|
||||
William Mervin Gumede *Skrywer
van Thabo Mbeki and the Struggle for the Soul of the ANC
waarvan die hersiene uitgawe pas deur Zebra Press, Kaapstad uitgegee is. Die
geheimhoudingsreëls rondom die ANC se presidentverkiesings sou vanpas gewees
het vir ’n bevrydingsbeweging wat in streng geheimhouding bedryf word om die
onderdrukkende mag van die apartheidsregime te beveg, maar dit hoort nie tuis
in ’n grondwetlike demokrasie wat op deursigtigheid, openheid en mededingende
verkiesings gegrond is nie. Deste meer nog omdat die geheimhoudingsreëls merendeels ongeskrewe is, wat
dit oopstel vir manipulasie soos wel in hierdie afbrekende presidensiële
verkiesingsveldtog plaasgevind het. Dit is moontlik een van die redes waarom
die ANC se presidensiële opvolgstryd so laag gedaal het, terwyl die gebruik van
smeerveldtogte, vuil truuks en staatsinstansies om opponente en kritici te
likwideer, roetine geraak het. Nou die dag nog, in die versengende hitte van Upington, was daar selfs die
onverkwiklike spektakel van ’n vuisgeveg tussen respektabele tannies by die
vergadering van die ANC se Vroueliga oor die kwessie of hulle President Thabo
Mbeki, ANC-adjunkpresident Jacob, of liewer ’n vroue- of kompromiskandidaat vir
die presidentsamp van die ANC moet nomineer. Die goeie ding wat hieruit
voortgevloei het, was dat dit wil voorkom of daar nou ’n groeiende groep is
binne die ANC wat openlik verklaar dat die voortsetting van hierdie praktyk, om
nonreëls wat pretendeer om reëls te wees as riglyne vir die party se
presidentsverkiesing te stel, belaglik is. ’n Goeie voorbeeld is Pallo Jordan, minister van kultuur, se stelling: “’n
Mens het grondbeginsels nodig oor wie mag staan en hoe hulle dit mag doen”. Of,
insgelyks, Saki Macozoma, lid van die ANC se Nasionale Bemagtigingskonsortium
(NBK) se uitspraak, “daar behoort niks te wees wat ANC-lede daarvan weerhou om te
sê ‘ek is beskikbaar’ nie. Dit sal vir ANC-lede verkeerd wees om eers wakker te
skrik vir die nodigheid om nuwe leiers te kies wanneer sy nasionale konferensie
reeds aangebreek het.” Die slegte ding is dat die geheimhoudingsreëls hoofsaaklik gesteun het op
Mbeki en Zuma se onderskeie vertolkings, wat albei aanvoer dat kandidate nie
veronderstel is om hulle vir die leierskap te beywer nie. Desondanks beywer
Mbeki hom koorsagtig in die media, wanneer hy nie elektroniese missiele van sy
skootrekenaar af lanseer of anderpad kyk wanneer ander voorgee om namens hom in
die pers denkbeeldige vyande af te kraak nie. Die heersende reëls kon miskien nog gewerk het as Mbeki nie self deel van
die wedloop was nie, maar as hoof- verkiesingsbeampte van die ANC toesig gehou
het oor die oorgang en seker gemaak het dat almal openlik volgens die reëls
speel. Nou is hy so goed as die skeidsregter wat tegelyk lid van een van die
spanne op die speelveld is, maar die reëls kan buig en verander onderwyl die
wedstryd reeds aan die gang is. Zuma gee nou hoog op oor sy afkeer aan die media, maar gebruik dit
terselfdertyd geesdriftig om ’n presidentsveldtog te voer waarin hy die rol
speel van die vasgekeerde slagoffer, die kleine Dawid van nederige Nkandla, wat
die gekombineerde arsenaal van die ANC se sentralistiese leierskap, die
Suid-Afrikaanse establishment se Goliat die media, besigheid, die Skerpioene en
die middelklasse met slegs sy assegaai moet afweer. En terwyl hy dit doen, bestempel hy ander kandidate wat die media gebruik
het as ‘on-ANC’. Om agter die geslote deure van die raadsaal te besluit wie die
ANC se leier moet wees, of onder ongeskrewe reëls wat gebuig word om ander
mededingers uit te hou, is nie net skadelik vir interne demokrasie binne die
ANC nie; dis skadelik vir die land se demokrasie. So dominant is die ANC
trouens dat ondemokratiese en onverdraagsame interne praktyke na die breër
samelewing oorspoel. Die beste oplossing sou gewees het om ’n tydperk vas te stel waarbinne
kandidate hul voornemens openlik verklaar en toegelaat word om openbare
veldtogte te voer en lede en takke te werf terwyl hulle hul beleidsbloudrukke
uiteensit. Takke kan die kandidate dan nooi vir debatvoering oor beleid. En na
afloop van die veldtog stem lede op grond van ’n kombinasie van die kandidaat
se huidige rekord, vermoë en van wat hy vir die toekoms bied. Wanneer geheimhouding in enige verkiesing die botoon voer, is dit
onwaarskynlik dat die beste persoon sal wen. Dis gewoonlik die middelmatige wat
triomfeer. Die ANC en Suid-Afrika het nuwe leiers en vars idees nodig. Ons
ervaar dalk hoë groeikoerse, maar die opbrengste word nie eweredig verdeel nie.
Daar is geen gerusstellende detail uit die sentrum oor omswaaiing van die
resessieagtige werkloosheid en armoede nie. Die waardestelsel wat die ANC
tydens die struggle saamgebind het, is besig om in duie te stort. Die
maatskaplike weefsel wat die gemeenskap aanmekaar gehou het, is aan die
uitrafel. Nogtans is daar skynbaar geen sentrale visie oor ’n strategie om die
probleme van misdaad, die verbrokkeling van gesinne en die ineenstorting van
die gemeenskap te bekamp nie. Die toonaard van die nasionale debat het ontaard
deurdat Mbeki-ondersteuners voortdurend almal wat selfs ligtelik krities jeens
die regering is indien swart, as ‘swart assistente van wittes’, en indien wit,
as rassiste bestempel. Sonder hoflikheid kan daar geen redelike debat oor
beleid plaasvind nie. En tog kan geen demokrasie oorleef tensy landsburgers met
mekaar kan praat nie. Bowendien word Suid-Afrika se regering deur ’n klein
faksie van die ANC beheer. Billy Masethla, voormalige hoof van die Nasionale Intelligensiediens (NID)
en voormalige bondgenoot van Mbeki, sê dat “nege mense die ANC en die land
regeer”. Origens voel mense buite hierdie klub onseker of hulle bydrae
hoegenaamd betekenis het. Dit wil voorkom of ’n mens onkritiese bondgenootskap
aan die president moet sweer om tot die klub toegelaat te word. Wat beteken dat
slegs ’n klein groepie mense nasionale beleidstukke opstel, dikwels sonder
beduidende bestudering of raadpleging na buite. Die resultaat is dan meestal swak beleidvorming, byvoorbeeld die eensydige
verskuiwing van provinsiale grense, wat op voetsoolvlak verwerp word, met
plofbare gemeenskaps- en townshipsprotesaksies teen regeringsbeleid. Ons land met
sy diversiteit is te gesentraliseer. Selfs die ANC het vir die grootste deel
van sy 96 jaar uit provinsiale takke bestaan wat duidelik van mekaar verskil
het, in sommige gevalle met ’n eie politieke kultuur, tradisies en geskiedenis.
Talle van die ANC se provinsiale takke het as selfstandige organisasies begin
nog voordat die ANC in 1912 gepromulgeer is en nou oorgesentraliseer geraak
het. Die vertroue in politici en openbare instansies het ’n laagtepunt bereik.
Die demokrasie self is onder die loep. Maar meer nog: die buitewêreld het ’n al
hoe onsekerder, gevaarliker en komplekser plek geword vir ’n ontwikkelende
land. En dis nie die oomblik om ’n leier te verkies wat kontinuïteit prewel of
beleidslagspreuke neurie nie. Die land verwag meer as dit. Strooptogte op
hierdie diepgewortelde uitdagings gaan ten nouste afhang van die soort
leierskap wat aan die stuur staan van die verenigde Suid-Afrika. Die uitslag van die ANC se verkiesing van Desember 2007 sal verreikende gevolge vir Suid-Afrika se onmiddellike toekoms hê. Met ’n groeikoers van 5% is Suid-Afrika uiteindelik op die punt om van die grond af te kom. Hierdie groeikoers kan omgekeer of gehandhaaf word, of kan na die gebied van die Oos-Asiese tiers gestuur word. Onder ’n luisterlose leier sal besigheid seker soos gewoonlik voortgaan, of berg-af gly. Nietemin kan Suid-Afrika nie middelmatigheid bekostig nie.
’n Dinamiese, vars gesig in Luthuli-huis en die Uniegebou, selfs as dit
deur bewegingspuriste as te modern, te pronkerig en on-partyagtig geag word
(Tokyo Sexwale); of ’n alte gesofistikeerde buiteperd (Cyril Ramaphosa); of nie
genoegsaam deurdrenk in ANC-tradisies nie, of indien ’n vrou (Phumzile
Mlambo-Ngucka), kan dalk net ’n gees van nuwe moontlikhede, energie,
selfvertroue en geloof in die sentrum skep. ’n Middelmatige of moeë leier sal
net nog ’n siklus van nimmereindigende doodloopstrate meebring. Mbeki reken sy werk is nog nie klaar nie: hy het makro-ekonomiese
stabiliteit bewerkstellig en SA ’n politieke mag in die wêreld gemaak, maar by
die huis het ons nie die stygende gety van armoede en werkloosheid gestuit nie.
Mbeki dink skynbaar dat hy meer tyd nodig het om die werk af te handel. Indien
nie dit nie, minstens om van agter die verhoog die toutjies te trek om te
verseker dat sy nalatenskap blywend is. Vanselfsprekend is die werk nie klaar nie. In werklikheid is dit
waarskynlik sover as wat Mbeki ons kan bring. Selfs as hy wen, het die
politieke kragte binne die ANC blywend heringedeel geraak, waaraan hierdie
verdelende presidentsveldtog nie onskuldig is nie. Vir Mbeki gaan dinge van nou
af afdraande, selfs al wen hy weer die ANC-presidentskap. ’n Goeie leier weet
wanneer om uit te tree: vra maar vir Nelson Mandela. Die voetspore van die meeste leiers word in hulle eerste termyn gevestig.
Die tweede termyn gaan hoofsaaklik oor konsolidasie. En sonder uitsondering
eindig die derde termyn in vernedering, ’n ommekeer van al die aanvanklike
goeie werk, gevolg deur disintegrasie en uiteindelike neerlaag. Uiters
onbillik, maar dis gewoonlik die realiteit. Nóg Mbeki, nóg Zuma, omtrent dieselfde ouderdom en insgelyks gedrenk in die
verbanne vleuel van vryheidsvegters van die ANC, wat die meer geslote,
nieraadplegende en beperkte deelnametradisie verteenwoordig, besit die vermoë
om die land en die ANC ’n nuwe era in te lei waarin die demokrasie verdiep en
groei meer eweredig versprei moet word. Dit is helaas dikwels die oomblik
waarop nuwe demokrasieë onklaar raak en groot politieke bewegings by die nate
lostrek. Leiers is traag om die leierskap af te staan, sodat nuwe bloed, energie,
denke en benaderings nie ingebring word nie. Die gevolg is dat die beweging
verstok; dieselfde ou mense met dieselfde ou manier van doen; dieselfde ou
denkbeeldige griewe voer vir nog ’n generasie die botoon. En tog, ironies
genoeg, het die leierskap self en die beweging die grondslag vir die
vooruitgang gelê, maar deur hul vermoeide aanblyery hou hulle die land, die
nasie en die party self gestrand. Dit was nog die lot van feitlik elke
Afrikabevrydingsbeweging. ’n Gunstige teken is darem dat dit lyk of daar agter die skerms inisiatiewe
is om sowel Mbeki as Zuma te probeer oorreed om opsy te staan sodat daar jong
bloed kan inkom. Wat ANC-Vroueligapresident Nosiviwe Mapisa-Nqakula noem: “ons
moet ’n middeweg vind”. Maar hierdie inisiatiewe skyn ongekoördineer te wees.
As daar ’n deurbraak sou kom, bied Tokyo Sexwale, voorheen van Gauteng, hom
energiek aan as die ideale kompromiskandidaat. Maar daar is ook swaar teenkanting van binne sowel die Mbeki- en Zuma-kampe
om die presidensiële wedloop tot ’n tweestryd tussen Mbeki en Zuma te beperk,
terwyl sommige invloedryke lede van albei kampe vrees dat hul belange benadeel
kan word deur ’n ‘kompromis-‘ derde kandidaat, wat dalk net die ANC uit die
verskanste belange van die tans dominante Mbeki- en Zuma-drukgroepe wil vee. Diegene wat teen ’n derde uitweg, gekant is, voer aan dat indien Mbeki of
Zuma die oorwinning behaal, daar ’n beter kans is dat die wenkant nie die
verskanste belange van die verloorkant uit die saal sal lig nie, veral as dit
vir die een kandidaat ’n naelskraapse oorwinning is, en dat die wenner van die
presidensiële wedloop na die Desember 2007-konferensie verplig sal wees om die
ander kant te akkommodeer om die eenheid van die ANC te bewaar. ’n Mens kan eintlik begrip daarvoor hê dat Ramaphosa huiwerig is om tot die
presidensiële wedloop toe te tree. Na sy benoeming by die ANC-tak in Rondebosch
het Ramaphosa geweier om in die openbaar te bevestig of hy die benoeming gaan
aanvaar, maar in plaas daarvan het hy in ’n openbare vergadering aan die
Universiteit van Venda opgemerk: “Ek wil nie in die verkeerde wedloop eindig
nie”. Die ‘verkeerde wedloop’ is natuurlik dat, as die presidentsverkiesing op
’n wedloop tussen hom en Mbeki uitloop, ’n heruitspeling van meer as ’n dekade
gelede sal wees toe hy die opvolgstryd van die voormalige ANC-president Nelson
Mandela in ’n ewe verbete, vuil verkiesingsveldtog verloor het. Dit sou wys wees as Ramaphosa ’n vaste onderneming kon kry, of anders wag
vir die verskillende ANC-ringkoppe en rade om tot ’n vergelyk te probeer kom in
hierdie spanningsvolle atmosfeer en van beide Mbeki en Zuma ’n onderneming kan
kry om hulle te onttrek. As dit nie gebeur nie, sal dit die verstandigste opsie
wees om te hoop Mbeki wen vir Zuma, en te wag tot 2009 waneer Mbeki in elk
geval die presidentsamp moet neerlê. Maar so straf is die spanning tussen die verskillende kampe in die ANC tans
dat ’n mens niemand beny wat probeer om Mbeki en Zuma in hierdie broedertwis
tot hul sinne te bring nie. Nie Mbeki of Zuma sal waarskynlik onttrek nie,
tensy die een ’n klinkklare waarborg het dat die ander dit ook sal doen. Albei
het waarskynlik ’n hele lys van eise waaraan voldoen sal moet word. Zuma sal byvoorbeeld heelwaarskynlik immuniteit teen vervolging verlang,
die een of ander gewaarborgde leierskapsposisie wat by sy statuur pas, asook ’n
bestendige inkomste. Mbeki sal ewe moeilik wees. Die Kaptein sal waarskynlik
slegs oorweeg om hom te onttrek as Zuma dit ook doen, en dan heelwaarskynlik mits
hy een van sy beskermlinge wat dit swaar sal vind om in ’n ope wedloop teen
Zuma te wen, in die presidentsamp van die land kan stoot. Die geringe sakie teen Ramaphosa en Tokyo Sexwale is dat hulle nie Mbeki se
beskermlinge is nie. Mbeki se voorkeurkandidate is skynbaar óf Nkosazana
Dlamini-Zuma, minister van buitelandse sake, óf Suid-Afrika se adjunkpresident
Phumzile Mlambo-Ngcuka. Sy reserwekandidaat is blykbaar Joel Netshitenzhe, die
deeglike beleidstsaar van beide die regering en die ANC. Sexwale se strateë het lankal voelers uitgestoot na Zuma om alternatiewe
aanbiedings voor te stel, soos: ondersteun die Sexwale-veldtog en verkry
immuniteit teen vervolging, ’n sagte landing en ’n vrye keuse tussen die poste
wat hy verlang – behalwe natuurlik die presidentsamp. Die Sexwale-kamp weet
waarskynlik dat Zuma nie nou in die openbaar uit die wedloop kan tree of vir
Sexwale kan steun nie. Hulle dink egter daar kan tot ’n vergelyk gekom word
tydens die ANC se Desemberkonferensie self, wanneer ’n nuwe rondte van
afdingery sal aanbreek. Dit kom voor of Ramaphosa wil wag
en kyk of Mbeki en Zuma opsy gaan staan. Maar klaarblyklik is Zuma, nes Mbeki,
seker bekommerd dat indien Ramaphosa die president van die ANC word, hulle dalk
nie ’n waterdigte waarborg sal hê dat hy hulle met welwillendheid sal bejeën
nie, gedagtig aan sowel Mbeki as Zuma se pogings sedert die middel 1980’s om
hom te marginaliseer. Sexwale kan dalk gesegliker wees. Dis nie baie verbasend dat die
presidensiële aspirante oënskynlik nie bekommerd is oor die taknominasies wat
deur Mbeki en Zuma oorheers word nie. Dit is omdat ’n ooreenkoms dalk nog
aanmekaargeslaan kan word om aan die konferensie voor te lê vir stemming.
Boonop kan nominasies nog by die konferensie self ingedien word. Hoewel takke hul afgevaardigdes gestuur het om volgens hulle (die takke se)
voorkeur te stem, is daar ’n nuwe reël wat op die ANC se 2002-konferensie
aanvaar is, waarvolgens individuele lede nie verplig is om op instruksies van
die huis af te stem nie. Buitendien gaan 50% van die kiesers vroue wees. Hoewel
baie takke dus vir Zuma genomineer het (sê byvoorbeeld omdat die stemmewerwery
van die vroue in die tak met die plaaslike nominasieproses tweede gekom het),
kan die vroulike lede by die konferensie self terugkom en teen Zuma stem. Hierdie moontlikheid vorm skynbaar die basis van Mbeki en sy strateë se
berekenings: dat ofskoon Zuma die straatsteun geniet en soos ’n tsunami deur
die ANC se taknominasies trek, die werklik individuele ANC-kiesers van wie die
helfte vroue is, en ’n klomp mans van die ANC-establishment raadslede,
professionele mense, dalk nie vir hom gaan stem nie. Nogtans sal dit ’n verlore
kans wees as daar nie by die ANC en die land ’n generasie-ommeswaai plaasvind
nie. Of Mbeki herkies word en of Zuma wen, beteken natuurlik nie dat die land in
duie gaan stort nie; bloot dat ’n skitterende oomblik om nuwe lewe in die land
se demokrasie, ekonomie, sy wankele nasiebouprojek te blaas, die maatskaplike
weefsel te herstel en weer nuwe idees na vore te bring, deur die vingers geglip
het. |