|
||||
Ignaçio Ramonet *Redakteur,
Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur
Johann Rossouw. Die
golwe van onstabiliteit wat in die Nabye en Midde-Ooste sedert die aanvalle van
11 September 2001 deur die “oorlog teen internasionale terrorisme” veroorsaak
is, bly steeds nuwe lande ontwrig. Die jongste hiervan is Pakistan. Vyftig maande na die oorname van Bagdad
lyk die streek se geopolitieke panorama jammerlik. By die militêre impasse is
’n stroom diplomatieke rampe gevoeg. Sonder dat die terroristerisiko, anders as
wat Washington beoog, afgeneem het. Geeneen van die konflikte –
Israel-Palestina, Libanon, Somalië – is opgelos nie. In weerwil van die teenwoordigheid van
meer as 165 000 Amerikaanse soldate in Irak lyk die perspektiewe steeds
onseker. Die daaglikse lewe vir burgerlikes bly hel. Dodelike aanvalle volg
mekaar op. Op die koop toe het nuwe spanning ontstaan op die grens tussen
Irakse Koerdistan en Turkye, waar twee bondgenote van die VSA mekaar die stryd
kan aansê. Die ander paradoks is dat die Amerikaanse
intervensies daartoe gelei het dat Iran – “die ergste Amerikaanse vyand” – van
twee groot teenstanders ontslae is: die Ba’ath-regime in Irak en dié van die
Taliban in Afghanistan. Selde het ’n mededinger nog soveel bygedra tot die
welstand van sy grootste vyand … Dit het Teheran in staat gestel om te
konsentreer op sy atoomprogram wat die ergste vrese laat ontstaan het. En wat
verdere chaos tot die groot chaos in die streek bydra en vir talle ekonomieë
ondraaglike verhogings in die olieprys meebring. In Afghanistan is NAVO se magte op die
verdediging. Terwyl hulle op die terrein oor meer as vyftienduisend manskappe
beskik, vra die Verenigde State van sy bondgenote, waaronder Frankryk, nog meer
troepe. Want die Taliban het weer die inisiatief geneem, selfmoordaanvalle
vermenigvuldig, en papawerverbouing en opiumuitvoer ontplof. Die heropbou van die land verloop traag,
en die “demokratiese” instellings verswak. Onder beheer van die “oorlogshere”
distansieer die provinsies hulle al hoe meer van die regering in Kaboel. “As
ons vertrek,” erken ’n Westerse diplomaat, “sal Hamid Karzai (president van
Afghanistan) nie tien dae hou nie” (1). Dit is binne hierdie onstabiele
geopolitieke konteks dat een van president George W. Bush se ferm ondersteuners
in die streek begin swig in Pakistan. Die uitroep van ’n noodtoestand in
Islamabad op 3 November deur generaal Pervez Moesjarraf is in wese ’n ernstige
erkenning van hoe swak hy is, wat ’n rooi alarm in Washington laat afgaan het. Nadat hy reeds in 1999 die argitek van ’n
staatsgreep was, is generaal Moesjarraf aan die einde van 2001 halsoorkop deur
die Verenigde State gewerf – en wel onder die dreigement, soos hy self vertel
het, van ’n massiewe kernaanval teen sy land – in dieselfde oorlog teen die
Taliban en die Afghaanse basisse van Al-Kaïda. Mnr. Bush se regering het
voorgegee dat hulle nie teenstrydigheid daarin sien om hulle te allieer met ’n
diktator “om demokrasie in te stel” in Afghanistan nie. Uit hierdie bondgenootskap het mnr.
Moesjarraf die sertifikaat van internasionale respektabelheid verwerf, asook 11
miljard dollar om sy weermag en sy onderdrukkingsmagte beter toe te rus.
Pakistan, ’n land met 167 miljoen inwoners, is die enigste Moslemstaat wat oor
kernwapens beskik en dit danksy langafstandmissiele oor meer as 2 500 kilometer
kan inspan. Hierdie data beklee hom met strategiese belang wat des te enormer
is deurdat hy geleë is in die wêreld se “broeikas van onstabiliteit” en aan die
rand van die Afgaanse, Iranse en Midde-Oosterse krisisse. Die groot vrees in Washington en ander
regerings is dat die Pakistanse Islamiste, bondgenote van die Taliban, daarin
sal slaag om beheer van die land oor te neem en hulle hande op die kernwapens
te lê. Verpes deur die regbank, het generaal Moesjarraf die vernaamste
mediaspelers gemuilband en die twee vernaamste opposisiepartye, dié van mnr.
Nawaz Sjarief en me. Benazir Bhutto, die stryd aangesê. Ten spyte van hoe dit mag lyk, maak sy
ongewildheid van hom die swak skakel van die politieke stelsel. Die oogmerk van
die Amerikaanse beleid is dus om hom op die kort of medium termyn te vervang.
Nie deur me. Bhutto of mnr. Sjarief nie, wat op die meeste ’n rol in die
“demokratiese” verandering te spele het. Maar deur ’n ander sterkman, miskien
generaal Ashfaq Kiani. Aan ’n Amerikaanse leiband. __________ |