| ||||
Johann Rossouw *Redakteur en skrywer van ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel (Kaapstad: Zebra Press, 2007). Die twee vernaamste redes waarom Suid-Afrika van strategiese geopolitieke belang bly, is, eerstens, die verbinding wat die Kaapse seeroete tussen die Weste en die Ooste verskaf; en, tweedens, die grondstowwe waaroor Suid-Afrika beskik en wat van durende belang in die voortgaande modernisering van die planeet en die risiko’s verbonde daaraan bly (wat insluit goud, platinum, uraan). As ek die woord modernisering hier gebruik, is dit in die heersende definisie daarvan soos Bernard Stiegler dit formuleer as “die industrialisering van alle dinge”, oftewel om alle moontlike aspekte van die simboliese en die materiële wêreld te standaardiseer en op massaskaal te reproduseer – met voorspelbare katastrofale gevolge vir alles wat sonderling en uniek is (en waarsonder menswees ondenkbaar is). Modernisering is ’n proses wat in sy huidige vorm al ten minste sedert die koms van die seilskip en die boekdrukkuns na Wes-Europa voortduur. Met die koms van hierdie tegnologieë na Wes-Europa het dit nie net moontlik geword (met die boek) om plaaslike kulturele inhoud op ’n baie groter skaal as voorheen plaaslik te sirkuleer nie, maar ook om dit na ander wêrelddele te neem (waarvoor die seilskip en natuurlik militêre slaankrag wesenlik was). Daar kan min twyfel wees dat Wes-Europese hegemonie, wat later Westerse hegemonie geword het, vandag aan die grootste uitdagings in meer as vyf eeue blootgestel is. Moontlik die grootste van hierdie uitdagings is afkomstig van China en Indië. Hierdie uitdaging geskied egter nie sonder ironie nie: as dit so is dat nóg Wes-Europa, nóg die VSA vandag op dieselfde wyse as een of twee dekades gelede hulle politieke en ekonomiese wil aan die res van die planeet kan opdwing, dan is dit eweneens waar dat byvoorbeeld China en Indië se uitdaging van Westerse hegemonie geskied via die toeëiening van die einste opvatting van modernisering – die industrialisering van alle dinge – en die aanpassing daarvan vir plaaslike toestande. Dieselfde tegnologie, dieselfde verheerliking van ekonomiese groei, dieselfde verbruikersamelewing – om maar enkele voorbeelde te noem – wat Westerse samelewings vandag kenmerk, kenmerk in toenemende mate ander “ontwikkelende” samelewings, uiteraard met plaaslike elemente vermeng. Soos Christoph Harbsmeier in sy artikel “Globalisering en konseptuele biodiversiteit” (Die Vrye Afrikaan, 19 Oktober 2007) op briljante wyse aantoon, moet die analis van die plaaslike nie die fout begaan om dit wat plaaslik onder invloed van elders gebeur, te probeer verstaan in terme van konsepte van elders op so ’n manier dat hy die plaaslike verder verteken en mistifiseer nie. Anders gestel: terwyl die heersende moderniteit (met sy konsepte en simboliese inhoude) toenemend wêreldwyd neerslag vind, en dus ook ontleed kan word met konsepte wat oorspronklik in die Weste ontwikkel is, moet ’n mens ook die presiese plaaslike nuanses van die ingevoerde met jou eie konsepte probeer begryp. Teen hierdie agtergrond kan ons nou twee dinge oor Suid-Afrika sê. Eerstens: Gegewe die geopolitieke strategiese belang van die land, wat nou al vir meer as honderd-en-vyftig jaar (sedert die ontdekking van goud en diamante en die rol wat die see in Brittanje se empire gespeel het) duur, kan ons sê dat ook Suid-Afrika ’n land is waarheen die eietydse ontwikkelinge van modernisering telkens uitgevoer is. Tweedens: hierdie uitvoerproses is nie een waarin die belange van die meerderheid Suid-Afrikaners telkens vooropgestel is nie, maar wel dié van die heersende magselites en hulle ondersteuningsbasisse. Dit is hierdie twee faktore wat veroorsaak dat die Suid-Afrikaanse proses van modernisering ernstig betwis was en bly, en deurgaans enorme spanning genereer. Want ofskoon die beloftes van vooruitgang en opheffing nou al vir meer as honderd-en-vyftig jaar in Suid-Afrika sy toorkrag op die Suid-Afrikaanse populus uitoefen, kom die wonderwerke van moderniteit telkens op oneweredige basis voor. Anders gestel: nie almal kry op dieselfde manier toegang tot die wondere van modernisering nie, en daarom baar modernisering vir sommiges wondere en vir ander nagmerries. Die dialektiek wat hieruit voortspruit, bly die vernaamste drywer van die Suid-Afrikaanse politiek: dieselfde modernisering wat sommiges betower en verheerlik, vervloek en verdoem andere, tewens die meerderheid. In die twintigste eeu was die twee grootste bewegings wat te midde van hierdie oneweredige modernisering ontstaan het, Afrikaner- en Afro-nasionalisme. Soos elders in “ontwikkelende” lande, wou hierdie twee bewegings nie soseer ’n alternatief vir die heersende moderniteit skep nie (’n sogenaamde ander moderniteit), as om dit vir sy ondersteuners suksesvol toe te eien. In die era waartydens Afrikaner-nasionalisme die ideologie van die Suid-Afrikaanse staat was, was ’n industriële ekonomie van produksie die Westerse norm. Dit is dan ook waarom die groot prestasies van Afrikaner-nasionalisme vanaf die 1930’s die voorbeelde van sy industriële rewolusie is, wat insluit die destydse Evkom (vandag ESKOM), Yskor (vandag verdeel tussen die Mittal-groep en Kumba Resources), die SAUK (vandag die SABC), pos en telekommunikasie (vandag die semi-geprivatiseerde SA Poskantoor en Telkom), en die netwerk van damme en paaie waarsonder grootskaalse verstedeliking en die kommersiële landbou ondenkbaar sou wees. Afrikaner-nasionalisme het nie die proses van industrialisering in Suid-Afrika begin nie – nog ’n voorbeeld van ingevoerde moderniteit – maar dit wel dramaties versnel, in so ’n mate dat ’n mens kan praat van Suid-Afrika se industriële rewolusie. Hierdie rewolusie was suksesvol genoeg dat die ondersteuningsbasis van Afrikaner-nasionalisme teen die 1960’s suksesvol in die ekonomie geïntegreer is, Afrikaans die taal van die staat geword het en staatkundige onafhanklikheid in naam moontlik geword het. (Ons sê ‘in naam’, aangesien Suid-Afrika se opname in die heersende vorm van moderniteit geensins verbreek is nie, en die land ook so afhanklik soos altyd van buitelandse kapitaal en tegnologie gebly het.) Een van die voorwaardes vir Afrikaner-nasionalisme se industriële rewolusie was die goedkoop arbeid wat hoofsaaklik swartmense verskaf het. Die oneweredige verdeling van rykdom en die verdoeming van swartmense tot laer arbeidsvlakke was vrugbare teelaarde vir die vaartversnelling van Afro-nasionalisme sedert die 1960’s. Teen die tyd wat Afro-nasionalisme vanaf die vroeë 1990’s die heersende ideologie van die Suid-Afrikaanse staat geword het, het die skuif van ’n industriële na ’n “hiperindustriële” samelewing reeds in die leidende ekonomieë van die wêreld plaasgevind. Die hiperindustriële samelewing is ’n term van Bernard Stiegler, waarmee hy aangedui het dat in plaas daarvan dat die ryker ekonomieë ’n sogenaamde post-industriële fase betree het met meer vrye tyd, die oorgang eerder was na ’n ekonomie waarin ook “vrye tyd” en individuele aandag in kommoditeite verander is. Stiegler wys daarop dat waar die kapitalisme van die industriële era slegs oor produksie beheer uitgeoefen het, dit in die hiperindustriële era beheer oor sowel produksie as verbruik uitoefen: vir die surplusproduksie waaronder die leidende ekonomieë die afgelope dekades gebuk gaan, moet nuwe afsetmarkte geskep word, en hierin speel die advertensiewese ’n sleutelrol ten einde begeerte voortdurende vir nuwe produkte te stimuleer. Hierdie ekonomieë was en is Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote en bly steeds belangrike kulturele verwysingspunte vir Suid-Afrika, veral Brittanje en die VSA. En so het dit gekom dat net soos Afrikaner-nasionalisme met sy bloeitydperk in navolging van die destydse fase van modernisering produksie en industrialisasie as die belangrikste oogmerk beskou het, die Afro-nasionalisme vandag sy deel vir hiperindustrialisering en verbruik doen. In Moeletsi Mbeki se woorde het Suid-Afrika van ’n industriële rewolusie beweeg na ’n verbruikersrewolusie. Terwyl Suid-Afrika se vervaardigingskapasiteit geleidelik bly afneem – ofskoon dit nog staan op 16% van die bruto binnelandse produk – het die ANC die afgelope dekade niks gedoen om die deïndustrialisering van die land teen te werk nie. Daarenteen is alles in die stryd gewerp om ’n verstedelikte, individualistiese swart verbruikersklas te skep. Die aard van hierdie klas bly onder debat, deels omdat dit steeds in wording is. Maar een van die boeiende aspekte van dié klas tans, is dat verbruik veel belangriker as produksie vir hulle is. Om die waarheid te sê, nadat al meer as R230 miljard tot dusver aan swart ekonomiese bemagtiging bestee is, beheer swartmense minder as 3% van die Johannesburgse Effektebeurs, en is hulle beheer oor produksie in Suid-Afrika weglaatbaar. Die oogmerk van hierdie opstel is nie om op die redes vir hierdie toedrag van sake te bespiegel nie. Wat egter wel duidelik is, is dat die aansprake van vooruitgang en ekonomiese welvaart van die huidige regering onlosmaaklik met die enorme toename in swart verbruik is – enorm natuurlik relatief bedoel, want vir goed 50% van swart Suid-Afrikaners, indien nie veel meer nie, is hierdie verbruik nie beskore nie. Hoe gebrekkig hierdie sukses ook al mag wees in terme van ekonomiese selfstandigheid en volhoubaarheid, bly die feit van die saak dat hierdie verbruikersontploffing, net soos in die geval van Afrikaner-nasionalistiese industrialisering, volledig in pas met die huidige fase van die heersende opvatting van moderniteit is. Die kwessie van groeiende verbruik onder Afrikaners en ander Westerse minderhede in die land, sal ons nie hier aan die orde stel nie, buiten om daarop te wys dat reeds vanaf die 1970’s – met ander woorde toe verbruik belangriker as produksie in die ekonomieë van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote geword het – is die patroon ook onder hierdie plaaslike groeperinge gevestig. Vir die huidige nasieboupoging is hierdie patroon nie sonder ironie nie: by verstek het die groeiende verbruik onder gegoede minderhede inderdaad die jongste fase van die heersende moderniteit vanaf elders hierheen ingevoer en aantreklik gemaak vir diegene wat toe onder apartheid daarvan ontsê was. Meer nog: in soverre daar hoegenaamd van ’n nasie in Suid-Afrika sprake is, is dit hoofsaaklik gebaseer op die gedeelde leefstyl van verbruik onder verskillende kultuurgroepe vandag in Suid-Afrika. Dit is waarom stedelike winkelsentrums doodeenvoudig kultureel die mees diverse en geïntegreerde plekke in die samelewing vandag is. (Waarmee ’n mens nie die fout moet maak om te dink dié ekonomiese eenheid is voldoende om ander onderliggende verskille en aspirasies te oorkom nie.) Kortom, as industrialisasie die leitmotief van Suid-Afrikaanse modernisering in die vorige staatkundige bedeling was, dan is verbruik dit onder die huidige bedeling. Maar watter fondament verskaf dit aan die droom van moderniteit vandag? Dit is op hierdie punt wat Zygmunt Bauman se Consuming Life (Londen: Polity Press, 2007) ’n nuttige, nee noodsááklike verwysingspunt is. Soos ons reeds hierbo gesuggereer het, behoort ’n boek soos Bauman s’n wat veral met die Britse samelewing besig is, met die nodige oordeelkundigheid gelees word as ons van die plaaslike wil sin maak. Byvoorbeeld: die verbruikersamelewing wat Bauman beskryf, is onvoorstelbaar sonder die deregulering en privatisering wat deur Margaret Thatcher vanaf die 1980’s in Brittanje ingestel is. Daarenteen was en is privatisering ’n erg betwiste beleid in Suid-Afrika, en sou die opkoms van die private ter plaatse nie soseer toegeskryf moet word aan die besnoeiing van die staat nie as aan die afname van staatskapasiteit, asook aan die wyse waarop die staat sedert 1994 ingespan is as toegang tot verbruik – soos gedemonstreer in die uitspattige lewens van talle ministers en amptenare. Ek verwys vervolgens kortliks na vier aspekte van Consuming Life wat ek meen kan help om insig in die hedendaagse Suid-Afrikaanse tak van die wêreldwye verbruikersamelewing te gee. Die eerste hiervan is die definisie wat Bauman aan die verbruikersamelewing gee. Hy wys daarop dat verbruik so oud as die mens self is. Per slot van rekening moet jy eet, drink, klere aanskaf om te oorleef. Maar dit is wanneer hierdie gegewe behoeftes sentraal gestel word, en wanneer die blote vervulling van gegewe behoeftes sekondêr tot die vervulling van nooit vervulbare en altyd meer begeertes word, wat ons die verbruikersamelewing betree. Die objekte van begeerte word dan van kardinale belang, en daarom beskryf Bauman die verbruikersamelewing soos volg: “Ontmoetings van voornemende verbruikers met die voorgenome objekte van hul verbruik neig om die vernaamste boublokke van intermenslike verhoudings wat kortweg as ‘die samelewing van verbruikers’ bekendstaan, te word.” (p.41) Waarna Bauman nie hier eksplisiet verwys nie, is wat JG Ballard in sy seminale tegnoroman Crash (1973) “die enorme energie van die twintigste eeu” noem. Die enorme energie wat nie net deur die industriële rewolusie gegenereer is nie, maar ook die energie van die verlange na ’n ander Suid-Afrika (en die sug na selfrespek) is die rou materiaal wat die verbruikersrewolusie vandag in Suid-Afrika voed. Om te besef in hoe ’n mate die verhouding tussen verbruiker en begeerteobjek tiperend van die lewe in gegoede Suid-Afrika geword het, hoef ons net te kyk na wat langs hoofroetes binne en om stede geadverteer word, na die immergroeiende kultus van die motor (met motorverkope as ’n populêre aanwyser van ekonomiese welstand), na die geweldige aandag wat sport en vermaak vandag geniet. Die tweede kwessie waarna Bauman verwys, is die oorgang vanaf ’n produksie- na ’n verbruikersamelewing. In ’n produksiesamelewing is die uitstel van behoeftebevrediging nastrewenswaardig, is dinge stabiel, materiale duursaam, is die verbod en die taboe belangrik, asook skuld (ook as ’n positiewe morele kategorie). Maar in die verbruikersamelewing word onmiddellike begeertevervulling die norm van sukses, word die moontlikheid belangriker as die verbod, en voel ’n mens in plaas van skuldig eerder onvoldoende (nie genoeg “jouself” nie). Nogmaals in Suid-Afrika: een van die donker ironieë van ons samelewing is dat die stryd teen apartheid saamgeval het met ’n produksiesamelewing en die uitstel van behoeftebevrediging – oor dekades kon mense bly droom oor die einde van apartheid en geduldig stry. Maar wanneer apartheid tot ’n val kom, betree die land oornag op reuse skaal die verbruikersamelewing: begeertes word ontbondel en ontgrens, en wat voorheen dekades geneem het, moet nou oornag gebeur. Daar kan min twyfel wees dat die toename in geweld vandag as funksie van gefrustreerde begeertes wat nie onmiddellik bevredig word nie, simptomaties is van die mate waartoe die politiek en die ekonomie die verbruikersetos ten prooi geval het in Suid-Afrika. In die derde plek fokus Bauman op wat met die subjek, die individu, in die samelewing van verbruik gebeur. Vereensaming, gewis; die verhouding tussen subjek en verbruiksobjek belangrik as die verhouding met ander (buiten vir hulle erkenning oor wat ek besit en verbruik). Die subjek word gedompel in melancholie: onder die illusie van vryheid van keuse, móét hy deurgaans nuwe objekte kies en kán hy ook nie, want daar is te veel, en bowendien kan dit wat hy kies nooit werklike die beloofde begeertevervulling bring nie! Dat verbruikers as vryswewende individue deur die mark hanteer word, beteken nie dat die verbruikersamelewing geen kollektief het nie: “In die vloeibare (liquid) moderne samelewing van verbruikers neig die swerm om die groep te vervang – met sy leiers, gesagshiërargie en pikorde” (p.76). Die sekuriteit van die swerm, skryf Bauman, spruit voort uit die feit dat daar genoeg mense is wat daaraan deelneem, almal in dieselfde rigting vir ’n tyd lank beweeg. ‘Dis aantreklik, want almal doen dit,’ is die rasionaal. In Suid-Afrika is die beste voorbeeld van hierdie swermgedrag die regerende party self, wat volgens van sy eie hoogwaardigheidsbekleërs verander het in ’n voertuig vir patronaat. En dat hy kwalik sy eie leierskapsoorgang kan hanteer, is sprekend van die swermmentaliteit. In die vierde plek gee Bauman aandag aan hoe tyd in die verbruikersamelewing verander vanaf ’n lyn na ’n punt. Hiermee is hy in ooreenstemming met ’n hele aantal denkers, waaronder Régis Debray, Manuel Castells, Milan Kundera (wat hy ook instemmend aanhaal), Jérôme Binde, Zaki Laïdi, en talle ander. Bauman beskryf dit as “pointillistiese tyd” waar die “tirannie van die oomblik” vaardig is. Die spesifieke insig wat hy hieraan verleen, setel daarin dat hy wys hoe die verbruikersamelewing deur die maniese stimulering van begeerte en deur die dwang tot keuse die skyn van ’n noodtoestand skep, waar alles nie net gelyktydig gebeur nie, maar alles ook nou moet gebeur (hoe dikwels hoor ’n mens nie hierdie woorde nie?). Hy verwys na ’n studie van Nicole Aubert onder bestuurslui, wat vertel watter beswyming en mag hulle voel wanneer hulle in noodmodus alles so vinnig moontlik en suksesvol klaarmaak, net om dit weer te doen! En, vra Bauman, as alles nou gedoen moet word én nou moontlik is, watter aantrekking het die ewigheid nog vir die mens? Waarmee hy netjies uitwys watter eie teologie die verbruikersamelewing ook geskep het. In Suid-Afrika kan ’n mens vandag dikwels verstom staan oor hoe vinnig dinge van relatief min belang, maar wat baie aandag geniet, mekaar opvolg, net sodat ons dit ’n week of twee later heeltemal vergeet het. Die ergste is die grumoorde op voorblaaie wat kom en gaan, wat mettertyd ’n blote norm van melodrama word waarin die dood self ons koloniseer. Volgens ’n beroemde staaltjie sou ’n Westerse diplomaat in die 1970’s aan ’n Chinese diplomaat gevra het wat dié se opinie van die Franse Rewolusie is. Waarop die antwoord gekom het: “Dis nog te kort gelede om nou al ’n standpunt daaroor te hê”. |