Hierdie artikel is deel van 'n
versameling artikels wat gehuisves word by
Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels
|
| Oor gnossies, spoke en monnike | 2007-12-11 | |
|
Die Vrye Afrikaan gesels met Johann Rossouw oor sy debuutwerk van filofiksie, ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel (Kaapstad: Zebra Press).
Die Vrye Afrikaan: Jy vertel baie van jou werk in die onderskrifte. So noem jy jou werk ’n “filofiksie” sowel as ’n “mikrogeskiedenis” van Pretoria. Die woord “filofiksie” verwys uiteraard na sowel die filosofie as die fiktiewe. Beide is tegelyk in jou werk aanwesig. Maar in watter verhouding tree dié twee kragte in jou werk?
Johann Rossouw: Sowel filosofie as fiksie gaan vir my oor insig in die werklikheid, insig in wat gebeur, hier en nou. Altans, so het ek dit al oor meer as twintig jaar beleef in die groot werke van filosofie en fiksie wat my aangegryp het. In so ’n mate dat ek self nog altyd die impuls voel om beide te probeer skep. Tegelyk het die meeste van my pogings om die langer “konvensionele” en “suiwer” werk van filosofie óf fiksie te skryf, tot dusver nie geluk nie. Vir my was die oplossing om die raad van ’n ou mentor van my te volg, naamlik om nie tussen die twee te probeer kies nie. So het ek gekom by “filofiksie”, ’n poging om van sowel die konseptuele as die verhalende gebruik te maak.
DVA: Die gelyktydige aanwesigheid van die filosofie en die literêre is natuurlik ’n verskynsel eie aan die postmodernisme. Is jou werk ’n tipiese postmoderne werk? Anders geformuleer: In die tradisie van die Westerse denke was die filosofie altyd as belangriker as die fiktiewe geag. Waarmee nie gesê word dat die tradisie, soos wat dikwels beweer word, die fiktiewe ontken het nie. Die begrip het egter ’n voorrang bo die metafoor geniet. Verteenwoordig jou werk teen die agtergrond hiervan ’n breuk met die tradisie?
JR: Gegewe die reuse nawerking van die Griekse, Joodse, Romeinse en Christelike verhaleskat, is ek nie so seker dat die filosofie altyd in die Westerse tradisie belangriker as die fiktiewe geag was nie. Ek sou eerder aanvoer dat die filosofiese en die fiktiewe as invalshoeke op die werklikheid nog altyd belangrik was, byvoorbeeld die aanwesigheid van sowel Spreuke en Prediker enersyds as Genesis of Christus se gelykenisse andersyds in Die Bybel. Maar dan is dit ook so dat die tradisie so groot is, en ek werklik so onkundig daaroor (ten spyte van meer as 25 jaar se besigwees met die filosofie!) dat ek versigtig is vir dié debat.
Ek voel my op vaster grond om gewoon te sê dat gegewe die vervloeiing van die filosofiese en die fiktiewe in ons alledaagse leefwêreld vandag, ek die samespanning tussen die twee benaderings as een moontlike strategie in die blywende poging om te verstaan wat gebeur, beskou.
DVA: Nog steeds by die onderskrifte: Jy verwys ook daarin na die feit dat jou werk ’n mikrogeskiedenis van Pretoria is. Laasgenoemde is ’n geskiedenis wat strek vanaf sy stigting tot en met die epog van die sogenaamde “gnossie”. Maar wat beteken die woord “gnossie”? Dit roep by jou bewustelik herinneringe op van die historiese gnostiek, dit wil sê van dié beweging in die godsdiensgeskiedenis wat daarvoor bekend is dat dit ’n dualisme tussen dinge soos die lyflike en die geestelike, die aardse en die hemelse raakgesien het. Is die “gnossie” van Pretoria ’n dualis? Waarom?
JR: Ek is nie so seker of hy ’n dualis is nie! Dit wil my voorkom asof in vroeëre vorme van die dualisme, byvoorbeeld by Descartes met sy onderskeid tussen gees en liggaam, daar minstens ’n baie duidelike bewustheid en verrekening van die twee was, alsy die een dan oorwegend positief en die ander oorwegend negatief beskou. Sonder hierdie positiewe en negatiewe van wat as apart beskou is, sou daar ook nie pogings kon wees om die twee weer te integreer nie. Maar in die geval van die Pretoriase gnossie, altans soos ek hulle meemaak, is die lyf en die aarde eintlik volledig onbewus. Wat natuurlik veroorsaak dat die gaping wat daarmee gelaat word, met ’n eie materiële werklikheid gevul word. Dit lyk vir my asof die afskeid van die liggaam en die aarde nie net onmoontlik is nie, maar onder meer kan lei tot materialisme! Dis juis as ek die aardse misken, wat ek my tot dinge as plaasvervanger vir die aarde wend!
DVA: Die woord “gnossie” verwys nie net na ’n spesie wat ’n mens in Pretoria aantref nie. Dit verwys ook na ’n toestand wat die Afrikaner as sodanig, die sogenaamde post-yuppie Afrikaner, kenmerk. Wat is die kenmerke van dié toestand?
JR: Volgens my indruk het die mislukking van Afrikaner-nasionalisme en die heengaan van apartheid ten diepste gelei tot ’n soort metafisiese krisis. Aan die anderkant voltrek hierdie krisis hom te midde van volgehou tegnologiese vooruitgang en toenemende welvaart vir die Afrikaner-elite, veral die beroepslui en die ondernemers (wat natuurlik nie alle Afrikaners is nie!). Op die verlies aan ’n bekende, beheerde werklikheid, lyk dit my, het baie Afrikaners gereageer deur via ekonomiese welvaart en tegnologie vir hulle ’n privaat, oënskynlik beheersde eie werklikheid te skep. Die werklikheid is, kortom, geprivatiseer! Nie net geprivatiseer nie, maar ook gesanitiseer. Dit is waarom skoon interieurs vandag so gewild is, en plekke soos winkelsentrums, gimnasiums, charismatiese ouditoriums, ens.
Maar in die mate wat ek saam met Plato stem dat die mens nie sonder die goeie, die ware en die skone kan bestaan nie, dink ek dat die poging om ’n alternatiewe werklikheid via die manipulering van die stoflike te skep, Afrikaners wat dié weg stap tot ’n vae onbehae, ’n knaende leegheid, verdoem. Hierop word dan gereageer met die sug na ekstase. Vandaar die sentrale rol van soveel vorme van bedwelming: die groot orgasme, die spinklas in die gimnasium, die emosionele opwelling in die charismatiese teater, die hele leefstylbesigheid. Sport het natuurlik ook sy plek hierin.
DVA: Een van die temas wat dwarsdeur die werk aanwesig is, is die tema van die begeerte. Jy verwys in hierdie konteks onder meer na die sogenaamde “oorgesonde liggaam” wat (spektrosferies) ’n “spookgees” huisves. Ten minste twee vrae lê hierin opgesluit: Eerstens, hier is duidelik van iets soos ’n ontsporing van die begeerte sprake. Maar wat is die aard van dié ontsporing?
Tweedens, jou negatiewe oordeel oor die hedendaagse begeerte vooronderstel ’n norm op grond waarvan jou dié oordeel kan fel. Maar wat is dié norm? Op grond waarvan sou jy die begeerte van die gnossie as ’n ontsporing kan beoordeel?
JR: Sover die “geskiedenis van begeerte” aan my bekend is, lyk dit vir my asof begeerte binne die groot gemeenskappe van die geskiedenis soos Athene, Rome, die vroeë Christene, die Middeleeuse kloosters, die Boeddhistiese sangha’s, en dies meer altyd ’n middel tot ’n hoër doel was. Dit is wanneer begeerte ons na die iets meers trek, wat dit die bron van die hoogste kan word – en wat dit ook ’n krag van lewe en skepping is. Maar wanneer die begeerte van hierdie hoër doel ontkoppel word, wanneer dit ontgrens word en as’t ware sy eie doel word, dan word alles wat in die pad van die begeerte staan, die vyand. En dit is wat vandag met die gnossies gebeur: omdat hulle, afgesny van die tradisie en die instellings wat ons verhouding met die hoëre reguleer en bemiddel, hulle nie werklik met die hoëre besig hou nie, word begeerte die bron van die hoëre, in plaas van die brug na die hoëre. En dit is presies die ontsporing van begeerte wat so dominant in ons tyd geword het.
DVA: Is ’n anderkant die “spektrosfeer” (dit wil sê die videosfeer, die imagologie, ensovoorts) moontlik? Jy wys baie bewustelik dié moontlikheid af. Volgens jou kan ons nie anderkant die spektrosfeer tree nie. Nogtans aanvaar jy ook nie sonder meer die greep van die spektrosfeer op ons nie. Daarom onderskei jy tussen iets soos ’n epog wat óf deur “besielde spoke” óf deur “siellose spoke” besoek word. Jy kies vir eersgenoemde met die hoop om jou so tog van ’n bepaalde implikasie van die spektrosfeer los te maak. My vraag is egter op grond waarvan jy dié onderskeid kan aanlê. Kan jy hoegenaamd tussen dié twee vorme van spektrosfere onderskei as jy nie reeds by voorbaat oor ’n norm beskik wat die greep daarvan ontsnap nie? Jou onderskeid vooronderstel immers dat jy die spektrosfeer as’t ware van buite-af kan beskou. Maar as dit so is (en ek kan kwalik sien dat dit anders kan wees), beteken dit dat daar in teenstelling met wat jy sê tog iets soos ’n anderkant van die spektrosfeer moontlik is?
JR: As so ’n “anderkant” nie moontlik was nie, sou ek nie die boek kon skryf nie! My onderskeid tussen “siellose spoke” en “besielde spoke” is ’n poging om te sê dat waar die lewelose (materiële dinge) vandag so dominant is, ons ’n uitweg kan vind deur juis na die dooies, na die geheue, die tradisie, die geskiedenis terug te keer. Ek dink byvoorbeeld dat ons era een van oorgang en verval soortgelyk aan die einde van die Romeinse Ryk, of aan die einde van die hoë Middeleeue is. Maar tegelyk put ek inspirasie uit die monnike in die kloosters wat geduldig, eeue gelede, besig was met die transkripsie en vertaling van die werk van mense wat weer eeue voor hulle geleef het! Uit die oudste altyd iets nuuts, sou ek wou sê. En dit is die spoke waarmee ek my graag omring.
Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=971