|
||||
Josep-Lluís Carod-Rovira *Visepresident
van die Katalaanse regering. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw. Katalonië
het die afgelope September in Parys nog ’n tree op die pad van sy terugkeer tot
historiese normaliteit gegee. Vir die eerste keer sedert die koms van die
demokrasie, wat die Franco-diktatuur opgevolg het, het die Katalaanse
instellings die nasionale feesdag van 11 September buite die Katalaanse gebied
gevier. ’n Gebaar van opening na die buitewêreld verbind aan die bevestiging
van sy persoonlikheid. Telkens wanneer Katalonië sigself as sodanig kon
uitdruk, was die verbintenis tot sy wortels en die wil om bande met ander lande
te vestig altyd een van sy vernaamste oogmerke. Tans herwin Katalonië sy identiteit
bietjie vir bietjie. Hy is opgeneem in hierdie benadering, want die raamwerk
waarbinne hy ontwikkel, is nie dié waarbinne hy meer as ’n duisend jaar gelede
tot stand gekom het nie. Sy status as outonome gemeenskap, ’n uitvindsel van
die Spaanse oorgang, is die vrug van die groot gaping tussen die onderskeie
aanhangers van die diktatuur en die demokrasie. Destyds, soos wat reeds die afgelope
driehonderd jaar gepoog is, was die belangrikste doelwit om die heel
sonderlinge Katalaanse identiteit wat tydens sy agt eeue van politieke
onafhanklikheid gevorm is, te verswak. Soms hoor ’n mens dat die bestaan van outonomieë
sekere streke daartoe beweeg het om nasies te wil word. Niks is verder van die
geskiedenis af nie. In werklikheid probeer ’n oorspronklik onafhanklike nasie
soos Katalonië, tot die status van ’n streek verskraal, eenvoudig om homself in
vryheid te ontwikkel, en eis dan demokraties die dinge op wat hy regtens beskou
as dit wat hom toekom. Dit is waarom Katalonië sedert die verlies
van sy instellings na die oorlog van 1714 altyd meer outonomie gevra het. Dit
is binne hierdie konteks dat die Katalaanse volk in 2006 die hervorming van die
statuut van Katalonië se outonomie bekragtig het, wat deur die Spaanse
parlement goedgekeur is en aan die land sy hoogste vlak van selfregering sedert
die verlies van sy soewereiniteit gegee het. Die nuwe statuut endosseer die buitelandse
beleid wat reeds die laaste jare deur die regering gevolg is en moedig nuwe
aksies aan binne die raamwerk van die bevoegdhede wat aan hom toegeken is. Een
van die innoverendstes, wat baie fyn dopgehou word deur openbare owerhede wat nie
state is nie en tog oor wetlike en uitvoerende vermoëns beskik, is dié wat
Katalonië inskakel by die stelsel van die Verenigde Nasies (VN). Getrou aan ’n multilaterale wêreldbeeld,
het Katalonië ’n groeiende belangstelling getoon in samewerking met die verskillende
organisasies van die VN en die eerste substaat-kollektief geword wat
ooreenkomste daarmee gesluit het. Dít is wat daartoe gelei het om die bestaan
op te roep van ’n Katalaanse model wat nuwe rolspelers bo en behalwe
tradisionele staatsregerings in staat sal stel om deel te neem aan die oogmerke
en programme van die VN. Tot op hede is voorkeur verleen aan
samewerking ter wille van ontwikkeling, wat geval het binne die lang tradisie
van solidariteit eie aan die Katalaanse volk. Nou het die regering vir hom ’n
nuwe doelwit gestel, naamlik om ook te werk vir die bewaring van
taaldiversiteit in vennootskap met die Verenigde Nasies se Organisasie vir
Onderwys en Kultuur (UNESCO). Buiten sy betrokkenheid by multilaterale
organisasies, begunstig die regering ook die vorming van nuwe afvaardigings na
die buiteland, op die model van Brussel, wat ’n pionier op die terrein is: dit
kan gewis nie anders wees nie in ’n land wat so ’n groot Europeïstiese tradisie
het. |