheid uit te leef. “Democracy Now” het ’n ander keuse gemaak, naamlik om nie die “gebeurtenis” te dek nie.
Tydens die presidensiële verkiesingsveldtog in 2004 hou “Democracy Now” sy luisteraars ingelig oor meningspeilings en die nuus van die dag, maar bestee meer aandag aan die dieperliggende vraagstukke. En eerder as om die twee gunstelinge (menere George W. Bush en John F. Kerry) toe te laat om die uitsaaigolwe te monopoliseer, beklemtoon die program die marginalisering van “kleiner kandidate” asook die gevaar wat miljoene burgers loop om van hulle demokratiese regte ontneem word (stembusse wat te ver is, juridiese gekibbel, uitkalwing van hulle burgerlike regte).
Ná die aanvalle op 11 September steun die meerderheid media die opmars na die oorlog in Irak. Toe die joernalis Jeff Stein in die Washington Post van 21 Oktober 2001 suggereer dat “Saddam, die speelmaatjie van Ben Laden” agter die antraksaanvalle teen joernaliste en politieke amptenare gesit het, juis toe die polisie-ondersoek ’n gans ander koers begin inslaan, maan “Democracy Now”: “Die Bush- administrasie en die media probeer onophoudelik om Irak die skuld vir 11 September en die antraksaanvalle te gee.”
“Democracy Now” was ook die enigste stem wat ’n sekere brokkie inligting uit die Britse pers aan sy luisteraars oorgedra het, naamlik dat die Amerikaanse regering die telefoongesprekke van verskeie VN Veiligheidsraadslede afgeluister het. Hulle is ook die enigstes wat voortdurend vertel van verskeie vorms van verset teen die VSA se militêre optrede, byvoorbeeld die feit dat mev. Hillary Clinton se kantore beset is nadat sy ten gunste van die oorlog gestem het. Watter ander media-stem sou in ’n klimaat van opvlammende patriotisme kans gesien het om ’n nuusbrokkie uit te saai in die trant van: “ ́n Man is in ’n winkelsentrum gearresteer omdat hy ’n T-hemp met die slagspreuk ‘Give peace a chance’ gedra het? Meer as 150 mense het geprotesteer en met dieselfde T-hemp aan na die plek toe opgeruk.”
Deur te verseg om hulle by die amptelike standpunt te skaar, en deur ’n groot verskeidenheid inligtingsbronne te gebruik, kon “Democracy Now” sy luisteraars ’n getrouer beeld gee van wat in Irak en binne hulle eie land aan die gebeur was. Oordeel maar self: tydens die eerste drie weke van die oorlog (Maart- April 2003) laat die ses grootste TV-nuusuitsendings nie ’n enkele stem van kritiek op die inval hoor nie (9). “Democracy Now” het met dertig luisteraars onderhoude gevoer.
Die moeite was nie altyd vergeefs nie. In Maart 2004, toe die staatsgreep in Haïti algemeen gesien is as ’n volksopstand teen ’n korrupte diktator, saai Goodman se program ’n eksklusiewe onderhoud uit met die verbanne president, mnr. Jean-Bertrand Aristide. Laasgenoemde onthul toe dat die Amerikaanse weermag hom met geweer in die hand gedwing het om te bedank voordat hulle hom ontvoer het. Hierdie “scoop” dwing die ander media om weer na die gebeurtenis te kyk en nuwe vrae te stel. Soos Amy Goodman dit ironies stel: “Ons het die media gekontamineer!” Ander “kontaminasies” volg. In Februarie 2007 vra “Democracy Now” die BBC-joernalis Greg Palast uit oor die “aasvoëlfondse” (vulture funds) wat ontwikkelende lande aan die plunder is (10). Palast verduidelik dat die Wit Huis toegelaat het dat openbare lenings wat bestem was om arm lande se skuldlas te verminder, gebruik is om private maatskappye se skuldbriewe teenoor verskeie Suidelike lande te delg. Kort daarna eis twee parlementslede dat sulke “aasvoëlfondse” onder die loep geplaas moet word by ’n G8-beraad. “Voordat hulle kennis geneem het van die ondersoek deur ‘Democracy Now’, ’n program waarna talle Kongreslede gereeld luister, het dié twee nie geweet dat die geld op hierdie manier verduister is nie,” beklemtoon Palast.
Weens die veelsoortigheid van sy verspreidingsnetwerk, is dit moeilik om die werklike luistersyfer van die program en die politieke oortuiging van sy luisteraars te peil. Klaarblyklik is die getroustes meer progressief ingestel, maar, hou McChesney vol, “dit is ook nie die Amerikaanse linkses soos jou ‘bobo’s’ van San Francisco of Boston nie. Die luisteraars kom uit alle lae van die samelewing”. Indien “Democracy Now” gewild is in ’n streek so Republikeins soos die noordooste van Tennessee, is dit waarskynlik omdat heelwat Amerikaners, hetsy links of regs, toenemend ’n weersin kry in die greep wat groot maatskappye en die regering op die kommunikasiewese het. “Die private media laat ’n leemte wat ons vul,” meen Goodman. Selfs onder Republikeine is daar talle wat geweldig teleurgesteld is met die Wit Huis se leuens, die skandale, die militêre terugslae en onbeheerste besteding. Hierdie ontnugtering sluit ook die pers in.
Volgens mnr. Fitsanakis het Republikeine by DNTC aangesluit om beswaar te maak teen die inkorting van hulle individuele vryheid asook vryheid van spraak, ’n onderwerp wat dikwels in die program bespreek word. Ook konserwatiewe kiesers laat hulle steun aan DNTC blyk. Hoewel hulle nie saamstem met talle van die idees wat “Democracy Now” voorstaan nie, verklaar hulle dat hulle “uiters kwaad vir die huidige regering is”. In dié program vind hulle ’n “ongeveer redelike, eerlike uitgangspunt oor wat in hierdie land aan die gang is”.
Amy Goodman meen dat die Amerikaanse media die verskille tussen links en regs oordryf. “Die twee kampe is besorgd oor baie van dieselfde dinge,” verduidelik sy. “Sowel die konserwatiewes as die progressiewes is bekommerd oor die inbreuk op privaatheid en die toenemende mag wat groot maatskappye uitoefen. Die families van soldate is met afgryse vervul oor die prys wat hulle seuns en dogters moes betaal, terwyl die kinders van hooggeplaastes die oorlog gespaar gebly het.” Op sy beurt glo mnr. Fitsanakis dat hulle in ’n streek waar min mense die internet as inligtingsbron gebruik, “...by ons ’n program kry wat praat oor dit wat hulle werklik interesseer”.
In Tennessee maak DNTC van die luisteraars gebruik om die progressiewe kamp te probeer mobiliseer. Mnr. Fitsanakis ken hierdie oefening: “Ons probeer eers om onder ons luisteraars te werf. Sowat ’n miljoen huishoudings kan die uitsending opvang, en talle van hulle leef uiters afgesonderd in die berge of in moeilik bereikbare plekke. Hoekom nie die uitsending gebruik om hulle bymekaar te begin kry nie?” In die ses maande wat hulle reeds bestaan, het DNTC honderd en vyftig vrywilliges gewerf, en op die vierde herdenkingsdag van die inval in Irak, agt anti- oorlogbetogings gereël. Ten einde kontak met die mynwerkersvakbond te maak, is ’n betoging reg voor ’n fabriek gehou waar wapens van verarmde uraan vervaardig word. Die sukses van die optrede was maar beperk. “Die vakbondlede het by ons aangesluit,” verduidelik mnr. Fitsanakis, “maar ons eie troepe was ongerus oor die gedagte om teen die polisie te staan te kom. Ek bly nietemin optimisties, dis ’n streek wat baie belofte inhou ...”
(1) Lees Serge Halimi, “Le petit peuple de George Bush”, Le Monde diplomatique, Oktober 2004.
(2) Lees Barbara Epstein, “Démocratie et tradition militante: KPFA, la radio carlifornienne qui résiste”, Le Monde diplomatique, Oktober 1999.
(3) http://www.democracynow.org/article.pl?sid=07/04/ 25/1414222
(4) Cf. Eric Klinenberg, Fighting for Air: The Battle to Control America’s Media, New York: Metropolitan Books, 2007 (waaruit Le Monde diplomatique die toepaslike dele in sy uitgawe van Januarie 2007 gepubliseer het). Lees ook van dieselfde skrywer, “Dix maîtres pour les médias américains ”, Le Monde diplomatique , April 2003.
(5) Die Federal Communications Commission (FCC), die Amerikaanse media-beheerliggaam, moedig voortdurend hierdie soort saamgroepering aan. Maar in 2003 dwing ’n sterk mobilisering onder die mense hulle om die verskynsel af te skaal. Dit is dalk hierdie reaksie wat die FCC daartoe noop om aan te kondig dat hulle honderde FM-kanale aan verenigings sonder ’n winsoogmerk sal toestaan, veral in landelike gebiede, om die uitsaai van “niekommersiële, opvoedkundige” programme aan te moedig. Maar talle van hierdie kanale loop gevaar om aan godsdienstige organisasies gegee te word.
(6) Aangehaal deur Lizzy Ratner, “Amy Goodman’s Empire”, The Nation, 6 Mei 2005.
(7) Naomi Klein, No Logo: taking aim at the brand bullies, Picador, 2000.
(8) Onderhoud met Anthony Violanti, Buffalo News, New York, 9 Mei 2004.
(9) Lees “Amplifying Officials, Squelching Dissent” deur die vereniging Fairness and Accuracy in Reporting (FAIR): http://www.fair.org/index.php?page=1145.
(10) Lees Ignacio Ramonet, “Voracité”, Le Monde diplomatique, November 2007.
* Onderskeidelik dosent in die departement vir die bestudering van Engelssprekende land aan die Universiteit van Parys-8, en filmmaker. Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=991
Artikel nagegaan:
    -