|
||||
Herman van Niekerk
Pat Metheny Die beste van die bestes bereik ons oewers…
Suid-Afrikaners kry in November die uitsonderlike geleentheid om een van die briljantste en veelsydigste kitaarspelers/komponiste/verwerkers en musikale denkers in die wêreld in ’n lewende uitvoering te sien, naamlik Pat Metheny. Die Pat Metheny Trio is hier vir drie optredes: in Johannesburg, Kaapstad en Durban. Hierdie uitsonderlike kunstenaar beweeg sedert 1974 op die jazz- en eietydse musiek- verhoë van die wêreld. In die meer as 20 jaar wat hy opnames maak en uitreik, is elke opname ’n unieke ongekategoriseerde fase in sy musikale uiting waarin ongekende skeppende energie na vore gebring word. Daar is omtrent geen aspek in die hedendaagse musiekmaakweë wat Pat Metheny nog nie ondersoek of betree het nie. Hy het Grammy-wennende albums geskep met sy bekende Pat Metheny Groep, klankbane vir rolprente, solo-albums, duette saam met kunstenaars soos Charlie Haden en Jim Hall, en medewerkings met musici soos Ornette Coleman en Steve Reich. Maar vir ’n sekere groep van sy “bewonderaars” is die definisie wat sy musikale groepering kry onder die naam van die Pat Metheny Trio, die waarste Jakob! (En dis hierdie groep wat te hoor gaan wees in Suid-Afrika – Pat Metheny, Christian McBride op bas en Antonio Sanchez op tromme). In dié trio-kombinasie staan veral die volgende CD’s van die Pat Metheny Trio uit: Bright Size Life – wat in 1975 opgeneem is (met Jaco Pastorius op bas en Bob Moses op tromme); Rejoicing – in 1984 opgeneem (met Charlie Haden as basspeler en Billy Higgins op tromme); en dan Questions And Answers – wat ’n byeenkoms was van die vinnigste musiek-improviseerders van die tyd: Pat Metheny, Roy Haynes (tromme) en Dave Holland (bas). Pat Metheny is op 12 Augustus 1954 in Kansas City gebore. Op agtjarige ouderdom begin hy trompet speel, maar in sy twaalfde jaar word kitaar sy hoofinstrument. As 15-jarige werk hy op ’n gereelde basis saam met die voorste jazzmusici in Kansas City, en kry só geleentheid om die beste “indiensopleiding” te ontvang waarvoor mens maar kan wens. Hy maak sy eerste buiging op die internasionale verhoog in 1974. Vir die daaropvolgende 3 jaar speel hy saam met die vibrafoon-speler, Gary Burton. In dié tyd vestig Metheny sy eie speelkarakter waarin hy sy gevorderde styl na vore bring, maar steeds diep wortels toon in die gevestigde jazztradisies van melodie, swing en blues. Met die uitreiking van sy eerste album (Bright Size of Life – 1975) het hy die tradisionele persepsie van ’n jazzkitaarklank laat ontvou in ’n nuwe klank vir ’n nuwe generasie kitaarspelers en luisteraars. Deur sy hele loopbaan poog Metheny steeds daarna om telkens nuwe definisie te gee aan sy spesifieke genre deur voortdurend nuwe tegnologie aan te wend om die improvisasie- en soniese vermoë van hom en sy instrument te verbeter. Metheny se veelsydigheid ken bykans geen gelyke in enige instrument nie. Van die grootste name het hy mee saamgewerk: Steve Reich, Ornette Coleman, Herbie Hancock, Jim Hall, Milton Nascimento tot David Bowie. Hy is deel van die tweeman skeppende-span saam met Lyle Mays (klawers) - vir reeds meer as twintig jaar. Metheny se eie komposisies sluit onder meer werke in vir solokitaar, klein ensembles, elektriese en akoestiese instrumente, groot orkeste, balletwerke, en met besettings wat strek van moderne jazz tot rock en klassiek. Alhoewel Metheny ’n bedrewe musikant in eie reg is, het hy ook as musiekopvoeder deelgeneem aan die akademiese arena. Toe hy maar 18 jaar oud was is hy aangestel as (die jongste) lektor by die Universiteit van Miami. Op 19-jarige ouderdom word hy die jongste lektor ooit aan die Berklee Musiekkollege – waar hy ook ’n ere-doktorsgraad in 1996 ontvang. Hy is ook ’n ware pionier in die milieu van elektroniese musiek, en was een van die eerste jazz-musikante wat die sintetiseerder as ’n ernstige musiekinstrument benader het – lank voor die geboorte van die MIDI-tegnologie. Hy was ook instrumenteel in die ontwikkeling van nuwe kitaarinstrumente soos die sopraan akoestiese kitaar, die 42-snaar Pikasso kitaar, die Ibanez PM-100 jazzkitaar en verskeie doelvervaardigde (toegepaste) instrumente. Erkenning vir sy werk het nie lank uitgebly nie. Hy is verskeie kere bekroon as ‘Beste Jazzkitaarspeler’. Hy het ook drie Goue Plate-toekennings ontvang vir (Still Life) Talking, Letter from Home en Secret Story. Hy het ook nie minder nie as 16 Grammy-toekennings ontvang in verskeie kategorieë. Die Pat Matheny Groep het nie minder nie as 7 agtereenvolgende Grammies gewen vir 7 opeenvolgende albums. Metheny spandeer die meeste van sy lewe op toer. Sedert 1974 gee hy jaarliks tussen 120-240 uitvoerings. Die Pat Metheny Trio tree in November slegs drie keer in Suid-Afrika op: Vrydag, 23 November by die Big Top Arena in Carnival City op die Oos-Rand, Sondag, 25 November in die Internasionale Konvensie-sentrum in Durban, en Dinsdag, 27 November in die Grand Arena van die Grandwest Casino in Kaapstad. Vir meer inligting oor die uitvoerings in Suid-Afrika, gaan na BigConcerts se webwerf www.bigconcerts.co.za. Besprekings is by Computicket: www.computicket.co.za.
Jannie du Toit Diep verlange – nuwe geestelike album pas uitgereik.
Jannie du Toit, wat hom oor die afgelope 35 jaar gevestig het as toonaangewende Afrikaanse liedjieskrywer en sanger, se album Diep verlange is pas by Maranatha uitgereik. Dit is ’n uiteenlopende versameling van geestelike musiek wat wissel van die Voortrekker-aandgesang verwerk deur Chris Lamprecht, tot ’n briljante Leonard Bernstein-komposisie van die laat 20 ste eeu – “Gloria tibi”. ’n Vertolking van Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu saam met Coenie de Villiers en Chris Chameleon is ’n verruklike hoogtepunt op die album, en deurentyd kom Christa Steyn se uitmuntendheid as verwerker en regisseur na vore, met pragtige lewende instrumentasie en koorwerk. Komposisies deur Christa en Jannie, asook Jannie se herbewerking van tekste soos “Oh Holy Night” en “Diep verlange” (Gesang 80) is te midde van skeppings deur Koos du Plessis en Anna Davel te hoor, asook ’n weergawe van “The Lord’s Prayer” soos dit elke Sondag in plaaslike gemeentes gesing word. Die orrelis op dié snit is die befaamde Wim Viljoen. Danksy Jannie se Christelike agtergrond en geloof het hy vroeg in sy loopbaan al ook oor geestelike tema’s geskryf. Hy het sulke liedere egter op sy sekulêre albums opgeneem, omdat hy homself as kleinkuns-sanger sien. Diep verlange is ’n album vir die musiek- en teksfynproewer, geïnspireer deur intense passie.
Inligting vir hierdie rubriek word voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk – [email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika. Die hoofdoel van die rubriek is om musiekinligting te kommunikeer waaraan mens nie noodwendig blootgestel word nie. Alle datums en tye was korrek by ter perse gaan. |