| ||||
Jaap Steyn *Skrywer van Die honderd jaar van MER (Kaapstad: Tafelberg, 2004). Oral ter wêreld is individue en groepe steeds op soek na ’n nuwe, beter tuiste. So was dit altyd. Daar was ’n Völkerwanderung, en onder Afrikaners ’n “Groot Trek”, met later “Agternatrekkers”, “Dorslandtrekkers” en ’n “trek na die stad”. Ook deesdae beleef Afrikaners ’n volksverskuiwing – honderdduisende het geëmigreer, in die land self trek sommige na die Wes- en die Suid-Kaap. Plattelandse gemeenskappe kwyn onder meer vanweë “grondhervorming”. Party emigreer “na binne”, sluit hul oë vir die res van die gemeenskap. Die wel en wee van “bly of gly”, die soek na die regte plek, kan ’n mens sien in die lang lewe van M.E. Rothmann (1875-1975), beter bekend as die skryfster M.E.R. Sy is op Swellendam gebore en het brandarm grootgeword. Met beurse het sy die laaste deel van skool klaargemaak en haar B.A. verwerf aan die South African College, voorloper van die Universiteit van Kaapstad. Op skool en kollege het sy onder die bekoring van die Engelse taal en kultuur gekom. “Van kleins af het duisend drukkinge dit op my ingestempel dat wat Engels is, goed is; wat Afrikaans is, minder goed”. Die Jameson-inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in 1896 – haar laaste jaar op kollege – het haar, soos talle Afrikaners oor die hele land, laat besef dat hul geestelike tuiste nie in die Engelse taal en kultuur geleë is nie. Sy vertel dat sy in daardie Engelse omgewing “die voorouers se gees” in haar voel roer het. Dit het by haar die voorneme gewek: “Ek by my mense!” Daardie voorneme “het deur die jare nooit verander nie, en selfs sterker geword.” Haar eerste groot verhuising was in 1897 na ’n staat waar haar mense regeer het: Transvaal. Sy en haar ouer suster Annie het daar skoolgehou, terwyl haar broer Frits werksaam was by ’n myn. Vir die jong Bolanders wat Transvaal toe is, “was dit soos ’n vis wat gesukkel het in ’n vlei en toe in ’n mooi rivier uitkom”, sê M.E.R. Dit was nie die salarisse en werkgeleenthede wat baie jong mense uit die Kaapkolonie getrek het nie. Daar was baie méér. In plaas daarvan dat hulle hul eie taal moes opsy laat en verag en as kind gestraf word oor die gebruik daarvan, was dit hul eie taal wat gebruik is in die Volksraad, die geregshof, die staatsdiens en die skool. Amptelik was dit “Hollands”, maar in die praktyk was dit gewoonlik Afrikaans. “In plaas van die geskiedenis van die eie volk as ’n belaglike en veragtelike flentertjie in ’n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as eervolle besitting bestudeer.” Die vlag was nie die Union Jack nie, maar die Vierkleur, en die volkslied wat die hart laat klop het, was nie “God Save our Gracious Queen” nie, maar “Heft Burgers” in die Vrystaat en “Kent gij dat Volk” in Transvaal. “En al jou vriende was mense wat net soos jy behae gehad het in die selfstandigheid en al sy uitinge, selfs ook in die strikke en linte, die pluime en die uniforms, die optogte en die staatskoetse, waarin die Presidente by groot geleenthede vervoer moes word; en veral in die staatsartillerie met sy dissipline, sy Krupps en sy Creusots – behae in al die dinge wat ’n jong volk se hart so sterk. Ai, dit was dae! Dit was heerlik om jonk te wees, en dit in die Republieke!” Sy was nie sonder kritiek op Transvaal nie. In haar outobiografiese vertelling, My beskeie deel, betreur sy, sonder om dit sterk te stel, die “eksklusiewe Transvaalse nasionale strewe” waarop Pieter de Klerk in Die Vrye Afrikaan (19 Oktober 2007) wys. En tog het die drie jaar in Transvaal van M.E.R. ’n oortuigde republikein gemaak en ’n nog groter teenstander van die Britse imperialisme as voorheen. Kruger se nasionalisme was nie ’n leer van haat nie, betoog sy in 1935; dit was wel “’n leer van beskerming van wat in my volk goed is: van verdediging daarvan tot die dood toe; van afweer van wat vir my volk sal kwaad doen, en wat die goeie en gesonde in hom negeer en verwaarloos. “Ons het in Transvaal geleer wat dit beteken om ’n Afrikaanse volk te wees, ’n suiwer Afrikaanse volk. So sal ons seker nie weer kan wees nie, maar wie dit gevoel het, kan dit nooit vergeet nie.” Die Tweede Vryheidsoorlog het ’n einde aan die lewe daar gemaak. Ná die Britse anneksasie van Transvaal is die twee susters terug Swellendam toe; Frits was ’n bittereinder. Die owerheid het gesorg dat die twee Rothmann-susters nie kon skoolhou nie, en toe M.E.R. ’n pos aan ’n private skool op Grahamstad kry, is sy soontoe. Daar het sy verlief geraak op haar Engelssprekende hoof. Uit hul huwelik is ’n dogter en ’n seun gebore. Maar die huwelik was ongelukkig; hulle is geskei en sy is met die kinders terug na Swellendam. Ná ’n paar jaar as onderwyseres daar, is M.E.R. na haar broer Frits, wat in die Transvaalse Laeveld geboer het. Maar die boerdery was nie betalend nie, en sy moes weer gaan geld verdien – eers as onderwyseres op Ermelo, toe in Pretoria as redaksielid van die eerste Afrikaanse vroueblad, Die Boerevrou, en ten slotte van 1922 af as eerste volwaardige redakteur van Die Burger se vrouebladsy. ’n Hele paar jaar het sy die vroue, én die mans, ingelig oor aktuele sake soos vrouestemreg, die belangrikheid van moedertaalonderwys en die bewaring van ons natuur- en kulturele erfenis. Sy was die dryfkrag agter ’n taalhandhawingsveldtog in Kaapstad. Al hoe meer het sy betrokke geraak by die ondersoek na en beriggewing oor die omvang van blanke armoede in die Kaap. In 1928 het sy haar werk by Die Burger bedank vanweë spanning tussen haar en die bestuur. Sy het besluit om in diens van die gemeenskap te bly. Haar oogmerk is diens aan die Afrikaanse vrou, skryf sy in 1928 aan ’n vriendin, Anna Geyer: “Nou, ek voel vas en seker dat van my kragte, sover dit deug, nog gebruik gemaak sal word vir die ontwikkeling van iets goeds by die vrouens: hoe, kan ek nou nie sien nie. Maar so ’n sterk verlange wat in my is om gebruik te word, sal ’n vervulling kry!” Uniek was hierdie soort versugting destyds nié. Dit was die bloeitydperk van Afrikanernasionalisme. Jong mense, maar ook oueres soos die 52-jarige M.E.R., het, soos die historikus G.D. Scholtz dit stel, “gebrand van begeerte om hul land en volk op verskillende terreine van die lewe te gaan dien”. Uit haar verslagwerk oor armoede het sy geweet wat verkeerd was, en sy wou sy haar kragte gebruik vir “volk aankant maak”. Dié beeld het sy graag gebruik. Sy het besef dat die “volk se huishouding” deurmekaar was en wou die saak nagaan, die oorsprong daarvan probeer vasstel en iets daaraan doen. “Die goeie huisvrou, die enigste wat die naam werd is, het ’n agting vir ordelikheid en kan nie rus voordat sy sien dat haar huis aankant is, of goed op weg om aankant te raak nie. So is dit met die volksaankantmaker.” Die kans hiervoor het gekom toe die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging haar in 1928 aangestel het as eerste reisende en organiserende sekretaresse. Daarvoor het sy op eie versoek geen salaris ontvang nie. Jare lank het sy die werk gedoen en is sy slegs vir haar reiskoste vergoed. Ook in 1928 is sy aangestel as lid van die Carnegie-kommissie van ondersoek na die armblanke-vraagstuk. Albei, die ACVV en die Carnegie-kommissie, het haar ’n “onskatbare weldaad gedoen deur my vir hulle werk in te span”. Die werk was vir haar “aangrypend interessant”, en dit was verrykend om “so van naby met jou mense op ander plekke en onder sulke verskillende omstandighede kennis te maak. Ek weet waarlik nie watter belangriker wins, behalwe die harmonie van gesinslewe en vriendeverkeer, die lewe aanbied nie.” M.E.R. het haar ACVV- en ander werk van Swellendam af behartig. Haar enigste inkomste was uit skryfwerk vir Die Burger en Die Huisgenoot. Haar weeklikste rubriek in Die Burger het gehandel oor landsake, ook die politiek. Dikwels het sy opgetree as pleitbesorger van die belange van die vrou. Soms het sy gewys op die groot verskil in salarisse wat mans en vroue vir dieselfde werk ontvang. Ook die nood en ellende van ander groepe het sy raakgesien. Dit alles het sy gedoen van ’n rietdakhuis wat sy op Swellendam laat bou het met geld wat sy moes leen. Sy het die erf uitgekies ter wille van die uitsig. As 84-jarige skryf sy: “Ver sien, dit is baie heilsaam. Ver, en onbeperk; daar moenie ’n afsluiting wees nie”. Komnader het sy die plek gedoop. Dit was vir haar ’n “uitvlugplek”. “As ek hier is, voel ek soos ’n bok wat by haar lêplek in die veld ingekruip het. So ’n houplek beteken darem veel.” Teen die einde van haar lewe skryf sy sy wonder hoeveel van die geluk wat sy ervaar het, van dié huis afkomstig was – “en hoe meer ek die saak bekyk, hoe groter word die huis se bydrae”. Merkwaardig is dit wat sy alles op Komnader gedoen het met ’n karige inkomste. Baie jare was sy sonder telefoon of radio, nooit het sy ’n motor gehad nie (maar die treindiens was veel beter as vandag). Van die nederige huis af het sy haar ACVV-reise beplan en verslae opgestel, haar koerant- en tydskrifartikels geskryf, die meeste van haar boeke, asook ’n menigte briewe. Sommige is opgeneem in twee bundels met nagelate briewe ’n ryke erfenis soos die titel van een daarvan lui. In My beskeie deel skryf sy: “Wat met ons as volk gebeur het, het vir my, soos vir elke normale Afrikaner, altyd diep aangegaan ... Ook leef ’n mens nie alleen in die eie persoon nie, maar deur en met jou volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die individu ook. […] As ek nou die lewensbeskrywing van Steyn en Hertzog lees, vind ek in hulle briewe van daardie tyd, soos in ’n spieël, ons hele nimmerverslappende opdraand gesukkel om onsself te bly...” Kortom: in haar “soeke na ’n tuiste” het M.E.R. weg beweeg van die Engelse wêreld tot ’n tuiste by haar eie mense en taal, en ’n bevredigende lewe gevind in gemeenskapsdiens en “volk aankant maak”. Haar woonplek was in sekere sin ’n weerspieëling van haar lewe van getrouheid en diens aan die volk of gemeenskap. Die onlangs oorlede letterkundige, Elize Botha, skryf oor ’n besoek aan Komnader: “’Kyk van jouself af weg’, só herinner ek my M.E.R. se woorde wat ek altyd aan die uitsig van die voordeur af sal verbind.’Kyk van jouself af weg’ – die vertrekpunt, as ek haar boeke reg lees, vir háár soektog deur die ‘thicket’”. |