Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Reeks: Hulle was ook ons: ’n Nuwe reddingsdaadbond vir die Afrikaanse armes? | 2008-02-12 | |
|
Albert Venter
|
Enkele maande gelede doen die redakteur van Die Burger, Henry Jeffreys, in ’n rubriek ’n oproep om ’n nuwe reddingsdaadbond om Afrikaanse armes in veral die Weskaap op te hef en ekonomies te red. Hy verwys na die Reddingsdaadbond van die 1930’s tot 1950’s van die vorige eeu as ’n voorbeeld van hoe Afrikanerwerkers uit armoede opgehef is. Maar wat is die storie van die Reddingsdaadbond?
In Oktober 1939 roep die FAK in samewerking met Sanlam ’n Ekonomiese Volkskongres (EVK) byeen. Die doel daarvan was om die erbarmlike toestande waarin Afrikaner armblankes in veral die groot stede geleef het, om te keer. “Vader” Kestell, kapelaan van die Boerekommandos tydens die Anglo- Boereoorlog van 1899-1902, het reeds die vorige jaar tydens die Ossewatrek van 1938 ’n beroep op die Afrikaners gedoen om ’n reddingsfonds te stig. Hierdie moes ’n goddelike reddingsdaad wees om die Volk uit armoede te red. Die oproep het gestalte gekry in die Ekonomiese Volkskongres. Sanlam het deur MS (Tinie) Louw betrokke geraak omdat Louw aangevoer het dat die Volk slegs deur die mobilisering van kapitaal en beleggings ekonomies sterk gemaak kon word. Die direksie van Sanlam het goedgekeur dat ’n maatskappy gestig en kapitaal gewerf word om beleggings te maak ten einde die Volk ekonomies te versterk.
Tydens die Ekonomiese Volkskongres is die gedagte van ’n beleggingsmaatskappy ter ondersteuning van die Volk goedgekeur, tesame met ’n aantal koöperatiewe skemas waardeur die Volk deur ekonomiese samewerking sigself moes ophef. Op die EVK was daar duidelik verdeeldheid tussen die suidelike kapitaliste en die noordelike koöperatiste. Die uiteinde van die EVK was dat drie belangrike instellings gestig is: die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), om Afrikaner-sakelui se belange te bevorder; Federale Volksbeleggings (FVB), om Afrikanerkapitaal te mobiliseer – Sanlam sou die kapitaal van FVB onderskryf en help werf; en die Reddingsdaadbond (RDB), om die Volk ekonomies op te hef.
’n Reddingsdaadfonds is gestig waarin uiteindelik sowat R300 000 gewerf is (£150 000). Die £1miljoen waarvoor Vader Kestell gevra en gebid het, is nooit behaal nie. Die RDB moes drie dinge doen:
Afrikaners “ekonomies bewus” maak, hulle spare mobiliseer en hulle koopkrag ter ondersteuning van Afrikanerondernemings bevorder. Die RDB is ook ingespan om Afrikanerwerkers minder vyandig teenoor (Afrikaner) kapitaal te maak. Die RDB het ’n kleinskaalse massabeweging geword. Gedurende die jare 1940-1944 het dit ’n lidmaatskap van tussen 45 000 en 65 000 gehandhaaf. Teen 1950, met die tweede Ekonomiese Volkskongres, het lidmaatskap gedaal tot 32 000.
Die RDB was meer as ’n suiwer ekonomiese instelling. Dit het vryetydsafdelings gehad waarin volksdanse en kultuur bevorder is. ’n Reddingsdaad Amateur Rolprentvereniging is gestig. Konserte, musiekaande,kunskompetisies en dergelike kultuuraktiwiteite is gereël. Sake het egter nie agterweë gebly nie: goedkoop lewensversekering onderskryf deur Sanlam is verkoop, en ’n begrafnispolis was deel van lidmaatskapvoordele van die RDB. Daarbenewens is lenings toegestaan aan mikro Afrikanerondernemings. een 1950 was die RDB in ernstige finansiële moeilikheid en in 1957 is dit ontbind en die bates na die Ekonomiese Instituut van die FAK oorgeplaas.
So, het die RDB die Volk ekonomies opgehef en gered? Nie juis nie. Kyk maar na die kapitaal wat gewerf is: £150 000. Dit is algemene kennis dat die armblanke getalle in die 1930’s sowat 300 000 mense was. Vyftig pennies per kop kon kwalik ’n duit aan hulle ekonomiese toekoms verander. Die instellings wat wel by die RDB gebaat het, was Sanlam, Volkskas en Bonuskor. Die RDB is as voertuig gebruik om kapitaal en sake vir hierdie instellings te werf.
Die bewusmakingsveldtogte van die RDB en die bevordering van Afrikanersentiment om met dié ondernemings sake te doen was vir hulle voordelig. Die leninkies wat die RDB-fonds aan mikro-ondernemings gemaak het – gemiddeld sowat £250 per lening – het heel dikwels misluk en aggressiewe invordering van hierdie skuld het nie die trustees van die RDB gewild gemaak nie. Die koöperatiewe ondernemings wat deur dominees, professore en onderwysers gelei is, het meestal misluk. Enkeles, soos Uniewinkels in Pretoria, het lank suksesvol sake gedoen, maar kon klaarblyklik nie 300 000 mense uit armoede lig nie.
Sanlam het ’n kapitaalbron geword om ondernemings soos Rembrandt en Nasionale Pers te kapitaliseer. FVB het mettertyd ’n werklik groot onderneming geword met die verkryging van mynboubelange via Anglo-American (die General Mining groep) en die latere oorname van Union Corporation om Gencor te vorm. Hierdie ondernemings het die besture bevoordeel en die professionele werknemers (ingenieurs, rekenmeesters, geoloë en so meer) tot die boonste inkomstegroep opgehef. Maar weereens is 300 000 mense nie daardeur ekonomies opgehef nie. Die AHI het ’n inligtingsbron vir klein ondernemers geword en ’n drukgroep vir Afrikaner- ondernemers, veral nadat die NP in 1948 aan die bewind gekom het. Dit was ook ’n suksesvolle netwerk vir Afrikaner- ondernemers en finansiële tussengangers van Sanlam, Volkskas en Saambou. ’n Tipiese vrye ondernemingskultuur is hierdeur gevestig, en nie volkskoöperasies soos wat sommige stigters van die RDB daaroor gedroom het nie.
Wat het dus die 300 000 armblankes van die 1930’s ekonomies opgehef? Na my mening hoofsaaklik staatsintervensie. Die Hertzog-regering se beleid van beskaafde arbeid het poste vir blankes gereserveer en ekonomiese kompetisie deur swart werkers uitgeskakel of sterk verminder. Die NP- regering het dit later versterk met werkreserveringswetgewing. Tweedens is belastingbetalersgeld as belegging in infrastruktuurprojekte aangewend om Suid-Afrika ekonomies onafhanklik van Brittanje te maak: die stigting van Yskor, later Sasol, Foskor en ander staatskorporasies soos Krygkor en die Atoomkragkorporasie. Die SA Spoorweë, die Pos en Telegraaf departement en Eskom is gebruik om armblankes in diens te neem.
Teen 1977 was daar 22 staatskorporasies, vir alle praktiese doeleindes onder Afrikaner-bestuur en ’n Afrikaanse werkerskorps. Maar ook die indiensneming van Afrikaners in die sentrale staatsdiens, die verafrikaansing van die SA Polisie, die Weermag, Gevangenisdienste, provinsiale staatsdienste en munisipaliteite het die Afrikaner-werksmag ’n heenkome gebied. Afrikaners se politieke mag hét ’n groot bydrae gemaak tot ekonomiese bemagtiging. Teen 1965, minder as dertig jaar na die EVK van 1939, was die Afrikaners volledig ekonomies opgehef. In een geslag dus.
Werkloosheid het in 1970 feitlik nie onder Afrikaners bestaan nie. In 1936 was daar 97 000 Afrikaners in die openbare sektor in diens en teen 1970 groei dit tot 268 000 – ongeveer 34,4% van die totale Afrikaner-arbeidsmag. Voeg daarby dat daar groot beleggings gemaak is in die formele onderwys en opleiding van blankes en Afrikaners. Die staat- en semistaat- ondernemings het letterlik honderdduisende Afrikaners opgelei of laat oplei in alle fasettte van ekonomies belangrike vaardighede.
Die werklike nalatenskap van die EKV en die RDB was enersyds om middelklas Afrikaners bewus te maak van vrye ondernemerskap, eerder as om van hulle koöperatiewe lede te maak. Andersyds het dit gehelp om Afrikaner-kapitaal te mobiliseer na die Sanlam-, FVB- en Volkskasstalle en so Afrikaner- ondernemerskap bevorder waarvan Anton Rupert en Rembrandt dié voorbeeld is. Na 1965 het jong sakemanne uit Afrikaner-geledere na vore getree. Die “baba-konjunktuur geslag” van 1945 het begin om vir hulle ’n plek in die ekonomie te verwerf: Louis Luyt, Christo Wiese, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Johann Rupert en vele andere wat die korporatiewe en professionele leer bestyg het. Binne en buite die NP-beheerde regeringsapparaat was daar volop geleenthede om ryk te word of ten minste ekonomies baie voorspoedig te wees. Ja, die volk is ekonomies gered. Deels deur individuele ondernemerskap, deels deur korporatiewe mobilisering van kapitaal, maar veral deur die intervensie van die blanke en later NP-beheerde staat.
Hoe beantwoord mens dus Henry Jeffreys se versugting dat die ou Afrikaanse instellings (FAK, ATKV, AB, en nuweres soos Solidariteit) ’n nuwe RDB-inisiatief op koers moet kry? Ja, daar kan sekerlik burgerlike samelewingsinisiatiewe geneem word waarin hierdie “ou” instellings ’n bemagtigingsrol kan speel. Maar hulle vermoëns is uiters beperk. Burgerlike samelewingspogings, tesame met die strategiese intervensie van die staat om mense van vaardighede te voorsien – onderwys en opleiding dus – is van kardinale belang. Die weg van indiensneming deur die staat van groot getalle mense, is tans nie haalbaar nie. Dus is die staat se rol eerder vandag die verskaffing van doeltreffende en relevante onderwys en opleiding. Daardeur word individue bemagtig om hulle self op te hef.
Die veldtog van die Treatment Action Campaign om die staat sover te kry om anti- vigsmiddels te voorsien is ’n voorbeeld van hoe die staat gedwing kan word om sy eie beleid meer doeltreffend uit te voer. Aktivistiese druk op die staat om ’n baie beter opbrengs op sy belegging in onderwys en opleiding te bewerkstellig is tans ’n belangrike plig van die burgerlike samelewing. Dit is sal ’n ware nuwe Reddingsdaad wees.
* Departement Politiek, Universiteit van Johannesburg.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=979