| ||||
Aurélien Bernier * Skrywer van Les OGM en guerre contre la société (Parys: Attac, Mille et une nuits, 2005) en medeskrywer van Transgénial! (Parys: Attac, Mille et une nuits, 2006). Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Die eerste ekonomiese werke waarin daar vooruit melding van omgewingsbelasting gemaak word, dagteken uit 1920, met die Britse ekonoom Arthur Cecil Pigou se The Economics of Welfare, waarin hy uitbrei op die gedagte van “eksternaliteite” of die “eksterne effek” van ’n vervaardigings- of verbruikshandeling. Die skrywer neem ter illustrasie die stukkies gruis en gloeiende kooltjies wat soms van ’n stoomlokomotief af uitskiet en wat brande in die woude en landerye langs die spoorlyn kan ontketen. Pigou meen dat as spoorwegmaatskappye belasting moet betaal op sulke skade, dit hulle sal aanspoor om voorsorgmaatreëls teen sulke vonkies en kooltjies te tref en die skade te bekamp. Hierdie redenasie vorm die grondslag van die “besoedelaar betaal”-beginsel. Veertig jaar later kritiseer ’n ander Britse ekonoom, Ronald Coase, Pigou se teorieë. Dekades voor die Kioto-onderhandelings bied hy ’n goue argument vir besoedelende maatskappye wat openbare owerhede se beperkings wil vryspring en “die mark vrye teuels wil gee”. Coase betwis die doeltreffendheid van “Pigouviaanse” belasting, omdat dit lei tot transaksiekostes verbonde aan die staat se inmenging. Volgens hom sal die optimum ekonomie bereik word wanneer slagoffers van die brande direk met die spoorwegmaatskappye onderhandel. Hy voer aan dat as ’n firma die spoorlyn sowel as die omliggende gebiede besit, hy self die probleem sal oplos met ’n interne optimaliseringsberekening. Volgens Coase se stelling is die definisie van regte uit ’n ekonomiese oogpunt nie ter sake nie: dit is om’t ewe of ’n mens meen dat die eienaar van die landerye of woude die reg het om nie die slagoffer van brande te wees nie, of omgekeerd, of die spoorwegmaatskappy die reg het om brande te stig. Nietemin besluit die Amerikaanse regering in 1970, in die lig van die aanhoudende lugbesoedeling, om uiters streng norme vir besoedelende afval daar te stel en ’n federale wet met die naam “Clean Air Act” te hersien. Twee jaar later publiseer die Klub van Rome, ’n internasionale vereniging van wetenskaplikes, ekonome, staatsamptenare en nyweraars, ’n verslag met die titel “Limits to growth” (1), wat ’n rampspoedige toekoms in die vooruitsig stel indien die mensdom nie vinnig aan die omgewing begin aandag gee nie. Die hipotese van ’n verhouding tussen die vlakke van koolstofdioksied (CO2) en klimaatsverandering begin na vore kom; debatte oor die kweekhuiseffek word al meer aanwesig in die samelewing. In weerwil van hierdie bewuswording lui die vroeë 1990’s die begin van ’n ideologiese oorwinning vir die liberales in. In die lig van stedelike gebiede se onvermoë om die “Clean Air Act” te respekteer, besluit die regering, na verskeie toegewings, om ’n stelsel daar te stel vir die uitruil van gasvrystellingsregte. Dié stelsel vorm deel van ’n nuwe program genaamd “Acid Rain”, wat doelwitte stel vir die vermindering van swaeligsuurgas (SO2), wat verantwoordelik is vir suurreën. Die maatreël gee aan die 110 mees besoedelende aanlegte vergunnings om SO2 vry te laat, en laat hulle toe om vrylik met dié regte handel te dryf. Natuurlik sal verbeterings eerstens aangebring word daar waar dit die minste beleggingskoste verg, en die oortollige vergunnings wat so tot stand kom, word dan verkoop aan dié wat meer gasse vrystel as die volume wat aan hulle toegeken is. Groot boetes kan opgelê word aan ’n firma wat nie aan die einde van die jaar kwotas kan wys vir al die tonne SO2 wat hulle in die atmosfeer vrygelaat het nie. Oënskynlik volg hierdie stelsel Ronald Coase se voorstelle na deur die mark toe te laat om sy gang te gaan. En “Acid Rain” is ’n ware sukses: die doelwit van ’n 40 % afname in SO2 met betrekking tot die situasie in 1980, word bereik en selfs verbygesteek. Maar kyk ’n mens van nader, sou dit oneerlik wees om hierdie sukses aan die mark toe te skryf. Eerstens het die versterking van die regulasies, en daarmee saam ’n deurlopende kontrolestelsel van besoedelende gasse uit skoorstene, talle nyweraars aangespoor om vooruit werk daarvan te maak om by die norme aan te pas. Die steenkoolnywerheid het daarbenewens produkte met ’n lae swaelinhoud ontwikkel, wat minder SO2 vrylaat en derhalwe mededingend geraak het. Hierdie twee verskynsels verklaar in ’n groot mate die aansienlike afname in vrystellings, met die verkwanseling van regte op die mark slegs ’n randfaktor (2). Maar die newe-effekte kan nie geïgnoreer word nie. Die laer energiekapasiteit van die nuwe soort steenkool met sy laer swaelinhoud maak dat dit in groter hoeveelhede verbruik word ... wat meganies die vrylating van ’n ander besoedelende gas verhoog, naamlik koolstofdioksied! Maar die voorstanders van nie-inmenging deur die staat verkies om slegs een gevolgtrekking hieruit te maak: dat die kwotamark doeltreffend is, en dus maar uitgebrei kan word. Gestig in 1988 op versoek van die G7, probeer die Tussenregeringspaneel oor Klimaatverandering (Intergovernmental Panel on Climate Change, IPCC) om besluitnemers bewus te maak van die gevolge van aardverwarming. In 1992 word die Verenigde Nasies se Klimaatverdrag (of UNFCCC, United Nations Framework Convention on Climate Change) vir bekragtiging oopgestel, en deur feitlik al die lande aanvaar. Die oogmerk is om “die vlakke van kweekhuisgasse in die atmosfeer te stabiliseer”, sonder om spesifieke syfers of middele aan te dui. Hierdie operasionele fase word oorgegee aan ’n daaruit spruitende verdrag, die Kioto-protokol, waarvan die eerste onderhandelings in Desember 1997 begin. Die Verenigde Nasies se raamwerk vereis eenstemmigheid, en die stryd woed hewig tussen geïndustrialiseerde lande en ontwikkelende lande. Byna vier jaar gaan verby voordat die Marrakesh-verdrae, die juridiese vergestalting van die Kioto-protokol, op 10 November 2001 tot stand kom. Die terugtrekking van die VSA, na ’n stemmery waarin bykans ’n honderd Amerikaanse senatore teen die bekragtiging gestem het (en nie een ten gunste daarvan nie ...), laat die vrystelling van die betrokke kweekhuisgasse tot 40 % daal. Die mikpunt van ’n 5,2 % vermindering teen 2012 met betrekking tot die 1990-vlak, wat in die Protokol gemeld word, stem dus ooreen met ’n 2 % vermindering in die jaarlikse vrylating van kweekhuisgasse wêreldwyd. Voeg ’n mens hierby die feit dat, ten tyde van die onderhandelings oor die implementeringsmaatreëls, vrystellings reeds 4,8 % minder was as in 1990 (3), dan kom die werklike mikpunt maar neer op ’n 0,16 % afname in die tonnemaat kweekhuisgasse wat in die atmosfeer vrygelaat word! Hierdie syfer word natuurlik nêrens in die amptelike verklarings gemeld nie, omdat dit belaglik vergelyk met dit wat op die spel is. In teendeel tot hierdie minimale toegif kon die drukgroep van die grootste besoedelaars sogenaamde “buigbaarheids”-meganismes bekom waaruit hulle die maksimum voordeel sal kan trek. Die eerste werktuig is dan ook die “onderhandelbare gasvrystellingspermit” wat deur die VSA afgedwing is, onder die voorwendsel dat hulle SO2–eksperiment gewerk het. Dit skeel hulle min dat die betrokke gebied nie homogeen is nie, dat die aantal kweekhuisgas-produserende aanlegte geen verband hou met die Amerikaanse steenkoolkragsentrales nie, of dat die Kioto-protokol nie op enige gemeenskaplike wetsraamwerk gebaseer is nie. Elke staat wat in Anneks B (4) verskyn, sal dus ’n kwota-plan opstel waarvolgens die hoeveelheid regte om CO2 vry te stel, onder sy mees besoedelende aanlegte verdeel sal word, soos aan die begin van ’n Monopoly-spel (5). Vanselfsprekend sal die regerings hulle nie verwerdig om die nywerhede vir hierdie kwotas te laat betaal nie, hoewel sodanige belasting aangewend sou kon word om grootskaalse openbare optrede ten gunste van die omgewing te voer. Dit gaan werklik oor die “reg om te besoedel”, waarvan die gratis aspek veronderstel dat die omgewing by verstek behoort aan dié wat dit benadeel. Met hulle koolstof-krediet in die sak, hoef die maatskappye slegs een verpligting na te kom: om aan die einde van die bedryfsiklus ’n aantal kwotas gelykstaande aan die aantal ton CO2 wat geproduseer is, voor te lê. Hierdie “voorlegging” neem die vorm van ’n eenvoudige boekhoubewerking aan. Gekoppel aan die bates/laste van die maatskappye, moet die jaarlikse vrystelling van gasse gebalanseer word deur die volume kwotas wat aanvanklik toegeken is, plus aankope, en minus verkope. Projekte wat aangepak word om kweekhuisgasse te verminder (die oprigting van windmeulens, die opvang van metaan uit afval, die vervanging van brandstowwe, die ontwikkeling van houtverbruik, ens.), kan ook lei tot ’n oordrag van kwotas tussen ondertekenaars van die Protokol. Dit gaan om gesamentlike implementering waarvolgens die gasheerland ’n deel van sy kwotas aan beleggers gee, in verhouding tot die kweekhuisgasse wat voorkom is. Maar ontwikkelende lande, onder die leiding van Brasilië, het die reg bekom vir lande wat nie in Anneks B verskyn nie, om ook sulke projekte te huisves, wat vir hulle die voordeel inhou dat dit nuwe buitelandse kapitaal trek. In so ’n geval, aangesien die gasheerland nie enige verbintenis jeens die Kioto-protokol het nie, gee die jaarlikse hoeveelheid kweekhuisgasse wat voorkom, aanleiding tot die skep van nuwe krediet wat CER (Certified Emission Reduction) genoem word. Op die wêreldmark kom hierdie operasie dus neer op die verhoging van die massa koolstof-as-geldeenheid. Soos met gesamentlike implementering word CER-kwotas gratis deur die VN aan beleggers gegee, wat dit óf kan gebruik om hulle verpligtings na te kom, indien hulle deur ’n toewysingsplan geraak word, óf dit op die mark kan verkoop, nes ’n kwota wat deur die staat toegeken is. Hierdie blink plan word die “skoon ontwikkelingsmeganisme” of CDM (“clean development mechanism”) genoem, en help om kommer oor die skaarste van kwotas uit die weg te ruim, aangesien die voorraad na hartelus uitgebrei kan word. Laastens word die partye gevra om hierdie maatreëls uit te brei na sektore wat nie deur die toewysing van kwotas gedek word nie. “Huishoudelike projekte”, waarvoor die Franse regering in die lente van 2007 ’n regulasieraamwerk opgestel het, bied marktoegang aan nywerhede wat min gasse vrylaat, hetsy privaat of openbaar, asook die landbou- en vervoersektore, in ruil vir beleggings wat bydra tot die vermindering van afval of die absorbering van koolstofdioksied. Die Verenigde Koninkryk voer dit nog verder en werk tans aan ’n wetsontwerp wat ’n aantal kwotas aan elke volwasse persoon sal gee. Hierdie aantal regte, in die vorm van krediete op ’n kaart, sal gedebiteer word elke keer dat primêre energie gebruik word: volmaak van ’n brandstoftenk, betaal van ’n elektrisiteitrekening ... Wanneer die kwota opgebruik is, moet die CO2 kredietkaart ten duurste herlaai word, of bykomende eenhede moet op die mark gekoop word. Ter voorbereiding van die toepassingsfase wat in die Kioto-protokol bepaal word vir die tydperk 2008-2012, het die Europese Unie in 2005 sy eie koolstofmark op die been gebring. Die eerste twee jaar was uiters leersaam en het al die risiko’s aan die lig gebring wat so ’n vrye aanwending van inkomste kan inhou. Die Europese koolstofmark is geskoei op die lees van finansiële markte. Handel kan óf regstreeks tussen kwotahouers (“met onderlinge ooreenkoms”) geskied, óf op georganiseerde finansiële markte (CO2-beurse), wat transaksies kan fasiliteer en beveilig. Laasgenoemde kan óf kontant betaal word, óf aan die einde, dit wil sê op ’n vooruitbepaalde leweringsdatum. Die skommelings van twee verskillende koolstofpryse kan so gevolg word: die kontantprys per ton (Engels “spot”), en die prys per ton wat in Desember 2008 gelewer word (“toekomstig”). Nadat dit vir byna ’n jaar lank tussen 20 en 30 euro gewissel het, het die kontantprys in die lente van 2006 ineengestort, met die openbaarmaking van die eerste verslag van werklike emissies deur maatskappye. Die resultate het getoon hoe vrygewig die regerings in hulle toekenning van kwotas was, wat nouliks ’n verrassing is as ’n mens in ag neem dat die planne op die nywerhede se vooruitskouings gebaseer is. Gedurende September 2007 bereik die CO2-prys ’n laagtepunt van vyf euro-sent per ton in kontant, wat kwalik die transaksiekoste dek. Die redenasie onderliggend aan beleggings wat met kweekhuisgasse verband hou, is duidelik dié van winsgewendheid. Talle koolstoffondse is geskep om kwotaportefeuljes te bestuur, veral dié wat deur middel van “skoon ontwikkelingsmeganismes” toegeken is. Die Wêreldbank is die grootste bestuurder van koolstofaandele (6). In Frankryk is die Caisse des dépôts et consignation ook verantwoordelik vir die hou van ’n nasionale register van kwotas en die bestuur van die Europese koolstoffonds, wat hy natuurlik huisves in ... ’n onderlinge beleggingstrust in Luxemburg. Dit is nie nodig om ingewikkelde berekenings te maak om te verstaan hoekom die wedloop vir Skoon Ontwikkelingsmeganisme- of CDM-projekte reeds begin het nie. In ag genome die vlak van toerusting en die verskille in arbeidskoste, kos die besparing van een ton CO2 in Europa ’n belegging van 80 euro. In China kos die voorkoming van dieselfde ton vrygestelde gas ’n gemiddelde ... 3 euro (7). Nie net sorg hierdie meganisme dus vir ’n aansienlike reserwe van kwotas nie, “uitverkopings” hou ook die hele jaar aan ... Niemand sal derhalwe verbaas wees indien maatskappye in ontwikkelde lande verkies om in China te belê vir aktiwiteit wat spaarsamig met kweekhuisgasse te werk gaan, of om bestaande aanlegte te moderniseer, eerder as om hulle eie emissies te verminder nie. Daarby, deur koolstoffondse met openbare geld aan te vul, het state die opsie om verskuilde hulp aan maatskappye te gee, aangesien dit uiteindelik hulle is wat by die nuutgeskepte kwotas sal baat. Volgens sommige ontleders behoort CDM teen 2012 ’n nuwe volume kwotas te skep wat gelykstaande aan die gesamentlike hoeveelheid kweekhuisgasse in Kanada, Frankryk, Spanje en Switserland sal wees. In 2006 het meer as 40 % van die wêreldwye koolstofmark uit CER bestaan (8), met ’n gedeelte daarvan wat op totaal ongerymde wyse toegeken is aan projekte wat dit nie geregverdig het nie (9). Dié wat daarby baat vind, bly steeds die lande wat die aanloklikste vir beleggers is. Volgens die Wêreldbank verteenwoordig China en Indië alleen 73 % van alle CER, en huisves hulle elk honderde sulke projekte. Afrika het skaars ’n dertigtal projekte, en 80 % hiervan is in drie lande gekonsentreer: Suid-Afrika, Egipte en Tunisië. Ons is dus ver van die goeie bedoelings waarvan amptelike publikasies deurspek is, of hulle nou handel oor omgewingsbewaring, tegonologie-oordrag of volhoubare ontwikkeling. Kyk ’n mens verder as die sinisme van groot nywerheidsgroepe, herinner die heersende gees op markte wat met klimaatsverandering te make het aan die euforiese tydperk wat die inligtingstegnologie ook beleef het. ’n Ware spekulasieborrel is aan die vorm rondom metodes wat spaarsamig met kweekhuisgasse werk en wat ontginbare kwotas genereer. Die Franse groep Areva het maande lank met die Indiese Suzlon ’n stryd gevoer om die voorste Duitse windmeulvervaardiger, Repower, in te palm, sonder enige sukses. Aan die begin van April 2007 is die maatskappy gewaardeer teen honderd maal sy bedryfsresultate vir 2006, wat meer as twaalfmiljoen euro beloop. Vir EDF (Electricité de France) se omgewingsfiliaal het sy toetrede tot die aandelemark alle verwagtings oortref. In minder as anderhalf uur het die waarde van sy aandele met 20 % gestyg, en sy notering aan die einde van die eerste dag was ses maal soveel as sy omset. In Februarie 2006 het die elektrisiteitvoorsiener sy plasing op die hernubare energiemark versterk deur 66 % van Supra, die houtverwarmingspesialis, se kapitaal te koop. Wat die Rhodia-groep betref, het dié hom die afgelope jare in ’n heel ander soort praktyk begewe. Geskud deur skandale kom die maatskappy in 2003 bitter na aan bankrotskap. Die bestuur besluit aldaar om hom tot koolstof te wend. In November 2005 kondig hy die opknapping van twee fabrieke aan, die een in Korea, die ander in Brasilië. Deur bouwerk ter waarde van 14 miljoen euro aan dié fabrieke te laat doen, bekom Rhodia CO2-kwotas (77 miljoen ton) wat 200 miljoen euro per jaar werd is! Sy effekte se waarde styg met 14 % in die daaropvolgende uur. Die koolstoffonds waarin die effekte geplaas word, sal in vennootskap met die bank Société Générale bestuur word. Terwyl handelsbanke soos Lehman Brothers of herversekeraars soos Swiss-Re maar pas begin om beleggers aan te moedig om in koolstoffinansies betrokke te raak (10), is ons nog maar in die vroeë fase van ’n spekulatiewe proses waarvan die gevare reeds ooglopend is. Die manier waarop internasionale onderhandelings rakende post-2012 aan die toeneem is, is uiters verontrustend. Partye tot die Protokol skyn inderdaad bereid om talle toegewings te maak om hierdie keer die VSA se instemming te verkry. En die Amerikaanse strategie kan wel wees om die absolute mikpunte vir die vermindering van kweekhuisgasse te laat vervang deur nie-beperkende verpligtings, of dan teikens wat uitgedruk word in “koolstofintensiteit”, wat die CO2-inhoud van groei weerspieël. In laasgenoemde geval word die verwysing die hoeveelheid koolstofdioksied wat per BBP (bruto binnelandse produk) -punt vrygestel word, wat eens en vir altyd diegene wat by die politieke stryd teen klimaatsverandering betrokke is, in blote ornamente sal omskep. Daar bly dus min tyd oor om te reageer, en die waarborge wat deur sommige ekoloë gebied is, wakker nie juis die bewuswording aan nie. Wanneer mev. Dominique Voynet, voormalige Franse minister van omgewingsake, reken dat “dit ’n mistasting was om die handel in emissieregte as ’n liberale meganisme te beskou” (11), of wanneer mnr. Alain Lipietz, Europese parlementslid vir die Groenes, homself op die skouer klop oor die onderhandelbare permitstelsels (12), is hulle besig om die onregverdigbare te probeer regverdig. Geen doeltreffende oplossing kan na alle waarskynlikheid bestaan sonder om produksiestelsels en internasionale handelsreëls in die gedrang te bring, en byvoorbeeld nuwe doeaneregte te skep wat die energie- en koolstofinhoud van ingevoerde produkte in ag neem nie. Soiets sou die teendeel van ’n proteksionistiese denkwyse wees, waar winste gebruik word om werklik volhoubare projekte in ontwikkelende lande aan die gang te sit, en hulle toe te vertrou aan plaaslike maatskappye of aandeelmaatskappye waarvan die kapitaal hoofsaaklik uit die gasheerland afkomstig is. So ’n gemengde koolstof-/energiebelasting sal ook op plaaslike nywerheidsaktwiteite toegepas moet word. In dié geval sou die helfte van die inkomste die staatsbegroting kon aanvul en ambisieuse beleidsbesluite rakende die omgewing kon finansier. Die ander helfte sou in die maatskappy se individueel aangepaste rekening geplaas word, met die doel om in tegnologieë te belê wat hom in staat sal stel om sy gasvrystellings te verminder. Laastens kan die doeltreffende aanwending van openbare subsidies gebruik word om die proses af te rond. Anders gestel, om ’n antwoord te bied op Coase se mislukking en alles wat weens die omgewingskrisis op die spel is, sal ons vir Pigou moet herontdek. ________ (1) In 1972 gepubliseer onder die titel Halte à la croissance ? Rapports sur les limites de la croissance, Parys:Fayard. (2) Olivier Godard, “L’expérience américaine des permis négociables”, in die tydskrif van die CEPII (Franse ekonomiese navorsingsinstituut), no 82, 2000. Lees ook Bernard Girard se ekonomiese rubriek, “Le marché des droits à polluer”, www.bernardgirard.com/ (3) Pierre Cornu, Courrier de la Planète / Cahiers de Global Chance, Parys, April/Junie 2004. (4) Anneks B van die Protokol bevat die lys van lande wat deur hierdie verpligtinge tot vermindering geraak word: dit is slegs van toepassing op lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) en Oos-Europese lande “in oorgang na ’n markekonomie”. (5) Ses kweekhuisgasse word deur die Kioto-protokol geraak: koolstofdioksied (CO2), metaan (CH4), laggas (N2O), swaelheksafloried (SF6), waterstoffluoorkoolstofverbindings (HFC) en perfluoorkoolstowwe (PFC). Deur ’n omskakeling kan al hierdie gasse in “CO2-ekwivalente” uitgedruk word, aangesien koolstofdioksied die grootste faktor in die kweekhuiseffek is en dus as verwysingseenheid gebruik word. (6) Einde Julie 2007 het die Wêreldbank elf koolstoffondse ter waarde van 2,23 miljard dollar bestuur. Die gemiddelde bydrae van regerings is ongeveer 50 %. (7) Annie Vallée, Economie de l’environnement, Points Economie, Parys, 2002. (8) Wêreldbank, “State and Trends of the Carbon Market 2007”, Mei 2007. Die gemelde syfer verwys na transaksies wat in tonne CO2 uitgedruk word. (9) ’n Interne verslag aan die evalueringskomitee vir Skoon Ontwikkelingsmeganisme- of CDM-projekte toon aan hoe toegeeflik private ouditfirmas te werk gaan in hulle ontledings van dossiere wat deur nywerhede aan hulle voorgelê word. Lees die onderhoud met Axel Michaelowa (7 Junie 2007): www.lemonde.fr (10) Lehman Brothers publiseer aan die begin van 2007 ’n verslag met die titel “The Business of Climate Change”, waarin die bank “uitdagings” en “geleenthede” vir maatskappye uitwys. Kyk ook www.swissre.com, onder die opskrif “Climate Change”. (11) Courrier de la Planète / Cahiers de Global Chance, April/Junie 2004. (12) http://lipietz.net/ |