|
||||
Christian Salmon *Skrywer,
lid van die Franse Sentrum vir navorsing op die gebied van kuns en taal
(CRAL/CNRS). ’n Boek van hom het pas verskyn : Storytelling,
la machine à fabriquer des histoires, Parys: Editions La Découverte, 2007.
Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected] In
’n artikel van die New York Times wat verskyn het enkele dae voor die
VSA se presidentsverkiesing in 2004 het Ron Suskind (tussen 1993 en 2000
redaksielid van die Wall Street Journal en skrywer van talle ondersoeke na die
kommunikasie van die Withuis sedert 2000) ’n gesprek onthul wat hy in die loop
van die somer in 2002 gehad het met ’n raadgewer van George W. Bush: “Hy het
vir my gesê dat mense soos ek deel vorm van ’n groep wat ‘behoort aan ’n
werklikheidsgebaseerde gemeenskap [reality-based community]’: ‘Julle glo
dat die oplossings sal kom uit julle verstandige ontleding van die waarneembare
werklikheid.’ Ek het dit beaam en iets gemompel oor die beginsels van die
Verligting en empirisme. Hy het my kortgeknip: ‘Die wêreld werk nie regtig meer
só nie. Ons is nou ’n ryk en wanneer ons optree, skep ons ons eie werklikheid.
Terwyl julle hierdie werklikheid noukeurig bestudeer, soos julle dit verkies,
tree ons opnuut op en skep ander werklikhede, wat julle ook maar kan bestudeer.
Dít is hoe dinge werk. Ons is akteurs in die storie. [...] En julle, julle
almal, julle bestudeer maar net wat ons doen.”(1) Suskind se artikel, wat deur die New York Times bestempel is as ’n
“intellektuele scoop”, het golwe veroorsaak. Redaksielede en
blog-skrywers het die uitdrukking “reality-based community” opgeraap en oor die
web versprei – teen Julie 2007 het Google se soekenjin reeds meer as ’n miljoen
resultate vir hierdie term gehad. Die Wikipedia-ensiklopedie het ook ’n
inskrywing hiervoor oopgemaak. Volgens Jay Rosen, professor in joernalistiek
aan die Universiteit van New York, “het baie mense aan die linkerkant hierdie
term vir hulleself toegeëien deur na hulself op hulle blogs te verwys as
‘waardige lidmate van die werklikheidsgebaseerde gemeenskap’, terwyl die
regterkant snedig terruggekap het: ‘Reality-based? Wonderlik vir julle...!(2)’” Sulke woorde, wat sonder twyfel aan Karl Rove behoort, is enkele maande
voor die aanvang van die Irak-oorlog gespreek en is nie net sinies en ’n
gewetenlose mediastoker waardig nie: dit klink asof dit kom uit ’n teaterstuk
eerder as uit die kantore van die Withuis. Hulle is nie daarmee tevrede om ou
dilemmas uit te rek wat steeds die Departement van Justisie en pragmatiste teen
idealiste, pasifiste teen oorlogkraaiers of (in 2002) verdedigers van internasionale
reg teen kampvegters van dwang opstel nie. Hulle skep ’n nuwe opvatting van die
verhouding tussen politiek en werklikheid (3). Die leiers van die wêreld se
nommer een supermag draai nie net weg van realpolitik nie, maar ook van
eenvoudige realisme, om skeppers van hul eie werklikheid te word, meesters van
skyn wat ’n realpolitik van fiksie afkondig. Die VSA se inval in Irak in Maart 2003 dien as skitterende illustrasie van
die Withuis se wens om sy “eie werklikheid” te skep. By hierdie geleentheid het
die dienste van die Pentagon, gretig om nie die foute van die eerste Golfoorlog
van 1991 te herhaal nie, besondere sorg aan hul kommunikasiestrategie gegee.
Buiten die 500 “embedded” joernaliste (wat geïntegreer is in ’n eenheid van die
Amerikaanse weermag en waaroor reeds baie gepraat is), is die perskamer van die
hoofkwartiere van die Amerikaanse magte in Qatar mooi beplan: ’n voorraadskuur
wat herskep is – vir die beskeie bedraggie van een miljoen dollar – tot ’n
ultramoderne televisie-ateljee, met ’n podium, plasmaskerms en alle nodige
elektroniese apparaat om regstreeks gevegsvideo’s, geografiese kaarte,
animasies, diagramme, ensovoorts te produseer. Die verhoog, vanwaar die Amerikaanse weermag se woordvoerder, Generaal
Tommy Franks, joernaliste toespreek, het $200 000 gekos en is geskep deur ’n
ontwerper wat al vir Disney, MGM en die televisiereeks Sending Vietnam
gewerk het. Sedert 2001 is hy in diens van die Withuis, vir wie hy die dekor
opstel waarby die president verskyn: sy aanstelling behoort as geen verrassing
te kom nie, gegee die verhouding tussen die Pentagon en Hollywood. In teenstelling hiermee is die eintlike verrassing die besluit van die
Pentagon om David Blaine te huur vir opknapwerk – ’n kulkunstenaar wat in die
VSA beroemdheid verwerf het met sy televisieprogramme en sy goëltoertjies wat
hom in staat stel om homself van die natuurwette los te maak, soos om bo die
grond te swewe of om dae lank sonder kos in ’n hok opgesluit te word – of beide
terselfdertyd. In ’n boek wat in 2002 gepubliseer is, verwys die selfbenoemde
“Michael Jordan van towerkuns” na die erfenis van Robert Houdini, ’n
legendariese Franse towenaar wat in die negentiende eeu om sy regering se
onthalwe na Algerië gegaan het om te help om ’n opstand te kalmeer deur te wys dat
sy towerkrag bo dié van die rebelle verhewe was (4). Dit is onduidelik of die
Pentagon dieselfde idee in gedagte gehad het, maar Blaine se aanstelling en
versending na Qatar dui daarop dat sy talente as meester van illusie gebruik is
vir oëverblindery en spesiale effekte ... Scott Sforza, ’n oud-produksieleier van ABC wat gewerk het vir die
Republikeinse propagandamasjien, het talle agterdoeke geskep vir Bush se
belangrikste toesprake gedurende sy twee termyne. Dit is hý wat op 1 Mei 2003
Bush se toespraak geregisseer het op die Abraham Lincoln-vliegdekskip, voor ’n
banier met die inskripsie: “Mission Accomplished” : “Die grootste
gevegsoperasies in Irak is verby. In die stryd om Irak het die VSA en sy
bondgenote die oorwinning behaal.” Maar die regie het nie daar geëindig nie. Die president het op die
vliegdekskip geland in ’n vegvliegtuig wat vir die geleentheid tot Navy One
herdoop is en waarop geskryf is: “George Bush, Commander in Chief”. Uitgevat in
’n vlieëniersuitrusting het hy uit die kajuit geklim, helm in die hand, asof hy
van ’n sending terugkom in ’n glansweergawe van Top Gun – die film van
produksieleier Jerry Bruckheimer, wat Hollywood en die Pentagon se gesamentlike
operasies goed ken: hy vervaardig ’n werklikheidstelevisiereeks oor die oorlog
in Afghanistan, getiteld Front Line. Die skrywer Frank Rich haal ’n kommentator van Fox News aan wat ’n baie
juiste opmerking gemaak het oor die geleentheid, wat eintlik veronderstel was
om ’n kompiment te wees: “Dit is fantastiese teater.” David Broder van die Washington
Post is geboei deur wat hy die president se “fisieke postuur” genoem het
(5). Sforza moes die toneel netjies raam, sodat die horison
nie sigbaar sou wees nie: San Diego was in werklikheid 60 kilometer weg, terwyl
die vliegdekskip veronderstel was om in die middel van die see in gevegsones
rond te vaar. Maar die regie van ’n presidensiële toespraak was nog nooit so opvallend
soos op 15 Augustus 2002 nie, toe die president van die VSA homself ernstig
uitgespreek het oor “nasionale veiligheid” voor die bekende rotsformasie van
Mount Rushmore, waarop die gesigte van George Washington, William Jefferson,
Franklin Roosevelt en Abraham Lincoln gekerf is. Tydens sy toespraak is die
televisiekamera’s geplaas teen hoeke wat George W. Bush in profiel afneem,
sodat sy gesig dié van elkeen van sy voorgangers vervang … Dieselfde soort prosedure is aangewend by geleentheid van Bush se toespraak
met die eerste herdenking van die aanvalle van 11 September, om die Amerikaanse
mening te swaai in die guns van die inval in Irak, deur te fokus op “die groot
stryd wat ons mag en ons doelgerigtheid uitdaag.” Sforza het drie vragskuite
gehuur om die bemanning van die presidensie tot by die voet van die
Vryheidstandbeeld te vervoer, laasgenoemde van kop tot tone verlig met sterk
projektors. Hy het die skoothoeke sorgvuldig gekies sodat die standbeeld
gedurende die hele toespraak sigbaar sou wees. Frank Rich noem ’n spesialis,
Michael Deaver, wat Ronald Reagan se kandidaatskapsverklaring in 1980
geregisseer het, met die Vryheidstandbeeld op die agtergrond: “Hulle verstaan
beelde soos niemand ooit tevore nie. Hulle het begryp dat dit wat rondom die
kop is, is net so belangrik is as die kop self.”(6) Dit wat rondom die kop verskyn, is presies dít wat ’n beeld in ’n legende
verander: “Mission Accomplished”, die landsvaders, die Vryheidstandbeeld ...
Die beeld word ’n storie. Maar dit moet ook resoneer met die kyker, met ander
woorde dit moet twee geskiedkundige oomblikke met mekaar laat praat – die een
verteenwoordig deur die beeld, en die ander die oomblik wanneer dit ontvang
word. Dit is hierdie resonansie wat die nodige emosie produseer. Vir die
Amerikaners in 2002 kon geen datum meer emosionele gewig dra as ’n toespraak
oor die oorlog op die eerste herdenking van die gebeure van 11 September nie.
Die volk het pas teruggekeer van vakansie en was gereed om te fokus op die mees
dringende kwessies (7). Volgens ’n professor aan die Universiteit van Colorado, Ira Chernus, het
Karl Rove gedurende Bush se twee termyne iets toegepas wat hy die “Strategie
van Sjeherazade” noem: “Wanneer die politiek jou tot die dood veroordeel, begin
dan om stories te vertel – stories so fantasties, so bekoorlik en boeiend, dat
die koning (of, in hierdie geval, die Amerikaanse burgers, wat teoreties die
land regeer) sy doodstraf sal vergeet. Hy [Karl Rove] speel met die gevoel van
onveiligheid van die Amerikaners, wat die indruk het dat hul lewens hulle
ontsnap.”(8) Dít
het hy wonderlik reggekry in 2004 met die herkiesing van Bush: hy het die kiesers
se aandag weggekeer van die oorlog deur groot kollektiewe mites van die
Amerikaanse verbeeldingswêreld op te roep: “Karl Rove,” verduidelik Ira
Chernus, “het gewed dat die kiesers gehipnotiseer sou wees deur John Wayne-tipe
stories met “ware mans” wat die vyand op die grens trotseer – ten minste,
genoeg Amerikaners om die doodsoordeel te verontagsaam wat die kiesers sou
uitspreek teen ’n party wat ons op ’n ramp laat afstuur het in Irak [...] Rove
gaan voort deur stories van die goeie en die bose te weef vir gebruik deur
republikeinse kandidate [in die Kongres]. Hy poog om elke verkiesing te omskep
in ’n morele teaterstuk, ’n konflik tussen die streng morele waardes van die
Republikeine en die morele verwarring van die Demokrate [...] Die strategie van
Sjeherazade is ’n groot klug, gebou op die illusie dat eenvoudige moraliserende
stories ons ’n gevoel van veiligheid gaan gee. Wat ook al gebeur, Rove wil hê
dat elke stem ten gunste van die Republikeine ’n simboliese standpunt
verteenwoordig wat die kieser inneem.”(9) In Augustus 2007, nadat hy
deur die Demokratiese lede van die Kongres gedryf is om te bedank, het hy sy
besluit aangekondig met die volgende erkenning, wat as opsomming van sy ganse
werk sou kan dien: “Ek is Moby Dick, en hulle is op my hakke!” __________ (1)
Ron Suskind, “Without a doubt: Faith, certainty and the presidency of George W.
Bush”, The New York Times, 17 Oktober 2004 (2)
Jay Rosen, “ The retreat from empiricism and Ron Suskind’s intellectual scoop
”, The Huffington Post, 4 Julie 2007. (3)
Raadpleeg Christian Salmon, “La machine à raconter des histoires”, Manière
de voir, nr 96, “La fabrique du conformisme”. (4)
David Blaine, Mysterious Stranger. A Book of Magic, New York:Villard
Books, 2002. (5)
Aanhaling uit Frank Rich, The Greatest Story Ever Sold, New York:
Penguin Books, 2007, p. 89. (6) Ibid.,
p. 57. (7) Ibid.,
p. 58. (8)
Ira Chernus, “ Karl Rove’s Scheherazade strategy ”, 7 Julie 2006,
(9) Ibid.
|