|
||||
André Crous Titel: There will be blood Regisseur:
Paul Thomas Anderson Draaiboek: Paul Thomas Anderson, losweg gebaseer op Upton Sinclair se roman, “Oil!” Looptyd: 158 min Rolverdeling: Daniel Day-Lewis, Paul Dano, Dillon Freasier, Kevin J. O’Connor Hoewel
die film aan Robert Altman opgedra is, is dit eerder Stanley Kubrick se gees
wat spook in die laaste toneel van Paul Thomas Anderson se jongste film,
getiteld There will be blood. Dit vind plaas in die hoofkarakter se
huis, waar ’n kil atmosfeer heers en die perfekte simmetrie in die eerste beeld
van die kegelbaan onheil spel wat die hare laat rys. Na ’n gruweldaad gepleeg is en die bloed van die titel loop, bars klassieke
musiek op die klankbaan los en die uitbundigheid skep so ’n kontras met die
gebeure dat dit vergelyk kan word met die gebruik van “Singin’ in the rain” in
die verkragtingstoneel van A clockwork orange. Indien die film se laaste kwartier intens en uiteindelik emosioneel
verpletterend is, is die eerste kwartier ’n verstommende visuele waagstuk. Met
’n byna totale gebrek aan die gesproke woord, word ons aan die hoofkarakter,
Daniel Plainview, ’n prospekteerder (of ’n “olieman”, soos hy homself noem)
voorgestel slegs deur middel van beeld en musiek. Hier dien Stanley Kubrick se 2001: A Space Odyssey as visuele
vergelyking: die mengsel van skril instrumentale en aapklanke wat die eerste 20
minute van die film uitmaak, is verbasend naby aan There will be blood;
in hierdie geval is die monoliet wat ’n gewelddadige ommeswaai teweegbring die
swart olie wat uit die aarde syfer. Die grootste gedeelte van die storie vind plaas in ’n gemeenskap met die naam Little Boston, iewers in Kalifornië in 1911. Plainview en sy (aangenome) seun, H.W., is die eerste om aan te doen by die Sunday-gesin se plaas, waar ’n onlangse aardbewing die olie uit die aarde opgestoot het tot aan die oppervlak. Plainview oorreed Abel, die hoof van die gesin, maklik om sy plaas vir ’n klein bedrag te verkoop, omdat hulle kerk, die “Church of the third revelation”, groot voordeel sal trek uit die transaksie. H.W. se skoon gesig en die oënskynlik vaste band tussen pa en seun verlei die plattelandse gemeenskap, en uiteindelik koop Plainview byna die hele dorp op. Eli, ’n lekeprediker by die gemeente, is die enigste in die gesin wat dink
dat Plainview hulle wil bedrieg, maar wanneer hy besef dat hy harder teenstand
moes gebied het, is dit te laat en Plainview se oliebore word reeds ingewy.
Plainview ignoreer Eli se versoek om die olieboor te seën, en hierdie aksie
hang soos ’n donker wolk oor die volgende halfuur, waartydens vreeslike gebeure
plaasvind wat Plainview se lewe omverwerp. Daniel Day-Lewis slaag om ons belangstelling te behou met sy vertolking van
Daniel Plainview, ’n baie onsimpatieke man wat harteloos en selfsugtig optree,
maar agter wie se oë ons ’n storm kan sien woed. Hy is in byna elke toneel van
die film, en talle skote waarin hy alleen verskyn, maak van hom bo alle twyfel
die sentrale visuele en narratiewe fokuspunt. Hy sien dinge in swart en wit (’n
beliggaming van sy familienaam), maar eerder in swart as in wit; hy het ’n
gitswart benadering tot die wêreld en nadat H.W. beseer word en sy broer hom verraai,
sluit hy homself van die wêreld af. “I look at people and I see nothing worth
liking.” Plainview wil nie gesien word as enigsins kwetsbaar of manipuleerbaar nie,
en Day-Lewis se vertolking van hierdie karakter gaan hom ’n Oscar-nominasie in
die sak bring. Die film se draaiboek is baie losweg gebaseer op Upton Sinclair se roman, Oil!,
wat in 1927 verskyn het. Die boek het fyn gekyk na die politieke implikasies
van die groeiende oliebedryf, en die hele storie het om Bunny Ross gedraai, wat
in die film H.W. heet. Paul Thomas Anderson het Sinclair se karakters behou,
maar die storie byna in sy geheel verander. Die fokus het van politiek (en
veral Bunny se betrokkenheid by die kommunistiese beweging van die tyd)
verskuif na Eli se geloof en die karakter van die oliemagnaat. Die konflik
tussen Plainview en Eli, reeds duidelik in hul eerste toneel saam, verskaf die
kernstryd in die film. Eli is ’n charismatiese predikant wat die bose tydens dinamiese dienste uit
mense dryf, en die dag wanneer Plainview teenwoordig is en die uitdrywing van
’n demoon aanskou wat blykbaar vir ’n bejaarde dame se artritis verantwoordelik
is, is die dag waarop hy Eli afskryf as ’n akteur en ’n valse profeet. Paul Dano, wat die stilswyende Nietzsche-lesende broer in Little Miss Sunshine gespeel het, bring tot die rol van Eli Sunday ’n stil vasberadenheid ten spyte van sy pateties passiewe houding teenoor Plainview. Anderson se besluit om die sogenaamde uitdrywing te laat geskied binne-in een ongebroke skoot is prysenswaardig, omdat hy die gevoel briljant vasvang van ’n suiende verbale maalkolk. Plainview is van mening dat Eli se geestesgereedskap net lug en leë klanke losboor, en sy laaste woorde aan hom voordat hy vertrek daardie Sondag is: “That was one goddamn hell of a show.” ’n Mens kan dieselfde van die film sê. Die tema van geloof loop sterk deur die film; Plainview se wantroue in
enigiets abstrak en sy ambisie om die beste te wees in alles wat hy aanpak,
dryf uiteindelik sy konflik met die jong Eli op die spits in ’n kragtige toneel
van voortdurende heroriëntering ten opsigte van mag. Waar trek jy die lyn van
jou morele waardes en hoe ver sal jy gaan om iets meer te kry? Hoeveel sal jy
verraai, selfs al is dit net vir skyn, om jouself iets toe te eien wat jy
andersins nie sou kon kry nie? Die storie roep sommige tematies gelyksoortige films op, soos George
Stevens se Giant, John Huston se Treasure of the Sierra Madre, of
Orson Welles se Citizen Kane, maar in werklikheid was daar eintlik nog
nooit in die hele filmgeskiedenis ’n film soos hierdie nie. Terwyl dit
interessant sou wees om ’n vergelyking te tref tussen die slottoneel van Erich
von Stroheim se Greed en hierdie film s’n, is dit duidelik dat Anderson
nêrens gaan leen het nie, nie eens by homself nie. Die werk wat hy gemaak het
van Sinclair se oorspronklike materiaal is reeds genoegsame bewys vir sy
herskeppingsvermoë en ’n oneindige kreatiwiteit. Die styl van Anderson se film herinner aan Terrence Malick se films, maar
die produk is eiesoortig en hoegenaamd nie sonder foute nie. Die karakter van Paul Sunday, Eli se broer, is heeltemal onderontwikkel. Sy
fundamentele rol in die verloop van die storie ten spyt, verskyn hy net een
maal en daar word glad nie uitgebrei op die gebroke verhouding met sy gesin
nie. In die roman is Paul die lewenslange vriend van Bunny (die film se H.W.),
en daar is ’n oomblik van vriendelikheid tussen die twee by hul eerste
ontmoeting in die film, maar in Anderson se storie loop dit op niks uit nie. Jonny Greenwood van die musiekgroep Radiohead is verantwoordelik vir die
mees oorspronklike klankbaan van die jaar, wat minimalistiese musiek soos Arvo
Pärt insluit, met dissonante Penderecki alterneer en dan soms kans gee vir ’n
meer klassieke stuk Brahms. Daar is stukke Penderecki-geïnspireerde gedeeltes
wat in ’n mate herinner aan Jon Brion se werk in Anderson se vorige film, Punch-drunk
love, maar die uitsonderlike oudiovisuele kombinasies is nader aan Kubrick
se The shining en A clockwork orange. Hierdie a priori vreemde
keuses werk, bo alle verwagting, baie goed saam met die beelde en skep ’n
sonderlinge atmosfeer. ’n Tema van wraak loop deur die film, en in ’n baie suksesvolle narratiewe
slag volg twee tonele op mekaar wat wys hoe die karakters frustrasie met hul
eie beperkinge hanteer. Met goeie rede is die film se lokreël: “There will be
greed. There will be vengeance. There will be blood.” Dit is ook ’n storie van gebroke gesinsverhoudinge: In die Sunday-gesin,
het Eli se tweelingbroer, Paul, die familie vir eie gewin verraai, terwyl Eli
self nie oor die weg kom met sy pa Abel nie. Dan word die jong meisie, Ruth,
nog deur haar pa geslaan as sy nie bid nie. Die verhouding tussen Daniel
Plainview en H.W. is hartroerend tot die eerste groot terugslag, en dan breek
die band onherroepelik. Daniel Plainview ontmoet ’n man genaamd Henry, wat sê
hy is sy halfbroer, maar hierdie storie voel uiteindelik onaf en nie volledig
geïntegreer met die verloop van die res van die film nie. Met sy eerste film in vyf jaar slaan regisseur Paul Thomas Anderson wie se Magnolia
waarlik ’n filmiese opera was met ’n string storielyne wat heen-en-weer en
deurmekaar gevleg is, uiteindelik mitiese afmetings aangeneem en uit sy nate
gebars het ’n blaadjie om en ’n heeltemal nuwe rigting in. There will be blood is anders as enige van sy
vorige films, en selfs die komplekse kamerabewegings van vroeër is feitlik
totaal afwesig. Sy veelvlakkige dialoog het ook verdwyn, maar is vervang met ’n
ewe groot uitdaging: die regie van stilte. Hy slaag met ’n asemrowende eerste
kwartier en bou die res van sy film daarop. Daar is ’n interessante oomblik, vroeg in die film, wanneer oliedruppels op
die kamera se lens spat, maar dit is die hoogtepunt van Anderson se stilistiese
waaghalsigheid in hierdie film, waarin vertelritme en karakterontwikkeling van
groter belang is as ooit tevore. Ongetwyfeld die mooiste beeld in die hele film gaan een groot konfrontasie
tussen Plainview en Eli vooraf. Terwyl Plainview op ’n groot stuk dorre aarde
staan en sy personeel raadpleeg, verskyn Eli in die hoek van die raam en loop
verby ’n groot poel water waarin die blou lug en die grys wolke verbydryf. Let
daarna op: dit is ’n oomblik van oëverblindende stilte voor die storm. There will be blood is sekerlik Paul Thomas
Anderson se mees beheerste film tot nog toe en toon ongelooflike volwassenheid
in sy benadering tot die onderwerp en die konsekwente ritme van sy vertelstyl.
Die film is ’n visuele meesterstuk, met baie goeie klank- en musiekkeuses –
luister wat gebeur met die klankbaan wanneer H.W. se oordromme oordonder word
deur die olie wat skielik uit die aarde opspuit. Die kamera is nooit opvallend
nie, en Daniel Day-Lewis spog met een van die beste vertonings van sy loopbaan.
Die laaste gedeelte van die film, wat in 1927 afspeel, voel ongelukkig soos ’n
vreemde aanhangsel waarop die kyker nie behoorlik voorberei word nie. Dis ’n
persoonlike beswaar, maar ek sou meer oor die politieke skandale van president
Harding se administrasie wou hê, omdat dit Eli se ontmoeting met Plainview na
die einde toe beter sou verduidelik. Die film is egter in sy geheel sterk genoeg, en die finale skok groot
genoeg (en belangriker: geloofwaardig genoeg), om ’n blywende indruk te laat. There will be blood word op 8 Februarie 2008 in Suid-Afrika vrygestel. __________ Verwysings: 2001: A
space odyssey. 1968. Stanley Kubrick. Clockwork
orange, A. 1972. Stanley Kubrick. Citizen
Kane. 1941. Orson Welles. Giant. 1956. George Stevens. Greed. 1924. Erich von Stroheim. Little
miss sunshine. 2006. Jonathan Dayton & Valerie Faris. Magnolia.
1999. Paul Thomas Anderson. Punch-drunk
love. 2002. Paul Thomas Anderson. Shining,
The. 1980. Stanley Kubrick. Treasure
of the Sierra Madre, The. 1948. John Huston. |