blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Kreungeluide vir SA demokrasie 2007-12-11
Van Zyl Slabbert

*Politieke ontleder en skrywer van Duskant die geskiedenis (Kaapstad: Tafelberg, 2006)

Voordat ’n mens oor die stand van ons demokratiese bestel kan bespiegel, is dit nodig om duidelikheid te hê oor wat ’n Demokrasie is: Die Sowjet-Unie het homself voorgehou as ’n People’s Democracy; so ook China en Kuba - trouens, amper sonder uitsondering alle kommunisties beheerde lande. Dit is goed om in gedagte te hou dat die ANC vir dekades lank die finansiële en operasionele begunstigde was van die Sowjet-Unie. Dit het alles oornag verdwyn met die val van die Berlynse muur in November 1989. En tog is daar nog tekens van daardie dae in die openbare retoriek van ons regerende party, byvoorbeeld “The National Question”, “The People’s Democracy”, “A National Democratic Revolution”.

Dit is belangrik om ook te onthou dat die demokratiese Grondwet wat uiteindelik in Suid-Afrika beding is, die allerlaaste idee van ’n Grondwet was wat die ANC in gedagte gehad het. Tot aan die einde van die bedinging was daar spanning tussen dié wat geglo het in gewelddadige oorgang (a people’s war) en dié wat volgehou het met onderhandeling.

Die uiteinde van die onderhandeling was ’n Klassieke Liberaal- demokratiese Grondwet. Die meer fundamentele waarde onderliggend aan so ’n Grondwet, is die bekamping van die misbruik van mag deur enige individu of belangegroep. Magmisbruik mag nie geskied ten koste of ten gunste van enige burger of groepering van burgers in die land nie. Daarom is universele gelykwaardige stemreg veronderstel om een van die belangrikste maatreëls vir die bekamping van magsmisbruik te wees.

Maar op sigself is dit nie genoeg nie: Gevolglik maak die Grondwet voorsiening vir die skeiding van magte, byvoorbeeld uitvoerende mag (die President), Wetgewende mag (die Parlement), en Administratiewe mag (Die Grondwetlike Hof, Die Regbank en Kommissies, ensovoorts.)

Wanneer die vraag gestel word, Hoe gesond is ons demokrasie? is dit net ’n ander manier om te vra, Is daar ’n oorsentralisasie van mag in die uitvoerende gesag (m.a.w. die Presidensie) ten koste van wetgewende en administratiewe mag? Hoe aktief word die burger se stemreg gebruik? Dit is presies met die beantwoording van hierdie soort vrae dat ons “kreungeluide hoor van hoe ons demokratiese bestel begin sukkel”.

Byvoorbeeld, ek dien in ’n Parlementêre subkomitee wat deur die speaker aangestel is en wat die stand van die Wetgewende Gesag (m.a.w. Parlement) moet beoordeel in terme van die relevante grondwetlike voorskrifte. Voor ons kom getuig voorsitters van die Staande Komitees in die Parlement en amper sonder uitsondering sê hulle: “Ons het geen bevoegdheid nie. Alles word bepaal deur die Uitvoerende Gesag (m.a.w. die President). Dit beteken doodeenvoudig die Parlement is ’n lêplek vir begunstigdes van ons kiesstelsel, waaroor die gewone stemgeregtigde geen verantwoordbaarheid kan eis nie.

Praat van die kiesstelsel: dis nou ’n harde kreun. So ’n abominasie van demokratiese praktyk is kwalik voorstelbaar. Dit is ’n geslote proporsionele sisteem gekombineer met oorstappery. Die kieser weet nie wie en hoe om ’n amptelike verteenwoordiger tot verantwoording te roep nie.

’n Mens moet ook maar mooi dophou hoe die Uitvoerende Gesag met die regbank en die ekonomie werk. Die Regter Thlope-geval gaan nie maklik lê nie; en ’n opskrif in die Mail & Guardian soos, “ANC Front Wins Huge State Tender” laat ’n mens wonder hoe die belastingbetaler se geld gebruik word om vir die ANC geld in te win, vir die betaal van amptenare en die veg van verkiesings. Daar is heelwat navorsing gedoen oor die omvang en vlakke van korrupsie in ons demokrasie: Niks kelder ’n demokratiese kultuur gouer as korrupsie nie. Uiteindelik weerspieël dit ’n gebrek aan doeltreffende dienslewering. Die eerste tekens van ontevredenheid in die verband is te sien in die opstande van gewone burgers, byvoorbeeld in Phumelela en Khutsong.

Dit wil lyk asof die regerende party hierdie en ander “kreungeluide” begin hoor het. Miskien het dit ook te make met die komende opvolgstryd. Niks wat genoem is, is onoorkombaar nie. Die kreungeluide kan verander in steungeluide. Maar dit gaan nie vanself regkom nie. Van die hoogste gesag tot elke gewone burger sal moet begin moue oprol. Maar ons moet ook onthou: ’n Vis raak vrot van sy kop af.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=945
Artikel nagegaan:
    -