Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Die toekoms van Afrikaanse onderwys? Lesse van Hoërskool Kalahari | 2008-02-12 | |
|
Louis Hauman
|
Wat het gebeur tydens die aksie wat in 2004 en 2005 op ’n hofsaak tussen die Departement Onderwys in die Noordkaap en drie skole uitgeloop het? En daarna?
Om mee te begin, moet besin word oor vir wie hierdie berig geskryf word en wat daarmee bereik wil word. Die bestekopname word gedoen om dit as basis te beskou vir ’n nuwe fokus op ’n kreatiewe bydrae tot onderwys in die algemeen.
Met die aanvang van die beredenering is dit nodig om die aard van ’n skoolbeheerliggaam te verstaan: Die kern van ’n skoolbeheerliggaam (SBL) bestaan uit vrywillige ouers wat vir ’n termyn van drie jaar ’n deel van hulle tyd, kundigheid en geld beskikbaar maak om tot voordeel van onderwys en opvoeding in die gemeenskap met die bestuur van ’n skool saam te werk. Ja, daar is belange wat beskerm moet word en voordele wat vir die skool se leerders beding moet word, maar dit word gedoen deur mense wat bereid is om die Departement se hand te kom vat en ’n bydrae te lewer namens die skoolgemeenskap wat hulle verkies het.
Kortweg kan dit wat gebeur het, opgesom word as ’n opdrag van die LUR (Lid van die Uitvoerende Raad) vir Onderwys in die Noordkaap dat die skool met ingang 2005 van ’n enkelmedium (Afrikaans) na dubbelmedium (Afrikaans en Engels) hoërskool verander, dat die Departement die toelatingsproses oorneem en self sal bestuur, en dat hoofsaaklik leerders van die townshipskool in Bankara in die skool geplaas gaan word, aangesien H/S Kalahari kapasiteit het en die skool by Bankara oorvol is.
Hierdie opdrag is voorafgegaan deur ’n eerlike proses van selfondersoek wat by die skool aan die gang was in terme van wat die politieke klimaat van die skool vereis. ’n Transformasieplan is tydens Desember 2003 deur Louis Hauman in opdrag van die SBL opgestel. Toe die LUR en Premier genooi is om die oorhandiging en verduideliking van hierdie transformasieplan by die skool te bespreek, is die afspraak gekanselleer en opgevolg met ’n Departmentele opdrag tot gedwonge verandering.
Later, tydens die hofsaak, is dokumente deur die skole voorgelê as bewys van ’n strategie om swart leerders in die Afrikaanse skole in te forseer, soos deur die Regsadviseur van die Departement aan die LUR voorgestel is. Hierdie versoek om ’n eerlike poging tot transformasie te bespreek, het die amptenare en politici genoop om hulle politieke agenda in werking te stel. Dikwels is bespiegel oor waarom die spesifieke skole geteiken is, en gaan die skrywer volstaan deur H/S Kalahari se posisie as een van die skole te beoordeel: Die bestaan van ’n polities konserwatiewe benadering by die SBL voor 2003, tesaam met enkele insidente waar politici die deur gewys is wanneer daar gepoog is om verandering op die skool af te dwing, was waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat H/S Kalahari een van die drie skole was. Kortom, H/S Kalahari is polities geteiken.
Die skole het die opdrag teengestaan, en die saak het in die hof beland. Vanaf die eerste dag in die hof het die regsadvies vir die skole daarop gedui dat die skole nie ’n objektiewe verhoor moet verwag nie, en het die hofsaak uitgeloop op wat vandag nog as ’n politieke beslissing beskou word. Dit was veral duidelik toe tydelike klaskamers vanaf die “oorvol skool” na H/S Kalahari verskuif moes word om die beplande oorplasing te akkommodeer, en toe swart ouers in Bankara erken dat die laaste fase van die skool wat daar gebou moes word, doelbewus nie gedoen is nie om die aksie te regverdig. Klaslyste wat deur die Departement opgestel is, het geen sin gemaak in terme van die vakkeuses van leerders nie, en was ’n belaglike, polities gedrewe deurmekaar indeling van rassegroepe, wat prakties onuitvoerbaar was. Die SBL het daarin geslaag om die Departement te oortuig dat dit beter is om sover moontlik die proses in parallel- (twee tale in verskillende klasse) in plaas van dubbelmedium (twee tale in dieselfde klas) aan te pak.
As daar nou teruggekyk word na wat gebeur het na die hofbeslissing, is dit wat uitstaan veral die weiering van die Departement om aan die versoeke van die skool aandag te gee. Die onderwysers van kleur wat as deel van die proses oorgeplaas is, is nooit volgens die wetlike prosedure heraangestel nie; die nodige onderwysmateriaal (handboeke, ensovoorts) word nie gelewer nie; banke en toerusting wat as deel van die proses gelewer moes word, word doelbewus by ’n ander skool geplaas; versoeke tot toetsing van leerders by toelating word geweier. En so kan voortgegaan word met talle voorbeelde wat die fokus op ander sake as onderwys illustreer.
Die slegste aspek tydens die proses was dat SBL-lede as vyande van die onderwys behandel is, terwyl hulle juis diegene in die gemeenskap is wat hul tyd en kundigheid vir die onderwys beskikbaar stel. Ouers wat normaalweg by die skool en skoolaktiwiteite betrokke was, het skielik begin onttrek as gevolg van die miskenning van hul basiese regte. Onderwysers het oorlaai en misken gevoel, en Afrikaanse leerders het verontreg gevoel omdat hulle akademies benadeel is deur leerders wat agter was of deur onderrig in ’n tweede taal.
Swart leerders het hoofsaaklik met onvoldoende kennis en vaardighede opgedaag en het verder onrealistiese verwagtinge gehad aangaande die eise wat die proses van integrasie ook aan hulle gaan stel. Ook is klagtes en versoeke van die SBL en die Afrikaanse onderwysers geïgnoreer, terwyl die swart onderwysers ’n direkte “kommunikasielyn” gehad het tot die hoof van die onderwysdepartement en sy adviseurs. Kortliks kom dit daarop neer dat daar geen ag geslaan is op onderwyssake nie, terwyl die politieke proses die totale fokus van die Departement geword het. Tot hede kon geen hulp bekom word vir remediërende onderwys, wat dringend nodig is nie, “omdat ander skole groter probleme het” (die woorde van die nuut aangestelde direkteur van onderwys in die streek).
Terwyl al hierdie aksies aan die gang was, het veral uitkomsgebaseerde onderrig en die agteruitgang van dissipline by skole in die onderwysomgewing na vore getree as ernstige vraagstukke op nasionale vlak. Ander soortgelyke hofsake is teen die Departement aanhangig gemaak, en dit is duidelik dat veral die onderwysdepartement in die Noordkaap polities ideologies gedryf word. Dit is veral die lees-, skryf- en syfervaardigheid van leerders wat so swak is dat ’n normale leerproses nie meer moontlik is nie. Na vele pogings deur die SBL is toestemming verkry om al die leerders in die skool hiervoor te toets, en was die uitslae om die minste te sê, skokkend. Leerders – sowel wit as swart – is eenvoudig nie in staat om self te studeer nie. Versoeke aan die Departement om hulp in dié verband is geïgnoreer of afgemaak, soos reeds na verwys.
As ’n mens vir die positiewe in die proses gaan soek, dan is dit dat die aksie die proses van transformasie versnel het. Dit is positief vir die regering en vir die politieke klimaat waarin almal in SA hulle bevind. Die aard van die transformasie wat plaasgevind het, was nie wat ’n mens graag sou wou sien nie en het in 2007 op konfrontasie tussen leerders uitgeloop. Ander positiewe gevolge is dat die gedwonge omstandighede in die skool beide leerders en onderwysers gedwing het om realiteite te aanvaar en die beste daarvan te maak. Die swart leerders en onderwysers is beslis in ’n omgewing met meer onderwysdissipline geplaas, en dit moes ’n positiewe effek gehad het, al wys die resultate dit nie. Die negatiewe uitslag is waarskynlik daaraan te wyte dat die agterstande net te groot was. Die proses was grootliks onbillik teenoor die onderwysers en leerders, veral die swart onderwysers. Nietemin het die skool in 2006 die beste matrikulant in die Noordkaap gelewer en was dit op twee na die beste skool in die provinsie. Die skool is selfs deur kritiese amptenare geprys vir wat vir al die leerders in die skool gedoen is.
Kyk ’n mens na die negatiewe gevolge van die proses, dan is dit veral die onbillike finansiële las wat die skool verlam en ’n gevoel van magteloosheid gelaat het. Die gebrek aan ondersteuning deur die Departement het hierdie gevoel versterk. Die grootste vrees is nou dat die onderste draaipunt in die aftakeling van die moreel nog nie bereik is nie. Die skool wat redelik arm was aan tradisie, gemeet aan wat ’n mens graag sou wou sien (maar nog steeds veel beter as die omgewing waaruit die swart leerders in terme van tradisies kom), het van die tradisie wat dit nog gehad het, verloor omdat gedwonge integrasie van kulture tot gevolg het dat niemand later meer tradisie het nie. Veiligheid word skielik ’n probleem by die skool, en die gemeenskap het ’n algehele wantroue in die regstelsel. Daar is ’n totale gebrek aan belangstelling om vir jou regte te veg, omdat dit in elk geval nie gehandhaaf sal word nie – die direkte gevolg van die politieke uitspraak teen regte wat in die Grondwet verskans is.
Nou, waarheen vanaf hierdie punt? Daar is geen twyfel dat transformasie deel van die huidige Suid- Afrikaanse politieke omgewing is nie. Daar is by die oorgrote meerderheid van die gemeenskap nie opstandigheid hieroor nie. Maar dit is ’n ewe groot werklikheid dat openbare skole nie kan staande bly met diskriminerende finansiële bydraes vanaf die staat nie, dat daar gefokus moet word op die regstelling van onderwysagterstande. Die verantwoordelikheid vir die opheffing van agtergeblewe gemeenskappe kan nie sonder meer op ’n enkele skoolgemeenskap afgeskuif word nie.
Die grootste haakplek in die hedendaagse Suid- Afrika is die gehalte van die onderwys wat die meerderheid swart leerders in die platteland ontvang. Daar sal reguit hieroor gepraat moet word, en die omvang van die krisis noop tot optrede wat gestroop is van politieke retoriek en gefokus is op onderwysdoelwitte. Leerders daag byvoorbeeld by die hoërskool op terwyl hulle nie gereed is daarvoor nie; leerders in arm gemeenskappe se onderwys misluk onder die las van alledaagse bestaan en oorlewing, en die gebrek aan ’n leeromgewing maak suksesvolle skoolloopbane feitlik onmoontlik. Dit is die skrywer se eerlike mening dat arm swart leerders kunsmatig uit armoede verwyder moet word deur hulle in koshuise te plaas waar naskoolse aktiwiteite op ontwikkeling en studie fokus, in plaas van oorlewingsaktiwiteite soos water haal, kosmaak en wasgoed was. Waar ’n leeromgewing van boeke, tydskrifte, ’n biblioteek, studietye en internet geskep kan word, aangesien armoede nie oornag opgehef kan word nie. Leerders moet individueel getoets word vir vordering en daar moet nie geskroom word om agterstande reg te stel voordat aanbeweeg word na die volgende fase nie. As die klem op die eindresultaat en einddoelwit geplaas word, sal die proses nie meer as diskriminerend beskou word nie, maar die enigste proses tot sukses word.
Moedertaalonderrig is die enigste manier waarop leerders binne beperkte tyd kan leer om te visualiseer, te verstaan en om vreemde begrippe te bemeester. Terwyl dit nie ekonomies haalbaar is in Suid-Afrika om aan almal moedertaalonderrig te gee nie, moet swart leerders moedertaalondersteunde onderrig kry: ’n Onderwyser wat sy of haar taal magtig is moet beskikbaar wees om aan ’n leerder in sy moedertaal wiskundige en wetenskapbegrippe te verduidelik voordat daar weer oorgeslaan word na die “wetenskaptaal” waarin die klas aangebied word. Afrikaanse ouers en leerders moet verseker word van hulle reg om in Suid-Afrika te wees en begin uitsien na ’n toekoms en ’n bydrae in die land. Anders gaan ons die begaafdes onder hulle bly verloor aan die buiteland, terwyl dié wat oorbly doelloos deur skoolloopbane ploeter omdat hulle geen toekomsverwagting het nie.
In die Noordkaap is die swartmense se tweede taal Afrikaans. Om een of ander rede word hulle polities beïnvloed om onderrig in Engels te eis. Die resultaat is rampspoedig en onbillik teenoor die leerder. As onderwyssukses gemeet word aan die syfer wat die uitval vanaf graad 1 tot graad 12 aandui, sal die skok wel kom. In ’n ekonomie waarin werkloosheid een van die grootste bedreigings is, kan leerders nie verder toegelaat word om die skool te verlaat nadat enorme kostes aangegaan is deur die staat en die arm ouers, wat self nie behoorlik kan lees en skryf nie. Leerders word aangeskuif deur die stelsel om net die skool te verlaat wanneer hulle by die punt kom waar die onvermydelike matriekeksamen die finale beslissing vel.
Die versoek is eenvoudig: Haal politiek uit die onderwys, fokus op onderwysdoelwitte en gebruik moedertaal (ook Afrikaans) maksimaal om resultate te verseker. Vordering op dié gebied is kritiek vir armoedeverligting en die versekering van ekonomiese groei in Suid-Afrika.
* Voorsitter, Beheerliggaam, Hoërskool Kalahari, Kuruman
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=986