|
||||
Alain Bihr *Professor
in sosiologie aan die Universiteit van Franche-Comté en skrywer van La Novlangue néolibérale. La rhétorique du fétichisme économique,
Lausanne: Editions Page Deux, 2007. Uit die Frans vertaal deur André Crous,
[email protected] ’n
Begrip wat vantevore tot die eng gemeenskap van neoklassieke ekonome beperk
was, is dié van “menslike kapitaal”, wat sedert die 1980’s versprei en een van
die gunstelingbegrippe van teoretici in die “menslike hulpbronne” en
werwingsagentskappe geword het. Dit het ’n belangrike plek ingeneem in die
woordeskat van politici, soos die onlangse presidensiële veldtog in Frankryk
bewys. Met verwysing na die negatiewe resultate van die vorige sosialistiese
bestuur het Nicolas Sarkozy op 9 November 2006 in Saint-Étienne die volgende te
sê gehad: “As die Staat bo sy middele leef, leef Frankryk onder
sy hulpbronne. Die land verspil sy menslike kapitaal met werkloosheid, die
breindrein en die vyf-en-dertig werksure per week.” Sy sosialistiese teenstander, Ségolène Royal, het hom geantwoord: “Hulle
[die mense aan die regterkant] het nie die kern van die saak verstaan nie: die
verhoging van groei veronderstel ’n radikale verandering van politiek wat nie
’n vyand maak van maatskaplike geregtigheid nie, maar ’n springplank vir
werkverrigting en menslike kapitaal; nie ’n banale wysigingsveranderlike nie,
maar ’n rykdom om te koester, want vandag is dit ons mees duursame voordeel vir
mededinging” (2). Die uitdrukking “menslike kapitaal” is eintlik ’n sinnelose oksimoron wat
afgedwing is deur hierdie kontemporêre Newspeak, soos die neoliberale diskoers
heet. Asof kapitaal – ’n koue monster, ’n versameling dooie arbeid wat net
oorleef omdat dit voortdurend die lewende arbeid droogsuig en miljarde
individue tot armoede en werkloosheid verdoem – enigiets mensliks kon hê!
Ekonome, bestuurders, politici en die eenvoudige Jan Alleman wat waag om
hierdie uitdrukking te gebruik, spreek in werklikheid van die onmenslikheid van
’n wêreld waarin almal hul bestaan moet meet aan die enigste waarde wat tel en
aanvaar moet word: handelswaarde. Maar wat beteken “menslike kapitaal” vir hulle? Heel eenvoudig gestel, is
dit die arbeidsmag van die besoldigde werkers: al die aanlegte wat fisiek
(krag, uithouvermoë, kundigheid en vaardigheid), moreel (dapperheid,
deursettingsvermoë, morele en professionele gedrewenheid), intellektueel
(algemene en spesialiteitskennis, verbeelding en intelligensie), esteties
(smaak, talent) en interpersoonlik (empaties, verhoudings- of
onderhandelingsvaardig) van aard is en waarmee die werkers op die arbeidsmark
kan smous. Diegene wat na arbeidskrag verwys as “menslike kapitaal” wil daarmee beide
hulleself en hul werkers daarvan oortuig dat elkeen van hulle danksy hul
arbeidskrag “kapitaal” het, met ander woorde ’n versameling hulpbronne wat
hulle s’n is om na die beste van hul vermoë te ontwikkel, terwyl daar omgesien
word dat die waarde daarvan behou en selfs vermeerder word deur aanvanklike en
volgehoue opleiding, professionele ondervinding, loopbaan, gesondheidsorg,
kulturele en vryetydsaktiwiteite, persoonlike verhoudings, ensovoorts. In al
hierdie fasette van hul bestaan moet almal hulleself beskou en gedra soos ’n
potensiële kern vir die ophoping van geldelike rykdom, nes die kapitalistiese
besigheid. Elkeen moet homself dus gedra soos ’n kapitalis wie se “kapitaal”
niks anders as hy self is nie. Kapitaliste gebruik almal hulleself om mee
handel te dryf. Kom ons kyk na die sinisme en die onverskilligheid waarmee die term
“kapitaal” (die moontlikheid van ontwikkeling, verryking) gebruik word ten
opsigte van die arbeidskrag van almal – en hierdie almal is aan die groei – wat
hulself op straat, werkloos, vind … selfs sosio-ekonomies uitgesluit. Die rede
hiervoor is eenvoudig dat hulle dit nie regkry om hul arbeidskrag as
handelsware te bemark en te verkoop nie, en nog minder om dit te laat opbrengs
skiet as “kapitaal”. Die sinisme verloor nie sy skaamteloosheid, of die
onverskilligheid sy onnoselheid, wanneer die formule toegepas word op diegene
wat hul arbeidskrag ruil vir ellendige lone nie, waarvan die getalle aangroei
onder die invloed van die ontwikkeling van neoliberale politici, in die Noorde
en in die Suide. Hierdie sinisme en onverskilligheid dra by tot soveel mense se oortuiging
dat, as hulle werkloos is of hulself in lae inkomste werke bevind, dit hul eie
skuld is: hulle het nie juis iets om te verkoop nie, of hulle weet nie hoe om
dit te verkoop nie. Terselfdertyd word al die strukture wat ’n ongelyke
verspreiding of ewe ongelyke toewysing van materiële, maatskaplike, kulturele
en simboliese hulpbronne in ons gemeenskap handhaaf, ook weggesteek; derhalwe
sal die “menslike kapitaal” van ’n jongmens wat uit ’n krotbuurt kom nie
dieselfde wees as dié van ’n jongmens wat uit ’n welgestelde omgewing afkomstig
is nie. Die begrip “menslike kapitaal” is individualisties en psigologiserend en
verbrokkel alle sosiale verhoudings, en die min of meer kragtige
deterministiese reeks gebeure wat sulke verhoudings affekteer in die begeerte tot
selfmobilisering – hierdie idee word opgesom in die bekende gesegde: “Waar daar
’n wil is, is daar ’n weg.” Wat die gedeelte van salaristrekkers betref wat nog
steeds die kans staan om ’n vaste werk te kry, is dit dieselfde formule wat
hulle daarvan oortuig dat hulle dit aan hul “menslike kapitaal” verskuldig sou
wees. Dit help hulle nie net om hulself van die vorige werke los te maak nie,
maar ook om hulle te oorreed dat hulle hierdie kosbare “kapitaal” voortdurend
moet bewaar en laat groei, en sodoende hul bestaan buite die werkplek, in al sy
fasette, in ’n besigheid van permanente vermeerdering van alle soorte
hulpbronne moet omskep wat tot hulle voordeel sal wees in die arbeidsmark. Maar as almal iets van ’n entrepeneur is, word die kapitalistiese uitbuitingsmeganisme
op die kantlyn geskuif. Want as bestuurder van “menslike kapitaal” is die
salaristrekker nie meer verplig om aan kapitaal ’n arbeidsmag te verkoop
waarvan die aktualisering (die toepassing in die vorm van werk van ’n
vasgestelde tydsduur, sterkte, kwaliteit en produktiwiteit) meer waarde kan gee
as ooit tevore nie; hiermee word ’n waardevermeerdering voortgebring en aan
kapitaal meer waarde geheg. Dit is veronderstel om “dienste” te verkoop waarvan
die salaris as’t ware die regte prys sou wees, die streng geldelike ekwivalent.
Geen moontlikheid van uitbuiting tussen kapitaal en ’n besoldigde werk nie; die
een mag dalk net meer voordeel trek uit sy “markmag”, wat meer uitgebrei is as
die ander s’n … Laastens moet daar genoem word dat die kapitaal van eenvoudige
handelsgoedere (arbeidskrag) ’n soliede fetiesj is in die sin wat Marx aan die
begrip heg. Daar word die indruk geskep dat, onder die voorwendsel dat die
kapitaal ’n “proseswaarde” is, ’n waarde wat die vermoë het om homself te bewaar
en te laat groei oor die loop van ’n oneindigheid van sikliese prosesse
waartydens dit alterneer tussen die vorm van goedere en dié van geld, sodat
alle goedere (soos arbeidskrag) en enige som geld dan self kapitaal sou wees. Die vereistes word ook weereens weggesteek wat hulle eie kapitaal moontlik
maak: die ontwikkeling van die arbeidskrag in die vorm van salaristrekkers, die
transformasie van die arbeidskrag tot handelsware en die voorvereiste daarvan –
die onteiening van werkers en hul ontvreemding van maatskaplike
produksiemiddele, wat in werklikheid die versamelde vrug van hul eie arbeid is.
Om te praat van “kapitaal” met verwysing na dit wat eintlik die teenoorgestelde
van kapitaal is, in dieselfde asem as sy generatiewe beginsel, gooi al die
verhoudings van kapitalistiese produksie deurmekaar deur hulle onverstaanbaar
te maak, en dit draai die wêreld op sy sy. __________ (1)
Ons is die term “menslike kapitaal” aan die Amerikaanse ekonomis Theodor W.
Schultz verskuldig, wat dit uitgedink het in die 1950’s. Dit is gepopulariseer
deur sy kollega en landgenoot Gary Becker. (2)
“Ma lettre aux Français”, Nouvelobs.com, 4 Mei 2007. |