Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Hoofartikel: ’n Ander land | 2008-02-12 | |
|
|
Terwyl die meeste Suid-Afrikaners gedurende Desember 2007 met allesbehalwe landsake besig was, het Suid-Afrika in sekere opsigte ’n gedaantever- wisseling ondergaan met die dramatiese verkiesing van mnr. Jacob Zuma tot president van die ANC in Polokwane (Pietersburg).
Reeds in die aanloop tot die konferensie was dit duidelik dat ’n aantal faktore na alle waarskynlikheid die vorige president van die ANC, mnr. Thabo Mbeki, en sy binnekring se lot verseël het.
Dit is nou reeds konvensionele wysheid dat ’n koalisie van miskendes verseker het dat Mbeki verloor het, eerder as dat Zuma soseer gewen het. Hierdie koalisie, waarvan die leeftyd sonder die gemeenskaplike vyand waarskynlik beperk gaan wees, is gevorm deur ’n aantal nou bekende faktore. Hierdie faktore sluit in die groeiende gaping tussen (swart) arm en ryk sedert 1994; verswakkende dienslewering; die hooghartige, tegnokratiese bestuurstyl van Mbeki en sy binnekring; die voortslepende misnoë oor die eensydige vervanging van die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP, oftewel RDP) met die neoliberale GEAR as makro-ekonomiese beleid in 1996; die swak hantering van MIV/Vigs en Zimbabwe. Hierdie lys is geensins volledig nie, maar die feit van die saak is dat hierdie dinge daartoe gelei het dat die ANC Afrika se eerste post-koloniale bevrydingsbeweging geword het om sy eie leierskap demokraties na politieke bevryding te vervang. Inderdaad was dit ’n seldsame voorbeeld van populêre demokrasie sedert 1994, maar dié is maar een faktor in die gedaanteverwisseling wat die land ondergaan het – en die nuwe denke en uitdagings wat nou wag.
Die eerste saak wat uitgelig kan word, is die merkwaardige wyse waarop groot dele van die Mbeki- diskoers feitlik oornag verdwyn het. Begrippe soos die Afrika-renaissance, die nasionale demokratiese rewolusie en selfs transformasie, wat die nasionale debat vir so lank oorheers en inderwaarheid aan bande gelê het, is nou afwesig of veel minder sigbaar. Van ’n magsfiguur met die onvanpaste beeld van ’n intellektueel – intellektuele vernietig nie alle debat en dialoog nie, soos Mbeki gedoen het – is Mbeki bykans oornag afgekam tot ’n mistroostige figuur wat nou hoofsaaklik rekenskap moet gee van debakels soos die Selebi-saak of die elektrisiteitskrisis.
Die tweede saak is die stand van die ANC en die Drieparty-allianse met Cosatu en die SAKP. Heelwat is al in kommentaar gemaak van, enersyds, die betreklik bekwame “top ses” nuwe ANC-leiers en, andersyds, die aantal korrupte of misdadige individue wat nou sitting op die party se nasionale werkkomitee het.
Die mate waartoe die nuwe leierskap van die ANC ’n nuwe visie vir die land kan skep, gaan egter nie soseer afhang van die individue in die leierskap nie. Nee, die lakmoestoets is die nuwe idees wat vernuwing moet begelei. En dit is hier waar die ANC diep in die moeilikheid is. Trouens, as die ANC na 1994 inderwaarheid oor die gepaste idees vir Suid-Afrika beskik het, is dit ’n ope vraag of die party vandag in so ’n krisis sou verkeer het, en of Suid-Afrikaners met sulke swak dienslewering, voortslepende rassespanning of die onaanvaarbare armoedevlakke te kampe sou hê.
Mnr. Zuma, wie se afspraak met die gereg naderkom, kom weliswaar voor as ’n meer dialogiese leier wat ook die spanning tussen tradisionele en moderne Suid-Afrika beter as sy voorganger begryp. Dit is egter opvallend dat Zuma se leidende idee tot dusver nie een of ander samebindende politieke ideaal is nie, maar ... die welstand van die party self! Dit is verstaanbaar dat Zuma die herstel van die ANC – wat waarskynlik onredbaar is – as ideaal stel, maar dít kan nie as gesaghebbende leitmotief staan nie, nie eens vir ANC-ondersteuners self nie. Trouens, die feit dat Zuma hoegenaamd die eenheid van die party tot hoogste ideaal verhef, is sprekend van nie net die gebrek aan idees nie, maar ook van die mate waartoe die party vandag die voertuig van allerlei agendas geword het, waarvan nie een oor die land en sy mense gaan nie: selfverryking, politieke afrekening, die ondermyning van die regstaat en die Grondwet, en dies meer.
Die nie so verrassende aankondiging van die moontlikheid dat die ANC se adjunkpresident, mnr. Kgalema Mothlanthe, dalk ook tweede adjunkpresident van die land gaan word, kan ’n aanduiding wees dat Zuma inderwaarheid maar die simboliese figuur was waarmee die brug tussen Mbeki en die eintlike toekomstige president van die land geslaan is. Soos ook die aantal prominente jonger ANC-leiers met bekende hoë politieke ideale, insluitende mnre. Matthews Phosa, Cyril Ramaphosa en Tokyo Sexwale, wat al hoe sterker figureer nou dat hulle vyand, Mbeki, uit die weg geruim is.
Maar die belangrikste les wat uit die stadige verbrokkeling van nog ’n magtige Suid-Afrikaanse politieke party te lere is, is dat solank die koloniale strukture van die Suid-Afrikaanse staat en ekonomie onveranderd bly – soos dit inderdaad na 1994 het – politieke partye slegs in beperkte mate die voertuie van werklike demokrasie en maatskaplike selfstandigheid in Suid-Afrika kan wees. Hierdie koloniale strukture sluit in ’n vervoerstelsel wat die minderheid dien; ’n kommunikasiestelsel wat eerder beheer as inlig; die volgehoue uitvoer van die land se winste en minerale na elders; die gaping tussen arm en ryk; en die ongesonde verhouding tussen Engels en die inheemse tale; en ’n sentralistiese staat.
Hierdie les het Afrikaners miskien die hardste van alle gemeenskappe in die land geleer, want in weerwil van ’n party wat hulle belange vir amper vyftig jaar via die staat kon bevorder, is ook hulle nie vandag ’n gelukkige, erkende gemeenskap nie – ekonomiese welvaart ten spyt.
As daar een onder vele hoopgewende faktore vandag in Suid-Afrika is, is dit, ironies, te vinde in die wydlopende vervreemding onder die burgery. Verskillende maatskaplike bewegings, landelike gemeenskappe, inwoners van townships en stede, MIV-positiewe burgers, taal- en kultuurgemeenskappe, vakbonde en selfs religieuse gemeenskappe ervaar almal vandag in verskillende vorme onvergenoegdheid met die huidige bedeling.
Die groot gevaar vir die land is dat hierdie uiteenlopende groeperinge sal verval in die sindroom dat net die eie groepering misken en vervreem is: dit sal ongetwyfeld ’n land skep waarin almal slagoffers is en elkeen vir homself sorg. Tekens daarvan is reeds te sien.
Maar as ’n sterk en oop dialoog in die burgerlike samelewing kan herleef, as die verskillende groeperinge hulle ervarings van die land met mekaar kan vergelyk, kan die basis geskep word vir nuwe idees en praktyke wat werklik die patrone van die afgelope dekades en selfs eeue verbreek.
As sigbare, kundige en ekonomies welvarende gemeenskap, kan Afrikaners hierin ’n belangrike rol speel. Solank hulle nie na binne keer nie.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=981