blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die genesende drama van menswees 2007-10-18

Danie Goosen se monumentale werk Die nihilisme: notas oor ons tyd het pas by PRAAG verskyn. Die Vrye Afrikaan het met hom in gesprek getree oor hierdie sonderlinge boek.

 

Die Vrye Afrikaan: Gegewe die betreklik klein Afrikaanse filosofielesersgehoor, waarom het jy hierdie omvattende filosofiese werk in Afrikaans geskryf?

Danie Goosen: Die vraag handel in wese oor die dilemma waarvoor kleiner tale vandag te staan gekom het. Die verleiding is groot om vanweë hul kleiner lesersgetalle die afleiding te maak dat ’n mens slegs in ’n groot taal soos Engels kan skryf. Dit sou egter kortsigtig wees. Dit maak steeds sin om te midde van die mag van Engels met sy sogenaamde ‘planetêre’ kommunikasieruimtes ook in die kleiner tale te skryf. Maar waarom?

Die antwoord daarop lê opgesluit in iets soos die nuutgevonde vermoë van die kleiner tale. Terwyl die globale verhoog toenemend deur ’n soort lewelose abstraktheid gekenmerk word (vergelyk die markgerigte, kontraktuele en onpersoonlike aard daarvan), word die kleiner tale gekenmerk deur hulle vermoë om die lokale en die unieke aan die woord te stel. En is dit nie juis dáár waar die sinvolle vandag gebeur nie?

Daarby is dit glad nie meer so ’n ondubbelsinnige feit dat Engels ons toegang tot ’n groter gehoor gee nie. Vanweë die massale ooraanbod in Engels verdwyn miskien die meeste werke in ’n bodemlose put. Hier lê ’n geleentheid vir kleiner tale om nog ontgin te word.

 

DVA: Jou hoofteiken in die boek is die nihilisme. Wat is jou definisie van die nihilisme, en hoekom beskou jy dit as die belangrikste probleem van ons tyd?

DG: Vir my draai die nihilisme rondom die dwang tot ontbinding waarin “gemeenskap” in die moderne wêreld gedompel word. Ingevolge sy uitgangspunte en oogmerke stel die moderne wêreld homself teen die feit van gemeenskap op. Dit is ’n vyandskap wat in vele opsigte deur die postmodernisme in sy neo-liberale gedaante verhewig word. In dié vyandskap lê die wese van die nihilisme opgesluit.

             Maar ja, uiteraard is die vraag wat met die woord gemeenskap bedoel word? Die fokus in die werk is nie in die eerste plek op die veelheid van historiese gemeenskappe waarmee antropoloë hulself byvoorbeeld besighou nie. Die fokus is eerder op dié gemeenskap wat alle historiese gemeenskappe voorafgaan (en selfs moontlik maak), naamlik die gemeenskap wat die werklikheid self is.

Anders geformuleer: Die fokus van die werk is op die gemeenskap tussen die geheel van dit wat is en die veelheid van haar dele. Gemeet daaraan kan die nihilisme verstaan word as dié beweging in die geskiedenis waarvolgens die gemeenskap wat die werklikheid self is (en altyd weer word) deurbreek en die veelheid van dele aan ’n proses van isolering, atomisering en kontrole onderwerp word. In die werk word by sowel die modernisme as die postmodernisme stilgestaan. Telkens word aangevoer dat beide ten diepste deur die nihilisme gestempel word. Beide verloor ’n sig op die gemeenskap van dinge deur dele daaruit te abstraheer en aan ’n proses van beheer en toe-eiening te onderwerp. In watter sin?

In die modernisme word die gemeenskap wat die werklikheid is, verbreek deur ’n dualistiese splitsing tussen die dinge in te dryf. Soos byvoorbeeld blyk uit die tipiese spanninge eie aan die moderne wêreld, naamlik die spanning tussen die subjek en die objek, tussen die transendente en die immanente, die sublieme en die skone, die denke en die liggaam, die geskenk en die ekonomie, ensovoorts.

In verskeie variante van die postmodernisme word óf kontinuïteit aan bogenoemde moderne dualismes gegee, óf die werklikheid as gemeenskap word ingeplof deur die veelheid van dinge in ’n soort monistiese eenheid te versink. Hoe gebeur laasgenoemde? Deur die veelheid wat die werklikheid kenmerk van hul gemeenskap met die geheel los te knoop. Daarmee word hulle tot blote beelde vervlugtig wat betekenisloos op ’n afgrond ronddobber. Dié vervlugtiging het tot gevolg dat alles – nogal in die naam van ’n beroep op veelheid – in die postmoderne tot ’n soort dodelike eenstemmigheid gereduseer word. Die neo-liberale mark, waarin alles as blote verbruikbare artikels verstaan word, is die ekonomiese manifestasie daarvan. Terwyl die mark homself aanbied as ’n meganisme wat borg staan vir die veelheid, bied hy slegs méér van die betekenislose selfde.

In die werk word in antwoord op die nihilisme aangesluit by wat ons die “ander moderniteit” noem. Dit is ’n moderniteit waarin die gemeenskap wat die werklikheid is as uitgangspunt aanvaar word. Anders as met die moderne dualistiese verbreking van gemeenskap en die postmoderne monistiese inploffing daarvan, word dié gemeenskap bedink as ’n twee-eenheid tussen die geheel en die dele, tussen die onpeilbare en die vormlike, die sublieme en die skone, die geskenk en die ekonomie, ensovoorts. Die versugting wat daarin opgesluit lê, is om heen te wys na (of wenke na te laat van) ’n ervaring met die werklikheid anderkant die nihilisme...

    

DVA: Een van die verrassende skuiwe van jou boek, is dat jy ’n erotiese opvatting van die werklikheid voorhou, en wel vanuit die Christelike tradisie. Hoe sien jy die werklikheid in erotiese terme?

DG: Die gedagte van “deelname” is ’n soort verbindingslyn tussen alles wat in die werk oor die werklikheid as gemeenskap (of die verlies daaraan in die epog van die nihilisme) geskryf word. In spanning met die nihilisme word die werklikheid as ’n deelnemende gemeenskap verstaan. Marlene van Niekerk verwoord dit voortreflik wanneer sy in Memorandum onder meer skryf: “Alles moet bemiddel word, die grote deur die kleine, deur deelname en deur spieëling en vertaling...”

             Die strategie wat in die werk gevolg word – ’n strategie wat gewis nie deur geharde moderniste en hulle postmoderne erfgename aanvaar sal word nie – is om oor die werklikheid as deelnemende gebeure vanuit ’n beroep op die Griekse en Christelike metafisiese tradisies te dink. Wat my onder meer daarvan boei, is die wyse waarop Plato en – in navolging van hom - latere Christelike denkers uit die Middeleeue die deelnemende werklikheid as ’n erotiese gebeure ervaar het (en nie soos in die modernisme as ’n kille monster van onverskillige kragte nie).

As ’n mens die nihilisme vanuit hierdie perspektief beskryf, kan gesê word dat dit na dié projek verwys waarvolgens die dinge van hul erotiese deelname aan die werklikheid geïsoleer moet word. In die modernisme is dit dan ook nie die “erotiese uitreik na en deelname aan” die werklikheid wat belangrik is nie, maar eerder die atomisering van die dinge in ’n soort afgeslote of narsissistiese toestand. Dit is ’n toestand waarin die self altyd weer net homself aantref. In hierdie sin steun die moderne liberalisme en sy neo-liberale variante op onerotiese uitgangspunte. Die atomistiese individu is hier die uitgangspunt en nie die eroties-deelnemende gemeenskap nie. As daar dan ook hoegenaamd van iets soos gemeenskap in dié tradisie sprake is, is dit ’n gemeenskap wat slegs agterna by wyse van kontraktuele verbintenisse (dit wil sê kunsmatig of meganies) tot stand gebring word.

                    

DVA: Jy lewer ’n pleidooi vir die sogenaamde dramatiese gemeenskap? Wat is die dramatiese gemeenskap en waarom is dit vir jou so belangrik?

DG: Die boek vertrek vanuit die oortuiging dat die werklikheid as deelnemende gemeenskap altyd weer deur ’n veelheid van instellings bemiddel moet word. Die werklikheid is ’n institusioneel bemiddelde werklikheid. Sonder sy bemiddeling bly die werklikheid ’n geslote boek. In die werk word dan ook in die besonder op die dramatiese teater (die rite, die liturgie, ensovoorts) gefokus – en op alles eie daaraan, dit wil sê op dinge soos die masker, die spel, die spanning asook die ontknoping en verdiepte insig.

’n Mens sou natuurlik met reg kon vra hoe dit alles met die nihilisme verband hou? Die antwoord daarop is dat die nihilisme poog om die wêreld van dramatiese bemiddeling en die indirektheid wat dit vooronderstel met ’n toestand van direkte aanwesigheid te vervang. Vir die nihilisme is dramatiese praktyke ’n hindernis. Dit verhinder direktheid. Sy appèl is daarom ook gewelddadig: “Doen weg met bemiddeling, doen weg met die tussen-ruimte van die drama en die liturgie.” Ten grondslag van dié appèl lê die sug na direkte mag oor die dinge.

In die boek word daarna verwys dat Oedipus die mitiese voorloper van die moderne nihilisme was. Oedipus wou immers direkte en onbemiddelde insig in die werklikheid gehad het. Dit lei daartoe dat hy die rituele of dramatiese praktyke van sy stad met minagting behandel. Met tragiese gevolge.

 

DVA: Jy lewer onder meer ’n uitgebreide kritiek teen die territoriale nasiestaat, en verbind dit ook aan die moderne nihilisme. Hoe hou dit met Suid-Afrika verband?

DG: Die moderne territoriale staat kan gesien word as dié instrument waarmee die modernisme gepoog het om ’n direkte greep op die werklikheid te kry. Hoe? Deur dit te onderwerp aan wat Catherine Pickstock die moderne projek van geometrisering noem. Alles moet binne die koördinate van enkelvlakkige ruimtes ingeknoop en so aan die burokratiese beheer van die territoriale staat oorgelaat word. Daarmee is ’n proses ingelei ingevolge waarvan die veelheid van onder meer tale en kulture met hulle verwikkelde netwerke van mitiese en dramatiese bemiddeling omvergewerp is. Dit is ’n verhaal wat nog nie tot ’n einde gekom het nie. Inteendeel, die neo-liberale mark verleen vandag krag aan die wil tot planetêre geometrisering. Pas weer is voorspel dat die sowat 6 000 tale van die mensdom teen die einde van die eeu gehalveer sal wees. Ten grondslag daarvan lê die anti-dramatiese wil tot geometrisering.

             Waarskynlik is die mees wesenlike vraag wat ’n mens tans aan die Suid-Afrikaanse staat kan vra of hy nie ook besig is om ons werklikheid aan ’n proses van geometrisering te onderwerp nie. Ek sien min tekens wat op die teendeel daarvan wys.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=936
Artikel nagegaan:
    -