blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Slabbert se oplossing? 2008-02-12

Geagte Redakteur,
Dr Frederik Van Zyl Slabbert se aktuele artikel, “Kreungeluide vir SA demokrasie” (Die Vrye Afrikaan, 21 Desember 2007) verwys.
Daarin lees ek dat die klassieke liberaal- demokratiese Grondwet faal, en hulp benodig op ’n nasionale skaal: “Elke gewone burger sal moet begin moue oprol.” Ons leef tans in George Soros se “Age of Fallibility”, waarin selfs topteorieë en die room van rasionalisme faal. Met ons verwys ek na Slabbert as raadslid van Soros se Open Society Initiative, nou ook vir die oop liberaal-demokratiese Suid-Afrika. Die Open Society Initiative is onafhanklik van beide staatsgesag en gewone burgers, en “puts its money where its mouth is”. Hierdie filantropie finansier politieke projekte in die Afrikaanse idioom van geld wat stom is maak reg wat krom is.
Want dis die klassieke liberaal-demokratiese Grondwet wat nou kreun en krom is. Die Grondwet se skeiding van magte werk nie in die praktyk soos op papier nie. Die gevolg is dat die reg die mag volg. In die nie-demokratiese “ou” Suid-Afrika was staatsmagte ook geografies geskei, met hul setels in onderskeidelik Kaapstad, Pretoria en Bloemfontein.
Die probleem is dat die geografiese skeiding vandag óf nie meer groot genoeg is nie, óf dat Carl Schmitt korrek was: daar bestaan ’n botsing tussen die liberale dogma van die skeiding van magte, en die natuurlike aard van demokrasie soos dit tans voor ons Die Vrye Afrikaan oë in die ANC-magstryd afspeel. Volgens Karl Popper se teorie, is hierdie praktiese probleem nie ’n deterministiese faling van die geskiedenis nie, maar kan die liberale demokrasie in teorie verbeter word deur die verstandige rede van individue.
Alle lewe is probleemoplossing. Dis dus logies om die regterlike gesag – die Konstitusionele Hof, Nasionale Vervolgingsgesag en Skerpioene - na buite ons soewereine regstaat se geografiese jurisdiksie te skuif, waar die land se president nie van die onafhanklike regbankregters kan aanstel, die Vervolgingshoofde kan aankla of afdank, en die Skerpioene kan ontbind nie.
Prakties gegewe genoeg geld? Nee, want buite die landsgrense sal die genoemde magte ook nie onafhanklik wees nie, maar onder invloed van ander soewereine met hul weermagte en polisiehoofde. In ’n demokrasie het elke burger ’n stem, ’n nanogedeelte van die politieke mag – dus moet almal die moue oprol. Maar hierdie Mouw vind geen polities- korrekte oplossing vir hierdie politieke probleem nie.
Daarom doen ek ’n beroep op Slabbert om ’n praktiese oplossing uit te dink en met Suid-Afrika te deel. Soos Schmitt is Slabbert ’n intellektuele reus, en as die mees gesagvolle liberaal-gelowige in Afrikaans, vertrou ek dat Slabbert en die OSI die demokrasie in Suid-Afrika kan red - daardie klassiek liberale demokrasie wat tot stand gekom het danksy die moue oprol van onder meer die Progressiewe Party en doktor Slabbert.
– Jacob Mouw, Middelburg, Mpumalanga

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=983
Artikel nagegaan:
    -