blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die wêreld van verbruik: Die era van ideologie is nie vir altyd verby nie 2007-12-11
Carel (iv) Boshoff

*Skrywer van Orania en die derde Afrikaner (Orania: EPOG, 2007) en president van die Orania-beweging


 


Dalk ken jy die modelnommer van jou selfoon, selfs al staan dit nie soos op jou motor êrens opvallend uitgebeeld om jou (en ander) gedurig te herinner aan jou plek op die sosiale leer nie. Of dalk loop jy kelners, klerke, prokureurs, predikante of, les bes, selfoontegnici raak wat jou instrument met een oogopslag kan spesifiseer en jou dan openlik of bedek laat verstaan waar dit jou op hulle beeld van die voedselketting plaas.

Amper soos met jou motor is een goeie rede om nie jou selfoon se spesifikasies te probeer onthou nie, dat jy teen die einde van jou tweejaar-kontrak bo alles weet dat jy nooit weer met daardie spesifieke instrument opgeskeep durf te sit nie. Twee jaar gelede het jy dit dalk as ’n simbool van vooruitstrewendheid vertoon; nou vertoon jy dit liefs gladnie of verwys self in neerhalende terme na dié agterhaalde stukkie tegnologie waarmee jy nog opgesaal is totdat jy binnekort weer opgradeer. En deel jy dié ervaring dalk nie, kan jy sekerlik aan iemand dink by wie die beskrywing pas, waarskynlik iemand naby jou.

Wanneer Zygmunt Bauman sy lesers wil inlei in die dubbelsinnige wêreld van ’n verbruikende lewe, wat tegelyk ook as verbruik van die lewe beskryf kan word (Consuming Life, 2007), doen hy dit aan die hand van drie algemene, maar onbedagte voorbeelde. Die eerste is hoe belangrik digitale instrumente in die persoonlike omgang tussen mense geword het: virtuele hoekies vir eensames/date clubs, kletskamers en allerlei gespesialiseerde dienste om nuwe vriende en minnaars te ontmoet en weer van hulle ontslae te raak. Die tweede het te doen met sagteware wat byvoorbeeld banke in staat stel om nie net ’n kliënt se telefoonnommer te herken nie, maar dit ook aan ’n profiel te koppel wat dan outomaties bepaal op watter vlak en hoe spoedig die oproep beantwoord sal word. Die derde verwys na die puntestelsel met behulp waarvan verskillende lande, en nou ook Groot Brittanje, aspirant-immigrante keur om seker te maak dat gewenste elemente toegang kry en ongewenstes uitgehou word.

Die punt wat Bauman maak, en wat terugwerkend op die selfoonvoorbeeld toegepas kan word, is dat mense verniet dink dat hulle as verbruikers ‘in beheer’ is; hulle word in werklikheid ook kommoditeite wat weer deur ander verbruik word. Verbruikers kommodifiseer hulself ook nie net in verhouding tot werkgewers en diensverskaffers nie, maar selfs in hulle persoonlike verhoudinge met mekaar. Van die bemarking van eienskappe tot die inruilbaarheid van agterhaalde verhoudingsgenote word menslike verbintenisse op die lees van transaksies geskoei.

Nie net jou selfoon nie, maar al die tallose items waarmee ons elkeen onsself deurentyd omgewe, dien as simbole van posisionering in die arbeids- of sosiale mark. Dalk is jy ’n bestuurder met ’n hele databasis byderhand of dalk reis jy lig, dalk vloei geld vinnig of dalk verteenwoordig die geld wat ooglopend wel gevloei het, ’n konserwatiewe voorkeur vir durende kwaliteitshandelsmerke – solank dit net nie van besparing getuig nie!

Die feit wat bly staan, is dat niks wat nou vertoon word, van permanente waarde is nie en dat dit binnekort “opgegradeer” oftewel vervang sal moet word. Bauman se gevolgtrekking is eenvoudig: nie verkryging en besit nie, maar vervanging is die sleutelaktiwiteit; nie om te koester nie, maar om weg te gooi, om plek te maak, is die voorwaarde vir ’n “volhoubare” verbruikersbestaan. En ingevolge die deregulering en privatisering van tallose ondernemings en werksvelde is dit nie net jy wat verbruikersitems vervang en weggooi nie, maar as kommoditeit word jy ook al makliker vervang en weggegooi. In watter pastelkleure word die vooruitsig om in jou lewe agt of tien loopbane te hê, nie geskilder nie?

Meer nog: die verbruikersamelewing se unieke belofte om menslike behoeftes meer as ooit tevore en met behulp van ’n totale oorvloed aan kommoditeite te bevredig, is willens en wetens ’n versteekte leuen. Die bevrediging van behoeftes is, vir ’n ekonomie wat sy sukses uitsluitlik aan omset meet, geen sukses nie, maar ’n bedreiging. Soos gloeilampe wat moet blaas om die voortgesette produksie daarvan in stand te hou, moet vandag se gewaande bevrediging môre se ontevredenheid inlei.

Stel jou voor elke selfooneienaar is na sy eerste aankoop tevrede en vervang dit net wanneer dit breek of gesteel word. Nie noodwendig slegte besigheid nie, maar nog glad nie so goed as wat moontlik word as almal die heeltyd moet vervang nie. ’n Mens kan behoorlik sê dat die verbruikersamelewing op ’n ashoop gebou is, letterlik in die sin van vervangde items en figuurlik in die sin van teleurgestelde verwagtings. Al wat ’n mens berekend van frustrasie en wanhoop red, is die onophoudelike stroom van nuwe begeerters en voorlopige bevredigings.

Maar hoe lyk die wêreld waarin sulke oënskynlik deursigtige strategieë kan werk? Hier raak Bauman aan seker die mees wesenlike punt van sy ontleding, naamlik die tydsbegrip eie aan die verbruikerisme, want verbruik self was nog altyd deel van die menslike bestaan, maar dit is nuut om verbruik tot doel van die lewe te verhef. Die verbruikerisme is nóg op ’n sikliese, nóg op ’n liniêre tydsbeeld gebou, dit berus op ’n heel eiesoortige, pointillistiese non-ervaring van tyd. Buiten dat elke afsonderlike punt in die ruimte per definisie dimensieloos is (anders was dit ’n lyn, ’n vlak of ’n vorm), is elke dimensielose punt in die tyd met die moontlikheid van ’n big bang gelaai. Elke losstaande verbruikersmoment dra in sigself die moontlikheid om tot ’n kosmos te ontplof – ons sal net nooit weet in watter pakkie die prys is voordat ons hulle nie almal oopgeskeur het nie.

Daarom jaag die deurwinterde verbruiker van die een verbruikservaring na die volgende, sonder heimweë of verwyt en met die onblusbare verwagting dat die wêreld in al sy betekenis dalk nóú voor hom/haar kan oopgaan. Maar wat hardnekkig bly ontbreek, is ’n storielyn, ’n verband. Of dit nou op herhaling/verveling of op vooruitgang/uitputting uitloop, verskaf beide die sikliese en liniêre tydsbeelde darem ’n betekenisvolle samehang, kriteria waaraan die opeenvolgende momente vir hulle waarde gemeet kan word. Die vryswewende punte van verbruikerstyd kan aan niks buiten hul reklamewaarde en bemarkbaarheid gemeet word nie en is, nog voor hulle behoorlik te lig bevind kan word, reeds weer met nuwe moontlikhede vervang.

Bauman knoop by George Simmel aan wat vroeg in die vorige eeu al die “metropolitaanse mentaliteit” beskryf het en sê: “alle dinge dryf met gelyke gewig in ’n voortdurend bewegende stroom van geld.” Aan die hand daarvan kontrasteer Bauman wat hy noem die “soliede moderniteit” wat op produksie en besit gerig is en wat naas vooruitgang ook aan stabiliteit en permanensie geglo het, met die “vloeibare moderniteit” wat op beweging en verbruik gerig is en alle gewig en sleur wil afgooi om die oomblik aan te gryp. Hierdie verskil staan dan ook sentraal in sy politieke voorkeure wat veral ten aansien van al die “toevallige” slagoffers van die verbruikersamelewing aan die orde gestel word. Terwyl verbruikersgedrag met die minimum openlike dwang in stand gehou word juis deurdat mense, soos tyd, in vryswewende individue/oomblikke opgebreek word, verteenwoordig nieverbruikende individue uit die een hoek gesien nuttelose, selfs gevaarlike mensemateriaal en uit die ander hoek gesien, die slagoffers van ’n verdrukkende stelsel.

Net mooi op hierdie punt tree die dilemma waarin post-Koue Oorlogse linkses hulle bevind, dan ook in. Na afloop van die ongelooflikste strukturele ontleding en samelewingskritiek, kan Bauman homself nie verder bring as om “Derde-weg-sosialisme” te kritiseer en die welsynstaat te bepleit nie. Groot was my verstomming as kommunitaries-ekologiese aktivis om te sien dat hy die welsynstaat, nou wel terloops, regverdig deur aan te voer dat, net soos met produksie, sulke samelewings ook in verbruik nie vir hulle eweknieë in die vryemark terugstaan nie.

Met al die meriete van ’n uitstekende ontleding en die ontwikkeling van voortreflike intellektuele apparaat, kon Consuming life ten slotte dalk tog maar Life consumed geheet het.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=961
Artikel nagegaan:
    -