blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Ivoorkus: Stadig, maar seker 2007-12-11
Michel Galy

*Politieke wetenskaplike en navorser aan die Sentrum vir Konflikstudie (Parys). Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]

“Abidjan het ’n stad geword sonder enige Wittes!” verklaar ’n Beninese besoeker op hierdie Oktoberoggend. Inderdaad kom dit voor of die hoofstad van die Ivoorkus in die bestek van enkele jare ’n groot verandering ondergaan het (1). Die ergste gebeure van November 2004, toe die Franse weermag losgebrand het op ’n groep betogers voor die Ivoire-hotel en 67 persone dood agtergelaat het, het die Franse genoop om meer omsigtig te werk te gaan. Die Libanese handelaars en die Chinese sakemanne het hulle plek ingeneem. Hierdie nuwe atmosfeer dui op ’n nuwe politieke orde, selfs omverwerping van interne en internasionale verbintenisse.

Dit lyk of Abidjan, in sy oorbevolktheid weens die instroming van ’n miljoen verplaaste mense uit sones onder beheer van rebelse magte in die noorde van die land, en verarm deur vyf jaar van oorlog en ontbering al die slegte eienskappe van Afrika se megastede in hom versamel. Die Nyama-nyama, uitskot van elke kleur en geur, dring die populêre gebiede binne. Die sensasionele affêre van die Probo-Koala, ’n Nederlandse skip van die Trafigura-maatskappy (2) wat doelbewus uiters giftige chemiese afval in Abidjan gestort het, is maar een voorval wat van die wandade van ’n sekere globalisering getuig, soos die geval ook is met die ineenstorting van Afrikastate se apparatuur.

Die besoedeling van die lagune, die gebrek aan suiweringsaanlegte, die nywerheidsafvoer wat gekombineer word met anargistiese verkeerstoestande en wanordelike stadsbeplanning: vir die laer klas van die Ivoorkus, wat desnieteenstaande onteenseglike lewenskrag openbaar, is dit doodnormaal om rond te beweeg tussen gbaka (klein vervoerbussies), woro woro (gemeenskaplike taxi’s) en ander “cafés noirs” (huurmotors) wat oor gans onbegaanbare paaie versprei is.

“Abidjan is rustig ...” lui die moderefrein, en dit is nie net die uitbundigheid van die sogenaamde “coupé-décalé” musiek, wat ewe maklik na die buiteland uitgevoer kan word as die ritmes van Kameroen of die Kongo nie. Nog minder is dit omdat die Bracodi-bier in Rue Princesse en in ander warm nagplekke vloei. Dit is eerder omdat die bevolking, wat moeg is vir oorlog, sy hoop en lewenslus herontdek. Dit gaan ook gepaard met nuwe bronne van ongeduld: benewens die verkiesings – die presidentsverkiesing, wat altyd verder uitgestel word, behoort nou eers in 2008 plaas te vind – is dit die “vredesdividende” waarop daar gewag word.

Sedert die onverwagse vredesverdrag van Ouagadougou (Burkina Faso) op 4 Maart 2007 onderteken is, het die ondenkbare plaasgevind: die oud-leier van die rebelle, Guillaume Soro, het die nuwe eerste minister van president Laurent Gbagbo geword, wie se wettigheid hy sedert die debatteerbare verkiesing van 2000 betwis het (3). Die verdrag voorsien ook die ontwapening van die burgermagte en die identifikasie van die kiesers deur middel van “openbare identifikasieverhore”, ’n voorvereiste vir die presidentsverkiesing.

In Afrika is konflik dikwels ’n wonderlike weg vir die jonger geslag om die ouer een op te volg en – vir die marginale en die rebelle – ’n manier om ryke en state te herstig. Die marginalisering van ’n jeugbevolking wat groter en groter word, maar nie grond besit nie (4) en van formele werksgeleenthede weerhou word, vorm die teelaarde van die noordelike rebelle en die nasionalistiese onrus in die Suide.

Die uitsluiting van jong graduandi verduidelik die gelyksoortige optredes van enersyds Charles Blé Goudé, leier van die “jong patriotte” aan die kant van Laurent Gbagbo, en andersyds van Soro wat, volgens die kras opinie van ’n minister uit die presidensiële beweging “sy eerste salarisstrokie gekry het van die primature” (die eerste minister se kantore). Sulke verskynsels kom ook elders op die vasteland voor (5).

Die “vrede van die dapperes” wat in Ouagadougou onderteken is, paradoksaal soos dit mag klink vir ’n buitestander, is op ’n “internalisasie van konflik” gebaseer. Die rolspelers in die krisis staan buitemagte teen wat pogings van internasionalisasie lei; in teenstand met vorige verdrae, is Burkina Faso die enigste vredesmakelaar (6). Sommige rolspelers vanuit die Ivoorkus plaas Franse invloed in dieselfde klas as ekspedisiemagte en die Verenigde Nasies ...

President Gbagbo het reeds in November 2006, in die naam van nasionale soewereiniteit (7) die bekragtiging van ’n VN-resolusie, uit Franse geledere afkomstig, ineen laat stort. Dit was bedoel om, tot sy eie nadeel, die magte te versterk van die indertydse eerste minister, Charles Konan Banny, wat aangestel is deur “die internasionale gemeenskap.” Gbagbo het ’n ongekende wapen gebruik: die Grondwet, wat in 2000 deur byna al die politieke magte goedgekeur is, waaronder die Republikeinse Party (RDR) van die emblematiese opposisieleier Alassane Ouattara.

Die politieke landskap van die Ivoorkus ondergaan tans ’n totale omwenteling wat die daarstelling van ’n verkiesingsproses wat vir almal aanvaarbaar sou wees, bemoeilik. Die klassieke ontleding stel drie “groot blokke” teen mekaar op ’n geografies-etniese vlak, elkeen verteenwoordig deur ’n party en ’n leier: Félix Houphouët-Boigny se selfaangewese opvolger Henri Konan Bédié lei die Demokratiese Party van die Ivoorkus in die Ooste, waar die Akan en die Baoelé woonagtig is; in die Weste stem die Kroe en die Bété-kern ooreen met die Ivoorkus se Patriotiese Front (FPI) van Gbagbo, en uiteindelik sal die Djoela in die Noorde vir Ouattara se RDR stem. Gerieflik en simplisties, lei hierdie skema (wat die verregse “denkers” voorstaan) tot afleidings wat dateer uit ... die negentiende eeu: dit ken aan elke “politieke leier” sy “etniese gewig” toe, dié van sy “streeksblok”.

Die skema raak egter effens meer ingewikkeld. Die rebellie het outonoom geword: Soro het nie sy eie party nie, maar sy taktiese verbintenis met die president kan ’n aantal stemme uit die Noorde laat verskuif – in die Senoefoe-gebied voel die Malinké baie nader aan die “oud-militêre kommandant”; sersant Ibrahim Coulibaly, wat by die blitsopstand in 1999 betrokke was wat Bédié sy mag laat verloor en in September 2002 die rebellebeweging geïntegreer het, is gekant teen Soro. Hy is vandag gemarginaliseer.

Maar in weerwil van ’n immerteenwoordige gevoel van etniese identiteit het die geografie van die bevolking verander: meer as 50 % van die bevolking van die Ivoorkus bly in stede, sekerlik nóg meer indien die “D.G.” oftewel oorlogverplaastes bygereken word. Al is ongeveer die helfte van die hoofstad van Djoela-oorsprong, het sommiges nie stemreg nie (omdat hulle burgerskap van Burkina Faso of Mali het). Etniese bande swig al hoe meer voor klasbande, of neig tot navolging van charismatiese leiers.

Dit is terloops die weddenskap van president Gbagbo, wie se kandidatuur by die volgende presidentsverkiesing ondersteun sal word deur ’n wye platform wat die FPI, oud-lede van die RDR en die PDCI, sowel as oud-rebelle insluit. Hy poog om ook klein partye saam te snoer en/of die amptelike kantore se “nagtelike besoekers” by te bring, duister agente wat omgekoop is deur petrolium- en kakaogelde. Die president trek voordeel uit die gewig van die apparatuur van die Staat, uit gunstige media en uit sy persoonlike vasberadenheid: teenstanders en diplomate erken albei sy eienskappe as “politieke dier”. Maar hierdie nuwe politieke spel kwel ’n gedeelte van die presidensiële gevolg: tussen wettige stemming en magsverwering het die ou marxisties-leninistiese front, wat die FPI van Gbagbo gestig het, in der waarheid verander in ’n regeringsparty, met al die kompromieë en versoekings wat daarmee saamgaan.

Die president van die nasionale vergadering, die FPI-ekonomis Mamadou Koulibaly, het ’n regime veroordeel wat volgens hom ’n baster is en gekenmerk word deur die uitskot van korrupte “grondboontjiebraaiers”. Hy betwis die sogenaamde “rebfondation”, oftewel die onnatuurlike verbintenis met die rebelle.(8) Krities jeens die begrotings van die presidensie en van die kantoor van die eerste minister, wat deur uitvoerhulpbronne toegelaat word (en in rebellesones, deur die mees diverse maniere van handeldryf), druis hierdie politieke pad, sonder om dit direk te stel, in teen die verdrae van Ouagadougou – in elk geval teen hulle politieke implikasies.

President Gbagbo, wat daaraan gewoond is om hase uit ’n hoed te pluk, het hierdie kritici na sy kant geswaai toe hy in Oktober 2007 ’n teenkorrupsieoperasie in die koffie-kakao-bedryf aangekondig het waarvoor hy persoonlik verantwoordlikheid neem – en dit is broodnodig! Die Ivoorkus se landbouers ontvang slegs 20 % van die prys van hierdie uitvoergoedere, terwyl dit in Ghana 72 % is. Caistab, die stabilisasiefonds wat die pryse reguleer (9) het gevolg – op aandrang van die ondersteuners van privatisering van die sektor – op ’n reeks korrupte en roofsugtige tussengangers.

Die groot plan van die Gbagbo-bewind, wat sy oorspronklike ideologie laat herleef, blyk egter die skepping van ’n “burgerdiens” te wees met ambisieuse doelwitte: die verskaffing van opvoeding en salarisse aan oud-vegters en beter bereiking van die gemarginaliseerde jeug, asook werkloosheid in die stede en landbouers sonder grond. In ’n eksklusiewe onderhoud stel president Gbagbo ons voor aan hierdie innovasie vanuit ’n Keynesiaanse perspektief: die burgerdiens moet bydra tot die totstandkoming van groot stadswerke wat omgewingsagteruitgang, onsanitêre geriewe en onveiligheid in die hoofstad sal teenwerk.

Sal dade volg op hierdie towerwoorde? Dit is sekerlik die geval met die inkomste uit olie, die verwagte hervatting van internasionale befondsing en die uitvoering van ’n post-konflik-plan wat dit sal moontlik maak om twee vlieë met een klap te slaan: deur die probleem van die Ivoorse jeug aan te spreek, sal die ekonomie ’n hupstoot gegee word, en duidelike resultate sal uiteindelik behaal word vir diegene wat die armste is en die hardste getref is deur die oorlog. Ander wonderlike en simboliese gebare is gemaak om ’n gevoel te herstel wat gunstig sou wees vir “Ivoorse” dialoog: gewere is verbrand by Bouaké(10), die vesting van die rebelle; Soro is in die hart van die land se Bété-streek verwelkom; die verblyf-visum van die groot gemeenskap uit Burkina Faso is afgeskaf om die Djoela-stem te kry en beskuldigings van xenofobie te weerlê.

Maar die ewige uitstel van die verkiesings en die poging tot moord (steeds onopgelos) op Soro by Bouaké se lughawe in Junie 2007 wys dat die versoeningsproses broos bly: die gewelddadige verwydering van ’n hoofrolspeler sou die stryd weer laat opvlam het. Aan die ander kant lyk dit asof daar groter vriendelikheid tussen Frankryk en die Ivoorkus is, wat sekerlik Burkina Faso se ommekeer tot gevolg gehad het: ’n land wat van oorlogstoker tot vredemaker oorgegaan het. Die Franse president Nicolas Sarkozy, wat Ouattara ondersteun het, het nogtans aan Gbagbo duidelike tekens van vriendskap getoon, in kontras met Jacques Chirac se afsydige gedrag.

Dit lyk selfs moontlik dat die Ivoorse staatshoof na Parys gaan reis, en dan sal die tyd beslis aanbreek vir uitgebreider samesprekings: ’n einde aan die wedersydse beskuldigings ná die bloedbad van 2004 en vergoeding aan die slagoffers; ’n hervatting van medewerking en toegang tot die Ivoorkus se olie; onttrekking of vermindering van die Licorne-eenhede en die troepe van die Verenigde Nasies se bedrywigheid in die Ivoorkus (Onuci). Die gebied is reeds “verenig” danksy die verdwyning van die “sone van vertroue” tussen die Noorde en die Suide wat deur Franse soldate met blou helms gepatrolleer is.

Hierdie nuwe situasie mag die sukses beteken van ’n sentristiese lyn wat Gbagbo wil verteenwoordig, tussen die “kollaborateursbeweging” van die ondersteuners van wyle Houphouët-Boigny, wat met Parys wil saamwerk, en die kanniedoods wat verteenwoordig word deur die “harde” FPI wat paradoksaal met die militêre rebelle saamwerk. Teenoor Gbagbo mik die opposisie op ’n alliansie tussen ’n vis en ’n haas: die ondersteuners van Houphouët-Boigny sluit die PDCI en die RDR in, waarvan die leiers mekaar hartlik verpes – Bédié, stigter van suiwer Ivoorkus-etnisiteit (“ivoirité”) het alles probeer om Ouattara uit die politieke spel te sluit.

Wat die “burgergemeenskap” aanbetref, het die konflik dit baie verswak. Sommige vakbonde wat vantevore reaktief was, soos Dignité of ander organisasies wat menseregte verdedig, is nou naby aan die magshebbers, of in die departemente gekoöpteer. ’n Pluralistiese media ontwikkel egter wel: die “blou” pers is die regering gunstig gesind; die “rooi” pers, weer, die opposisie. Berigte van dwarsoor die wêreld word gebruik: die rubrieke van Le Monde en die artikels van Jeune Afrique word woord vir woord weergegee; die uitsendings van die BBC, Africa nr 1 en veral Radio France Internationale (RFI), wat baie deur die opposisie ondersteun word, word lewensbelangrik in tye van krisis.

Daagliks lewer waarnemers en ander platsak-verslaggewers onophoudelik kommentaar op die geringste brokkie inligting of waninligting. Hulle ontleed die spontane forums en “senate”(11) van die woonbuurte. ’n Hele Afrika-mediologie (12) bestudeer sonder ophou hierdie media; talentvolle filmmakers soos Sidiki Bakaba maak dokumentêre films oor die gevegte, soos La Victoire aux mains nues, wat handel oor die bloedbad van die Ivoire-hotel. Hulle wil kameras gebruik, nes hul voorsate destyds met onafhanklikwording die pen gebruik het om hulle uit te druk.

__________

(1) Lees Colette Braeckman, “Aux sources de la crise ivoirienne”, Manière de voir, no 79, “Résistances africaines”, Februarie-Maart 2005

(2) Hierdie boot het vanaf Amsterdam vertrek en in September 2006 petroliumafval, waarvan die hoë vlak van giftigheid bekend was, na Abidjan gebring en die dood en besering van talle inwoners van die stad veroorsaak.

(3) Die presidentsverkiesing het plaasgevind op die grondgebied van Ivoorkus-etnisiteit (“ivoirité”), wat sommige kandidate van die wedloop uitgesluit het, onder andere Alassane Ouattara. Dit het ’n ysterhand met die vorige magsbedeling tot gevolg gehad, en is onmiddellik bestry.

(4) Die grond, onverstandig toegestaan deur Félix Houphouët-Boigny “aan enigiemand wat dit bewerk” (hoofsaaklik die vyf miljoen migrante uit die Sahel-streek), het skaars begin raak. Vir meer oor die diepliggende dimensie van die konflik en die situasie van die grondlose jeug, lees Jean-Pierre Chauveau, “Question foncière et construction nationale en Côte d’Ivoire”, Politique africaine, nr 78, Parys, 2000.

(5) Vir meer oor die geval in Sierra Leone, lees Paul Richards, Fighting for the Rain Forest, James Currey, Londen, 1996.

(6) Vgl. “Qui gouverne la Côte d’ivoire?”, Politique étrangère, nr 4, Parys, 2005.

(7) Lees Anne-Cécile Robert, “Afrika: droom van ’n tweede onafhanklikheid”, Die Vrye Afrikaan, 17 November 2006.

(8) Mamadou Koulibaly, “Le blues de la République”, Fraternité Matin, Abidjan, 4 Augustus 2007.

(9) Lees Anna Bednik, “ Tempête sur le cacao de Côte d’Ivoire ”, Le Monde diplomatique, Julie 2006.

(10) Binne die raamwerk van die toepassing van die Ouagadougou-verdrae het die ontwapening van die burgermagte begin met die seremoniële vernietiging van wapens.

(11) ’n Noemnaam in die Ivoorse hoofstad vir openbare saamtrekke van die stad se jeugbevolking.

(12) Vgl. Die webwerf van die jong Frans-Ivoorse medioloog, Calixte Tayoro: Couper, copier, coller, http://coupercoller.wordpress.com Kyk ook Acrimed, “Journalisme de guerre: retour sur la “crise ivoirienne” de novembre 2004”, www.acrimed.org/article2124.html en die swaar kritiek van Daniel Schneidermann, “En Côte d’Ivoire, le journalisme en uniforme”, Libération, Parys, 12 November 2004.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=938
Artikel nagegaan:
    -