blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Musiekrubriek 2007-12-11
Herman van Niekerk

Bach, Saint-Saëns – en ander vir die Feesseisoen

JS Bach Kersfees-oratorium (BWV 248)

In Junie 1722 sterf Johann Kuhnau – Kantor van die Heilige Thomas-kerk in Leipzig. Johann Sebastian Bach is een van ses moontlike kandidate vir hierdie vakante pos. Maar die keurkomitee wat Kuhnau se opvolger moes aanstel se keuse lê by ’n hoogsgerespekteerde kandidaat, en bekend in Leipzig, Georg Philipp Telemann. Telemann word eenparig verkies deur die lede van die keurkomitee. Maar tot hul groot teleurstelling aanvaar hy nie hul aanbod nie.

Noodgedwonge moet die komitee op hul tweede keuse terugval – naamlik ’n oud-leerling van Telemann, Christoph Graupner. Graupner kon egter nie waarborg dat hy van sy bestaande pos kon loskom nie. In desperaatheid bied die keurkomitee die vakante pos toe vir JS Bach aan – wat in daardie stadium nouliks bekend was in Leipzig. Een van die keurkomiteelede het selfs opgemerk dat “indien die bestes dan nie vir Leipzig beskore is nie, sal ons maar tevrede moet wees met een van die gemiddeldes …”

En so word Johann Sebastian Bach in Mei 1723 aangestel as die nuwe Kantor van die Heilige Thomas-kerk in Leipzig. Aan dié kerk was hy verbonde tot met sy dood in 1750.

Vir ’n baie karige salaris moes Bach nie alleen musiek aan die Heilige Thomas-skool gee nie, maar ook klasse in Latyn. Daarby moes hy ook nog die orrel bespeel, koorleier wees én musiek komponeer vir die twee hoof Lutherse kerke van Leipzig – die Thomaskirche en die Nikolaikirche – én hy moes help met die opleiding van musikante by van die kerke. Boonop was hy ook verantwoordelik vir die huur van sangers en musikante vir die doel van die eredienste. Hierdie buitensporige werklading het veroorsaak dat Bach dikwels betrokke was by dispute met die stadsvaders. Hulle het Bach beskuldig dat hy nie sy werk na behore doen nie – om nie te praat van die geldelike onderonsies wat daarmee gepaardgegaan het nie …

Ondanks Bach se negatiewe werksmilieu, was hy tog in staat om van sy béste komposisies tydens hierdie periode te skep. Sy koorkomposisies alleen sluit onder meer in sy Mis in B-mineur; die Johannes-Passie, Matteus-Passie, 300 kantates, en dan sy Kersfees-oratorium.

Vir die eerste Kersfees in sy nuwe posisie as die Kantor van die Heilige Thomas-kerk, komponeer Bach ’n indrukwekkende Sanctus, wat later deel sou word van sy Mis in B-mineur. Bach se Kersfees-oratorium (BWV 248) is eers in 1734 gekomponeer. Dit is nie ’n oratorium in die ‘moderne’ vorm nie, maar die gees en karakter kan eerder gesien word in Bach se eie titel daarvoor: “Oratorium tempore nativitatis Christi”.

As gevolg van onder meer werksdruk en die feit dat daar voortdurend nuwe werke geskep en uitgevoer moes word, sodat herhaling van komposisies selde kon plaasvind, het Bach vir die doel van die Kersfees-oratorium, heelwat van sy bestaande werke gebruik – beide geestelike en sekulêre komposisies van hom. In daardie tyd was dit algemene praktyk onder komponiste om bestaande komposisies in nuwe werke in te sluit. So, byvoorbeeld, was Handel se arias en koorwerke dikwels verwerkings van reeds bestaande komposies van hom. Bach het dieselfde praktyk toegepas, maar het ook ’n magdom nuwe musiek vir sy Kersfees-oratorium geskep – die vokale gedeelte bestaan uit nie minder nie as 64 dele. Die teks vir sy oratorium kom uit die Evangelies volgens Matteus en Lukas, en is saamgestel deur Picander – dieselfde persoon wat ook verantwoordelik was vir die libretto vir sy Matteus-Passie.


Hoewel die ses verskillende dele van Bach se Kersfees-oratorium ’n oorkoepelende eenheid vorm van die vertelling en vertolking van die Kersverhaal, het Bach nie die werk beskou as ’n eenheid wat ononderbroke uitgevoer moet word nie – soos in die geval van Handel se oratoriums – maar eerder as ses aparte kantates wat tydens ses verskillende geleenthede uitgevoer moes word – naamlik die drie dae rondom Kersfees (25, 26 en 27 Desember), Nuwejaarsdag, die eerste Sondag ná Nuwejaar, en dan op 6 Januarie - die Driekoningsdagfees . Die feit dat die instrumentasie vir elkeen van die ses dele heelwat verskil, is ’n verdere aanduiding dat Bach die werk nie vir ’n aaneenlopende uitvoering bedoel het nie, maar as enkeluitvoerings oor ’n spesifieke tyd. Dit is dan ook die rede waarom die werk dikwels slegs gedeeltelik gehoor en uitgevoer word.

Die oratorium bevat die gebruiklike kombinasie van resitatiewe, kore en arias. Die tenoorsolis (Evangelis) sing ook die rol van die Verteller in ’n reeks resitatiewe, saam met ander karakters wat tradisioneel met die Kersgebeure verbind word – byvoorbeeld die engele en herders. In die eerste drie dele word vertel van die geboorte van Christus: die reis na Bethlehem, die geboorte in die stal, die vreugde van Maria en danksegginge. Die koor lei die 1ste en 3de dele welluidend in. Die vierde deel verwys na die doop van Jesus en omskryf sy lewe van geloof en hoop. Die vyfde gedeelte vertolk die besoek van die drie konings, die angs van Herodus en die versekering wat aan Herodus gegee word dat hy nie bedreig moet voel nie. Die sesde en laaste gedeelte sluit af met triomfklank. In die laaste drie dele lewer die koor hoofsaaklik kommentaar in die vorm van korale. Hierdie baie bekende Lutherse korale is ryklik deur Bach geharmoniseer, en het dikwels tydens Bach se uitvoerings die kerkgangers geïnspireer om saam te sing. Die arias – dikwels ornaat en besonder gedetailleerd word beskou as die refleksie van die dieper geestelike meditasies en oordenkings van die betekenis van Kersfees. Die herhaling van die derde kantate se koorgedeelte bring die Kersfees-oratorium dan tot ’n jubelende einde.

Camille Saint-Saëns se Kersfees-oratorium (Oratorio de Noël Op. 12)

Camille Saint-Saëns was slegs drie-en-twintig in 1858 toe hy hierdie werk gekomponeer het. Alhoewel hy sy komposisie begin deur eer aan Bach te betuig, het hy sy eie karakter aan die Kersfees-oratorium gegee. Om die waarheid te sê, is die karakter ver verwyder van Bach se feestelike karakter – dit het baie meer gemeen met die liriese styl van die geestelike musiek in Frankryk gedurende die negentiende eeu. ’n Mens kan dit waarneem in die besetting van die komposisie: ’n vierstemmige vokale kwintet – waarvan twee soprane is, ’n vierstemmige gemengde koor, ’n strykorkes, harp en orrel. Anders as by Bach (Luthers) was Saint-Saëns Rooms-Katoliek, en is die teks van sy Kersfees-oratorium dienooreenkomstig. Die werk begin met ’n orkestrale prelude getiteld, ‘Dans le style de Seb. Bach’. Hierdie prelude lui dan ook die gees en karakter in vir die res van die komposisie. Die werk bestaan uit 10 dele en sluit af met ’n eenvoudige homofoniese gesang wat feestelike energie weergee.

Nog komposisies vir die Kerstyd

Maar vele ander komponiste het in hul eie reg ook musiek vir die Kerstyd gekomponeer. ’n Mens kan ook verder luister na Bach se Magnificat en Kantate 140. Maar dan is daar ander musiekskeppings: Berlioz se L’Enfance du Christ; Britten: A Boy was born; Brubeck: La Fiesta de la Posada; Buxtehude: Das neugeborne kindelein; Charpentier: Midnight Mass for Christmas en Nativitatem Jesum Christum; Finzi se In Terra Pax; Handel: Messias en Te Deum; Honegger se Kersfees Oratorium; Pachelbel se Magnificat in G; Pergelosi se Magnificat; Poulenc se Gloria en Quatre Motets pour Noël; Respighi se Laud to the Nativity; Rutter se Te Deum, Gloria en sy Magnificat; Schubert se Mis in D en Mis in G; Vaughn Williams se Hodie, The First Nowell en Fantasia op Kersliedere en Wilcocks se Christ is Born.

Met die hoop dat u opnames het – of kan opspoor – van enige van hierdie musiekkomposisies vir Kersfees, wens ek u ’n sinvolle Christusfees toe!

Inligting vir hierdie rubriek word nagevors en voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk[email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika. Die hoofdoel van die rubriek is om musiekinligting te kommunikeer waaraan mense nie noodwendig blootgestel word nie. Waar van toepassing, was alle datums en tye korrek by ter perse gaan.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=970
Artikel nagegaan:
    -