|
||||
Ignacio Ramonet Sal die Amerikaanse Federale Reserwebank se aankondiging van ’n beduidende rentekoers- verlaging daarin slaag om ’n resessie in die VSA te voorkom en die spook van ’n wêreldwye ekonomiese ineenstorting te verdryf? Talle kenners dink so. En selfs al verwag hulle ’n afname in ekonomiese groei, voorsien hulle nie ’n brutale verlangsaming van die wêreldekonomie nie. Maar ander ontleders – wat glad nie anti- kapitalisties is nie – blyk baie bekommerd te wees. So voorspel mnr. Jacques Attali byvoorbeeld in Frankryk dat “die New Yorkse Aandelebeurs, die hoeksteen van ’n piramide van lenings, gaan ineenstort.” (1) En mnr. Michel Rocard verklaar dat “die wêreldkrisis op hande is”. Hy huiwer nie om by te voeg nie: “Ek is oortuig dat dit binnekort gaan ontplof.” (2) Dit moet gesê word dat die tekens van wantroue toeneem. Hiervan getuig die huidige “goudstormloop”. Die goue metaal, waarvan die prys in 2007 met 32% gestyg het, bevind hom weer in die rol van waardeversekeraar. Al die groot ekonomiese organisasies, waaronder die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO), voorsien ’n afname in wêreldgroei. Dit het amper alles begin met die prik van die internetborrel in 2001. Ten einde beleggers te behou, het die destydse president van die Amerikaanse Federale Reserwebank (Fed), mnr. Alan Greenspan, toe besluit om beleggings in die rigting van eiendom te stuur (3). Deur middel van ’n beleid van baie lae rentekoerse en die besnoeiing van finansieringskostes het hy die eiendoms- en finansieringstussengangers aangemoedig om op hulle beurt al hoe meer kliënte te oortuig om in sement en stene te belê. So word die stelsel van “subprima’s” geskep, oftewel hoërisiko verbandkrediet teen wisselende rentekoerse vir die armste huishoudings (4). Maar toe die Fed in 2005 die einste rentekoerse wat dit self vroeër verlaag het, weer verhoog het, is die masjien gesaboteer. ’n Domino-effek is veroorsaak, wat vanaf Augustus 2007 die internasionale bankstelsel laat wankel. Die bedreiging van bankrotskap vir meer as drie miljoen huishoudings, wat gesamentlik skuld van meer as 200 miljard euro (2 000 miljard rand) het, lei tot die bankrotskap van leidende kredietverskaffers. Om hulleself teen hierdie risiko te beskerm, het hulle ’n deel van hulle twyfelagtige leningsboeke verkoop aan ander banke, wat dit op hul beurt weer gesedeer het aan spekulatiewe beleggingsfondse. Dié het dit weer op hulle beurt versprei tussen banke die wêreld oor. Die gevolg: soos ’n weerligepidemie versprei die krisis deur die wêreldbankstelsel. Belangrike finansiële instellings soos Citigroup en Merrill Lynch in die VSA, Northern Rock in Brittanje, Swiss Re en UBS in Switserland, die Société générale in Frankryk, ens. moes uiteindelik reuse verlies erken, en verwag verdere waardevermindering. Om die skade te beperk moes heelwat van hulle kapitaal van soewereine fondse uit die Suide en oliemonargieë aanvaar. Niemand weet al wat die ware omvang van die skade is nie. Sedert Augustus verlede jaar het die Amerikaanse, Europese, Britse, Switserse en Japannese sentrale banke honderde, miljarde rande in die ekonomie ingepomp sonder om daarin te slaag om vertroue te herstel. Intussen het die krisis vanaf die finansiële na die reële ekonomie versprei. En ’n sameloop van faktore, wat insluit die versnelde verlaging van eiendomspryse in die VSA, Brittanje, Ierland en Spanje; die prik van die likiditeitsborrel; die val van die dollar; en kredietbeperkings, lei in feite tot vrese vir ’n nettokrimping van wêreldgroei. Hierby kom nog ander faktore soos die stygende pryse van olie, basisminerale en voedselprodukte. Dit is die bestanddele van ’n uitgerekte krisis (5) – die belangrikste sedert globalisering die strukturele raamwerk van die wêreldekonomie vorm. Die oplossing hiervoor setel in die vermoë van die Asiatiese ekonomieë om weer die Amerikaanse enjin aan die gang te kry. Dit gaan dus om ’n nuwe blyk van die afgang van die Weste in aanloop tot die komende verplasing van die sentrum van die wêreldekonomie vanaf die VSA na China. In hierdie opsig sal die krisis die einde van ’n model aandui. (1) L’Express, Parys, 13 Desember 2007. (2) Le Nouvel Observateur, Parys, 13 Desember 2007. (3) Lees Crises financières à répétition: quelles explications? Quelles réponses?, Parys: Fondation Res Publica, 2008. (4) Kyk André-Jean Locussol Mascardi, Krach 2007. La vague scélérate des “subprimes”, Parys: Le Manuscrit, 2007. (5) Kyk Frédéric Lordon, “Quand la finance prend le monde en otage”, Le Monde diplomatique, September 2007. |