blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Nuwe Sondagkoerant kom; Waas se naam in die hoed 2007-12-11
Kleinjan Schietekat

Die bekende en omstrede Afrikaanse rubriekskrywer, Leon Waas, se verbanning na die Siberië van kommersiële sensuur gaan waarskynlik van korte duur wees. Die Vrypostige Afrikaan kan vandag onthul dat ’n nuwe Afrikaanse Sondagkoerant, Die Hond, binnekort die lig gaan sien, en dat Waas se naam as redakteur in die hoed is.

 Dit volg op berigte dat Waas enkele weke gelede as rubriekskrywer by ’n bekende Afrikaanse Sondagkoerant afgedank is omdat die koerant se kommersiële belange – vroeër uitgebeeld as “vryheid van spraak” – in die gedrang gekom het. Die Vrypostige Afrikaan verstaan dat marknavorsing wat gedoen is, daarop dui dat Waas se kommersiële potensiaal groot kan wees – as dit reg ontsluit word.

 Die bekende media- en bemarkingskenner, dr. Kiep van der Merwe, wat by die marknavorsing betrokke was, sê Waas is “by uitstek die stem van die verwarde … en daar is vandag miljoene sulke mense”. Van der Merwe sê dat as in gedagte gehou word dat minder as 5 % Suid-Afrikaners tans koerant lees, ’n “retoriese meester wat baie skryf sonder om enigiets te sê” ’n groot rol daarin kan speel om van meer mense koerantlesers te maak. Blykbaar hoop die stigters van Die Hond dat dié koerant se lesers mettertyd kan ontwikkel tot op die vlak van ’n leser van Hondag en selfs later Hapsport.

 In ’n eksklusiewe onderhoud wat Waas aan Die Vrypostige Afrikaan in ’n loopring onder sy kombuistafel toegestaan het, het Waas gesê dat hy nie in die minste verbaas is oor hierdie wending nie. “Common is in, en ek is die koning van common! Die gewone mense het genoeg gehad van al hierdie pseudo-intellectuals wat hulle besig hou met sulke crap soos die toekoms van Afrikaans, die Afrikaners en so aan. Ek gaan opstaan vir die gewone ou in Die Hond.”

 Waas beloof dat afgesien van ses bladsye wat hy self elke week gaan volskryf, sake soos Idols-reekse in die Balkan, ’n weeklikse opdatering van Victoria Beckham se lewe, alternatiewe godsdienste, honde se leefstyl en dies meer voorkeur in Die Hond gaan geniet. “Ons gaan beslis grense verskuif,” sê Waas. “Die information age gee unheard of possibilities om vir die gewone mense te gee wat hulle wil hê, en dit is presies wat Die Hond gaan doen.”

 Waas het ook die aap uit die mou gelaat oor ’n nuwe werklikheidstelevisiereeks oor sy lewe waarvan hy ook die vervaardiger en regisseur is. “Ek het support van gewone mense van oral gehad en ek het besef dat hierdie mense nie genoeg van my fearless style kan kry nie. So, binnekort gaan mense kan sien hoe ek my een boek van die jaar lees, hoe ek nog ’n stud inskiet en hoe ek my hond was.”

 Genader vir kommentaar oor hierdie verwikkelinge, het die Afrikaanse veteraanjoernalis, Slang Verwey, gesê dat hy hoop Waas se nuwe planne gaan van krag tot krag. “Hierdie outjie het die guts om dieselfde ou heilige koeie oor en oor uit die sloot te grawe en dan weer en weer te slag. Afrikanerdom, die army, Potch, Waterkloof: hoe kan ons ooit vergeet?”

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=942
Artikel nagegaan:
    -