blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die suksesse van koöperatiewe kapitalisme 2007-12-11
Cécile Raimbeau

*Joernalis, skrywer van Argentine rebelle, un laboratoire de contre-pouvoirs, Parys: Editions Alternatives, 2006. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

“Dis oor dit ’n koöperasie is dat ons maatskappy nog bestaan!” As mnr. Salvador Bolance, ’n Spaanse freesoperateur naby aan aftrede, met soveel oortuiging praat van ’n ouderwetse begrip – selfbestuur – dan is dit omdat hy, saam met sy kollegas, dit reggekry het om ’n metaalfabriek te laat “herleef”. Dit was in 1981, in Barcelona. Die werkgewer het bloot opgehou om die personeel te betaal, en verdwyn. ’n Dertigtal woedende werkers het die masjiene weer aan die gang gesit, die grondstof wat in voorraad was, gebruik, die klante gevra om hulle direk te betaal, en groot motorvervaardigers gedwing om dit te aanvaar. “Dit het ons destyds amper ’n jaar gekos,” lag die voormalige voorman, “om ’n nuwe produksieband vir bakwerk aan die gang te kry!”

Mnr. Bolance en sy kamerade het selfs verder gegaan: hulle het die baas se seun, wat die gebou binnegekom het, as “gyselaar” aangehou totdat ’n ooreenkoms geteken is. Toe, met die hulp van ’n advokaat, dien hulle ’n plan vir oorname by die handelshof in, en bekom die masjinerie as vergoeding vir die skuldbriewe. Hoewel nie een van hulle ver gestudeer het nie, neem die werkers al die bestuurstake oor. Drie jaar lank werk hulle sonder om na die horlosie te kyk, gun hulle hulself slegs karige salarisse, aanvanklik almal op gelyke vlak. “Om die baas se plek in te neem, beteken meer werk aan die begin,” merk hulle op. “Maar minstens is dit werk!”

Vandag beslaan die Katalaanse koöperasie Mol-Matric 5 000 vierkante meter in die nywerheidsgebied van Barbera del Valles, en hanteer hulle ’n sakevolume van 5 miljoen euro per jaar. Vyf-en-veertig betaalde poste word geskep met ’n salarisskaal waarvolgens die verkose bestuurder drie keer soveel as die werkers kry. Danksy ’n belegging van oor ’n miljoen euro in masjinerie beoog die vennote om verskuiwings na Oos-Europa, wat die Spaanse motorbedryf bedreig, die hoof te bied. Hulle brei hul aktiwiteite uit na die bakwerk van treinwaens en masjinering vir windmeul-kragopwekkers. “Sedert die reddingspoging het ons, eerder as om die oorskot te verdeel, die maatskappy se reserwes aangevul met die doel om te belê,” verduidelik mnr. Bolance, wat daarvan oortuig is dat, as iemand anders die maatskappy oorgeneem het, hy sy sakke vol sou gemaak en dan opnuut die besigheid sou laat sink het.

So ’n bybring van ’n bankrot maatskappy deur sy werknemers is nie ’n geïsoleerde geval in Spanje nie. Inteendeel, dit gebeur teen die agtergrond van ’n maatskaplike beweging wat so wyd strek dat dit aan die begin van die 1980’s kon help om minstens 38 500 poste in die land te herwin (ongeveer 6 000 in die Baskiese streek alleen, en 7 000 in Katalonië) (1). “Die beweging het in 1978 ontstaan, in hoogs verpolitiseerde maatskappye met vyfhonderd werknemers,” verduidelik mev. Isabel Vidal, professor in ekonomiese teorie aan die universiteit van Barcelona. “Bietjie vir bietjie het dit soos ’n oliekol uitgesprei oor die hele land, en ’n soort voëlvry status gekry.”

Hierdie opbruising sien ’n mens weer in die kreatiwiteit van die Argentynse werkers na die ekonomiese krisis in 2001 (2). In die aangesig van likwidateurs, tydens openbare veilings, sing die Spaanse werkers “Lank lewe die werkers se reg op besit!”, soos in Buenos Aires twintig jaar later. Hulle steun op die Spaanse grondwet van 1978, wat die reg om te werk, erken (soos ook die Franse Grondwet), en por die openbare owerhede aan om werkers se aandele in die maatskappy te bevorder en dit vir hulle makliker te maak om toegang tot die besit van produksiemiddele te verkry (3).

Spanje het destyds ’n tydperk van resessie deurgemaak. Tussen 1975 en 1985 het die land meer as agthonderdduisend werksgeleenthede in die nywerheid verloor. Katalonië, waar talle klein en middelgroot maatskappye gesetel is, beweeg van bykans volle indiensname na ’n werkloosheidsyfer van 20 %. Aan die een kant staan die ondernemers wat swaarkry. Aan die ander kant weier die werknemers om afgedank te word. Onder laasgenoemdes hoop dié wat meer “pragmaties” is, om ’n vennootskap met die baas of beleggers te sluit.

“Ons het elk verskillende bedrae inbetaal om die nuwe maatskappy van die grond af te kry; dit is net regverdig dat dié wat die meeste bygedra het, ook die swaarste weeg in besluitneming,” meen mnr. Pedro Jorge Puig. Hy en nog ’n dertigtal vragmotorbestuurders het in dieselfde jaar as Mol-Matric ’n maatskappy gered wat ook in Barbera del Valles geleë is: die Unión de Cisternas. Om hulle werk te behou, verkies hulle ’n oorspronklike model van werknemeraandeelhouers wat deur die destydse werkersbeweging geskep is, naamlik die SAL of “sociedad anonima laboral” (“naamlose arbeidsvennootskap”).

Anders as ’n koöperasie is ’n SAL nie ’n maatskappy wat op mense berus nie, maar op kapitaal. Die bestuursraad word verkies deur stemme wat in verhouding tot die kapitaalaandeel is. Origens is die beginsels daarvan soortgelyk aan dié van ’n koöperasie: daar mag eksterne aandeelhouers wees, die werknemers bly die meerderheidsaandeelhouers, en niemand mag meer as ’n derde van die aandele besit nie; daarbenewens moet vennote in die SAL ’n reserwefonds daarstel wat die voortbestaan van die projek verseker.

Deur die gordel stywer te trek, beweeg die vragmotorbestuurders geleidelik weg van hulle aanvanklike aktiwiteit, die invoer van chemiese produkte, na die berging en vervoer van industriële olies vir herwinning. Ses-en-twintig jaar later neem hulle SAL drie-en-twintig werknemer-aandeelhouers in diens, met ’n jaarlikse sakevolume van 3 miljoen euro. “Vandag kom die banke aan ons deur klop, maar destyds was die hele stelsel teen ons: die klante, finansies, die reg en die staat,” vertel mnr. Puig. As voorsitter van die Federasie van arbeidersverenigings in Katalonië (Fesalc), het hierdie aktivis aangedring op die afskaffing van geërfde skulde in talle SALs wat deel uitmaak van die reddingsooreenkomste. Dié maatreël is slegs teen einde 2006 deur die regering toegestaan.

Ongelukkig kon mnre Puig en Bolance, as voorlopers van die beweging om maatskappye te red, nie deel hê aan die belangrikste steunmaatreël wat Madrid in 1985 afgekondig het nie: die “pago unico” (eenmalige bydrae). Dit is in werklikheid die vroeë uitbetaling van die totale werkloosheidsversekering waarop ’n afgedankte werker geregtig sou wees (gemiddeld 8 000 tot 10 000 euro), op voorwaarde dat die bedrag belê sal word in die kapitaal van ’n koöperasie of werkersmaatskappy (of ’n eie onderneming tot in 1992, en weer vanaf 2002).

Hierdie “kapitalisering van werkloosheidsversekering” bly steeds die hoofbron van beleggings in die maatskaplike ekonomie. Gevoeg by die aanpasbare status van werkersverenigings, was die stelsel ’n inspuiting vir die derde sektor in die ekonomie, hoewel daar ’n opmerklike daling was in die aantal nuwe SALs nadat die land by die Gemeenskapsmark aangesluit het. “Madrid moes die norme vir sy maatskappye by dié van Europa aanpas. Skielik word dit in 1989 nodig om ’n kapitaal van meer as 60 000 euro te hê om ’n naamlose maatskappy, dus ook ’n SAL, te stig. So ’n bedrag is moeilik om bymekaar te kry,” volgens mnr. Manuel Rubio, bestuurder van Fesalc.

Eers nadat ’n wet in 1997 uitgevaardig is wat toelaat dat ’n werkersmaatskappy met beperkte aanspreeklikheid gestig mag word met 3005 euro, kom daar weer ’n vinniger toename in die aantal aandeelmaatskappye. Sedertdien vermenigvuldig die aantal maatskappye van dié aard voortdurend, met meerdere of mindere steun van die outonome streke. Met 25 668 koöperasies, 2 484 SALs en 17 666 maatskappye met beperkte aanspreeklikheid, is Spanje die voorloper in die Europese Unie wat betref die aantal maatskaplike firmas. Maatskappye met beperkte aanspreeklikheid is veral mikro-ondernemings wat dienste lewer, met gemiddeld drie vennote, en kapitaal (dikwels van ’n familie) waarvan 40 % deur vroue besit word. “Dis ’n uitstekende verandering,” aldus mev. Vidal. “Voorheen was dit die man wat kapitaal ingebring en gewerk het!”

Na drie jaar se bestaan, is sulke maatskappye se oorlewingsyfer 67 %. Deesdae is dit selde ’n geval van herwinning: die ekonomie is terug op die been, en minder speel bankrot. Daarenteen konsolideer hierdie kollektiewe selfwerksaamheidsbeweging met Coceta en Confesal, die twee nasionale konfederasies vir koöperasies en werkersmaatskappye. “Natuurlik word ons maatskaplike firmas verpletter op die markte met hulle wrede werkwyse,” merk mev. Vidal op. “Wat hulle nodig het, is meer toepaslike opleiding en konsortiums vir elke besigheidsegment. Maar hulle is lewensvatbaar, omdat dit lyk of dit vir hulle belangriker is om werksgeleenthede te red as om wins te maak! Boonop is dit ’n kultuur van ondernemers eerder as huurders!”

Indertyd het Frankryk ook ’n middel gehad om ondernemingsgees by werkloses aan te wakker, ook vir die herwinning van maatskappye in die vorm van koöperasies: subsidies vir werkloses wat ’n maatskappy wil stig (“Aide aux chômeurs créateurs d’entreprise” of Accre). “Hierdie maatreël het talle herwinnings in die 1980’s en 1990’s aangehelp,” aldus mnr. Patrick Lenancker, voorsitter van die algemene konfederasie vir koöperatiewe produksiemaatskappye (Scop Entreprises). Maar hierdie hulp, wat onder die presidentskap van mnr. Valéry Giscard d’Estaing in 1979 ingestel is, is ook deurgaans misbruik, in weerwil van die groot aantal projekte wat dit in die Mitterand-tydperk gesteun het.

In 1995 aanvaar mnr. Alain Juppé se regering ’n wysiging wat die maatreël slegs van toepassing maak op langtermyn werkloses en dié wat geregtig is op RMI (“revenue minimum d’insertion”, ’n soort minimum oorlewingstoelae), wat dit bykans onmoontlik maak vir ’n wankelende maatskappy om deur ’n gesamentlike projek van sy werknemers oorgeneem te word. Juppé se minister van handel, mnr. Jean-Pierre Raffarin, skaf in 1996 die Accre af, en omvorm dit in ’n tydelike vrystelling van maatskaplike byvoordele. Twee jaar later, toe daar opgemerk word dat al hoe minder nuwe maatskappye gestig word, skep mnr. Lionel Jospin se regering Eden. Eers in die vorm van ’n rentevrye vyf-jaar-lening word die nuwe Accre aanvanklik weer ’n premie, in 2001, totdat mnr. Raffarin, nou as eerste minister, dit omskep in ’n terugbetaalbare voorskot ...

Accre (of Eden) lei deurgaans gebrek aan die soort standvastigheid en krag van sy Spaanse ekwivalent, wat as versonke koste betaal en as ’n reg beskou word. “Tog is dit voordeliger vir die staat om 5 000 euro te bestee aan die stigting van ’n Scop as om dieselfde bedrag of meer deur die Assedic [die Franse werksverskaffingsburo en -fonds] uit te betaal,” reken mnr. Lenancker. “Opeenvolgende Spaanse regerings het nooit die “pago único” afgeskaf nie, juis omdat dit winsgewend is,” beaam mnr. Bruno Roelants, sekretaris-generaal van die Europese konfederasie vir produksiekoöperasies (Cecop), ’n liggaam wat Europese koöperatiewe bewegings byeenbring. “In Europa,” beklemtoon hy, “waar dit ook al gebeur het dat openbare owerhede werkers se oorname van maatskappye aanmoedig, was dit omdat hulle gereken het dit sal voordelig wees vir ekonomiese groei en maatskaplike vrede. Maar demokrasie, deelname in die maatskappy, interesseer hoegenaamd nie state nie en nog minder die Europese Unie!”

In Italië byvoorbeeld, eerder as om herwinning in die vorm van koöperasies aan te moedig, het die Unie dit inteendeel gekniehalter. In hierdie land was daar sedert die 1970’s ’n lewenskragtige koöperasiebeweging in ’n soortgelyke konteks as dié van Spanje. Aan die einde van dié tydperk is minstens vyf-en-twintig sukkelende maatskappye elke jaar deur hulle werknemers oorgeneem. Om die krisis in veral die metaal- en tekstielbedrywe die hoof te bied, ondersteun die minister van nywerheid, mnr. Giovanni Marcora, ’n wet wat in 1985 gepromulgeer is op aandrang van die drie groot koöperasie-federasies en die vakbonde. Dit staan bekend as die “Marcora-wet”. Die doel was om befondsing te gee aan afgedankte werkers wat hulle maatskappy oorneem of ’n nuwe koöperatiewe projek aanpak om werkloosheid te voorkom. Afgedankte werkers kon hulle van toe af wend tot die Compagnia Finanziaria Industriale (CFI), ’n gesubsidieerde risikokapitaal-maatskappy wat ’n bedrag in die koöperasie inspuit wat drie keer hoër is as die kapitaal wat die vennote daarin geplaas het – laasgenoemdes kan hul eie spaargeld daarvoor gebruik, of drie tot vyf jaar se vooruitbetaalde werkloosheidspensioen vra om te kapitaliseer.

Danksy hierdie stelsel is steun gebied aan 159 maatskappye wat oor ’n tydperk van tien jaar deur werknemers gered is, en meer as vyfduisend poste is beveilig, hoofsaaklik in die nywerheidskomme van Marches en Emilie-Romagne. “Ongeveer ’n derde van die koöperasies wat so gefinansier is, het na ’n paar jaar toegemaak, ’n derde is nog steeds aan die CFI verbonde, en die orige derde het reeds die kapitaalaandeel oorgekoop,” verduidelik die direkteur van CFI, mnr. Alberto Zevi. “Die geld wat deur die CFI verhaal is, is herbelê in die kapitaal van ander koöperasies.” Mnr. Zevi se span bereken dat hulle ongeveer drie keer minder as die staat bestee het vir elke werksgeleentheid wat geskep of gered is (4).

In 1997 word die Marcora-wet egter vir vyf jaar lank opgeskort omdat die Europese Kommissie “ernstige bedenkinge het oor die boekhouding van hierdie hulp in die gemeenskapsmark, aangesien dit lyk of laasgenoemde nóg die riglyne vir werkskeppingsubsidies, nóg die raamwerk vir heropbouingshulp aan sukkelende maatskappye navolg”. Om sodanige “bedenkinge” oor hulp aan die maatskaplike ekonomie uit te spreek, is ’n klassieke aanvalsmetode by voorstanders van die kapitalistiese ekonomie, wat nietemin self ruimskoots gesubsidieer word. Sedert 1985 in Frankryk is dit die CNPF (Conseil national du patronat français of Nasionale raad vir Franse Werkgewers) – voorganger van Medef (Mouvement des entreprises de France of Beweging van Maatskappye in Frankryk) – wat die Scop-vorm bevraagteken: “Die moontlike uitbreiding van so ’n beweging stem maatskappye in die mededingende sektor onrustig, want dit hou ’n dubbele risiko in: dit bedreig hulle aktiwiteit en mededingendheid, en dit kan die land se ekonomiese werkverrigting verswak.” Kaalkop ...

Op dieselfde trant heropen Medef in 2002 die debat oor maatskappye in die maatskaplike ekonomie. Volgens dié werkgewersvereniging kon sulke maatskappye meeding met dié in die marksektor, terwyl hulle steeds voortgaan om voordeel uit subsidies en ontheffings te trek (5). Dit is hierdie einste argument van “onbillike mededinging” wat deur die Europese Unie aangevoer is en wat die Italiaanse parlementslede daartoe beweeg het om mnr. Marcora se teks in 2001 te hersien. “Die CFI staan nou ook lenings toe, hoewel sy hoofaktiwiteit steeds kapitaalbydrae is,” som mnr. Zevi dit op. “En hierdie bydrae mag nou slegs gelykstaande wees aan die som wat die werkers belê het, dit wil sê hulle kapitaal word enkel- in plaas van drievoudig vermeerder.” Nuwe geld is hoofsaaklik afkomstig uit ’n stelsel van deelname in koöperatiewe verenigings soortgelyk aan die Franse koöperatiewe beweging Socoden.

Om dié rede het die CFI sedert 2003 slegs ongeveer dertig koöperasies gefinansier, waaronder ’n tiental herwonne maatskappye. Die ekonomiese konteks in Italië is weliswaar nou rustiger as in die 1980’s. Maar die Italiaanse beweging doen ’n ander verklaring aan die hand vir die dalende aantal reddingsaksies: “Die krisis wat maatskappye in sommige sektore beleef, is só ernstig dat dit al moeiliker word om hulle weer op die been te bring.”

Globalisering en heringebruikneming hou moeilik saam huis: wanneer ’n maatskappy elders heen verskuif, trek die bestelboeke gewoonlik saam. Die firma ly dan onder die newe-effekte van strategieë wat elders bepaal word en waaroor hy geen beheer het nie, en sommige subkontrakteurs loop op hulle beurt gevaar om te verdwyn in ’n domino-effek. Onder die maatskappye wat hierdeur geraak word, is dit slegs dié wat oor spesifieke kundigheid beskik en wat ’n plek in nismarkte kan vind, wat weer aan die gang sal kan kom.

Werknemers wat in multinasionale maatskappye afgedank word en wat hulle firma wil red, kom boonop soms te staan voor probleme met patente, soos gebeur het met “Lustucru” in Alres, of die “P’tit Lu”- beskuitjiefabriek in Calais. Eersgenoemde is platgevee deur die Panzani-groep se weiering om die masjinerie prys te gee. Laasgenoemde kon nie die reg bekom om die Danone-groep se resepte te gebruik nie...

’n Nog alledaagser verskynsel is dat ’n produksie-eenheid wat aan ’n nywerheidsgroep behoort, bloot om algemeen strategiese oorwegings gesluit word, selfs al het die betrokke aanleg nog moontlikhede. Dit is wat gebeur het met die werknemers van ’n aluminiumgietery in Civrieux d’Azergues (Rhône-Alpes). Die fabriek, wat in 1993 deur die Dynacast International-groep opgerig is, is uitgekoop deur die Cinven-beleggingsfonds, wat die aanleg in 2004 weer verkoop aan die kraanvervaardiger LCN, ’n filiaal van die Italiaanse groep Campisusa. Laasgenoemde besluit om die fabriek in Civrieux te likwideer nadat die geldkas eers gestroop is.

In Januarie 2005 kry die helfte van die ses-en-sewentig opgeskorte werknemers dit reg om bedrywighede voort te sit as ’n Scop met die naam Precial Casting. Danksy verbintenisse van kliënte en koöperatiewe lenings slaag hulle daarin om ook steun van die handelsbanke te verkry, wat andersins moeilik sou wees. Deur te fokus op die ontwikkeling van die ontwerpafdeling veg die personeel om die behoud van die projek wat deur die verlies van ’n kliënt in gevaar gestel is. Volgens mnr. Bruno Sanchez, bestuurder van produksiebeheer, “moet ons aan die aandeelhouers wat van ’n afstand af bestuur, wys dat dit nie net die portefeulje is wat resultate lewer nie; dit is ook menslike verhoudings”.

Oor die algemeen is die bankrotskap van ’n klein firma nie noodwendig die gevolg van ’n verlies in markaandeel nie. Die oorsaak mag ook die bestuurder se onvermoë wees, of sy neiging om die firma se geldkas met sy eie beursie te verwar. Die Engelse ekonoom, Anthony Gensen, reken dat byna 50 % van alle bankrotskappe in die Verenigde Koninkryk voorkom kon gewees het: “Danksy heringebruikneming word daar toenemend erkenning gegee aan werknemers se sakekennis en vermoë om moontlikhede raak te sien in situasies waar kapitaalwaaghalse dit miskyk.” (6)

Mnr. Jensen stel voor dat bankrotskappraktyke verander moet word ten einde die werknemers ’n kans te gee. Dit lyk vir hom onlogies dat hulle nie as skuldeisers voorkeur by die banke geniet nie, en uitgesluit word van skuldeiservergaderings en onderhandelings. Die ekonoom skaar hom by ’n historiese eis van die koöperatiewe beweging en vra dat werknemer-herwinners ’n voorkoopreg moet kry. In Frankryk, in teorie, laat die handelshowe heringebruikneming toe na gelang van die ekonomiese tersaaklikheid van die projek en die aantal poste wat gered word. Die maatskaplike argument word in der waarheid dikwels oorboord gegooi, met die howe wat meen dat ’n nuutgestigte koöperasie minder lewensvatbaarheid het as ’n kapitalistiese koper wat “sy storie ken”.

Dit is te verstane dat die handelshowe min toegeeflikheid jeens afgedankte werknemers toon: dié wat besluit, is mense wat self in bestuursposisies staan en wat dikwels gekoöpteer is; hulle verteenwoordigers wat aangewys word om sinkende firmas te administreer, word gereeld onderwerp aan regsondersoeke oor vertrouensbreuk of invloedmisbruik (7). Daarbenewens mag regters en besluitnemers, na gelang van die streek, ook in ’n meerdere of mindere mate twyfel oor werkers se vermoë om bestuurders te word. In so ’n mate dat ’n werker wat om ’n koöperatiewe oorname in die Noorde van Frankryk aansoek doen, ’n geringer kans staan as een wat in die Rhône-Alpes-streek woon.

In 2005 het sewentien aansoeke om heringebruikneming deur personeel steun ontvang van die Lyon-unie, Scop Entreprise. Die direkteur, mnr. Brun Lebuhotel, is verheug oor Transmea, ’n risiko-kapitaalfonds van 5,5 miljoen euro wat aan die einde van 2007 in werking tree en wat ’n subsidie ter waarde van een miljoen van die streekraad ontvang. “Vierhonderd-en-dertig projekte per jaar kan potensieel gesteun word: dertig maatskappye in finansiële moeilikheid, en vierhonderd in goeie gesondheid, wat aan die werknemers oorgedra kan word wanneer die eienaar aftree,” verduidelik hy. Dié oomblik het reeds aangebreek vir talle firmas wat gestig is deur mense wat na die tweede wêreldoorlog gebore is. Die potensiële oordraers – sonder erfgename wat in hulle besigheid belangstel – koester dikwels voorbehoude jeens die koöperatiewe model: “Scop roep vir mense beelde op van die Russiese kolchos,” moet mnr. Lebuhotel tot sy spyt toegee. Dit is hoekom die Transmea-projek nou herposisioneer: dit sal nie net steun gee aan firmas wat in koöperasies omvorm word nie, maar ook dié wat in “werkersmaatskappye” na die Franse model omskep word en waarvan die status nog gedefinieer moet word. “Koöperasie of personeel-aandeelhouers, dit is om 't ewe,” verklaar dié koöperateur. “Is dit nie belangriker om die huidige kapitalistiese tendense om te swaai en uitvoerbare alternatiewe te vind nie?”

Mnr. Lebuhotel erken dat alle koöperateurs nie sy “pragmatisme” deel nie. ’n Beskermingsmeganisme kom kort in die hele opset van werknemer-aandeelhouers, en by tye is hulle geneig om af te dwaal van die koöperatiewe filosofie waarvolgens kapitaal ’n finansiële middel in diens van die gemeenskaplike projek is, en nie die omgekeerde nie. In Spanje, waar Coceta en Confesal verklaar dat hulle vennote is, kritiseer hulle geredelik die mededingende werkwyse in die privaatsektor: die koöperateurs beskuldig die SAL-lede daarvan dat hulle maatskappybestuur meer kapitalisties as demokraties is, terwyl laasgenoemde met ironie praat van Mondragon Corporation Cooperativa, die beroemde Baskiese koöperatiewe groep van 250 maatskappye. Om met die “grotes” te kan saampraat, rig hulle buite Spanje, en veral in China, tussenganger-maatskappye na die kapitalistiese model op, nes ’n multinasionale groep sou maak, soms in ’n gesamentlike onderneming (joint venture).

Tog moet ’n mens nie vanweë die bome die bos miskyk nie. Mnr. Bolance, die Katelaanse freesoperateur, meen dat hy en sy kollegas dit reggekry het om Mol-Matrix terug op die been te bring omdat hulle die mens bo enige ander prioriteit gestel het. Omdat hulle gesê het: “Ons kan”...

_________

(1) Isabel Vidal Martinez, “ Crisis ecónomica y transformaciones en el mercado de trabajo: el asocianismo de trabajo en Cataluña ”, Diputación de Barcelona, 1987.

(2) Lees “En Argentine, occuper, résister, produire ”, in Le Monde Diplomatique, September 2005.

(3) Paloma Arroyo Sanchez, “La constitución española y las cooperativas de trabajo asociado”, CIRIEC, Valencia, Spanje, November 2003.

(4) Bruno Roelants, “Employment creation and cooperative system: The role of meso-level institutions, with a focus on financial ones”, Institute of Social Studies, Den Haag, 1997.

(5) “Concurrence: marché unique, acteurs pluriels. Pour de nouvelles règles du jeu”, Medef, Parys, Mei 2002.

(6) “Insolvency, employee rights & employee buyouts”, Anthony Jensen, Common cause Foundation, Alnmouth, Groot Britanje, 2006.

(7) Verslag van die Franse parlementêre kommissie van ondersoek na die aktiwiteite en fungering van handelshowe: http://www.assemblee-nationale.fr/11/dossiers/tribunaux-de-commerce.asp


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=966
Artikel nagegaan:
    -