|
||||
Jean-Claude Paye *Skrywer
van La Fin de l’Etat de droit, Parys: La Dispute, 2004 en Global War
on Liberty, Telos Press, 2007. Uit die Frans vertaal deur André Crous,
[email protected] Met
verskillende verdrae wat beheer oor lugpassasiers uitoefen, doen die Europese
Unie geleidelik afstand van sy eie wettigheid en laat sodoende die VSA se
regtersy toe om hom op Europese burgers binne die Unie se grondgebied af te dwing.
Dit is ’n imperiale wetsorde wat sy plek inneem en hom ten doel stel om die
transatlantiese lugruim onder die regspraak van die VSA se administrasie te
plaas. Ten vervolge, in ’n tussentydse verdrag met die Kommissie van die Europese
Unie, het die Amerikaanse doeane sedert 5 Maart 2003 toegang tot die
besprekingsisteme van die lugvaartmaatskappye wat in die EU se grondgebied
geleë is. Gegewens met betrekking tot die gedrag van gewone passasiers (maw
mense wat nie gemerk is as gevaarlik of krimineel nie) word nagegaan om deur
middel van ’n teoretiese skema vas te stel of ’n sekere passasier moontlik ’n
gevaar sou kan wees. Almal word soos potensiële misdadigers behandel. Die oogmerk is om “risikoprofiele” saam te stel. Individue met ’n bepaalde
groep eienskappe word vasgetrek, omdat spesiale toesig of selfs ’n
verhoedingsarrestasie by hul aankoms op Amerikaanse bodem “geregverdig” is. Die
VSA se Patriot Act laat arrestasies toe sonder klaglegging, en
onbeperkte aanhouding sonder veroordeling van enige buitelander wat verdink
word van deelname aan ’n aktiwiteit van ’n organisasie wat as terroris
geklassifiseer is. Die Europese parlement het verskeie kere sy teenkanting geopper, en ’n
resolusie wat gedateer is 31 Maart 2004 verklaar dat die toegang van Amerikaanse
owerhede “onwettig [is] in terme van nasionale en Europese regte op ’n private
lewe.” Hierdie negatiewe houding het egter nie die Raad daarvan weerhou om in
’n besluit, bekragtig op 17 Mei 2004 (1), wel aan die opdragte van die
Amerikaanse owerhede toe te gee nie. Met ’n suiwer raadgewende rol het die Parlement hom tot die Europese Hof
van Geregtigheid gewend om die verdrag op te hef. Die hof se weiering om die
ondersoekprosedure te versnel, het veroorsaak dat die Europese parlement eers
in Mei 2006 sy saak (gedeeltelik) gewen het. Die uitspraak het egter slegs die
vorm behels, en nie die inhoud nie; die teks is verwerp bloot op grond van ’n
“gebrek aan ’n behoorlike wetsbasis” en noem glad nie eens die skending van die
privaatheid van diegene wie se besonderhede aan Amerikaanse owerhede oorgedra
word nie. Volgens die uitspraak kan die eerste steunpilaar (die gemeenskap) van
die Europese Unie nie dien as basis vir ’n verdrag wat polisie- en geregtelike
samewerking benodig nie. Binne die raamwerk van die derde steunpilaar het die EU en die VSA op 23
Julie 2007 ’n nuwe verdrag onderteken oor die hantering en oordrag van die
besonderhede van sy pasassiers (2). Laasgenoemde teks bekragtig op
’n meer permanente basis die voorlopige verdrag wat op 19 Oktober 2006 gesluit
is. Soos reeds in 2004 die geval was, is die besonderhede, wat die Passengers
Name Record (PNR) heet, nie beperk tot die naam en van, adres, telefoonnommer,
geboortedatum, nasionaliteit, paspoortnommer en geslag nie, maar sluit ook die
adresse vir die duur van die verblyf in die VSA in, die volledige reisplan van
bewegings, kontakte in die VSA, asook mediese gegewens. Verder word daar gekyk
na bankbesonderhede, soos die betaalwyse, kredietkaartnommers en eetgewoontes
om sodoende lig te werp op die individu se geloofsoortuigings. Die verdragte van 2007, nes die teks van 2006, (3) verswaar 2004 se
ooreenkomste. Volgens ’n beginsel van beskikbaarheid kan data volledig
geraadpleeg word deur alle Amerikaanse agentskappe wat in die anti-terrorisme
stryd gewikkel is, terwyl die verdrae van 2004 (op papier) sulke raadpleging
vir doeane-agentskappe voorbehou. Die tydperk van retensiereg van hierdie inligting is nou ook 15 jaar, en
nie meer drie-en-‘n-half jaar soos vroeër nie. Verder kan hierdie gegewens vir
sewe jaar lank geplaas word in “aktiewe ontledingsdatabasisse”, wat wyer
ondersoeke toelaat. Die Amerikaanse owerhede het nou die reg om hierdie inligting aan ’n derde
land deur te stuur. Hierdie lande sal toegang hê tot gegewens van Europese
maatskappye, soos die vereistes van die Amerikaanse departement van veiligheid
dit wil hê en omdat die EU ingestem het om “nie in te meng” by die verspreiding
van gegewens van Europese burgers aan hierdie lande nie. (4) Die nuwe teks lig die ongelykmatigheid uit van die uitruilings tussen die
VSA en Europa. Daar word van maatskappye verwag om die PNR-gegewens wat in hul
databasisse geberg word volgens die opdragte van die Amerikaanse owerhede te
hanteer, “in ooreenstemming met Amerikaanse wetgewing.” Op hierdie wyse het die
VSA voordeel getrek uit hierdie onlangse verdrae om aan die nuwe eise van die
Amerikaanse departement van Binnelandse Veiligheid gehoor te gee, die
veranderinge in die Amerikaanse wetgewing te integreer, en te gehoorsaam. (5) Amerikaanse reg is primordiaal. Die administrasie van die VSA behou homself
die reg voor om op sy eie manier ’n verdrag te vertolk wat gesluit is tussen
twee partye. Hierdie vertolkingsreg word ingesluit in die byvoegsel, en dit het
’n tweeledige voordeel vir die Departement van Binnelandse Veiligheid. Aan die
een kant kan dit eensydig die inhoud definieer (omstandighede van behandeling,
oordrag, vernietiging en van die uitbreiding van die gegewensveld) van sommige
verpligtinge, waarna die verdrag verwys. Aan die ander kant het die formele
betrokkenheid, die beskerming van gegewens en die verdediging van die regte van
Europese passasiers geen beperkende waarde nie, en kan dit eensydig gewysig
word. Die raamwerk waarbinne die PNR-gegewens gebruik kan word, is nie beperk tot
die anti-terrorismeveldtog nie, maar sluit ook “enige bykomende doelwitte” in.
Inligting met betrekking tot ras, politieke opinies en seksuele lewe kan ook
gebruik word in “uitsonderlike gevalle”, en dit is die Departement van
Binnelandse Veiligheid wat sulke uitsonderlike gevalle bepaal. Die ink op hierdie verdrae is nog nie eens droog nie, dan kondig die VSA sy
voorneme aan om verdere uitsonderings in die Privacy Act van 1974 te
maak rakende die bestuur van die Automated Targeting System. Hierdie sisteem is
bedoel om te veg teen terrorisme, maar sluit ook “enige aktiwiteit [in] wat die
Amerikaanse wet oortree”. Dit sluit byvoorbeeld al die PNR-gegewens van
passasiers in. Enige verandering in die bestuur van die sisteem wysig
outomaties en eensydig die inhoud van die PNR-verdrag. Die projek voorsien dat
al die gegewens ’n tweede maal ondersoek mag word, met ander woorde deur ander
agentskappe wat wêreldwye toesiglyste het, en dat dit verbind kan word met
databanke vanuit steeds ander oorde. Te midde van al hierdie wetswysigings versterk die Departement van
Binnelandse Veiligheid homself. Die doelwit is om niemand te laat rondbeweeg
voordat sy PNR-gegewens gekontroleer en “lig daarop gewerp is” nie. (6) As die projek goedgekeur word, sal dit ’n verandering teweegbring wat die
aard van kontrolesisteme verander en dus ook van die verdrag wat pas met die EU
onderteken is. Die VSA se administratiewe owerhede sal die vermoë hê om enige
Europese burger arbitrêr te verbied om na die VSA te vlieg, selfs al besit so
iemand al die nodige dokumente. Die Amerikaanse sisteem seëvier. In die VSA
laat die lyste van lugpassasiers die administrasie toe om willekeurig te bepaal
wie mag vlieg. Só word meer as 110 000 mense, waarvan die meerderheid Amerikaanse burgers
is, se mobiliteit versteur of word hulle verbied om te vlieg, want hul
besonderhede verskyn op die “watch list” of die “no fly list”. Die
televisiekanaal CBS het dit reggekry om in 2004 ’n eksemplaar van die “watch
list” in die hande te kry. Dit bestaan uit 540 bladsye met die name van “75 000
persone wat sorgvuldig ondersoek moet word en wat selfs, indien nodig, nie aan
boord van die vliegtuig toegelaat mag word nie.”(7) Diegene wat teen
die oorlog in Irak gekant is, is die hoofteikens van hierdie prosedure. Volgens Naomi Wolf (8) is die “watch list” vanaf 2003 opgestel, in
aansluiting by ’n presidensiële opdrag aan die inligtingsagentskappe. Hierdie
opdrag beveel hulle om “alle persone wat verdink word van terroristiese
neigings, of wat kontak met terroriste mag hê”, te identifiseer en te bewaak.
Die CIA/NSA en die FBI het daarna ’n naamlys opgestel wat aan al die
lugvaartmaatskappye gestuur is. By hierdie lys moet 45 000 name gevoeg word wat op die “no fly list” pryk,
van individue wat nie toegelaat word om te vlieg nie. Laasgenoemde lys, wat
slegs 16 name voor 11 September 2001 bevat het, is aanvanklik uitgebrei om
persone in te sluit wat van kontak met terroriste-organisasies verdink is, maar
sluit nou politieke teenstanders in wat beperk word in hul bewegings en selfs deur
die Transportation Security Administration verbied word om die land te verlaat.
Op hierdie manier word enigiemand wat die regering se politiek kritiseer
deeglik deursoek, geïntimideer, gearresteer of verbied om te vlieg. As gevolg hiervan het die Raad van die Europese Unie sy burgers opgeneem in
’n kontrolesisteem vir lugpassasiers na die VSA, wat aan Amerikaanse owerhede
die moontlikheid gee om hierdie prosedure volgens hul eie behoeftes verder te
ontwikkel en uiteindelik, as daar geen reaksie is nie, willekeurig enige
Europese passasier te verhoed om na die VSA te vlieg. __________ (1)
Ampelike Joernaal van die Europese Unie, L 183/83, 20 Mei 2004 (2)
“Processing and transfer of passenger name record data by air carriers to the
United States Department of Homeland Security - “PNR””, Raad van die Europese
Unie, 11304/07, Brussel, 28 Junie 2007. (3)
Amptelike Joernaal van die Europese Unie, L298, 27 Oktober 2006 (4)
“MEPs fear that new PNR agreement fails to protect citizens’ data”, Statewatch
News Online, 12/07/2007,
http://www.statewatch.org/news/2007/jul/04ep-pnr-resolution.htm (5)
EU-USA agreement renegotiated to meet US demands, Statewatch News Online,
http://www.statewatch.org/news/2006/oct/05eu-us-pnr-oct-06.htm (6)
Department of Homeland Security, Privacy Act of 1974, Implementation of
Exceptions, Proposed Rules of the Federal Register, Notice of proposed
rulemaking, 2007/08/23,
http://www.statewatch.org/news/2007/aug/usa-adis-privacy-act-exemptions.pdf (7)
Noami Wolf, “Are you on the Government’s No Flight List”,
http://www.alternet.org/rights/62407/ (8)
Skrywer van End of America : Letter of Warning to a young patriot,
Chelsea Green Publishing 2007. |