|
||||
Shiloh Noone *Skrywer
van die rock-ensiklopedie Seeker’s Guide to the
Rhythms of Yesteryear, [email protected] In
hulle vroeë fases het Led Zeppelin gewildheid verwerf met heavy
metal-verwerkings van vroeë standaard blues-musiek. Met die altyd teenwoordige Jimmy
Page op leierkitaar, het die groep voortgegaan om distorsie, terugvoer en
nagalming te manipuleer soos niemand voor hulle nie. Die meeste van hulle
musiek was gebaseer op Engelse folk-mitologie, fantasieë van Middel-aarde en
die okkulte. Onder die streng toesighouding van die
argaïese Grant Management het Led Zeppelin deur die beproewings van die
volgende tien jaar meer as vyftig miljoen plate verkoop. Sonder om ooit ’n
solotreffer in die Verenigde Koninkryk uit te reik, het elke album
platinumstatus verwerf, met vyf van hulle in die nommer een-posisie. In 1973
het hulle VSA-toer alle rekords, insluitend dié van die Beatles,
geslaan. Teen 1973 was Led Zeppelin die gewildste groep ter wêreld. Die verhaal van die Zeppelin het sy
wortels in die pre-beat nostalgie van Londen se Cavern-kruistog. Ofskoon
baie Jimmy Page nie as voorste ateljeemusikant wil erken nie, is dit ’n
onweerlegbare feit dat James Patrick Page bygedra het tot duisende treffers in
die 1960’s. Jimmy het sy professionele loopbaan begin
met ’n groep genaamd die Crusaders en later Carter Lewis & the
Southerners, liedjieskrywers van naam waar Jimmy sy stemmige riffs kon
lewer vir sommige van die meer verafgodiseerde geheueknopers soos “Sweet and
Tender Romance”. Page se ware siel word gedra deur van die
deerniswekkendste blues jams van die vroeë 1960’s, die opmerklikste die
1964-opnames saam met Sonny Boy Williamson en Brian Auger, en sy
tronende solo’s saam met die All Stars (bv. “Down in the Boots”). Jimmy Page het talle kunstenaars na
die drempel van hulle drome gevoer met sy geïmproviseerde kitaaruitvoerings,
wat in die middel 1960’s uiters gesog geraak het. Hy het op talle
ateljeesessies verskyn saam met die Kinks en The Who, en het die
meeste erkenning gekry vir die kragtige riff op “Baby Please Don’t Go” van die
stampende Ierse Them, (foutief) na bewering aangedryf deur Van
Morrison. In werklikheid was dit ’n voormalige Pirate-kitaarspeler
genaamd Joe Moretti, wat later op ontelbare Rolling Stones-treffers
sou speel en uiteindelik in Johannesburg afgetree het. Dave Berry, Tom
Jones en Lulu is onder diegene wat gekroon is deur hierdie
kitaarvirtuoos. The Kinks, voorheen die Ravens, is in naam en
voorkoms amptelik gedoop deur die veelsydige Page. Jimmy was oënskynlik alomteenwoordig, terwyl hy die Fender-skaduwee verskaf
het aan Jet Harris, Left Banke en Mickie Most’s Playboys,
’n groep wat in die 1960’s wyd deur Suid-Afrika getoer het. Jimmy Page
is ook opgeneem in daardie formidabele verwoestingspan genaamd Heavy Friends
onder die wilde begeleiding van Lord Sutch. Die Sutch-sessies was
afgryslik, en van Page se fynste nagalming het deur die slagting
weerklink, by name die verpletterende “Flashing Lights”, “Union Jack Car” en
die pompende breekslae agter Keith De Groot. Laat ons twee kwessies in die reine bring: Jimmy het nie op die Who
se “I Can’t Explain” en die Kinks se “You Really Got Me” gespeel nie. Hy
het egter ritmekitaar gespeel op Jerry Lordan se “Diamonds” en “Beck’s
Bolero”. Page sou uiteindelik intree gedurende die latere, meer stagnante
stadium van die Yardbirds en Samwell-Smith vervang, wat hulle regisseur
geword het. Met die mag van psigedelia byderhand het Jimmy grondig
geïmproviseer met sy esoteriese vermoëns op “White Summer”, ’n futuristiese
Zeppeliniet wat geskitter het op die Yardbirds se morbiede 1967 Little
Games. Om by te voeg tot sy CV het Jimmy ook krag gegee aan die Nashville Teens
se “Tobacco Road” (oorspronklik van Loudermilk), maar nie aan Donovan
se “Hurdy Gurdy man” nie, waarop Jeff Beck sy deel gedoen het. Die groep
wat die meeste van Jimmy se snykant gekry het, was die Pretty Things –
trouens, die hele album Get the Picture (1965). Sy rykste riffs kon
gehoor word op “Bald Headed Woman” (Sneekers), “Everything’s Alright” (Mojos),
“With A Little Help From Friends” (Joe Cocker) en Chris Farlowe
se “Paint It Black” / “Out of Time”. In die vroeë dae is Jimmy genader as plaasvervanger vir die Yardbird
Eric Clapton, maar weens ateljeesessieverpligtinge en die feit dat hulle
nie sy fooi kon bekostig nie, het hy Jeff Beck voorgestel. Nadat die Yardbirds
ontbind het, wou Jimmy Terry Reid, voorheen van die Jaywalkers,
vir sy nuwe ensemble werf, maar Terry het Robert Plant voorgestel, wat
hy saam met Alexis Korner gehoor het. Page het die blues-sanger Plant
gewerf uit die groep Band of Joy, en die tromspeler John Bonham
van King Snakes. John is die posisie eers na Mac Poole aangebied,
wat sy stokkies later sou rol saam met Warhorse, en in die latere
stadiums van Gong. Die baskitaar is formidabel gedryf deur die
voormalige lid van Deltas / Jett Black / Tony Meehan Combo,
John Paul Jones, die dawerende battery agter die Zeppelin-kragdrywing. Die naam Led Zeppelin was afkomstig van The Who se Keith
Moon, wat dikwels die uitdrukking “going down like a lead Zeppelin” gebruik
het. Zep se eerste byeenkoms was ’n ateljeesessie in die Chinatown-deel
van Londen (in ’n kamer kleiner as sowat drie by vyf meter), waar hulle
gedonder het deur die opruiende “Train Kept A-Rolling”. Led Zeppelin se debuutvertoning by
Surrey-universiteit was die speerpunt van Jimmy se vioolboogtegniek soos hy
weggebeitel het aan Jake Holmes se “Dazed and Confused”. Omslagnotas
suggereer dat die vioolmeester, McCalum Senior, die pa van David McCalum
(The Man From Uncle), die vioolboog voorgestel het, maar in werklikheid is
Jimmy die eerste keer hieraan blootgestel by daardie UFO-konserte toe Creation
se Eddie Fisher die konsep geïnnoveer het. Met die bestuurder Peter Grant aan die stuur van sake het hulle hul
1969-debuut met die fenomenale elektriese uitvoering van tradisionele blues, by
name Willie Dixon se “You Shook Me” en “I Can’t Quit You Baby”,
gelanseer. Anne Brigg se rustige “Babe I’m Gonna Leave You”, wat die
eerste keer op ’n Joan Baez-album gehoor is, het ook voorgekom. Dié
liedjie is inderwaarheid deur Jimmy gebruik om die idee van Zep aan John
Paul Jones te verkoop. ’n Akoestiese weergawe van Bert Jansch se
“Black Mountain Side” kom ook op omstrede wyse sonder enige erkenning voor. Page sou minstens een tradisionele blues-nommer, soos Willie Dixon
se “Bring It On Home” (Zeppelin II), insluit, terwyl die akoestiese
ekspressies ooglopend binne die kontoere van Page se liedjieskrywery
was. Plant se stemsessies het in die vroeë dae begin met Alexis
Korner op roerende twaalfbalkweergawes van “Operator” en “Steal Away”. Zeppelin se lewende optredes het minstens twee oorspronklike
blues-nommers bevat, baie soos The Doors. Ongelukkig het Zeppelin
hulleself kwaai blootgestel deur nie erkenning te gee nie, by name in die geval
van Memphis Minnie se “When the Levee Breaks”, Blind Willie Johnson
se “In My Time of Dying” en “Hats off to (Roy) Harper” oorgeneem van Bukka
White se “Shake’em on Down”. Zeppelin het in die VSA aangekom met die vaste voorneme om die
vervagende Mersey-kenmerke wat die Beatles nagelaat het, te
elektrifiseer. Daardie selfde jaar het Led Zeppelin II alles verower met
sy monumentale “Whole Lotta Love” (Willie Dixon se “You Need Love” met
bykomende riffs van Jake Holmes se “Dazed and Confused”). Die hele album
is op toer geskryf en opgeneem met die minimum vrye tyd. Dit was reg of weg,
soos Peter Grant dit gestel het, wat bygekom het by die gerugte van Zeppelin
se berugte naam en vertonings. Led Zeppelin was die eerste groep om te weier om op
“Top of the Pops” te verskyn, al het die suksesvolle program die CCS se
instrumentale weergawe van “Whole Lotta Love” as kenwysie gebruik, aangesien
geen treffers in die Verenigde Koninkryk vrygestel is nie. CCS onder
aanvoering van Alexis Korner het die epiese lied teen die treffersparades
opgeneem saam met die voormalige Hungry Wolf, Alan Parker, op
kitaar. Zep se Amerikaanse solotreffervrystelling van “Whole Lotta
Love” het ’n miljoen kopieë verkoop, terwyl hulle swaargelaaide “Moby Dick” ’n
groep Italianers geïnspireer het om as Moby Dick te opereer en hulle
klank tot in die fynste na te boots. Grant se gedissiplineerde
bestuursbenadering sou daartoe lei dat Zeppelin slegs op een Britse
program verskyn, The Old Grey Whistle Test. (’n Gewaagde weergawe van
“Communication Breakdown” is daarna vrygestel.) Die enigste twee BBC-stelle wat in 1969 na vore gekom het, was Robert
Johnson se “Traveling Riverside Blues” en Bert Jansch se “White
Summer” / “Black Mountain Side”. Jimmy se vioolboog- aanwendings is sterk
uitgebrei tydens die lang lewende optredes, en die skares was gaande daaroor. Bo en behalwe die gesteelde musiek het Page en Plant die
meeste van Zeppelin se repertoire geskryf. Page se akoestiese
ateljeesessies werk die beste op Roy Harper se Valentine- en Stormcock-albums,
asook die vroeë Al Stewart-opnames. Led Zeppelin III het die Page-behendigheid
versinnebeeld met sy stemmige oorvloei op “Tangerine” of sy galopperende
“Bron-y-aur Stomp” (die plaas waar hulle opgeneem het). Meesterlike blues word
uitgeworstel op “Gallows Pole”, waar Page op die tempo van Plant
se skril stem ry. Hoewel Led Zeppelin III swak verkope beleef het, was dit vir Jimmy
verpligtend om sy aanhangers by lewende optredes te versadig met sy akoestiese
wortels. Jimmy in sy element! ’n Ryk oes van weergawes van ander kunstenaars se
werk, soos Tim Hardin se “If I Were A Carpenter”, Paul Simon se
“Feeling Groovy” en Joni Mitchell se “Woodstock” is oor die gehoor
gestrooi. Led Zeppelin III kondig sy dominansie aan met die
Viking-gedrewe “Immigrant Song”, deur ’n Armaggedon-basdrywing van John Paul
Jones wat “Whole Lotta Love” mak laat lyk. John Paul Jones sou sy
baskitaar soos ’n dieselvragmotor stuur deur die lang uitvoerings van maestro Page
en die fisieke tromslaner John Bonham. Jethro Tull het Aqualung gehad, maar nou
was nog ’n ou man op ’n omslag soos Zep se vierde album gestoom het met
die indrukwekkende kitaar-en-trom rol van die openingsnit “Black Dog”, met
Gotiese hefkrag teen “Rock and Roll” en “Misty Mountain Hop”. Die epiese
“Stairway to Heaven”, merklied van die 1970’s, oorgeneem van Spirit se
instrumentale snit “Taurus”, het die album as hulle kragtoer geanker. Die
openingsakkoorde het die leerkurwe vir talle aspirantkitaarspelers geword, soos
Valentino van die Animals se openingsriff op “House Of The Rising
Sun”. Middel-aarde teologie is vrugbaar op die esoteriese “The Battle of
Evermore”, met bykomende tantriese dreunsang deur fairport Convention se
Sandy Denny. Dit het Plant die eerste keer geïnspireer danksy sy
grootword in die groen grenslande van Wallis. “The Battle of Evermore” het vertel van veldslae wat op die Walliese grens
tussen Kelte en Sakse gewoed het, en onthullende insig in die verdonkerde
vlaktes van Mordor gegee. Die verkorte hoogtepunt is ongetwyfeld die Haight
Ashbury-ode “Going to California” met Robert Plant wat na ’n feeagtige
oktaaf beweeg. In April 1973 verskyn hulle spookagtige progressive Houses of the
Holy, wat open met die weerklinkende inspanning van Page se
staccato-cadenza, raak getiteld “The Song Remains the Same”. Gedurende die Zep
se Nordiese konsertavonture moes hulle verskyn as die Nobs weens gravin
Eva Von Zeppelin se beswaar teen ’n raserige groep se gebruik van haar
familienaam. In ’n verstillende oomblik het Houses die betowerende “Rain Song”
voortgebring, ’n stemmige plesier wat delikaat besprinkel is deur John Paul
Jones se mellotroon. Die album bevat Zeppelin se kiefste
energieaanjaer getiteld “D’Yer Mak’er”, wat ruim aangewend is deur die latere grunge-era.
Die spookagtige verswelging van “No Quarter” (eienaardige aura van Page se
obsessie met Aleister Crowley) stal John Paul Jones se talente op
sintetiseerderklavier en baskitaar uit. Jones word dikwels oor die hoof gesien en swaar gekamoefleer
deur die charismatiese Plant en Page, maar het ’n soliede pilaar
deur die wydte en diepte van hierdie magtige groep gebly. Page se
kruinwerk “Over the Hills and Far Away” gee aan Robert Plant die ruimte
om te vlieg, en vlieg vlieg hy tot die akoestiese oorsny in ’n elektriese
grootsheid. In Maart 1975 was Led Zeppelin se energie duidelik aan die afneem
met die selftevrede dubbelalbum Physical Graffiti (waarvan die naam
alles sê). Dit het nietemin die speerpunt verskaf vir die Marokkaanse “Kashmir”
(oorspronklik “Driving To Kashmir”), wat sy spore verdien het deur daardie
Arabiese helling te dra. “Kashmir”, deur Jeff Buckley en talle grunge-groepe
oorgedoen, is oplaas die Zeppelin-kruin, wat hulle sydelingse reise en
die uitspattig hoë pad waarop hulle was, versinnebeeld. John Paul Jones
het die verwerking van die atmosferiese strykers behartig, wat die Oosterse
intrige aangehelp het, soos hy gedoen het met die Rolling Stones se
“She’s a Rainbow” en die trillende riffs van “Black Dog”. ’n Mens wonder
werklik waar die krag sou gewees het sonder Jones se deurgaans kloppende
bastroef op snitte soos “Whole Lotta Love” of “Immigrant Song”. Buiten dat hy ’n uitstekende klawerbordspeler is, het hy ook ’n tegniese
greep van die groep se posisie op ’n gegewe tydstip ontwikkel, met insig wat
niemand anders gehad het nie. Physical Graffiti het ook sy spiere laat
rol deur die ingewikkelde “Ten Years Gone”, die dreunende “Custard Pie”, asook
skeppings soos “The Rover”, “Bron-Yr-Aur” en die akoestiese “Down By The
Seaside”. ’n Jaar later het hulle die misverstaande Presence uitgereik, wat
min gedoen het buiten om na hul vroeëre albums terug te verwys. In Oktober 1976 het Led Zeppelin die waarde van hulle prestasies
besef en die klankbaan van die konsertalbum The Song Remains The Same
vrygestel (die film het die drome en fantasieë van die lede gevisualiseer). Die
opeenvolgende reeks lewende optredes is in 1973 by Madison Square Gardens
gegee. In 1979 het Zeppelin se laaste en profeties getitelde In Through
the Outdoor die grafskrif geword van die tromspeler John Bonham, wat
na ’n drinksessie dood is. Die Door-opnames het die manjifieke “All My
Love” opgelewer, terwyl hulle laaste aanslag op die treffersparades “Fool In
The Rain” was. ’n Aantal reünies van Led Zeppelin het sowel opwinding as bedrukking
gebring, ofskoon die bedrukking meer was, want sonder die fisieke tromwerk van John
Bonham het die Zeppelin oplaas tot rus gekom. Robert Plant
sou ’n uitsonderlike terugkeer as solokunstenaar in die volgende dertig jaar
maak, terwyl Jimmy Page die klankbaan vir honderde rolprente sou
verskaf. |