blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


ESKOM: Voor in die wapad brand ’n lig 2008-02-12
Kleinjan Schietekat

Deur ons rondreisende verslaggewer, Kleinjan Schietekat
Terwyl die hoofstroommedia die afgelope weke oorstroom is met berigte van Suid-Afrikaners wat suur is vir ESKOM, het Die Vrypostige Afrikaan die land deurkruis en afgekom op talle verhale van hoop en blydskap wat wys dat die nasionale prentjie glad nie so donker is nie.
Een so ’n verhaal is dié van professor Hans Donker, dosent in filosofie aan ’n Wes-Kaapse universiteit. Donker vertel dat die volgehoue kragonderbrekings vroeg in die akademiese jaar sy inleidende kursus in die filosofie met ongekende sukses geseën het. “Dit is nou al baie jare wat ek my eerste lesing vir eerstejaars begin deur hulle te vra wat ’n filosoof is. Hoewel ek die Sokratiese metode gebruik om hulle met vrae uit die duister te lei, probeer ek hulle altyd subtiel stuur na my basiese definisie: ’n Filosoof is soos ’n geblinddoekte man wat in die middel van die nag ’n swart kat in die hoek van ’n rondawel probeer vaskeer!”
Donker sê die feit dat hy sy openingslesings vir verskeie eerstejaarsgroepe vanjaar in algehele duisternis kon aanbied, het die perfekte praktiese omstandighede geskep om sy definisie te demonstreer – “Iets wat ons filosowe nie altyd het nie. My indruk is dat daar vir heelwat studente in die proses ’n lig opgegaan het. Ek sou selfs sê dat hulle begin snap het dat die lig van die rede net so belangrik soos die lig van ’n gloeilamp is!”
Donker se geesdrif is gedeel deur ’n bekende Afrikaanse koerantredakteur wat anoniem met ons gesels het. Hy is alombekend vir sy neiging om die kat in die donker te knyp – en koerante te verkoop met berigte van ander bekendes wat dieselfde doen. Hy sê dat sy dekadelange stokperdjie, wat al begin het toe hy nog getroud was, hom so gemaklik in die donker gemaak het dat hy eintlik heeltemal goed sonder elektrisiteit klaarkom. Wat hom nog ’n groter kenner van die kat in die donker maak, is die ervaring wat hy opgedoen het om knaend die kat te knyp en dit tog die meeste van die tyd uit die media te hou. “Daar is sommige dinge waaroor ’n koerant sy lesers maar in die duister moet hou,” het hy met ’n vonkel in sy middeljarige oog beaam.
Dis egter nie net individue wat hulle duistere vreugdes met ons gedeel het nie. Verskeie lede van die Pretoriase Avontuuruitdaagklub het ook aan ons vertel watter fantastiese ervarings die kragonderbrekings reeds vir hulle gebring het. Me. Rina Pretorius, die klub se sekretaris en ’n tuisteskepper van Pretoria-Oos, sê sy het nooit besef watter adrenalienbeswyming dit kan veroorsaak om die kinders tussen die huis en die skool te vervoer nie. Sy vertel self:
“Ek het die afgelope Kersfees ’n nuwe four by four van my man present gekry. Ons sou hom eers op ’n naweek in die Waterberge in Februarie gaan inbreek, maar toe die kragonderbrekings én die reën kom, kon ek alles uit hom haal!”
Pretorius erken dat die kombinasie van klein riviere in die strate, slaggate en opgedamde verkeer by stukkende verkeersligte haar vaardighede as avonturier tot die uiterste getoets het. “Ek en van die ander ma’s in ons klub het sommer gou-gou ons eie rallys begin reël. Toe ons gehoor het die Parys-Dakar is af, het ons vir onsself gesê ons reël sommer ons eie rally hier by die huis! My favourite stukkie is die kortpad deur die veldjie op pad skool toe tussen Menlyn en Atterbury! Al wat sleg is, is dat ek my four by four nou amper elke dag moet was!”
Gevra of hulle nie hierdie positiewe verhale vir bemarking wil gebruik nie, het ’n woordvoerder van ESKOM gesê: “Sodra die krag weer aan is, sal ons beslis daarna kyk.”

Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=977
Artikel nagegaan:
    -