Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
Net soos elektrisiteit gaan water in SA versigtig hanteer moet word.
Deur Pieter Pansegrouw - Waterkundige
Min mense in Suid-Afrika ken die werklike syfers wat van Suid-Afrika ’n water-arm land maak. Dit is eintlik interessante syfers, maar ook syfers wat nie altyd ten volle deur almal in Suid-Afrika besef word nie. Kom ons kyk ’n bietjie na hierdie syfers. Eerstens is dit belangrik om na enige land se langtermyn jaarlikse gemiddelde reënval- en verdampingsyfers te kyk om ’n idee te vorm of die land ’n water-arm of ’n waterryk land is. In Suid-Afrika se geval is ons langtermyn gemiddelde jaarlikse reënvalsyfer sowat 500 mm en ons langtermyn gemiddelde jaarlikse verdampingsyfer sowat 2 000 mm. Ons gemiddelde jaarlikse verdampingsyfer is dus vier maal groter as ons gemiddelde jaarlikse reënvalsyfer, oor die lang termyn beskou. Dit beteken dus dat daar jaarliks oor die hele oppervlakte van Suid- Afrika vier maal meer water potensieel sou verdamp as wat daar jaarliks oor die hele land se oppervlakte val.
Geen wonder dus dat Suid-Afrika volgens internasionale maatstawwe as ’n water-arm land geklassifiseer word nie. Suid-Afrika is naamlik op 26 na die droogste land ter wêreld uit ’n totaal van 194 amptelike lande. Die 26 lande wat droër as Suid-Afrika is, is hoofsaaklik in die Sahara-woestyngordel en in die Midde-Ooste geleë. Die heel droogste lande ter wêreld kom op die Arabiese skiereiland voor, wat basies uit woestyngebied bestaan. Hulle is lande soos Saoedi- Arabië, Katar en Bahrein. Hulle word gevolg deur die Sahara-woestynlande soos Algerië, Libië en Egipte in Afrika. Heelwat ander Afrika-lande is ook baie droog, en dit is interessant om daarop te let dat Afrika die droogste vasteland op aarde is. Dit maak Afrika in sy geheel dan ook baie kwesbaar vir potensiële droogtes as gevolg van byvoorbeeld aardverwarming.
Maar om na Suid-Afrika terug te keer, kan ’n mens jouself afvra hoe dit moontlik is om in ’n land te oorleef waar die verdamping vier keer meer as die reënval is. Gelukkig is die verdamping en reënval in Suid-Afrika nie eweredig oor die land versprei nie en kom daar heelwat meer reën in die oostelike gedeelte van die land as in die westelike gebiede voor. Die verdamping is ook minder in die oostelike gedeelte van Suid-Afrika as in die westelike deel. Die gevolg is dat daar darem surpluswater vir die land in die oostelike gedeeltes van Suid-Afrika beskikbaar is. Dit het daartoe gelei dat die meeste damme in Suid-Afrika in die oostelike gedeelte van die land gebou is, en dat ons groot water-oordragskemas oorwegend water vanaf ’n oostelike na ’n westelike rigting in Suid-Afrika vervoer. Siviele ingenieurs moet beslis krediet vir die bou van hierdie damme en oordragskemas kry, want daarsonder sou ’n provinsie soos Gauteng byvoorbeeld tans reeds te min water gehad het.
Suid-Afrika se totale gemiddelde jaarlikse afloop in sy riviere is sowat 53 500 miljoen kubieke meter water. Hiervan is slegs sowat 33 000 miljoen kubieke meter werklik jaarliks benutbaar, want die res gaan verlore omdat daar onder meer nie oral damme in ons riviere bestaan om die water op te vang nie. Damme is dus belangrik vir ’n water-arm land soos Suid-Afrika. In die verlede is daar soms spottenderwys na die grootskaalse bouery van damme in Suid-Afrika verwys, maar dit het darem meegebring dat die totale volume van die groot opgaardamme in ons land sowat 50 % van die gemiddelde jaarlikse afloop van ons riviere per jaar uitmaak, dus sowat 26 750 miljoen kubieke meter in totaal. Hierdie opgaarvolume help daadwerklik dat ons tans darem nog ons dors in Suid- Afrika kan les, hoewel ons land se jaarlikse watergebruik al meer as 20 000 miljoen kubieke meter water per jaar beloop. Die verskil tussen die hoeveelheid water wat jaarliks in Suid-Afrika beskikbaar is en die hoeveelheid water wat jaarliks in die land gebruik word, word dus al hoe kleiner.
Op die oomblik word daar darem weer damme soos die Bergrivierdam naby Franschhoek in die Wes- Kaap en die De Hoopdam in die Steelpoortrivier noord van Roossenekal, naby die grens tussen Mpumalanga en Limpopo, gebou. Hierdie damme sal die totale opgaarvermoë van ons damme ’n bietjie laat toeneem. Daar is ook ’n interessante verband tussen water en elektrisiteitsopwekking soos – onder meer – in die geval waar pomp-opgaarskemas gebou word. In die Wes-Kaap bestaan daar nog die moontlikheid om ’n groot pomp-opgaarskema in die middellope van die Bergrivier te bou, wat ook nog in die toekoms tot ’n groterige dam of twee in Suid-Afrika kan lei. Dit kan die hinderlike kragonderbrekings wat ons tans in Suid- Afrika ervaar, verminder of selfs uitskakel, maar sal van Evkom se belangstelling in só ’n skema afhang.
Afgesien van oppervlak-waterbronne soos damme, is Suid-Afrika maar swak bedeeld met grondwaterbronne. Hoewel grondwater vir baie Suid- Afrikaners in veral die droë dele van die land van onskatbare waarde is, het Suid-Afrika maar swak grondwaterbronne, en maak grondwater slegs ’n klein persentasie van die totale beskikbare water in die land uit.
Die laaste oase of “laaste watergat” wat Suid- Afrika met betrekking tot konvensionele waterbronne beskikbaar het, is watervraagbestuur. Dit sal vereis dat ons almal sal moet leer om water spaarsamiger en doeltreffender te gebruik. In die munisipale watergebruiksektor kan ons byvoorbeeld ons storte, krane en toilette met waterbesparende toebehore “retro- installeer.” In die toekoms sal ons byvoorbeeld op nasionale of streeksvlak tipiese besluite moet neem soos of dit meer ekonomies sal wees om vyf miljoen toilette in Gauteng te “retro-installeer” eerder as om ’n addisionele fase tot die Lesotho-Hoogland Waterskema te probeer voeg, of om water vanaf Kwazulu-Natal na Gauteng toe oor te pomp.
Ons sal ook moet leer om al hoe meer waterwys tuine in ons stede en dorpe aan te lê. In die industriële watergebruiksektor sal ons ons water talle kere moet hersirkuleer en ook moet hergebruik. In die besproeiingsektor sal ons moet leer om doeltreffender te besproei, reënwater te oes en afvalwater op groter skaal vir besproeiing aan te wend. Selfs in die omgewingsektor sal ons strenger watervraagbestuur moet begin toepas, soos om dorstige indringerplante uit te roei. In die kragsektor sal ons weer moet leer om krag doeltreffender te gebruik, want die steenkoolkragsentrales in Suid-Afrika gebruik gemiddeld ongeveer twee liter water om een eenheid (een kilowatt-uur) elektriese krag te produseer. Dit beteken dat soveel as twee liter water in Suid-Afrika benodig word om ’n enkele 100 Watt-gloeilampie vir slegs tien uur lank te laat brand.
Ons sal ook beslis hernieubare energiebronne soos wind-, son- en gety-energie moet begin aanwend in plaas daarvan om enorme hoeveelhede steenkool en water te gebruik om elektriese krag in Suid-Afrika op te wek. En so bestaan daar nog talle watervraagbestuursmetodes wat ons in al ons watergebruiksektore in Suid-Afrika kan aanwend om water te bespaar en doeltreffender te gebruik. Wat ons konvensionele waterbronne betref, is dít beslis die “laaste watergat” wat ons in Suid-Afrika beskikbaar het.
Daar bestaan nog ’n aantal “onkonvensionele” waterbronne vir Suid-Afrika wat interessant, maar tans nog te duur of nog nie heeltemal ekonomies genoeg is nie. Hulle kan egter in die toekoms nog op groot skaal realiseer sodra water werklik skaars en duur in Suid- Afrika begin raak. Hierdie bronne sluit die ontsouting van brak- of seewater, die melk van reënwolke en die aanwending van ysberge vanaf Antarktika in.
Daar kan in die toekoms moontlik ook na ’n groot noord-suid waterdraer vanaf die Zambezi- of selfs die Zaïre-rivier na Suid-Afrika gekyk word, want hierdie riviere het elkeen meer water as al Suid-Afrika se riviere saam. Dit sal egter goeie samewerking tussen talle Suider-Afrikaanse state vereis, want volgens internasionale waterregbeginsels sal die state wat aan hierdie riviere grens, die eerste keuse kry as dit by die toekenning van water vanuit hierdie riviere kom.
Intussen moet ons egter ernstig na ons bestaande waterbronne en ons huidige watertoestand in Suid- Afrika kyk. Die gehalte van die water in talle damme en riviere van Suid-Afrika is tans besig om te versleg. In die verlede was die versouting, eutrofisering en besoedeling van ons waterbronne altyd ’n bron van kommer, maar nou het die bestuur van ons watersuiweringswerke deur ons plaaslike owerhede ook nog ’n bykomende bron van kommer geword. ’n Gebrek aan kundigheid by owerhede op die gebied van doeltreffende waterbronbestuur het oor die afgelope aantal jare in Suid-Afrika na vore getree. Oor die afgelope aantal jaar het daar soms al uitbrake van cholera in Suid-Afrika voorgekom, terwyl ’n plek soos Delmas gedurig in die nuus is oor onaanvaarbare waterbesoedeling, wat onder plaaslike watergebruikers reeds tot maagkoors gelei het. Hierby moet ook nog gevoeg word dat die uitruil van inligting tussen eerstevlakse waterinligtingsverskaffers (“water information providers”) en die derdevlakse plaaslike owerhede oor wateraangeleenthede in Suid-Afrika nie altyd so doeltreffend is as wat ons dink en algemeen aanvaar nie.
En dan is daar nog die kwessie van aardverwarming wat ons watervoorraad in die toekoms nadelig mag raak. Voorspellings van groter droogtes, hoër temperature, groter vloede en groter klimaatuiterstes sal beslis ’n invloed op ons watervoorraad en damme hê indien dit sou realiseer – en dit lyk al hoe meer of dit werklik die geval is. Met groter vloede soos onlangs in die Suid-Kaap ervaar is, sal ’n mens aan vloedopvangdamme in die benedelope van ons riviere naby aan die kus moet begin dink om die surplusvloedwater te probeer opvang voordat hierdie groot hoeveelhede vloedwater onbenut die see in loop. Maar dit sal alleenlik ekonomies regverdigbaar wees as ’n mens die vloedwaters dan daadwerklik nuttig in die kusgebiede sal kan aanwend sonder om dit weer te ver binneland toe te moet pomp.
Om op te som, Suid-Afrika se waterbronne en ons algemene watertoestand in die land laat beslis gevaarligte flikker. Ons is egter nog nie by die werklike gevaarpunt waar ons almal in die land begin dors ly nie. Ons moet egter die tyd tot ons beskikking so goed moontlik benut, want waterbronne neem gewoonlik lank om te ontwikkel – hetsy hulle nou konvensionele of onkonvensionele bronne is. ’n Mens praat normaalweg van tien tot twintig jaar om waterbronne te beplan, daar te stel en in bedryf te stel. Die enigste troos wat ons het, is dat ons verswakkende varswatertoestand ’n wêreld-tendens is en dat ons nie alleen staan nie. Internasionale organisasies waarsku al lank al dat die wêreld binne die volgende twintig tot dertig jaar met ernstige waterprobleme te kampe sal hê. Gedurende die afgelope dekade wys hierdie organisasies ook dikwels op aardverwarming wat blykbaar besig is om die naderende wêreld-waterkrisis aansienlik te versnel.
In noodsituasies kan die mens egter nogal innoverend wees, en ons sal moet sien of iemand dalk in die volgende tien tot twintig jaar met ’n uiters goedkoop proses vorendag sal kan kom wat een suurstof-atoom aan twee waterstof-atome (op geweldige groot skaal) aan mekaar sal kan bind. Of soos president John F Kennedy van die VSA gedurende die vroeë 1960’s gesê het, sal die ontdekking van ’n proses om seewater op groot skaal baie goedkoop te ontsout, ’n groter prestasie vir die mensdom wees as om ’n man op die maan te plaas!
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=984