blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekologie: Daar’s hoop 2008-02-12
Deur Danie Goosen

Die mensdom staar ’n natuurkrisis in die gesig. Nogtans is dit ’n vraag of die oorsake van die krisis altyd behoorlik deur internasionale vertolkers verwoord, en die nodige politieke en ekonomiese stappe voorgestel word om daarop te antwoord.
Minstens twee probleme kan in die internasionale gesprek oor die oorsake geïdentifiseer word. Die eerste hou verband met die gewig wat aan die begrippe ‘produksie’ en ‘verbruik’ in hul analise van die krisis gegee word. Terwyl internasionale vertolkers die buitensporig hoë vlakke van produksie as ’n belangrike oorsaak beklemtoon, word die rol wat die wildgroeiende vraag in die verbruikersamelewing speel (of die wildgroeiende vraag wat die verbruikersamelewing in wese is), dikwels onderbeklemtoon of selfs volledig gesystap.
Clem Sunter van Anglo-American se onlangse lesing by ’n vervoerkonferensie oor die Chinese ekonomie is ’n tipiese voorbeeld hiervan. As daar volgens Sunter ’n probleem vir die ekologie in die Chinese ekonomie skuil, hou dit volgens hom veral verband met die enorme produksievermoë daarvan. Soos die feit dat die Chinese elke jaar sowat 70 GW tot hulle elektrisiteitskapasiteit toevoeg, terwyl Eskom se totale vermoë omtrent 38 GW beloop. Soos met ander internasionale vertolkers hanteer Sunter egter nie die buitensporige vraag na verbruikersgoedere op ’n deurtastende wyse nie. Die gevolg daarvan is dat die bronne van die hoë produksiesyfers eenvoudig buite beskouing gelaat word.
Uiteraard word daarmee nie te kenne gegee dat oormatige produksie ’n onbelangrike rol in die vermorsing van die aarde speel nie. Die feit dat die rol van die onbeperkte vraag egter buite sig gelaat word, skep die indruk dat dit as ’n soort ‘natuurlike gegewe’ aanvaar moet word. Of dat die mens nou maar ten ene male – en dikwels word bygevoeg, ‘ter wille van oorlewing’ – soveel moet verbruik as wat tans gebeur. Enige noodsaaklike veranderings sluit daarom ook by implikasie ’n verandering in ons verbruikerspatrone uit. Die feit van die saak is egter dat die hoë produksievlakke nie ingekort gaan word as die wildgroeiende vraag nie gehanteer en uiteindelik deur veel groter ewewigtigheid gekenmerk gaan word nie.
Dit bring ons by ’n tweede probleem van die globale gesprek rondom die oorsake van die ekologiese krisis. Volgens die oënskynlike konsensus onder belangrike woordvoerders lê daar ’n groot verantwoordelikheid op die staat om die hoë vlakke van produksie te bestuur. Die ekologiese krisis, sê hulle, kan opgelos word as die veelheid van veral ontwikkelde state die produksiekragte binne hul onderskeie grondgebiede by wyse van ooreenkomste en kontrakte aan bepaalde beperkinge onderwerp. As die VSA, die state van die EU, China of Japan hierdie of daardie internasionale verdrag oor produksie onderteken, sal die oorsake van die krisis uit die weg geruim word. En sal die hemele en die waters weer blou word ...
Nou is dit nie die bedoeling om die state van hulle verantwoordelikheid jeens die natuur vry te spreek nie. Uiteraard kan die state ’n bepaalde rol speel. Soos wat nog hieronder sal blyk, stel ons veral dié verwagting aan daardie state waarin kultuurgemeenskappe ’n sinvolle rol kan speel. Maar minstens twee uiteenlopende en selfs weersprekende teenvrae moet ook ter sprake gebring word. Die een hou verband met die selfs hoër verwagting wat aan die staat gestel moet word. Die ander, juis met die onmag van die staat.
Eerstens: word die state nie te maklik van hulle verantwoordelikheid onthef wanneer daar eensydig klem op produksie as die hoofbron van ons probleme gelê word nie? Rus daar nie eerder op hulle die plig om ook en veral die vraagkant van die globale ekonomiese ‘stelsel’ ter sprake te bring en daarop ’n werklik uitvoerbare antwoord te gee nie? Deur van die state te verwag om slegs die produksiekant te hanteer, word die illusie immers in stand gehou dat die hoë verbruikersvraag eintlik is soos dit behoort te wees. Tweedens, en in spanning met bogenoemde verwagting: is dit nie juis te veel van die state gevra nie? Kan die staat hoegenaamd ’n enkele jota of tittel aan die vraagkant van die bestaande ekonomiese orde verander? En as die staat dit inderdaad nie kan doen nie, wat is die alternatief?
Alhoewel die ekonomiese orde veral by wyse van die advertensiewese poog om verbruikers daarvan te oortuig dat die magdom verbruikersprodukte ‘noodsaaklik’ is, is verbruik nie noodwendig ’n noodsaak nie. Verbruik en verbruikersvoorkeure is eerder ’n saak wat simbolies bemiddel word. Verbruikers ag met ander woorde dit wat deur die kommunikatiewe netwerke van die ekonomiese orde met simboliese gewig beklee word, as begerenswaardig. En juis hierin lê die probleem met die onmag van die teenswoordige staat.
Tydens die hoogbloei van die moderne staat in die negentiende eeu het laasgenoemde homself tot die ideaal van Bildung of – in ander taal, die kultivering en begrensing van ons begeertes – verbind. In die praktyk het dié verbintenis beteken dat die staat dinge soos ‘arbeidsaamheid’, ‘produktiwiteit’ en ‘spaarsamigheid’ bevorder het. Daarmee het die staat reeds simbolies daarvoor gesorg dat die verbruikersvraag binne perke gehou is. Vandag is die kritiese vraag egter of die staat dit nog kan doen. Kan hy hom nog op die ideaal van Bildung beroep? Minstens die volgende moet in die beantwoording van dié vraag verreken word:
Met die oorwinning van die neoliberale orde oor die sosialisme het die onbeperkte uitbreiding van die verbruikersvraag ’n kenmerk van die nuwe wêreldorde geword. Die simboliese sensuur wat die staat vroeër by wyse van die ideaal van Bildung op onbeperkte verbruik toegepas het, het bykans oornag verdwyn. Nou het dan ook waar geword wat die Klassieke so gevrees het, naamlik dat ‘verbruik’ belangriker as ‘handeling’, die ‘ekonomie’ belangriker as die ‘politiek-geestelike’ geword het. Homo politicus et spiritualis het plek gemaak vir homo oeconomicus.
Kortom, die oorwinning van die neoliberale orde gaan gepaard met ’n dramatiese verandering in die simboliese invloed van die staat op verbruik. In plaas daarvan om met ’n beroep op Bildung die simboliese gewig van verbruik te beperk, volg die staat nou eerder die simboliese voorskrifte van die ekonomiese orde na. (Sommige Asiatiese ‘Tiere’ is hierop ’n uitsondering, omdat hulle doelbewus die vraag na luukse verbruikersartikels ontmoedig het.) In plaas daarvan om die gelaaide begrip ‘ontwikkeling’ met produksie en arbeidsaamheid te verbind, word dit gelyk gestel aan die grenslose uitbreiding van behoeftesisteme en die skep van soveel as moontlik kunsmatige begeertes. So het die state deel van die krisis eerder as ’n antwoord daarop geword.
Maar dit bring ons by die punt van gemeenskappe. Dit is teen die agtergrond van die veranderde rol van die staat dat kultuurgemeenskappe ’n belangriker rol in die ekologiese gesprek inneem. Maar watter rol kan hulle speel?
Die eerste antwoord hierop lui dat kultuurgemeenskappe hul rug op die nou verswakte staat moet keer en dat hulle ’n eie weg met betrekking tot ekologiese vrae moet inslaan. Dit is die antwoord van diegene wat meen dat daar ’n bloot arbitrêre verband tussen die staat en gemeenskappe bestaan en dat dit – die arbitrêre verhouding veral tot uitdrukking kom in die feit dat state histories dikwels vyandig teenoor die wense en begeertes van gemeenskappe staan. Eers as die gemeenskappe hulleself dan ook van die staat losgemaak het, lui die argument, sal hulle op ’n sinvolle wyse inspraak in die natuur kan verwerf.
Die tweede standpunt waarby hier aangesluit word, lui dat die staat nie per definisie ’n arbitrêre of ’n vyandige verhouding met kultuurgemeenskappe het nie. Laasgenoemde is eerder van ’n spesifieke staat waar, naamlik die moderne territoriale staat, waar gemeenskappe onder meer buite die sfeer van die politieke gedwing en aan ’n proses van privatisering onderwerp word. Dit is ook en veral dié staat wat, onder meer vanweë sy arbitrêre verhouding met gemeenskappe en hul tradisies, juis nie meer ’n simboliese aanspraak op die burgers en die veelheid van gemeenskappe maak nie. En wat dus aan die voorskrifte van die verbruikerskultuur oorgelewer is.
Daar is egter ook iets soos ’n organiese verhouding tussen die staat en kultuurgemeenskappe moontlik. Laasgenoemde is waar van die federale staat en in die besonder van dié federale staat wat homself as ’n gemeenskap van gemeenskappe ervaar. Gemeenskappe kan in so ’n staat juis op ’n sinvolle wyse beliggaam word ook met betrekking tot hulle rol in die ekologiese krisis.
Maar watter rol kan die gemeenskappe in die gemeenskapsfederatiewe staat speel? Alhoewel verskeie dinge genoem kan word, hou dit ook en veral verband met die vraag van verbruik en die wildgroeiende uitbreiding van begeertes. En met die kwessie van Bildung waarna hierbo verwys is. Kultuurgemeenskappe kan ’n kritiese korrektief op die gedagte wees dat die wildgroeiende verbruik van vandag ’n natuurlike gegewe is. Nog sterker geformuleer: gemeenskappe kan juis teen die voorskrifte van die globale ekonomiese orde gestalte gee aan die idee dat die huidige patrone van verbruik ‘onnatuurlik is’!
Meer as enige ander gegewe word kultuurgemeenskappe gekenmerk deur dinge soos hulle deugde, gewoontes en tradisies, asook deur hulle netwerke van instellings (kerke, skole, universiteite, vakbonde, besighede, ensovoorts) waar dié deugde beoefen word.
Maar juis hierin lê die bronne van weerstand teen die verbruikerskultuur vervat. Waarom? Want dit is in en deur die kultivering van die tradisionele deugde (dapperheid, matigheid, goeie oordeel, geregtigheid en vriendskap) op die verhoë van gemeenskapsinstellings dat die strukture van die moderne globale begeerte as onnatuurlik ontmasker kan word. En die tradisionele ideale vir ons begeertes tegelyk as normatief – of as natuurlik – voorgehou kan word.
Nog meer, dit is deur die beoefening van die deugde binne hulle instellings (kerke, skole, universiteite, verenigings) dat gemeenskappe ook opnuut hul historiese rol met betrekking tot die staat kan opneem, naamlik as dié instelling waardeur die drome en ideale van gemeenskappe beliggaam kan word.
Ook wat betref die natuur.
* FAK-voorsitter en skrywer van Die nihilisme: Notas oor ons tyd (Johannesburg: PRAAG, 2007)

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=985
Artikel nagegaan:
    -