blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Antonioni en Bergman: dood van twee grotes 2007-10-18
André Crous

*Filmhistorikus en –ontleder.

 

Twee groot modernistiese filmmakers se lewenskerse is vanjaar op 30 Julie gesnuit. Ingmar Bergman en Michelangelo Antonioni se bykans gelyktydige afsterwe herinner ons aan hul bydrae tot die ontwikkeling van rolprente in die twintigste eeu. Hoewel hulle as regisseurs die afgelope twee dekades grotendeels buite aksie was, het albei se reusereputasies nooit toegelaat dat hulle heeltemal op die agtergrond geskuif word nie.

Die 1950’s en 1960’s was ’n tyd van wêreldwye vernuwing in die filmbedryf: Antonioni en Bergman, tesame met die Franse filmmakers van die Nouvelle Vague (“Die nuwe golf”), het ’n wesenlike rol gespeel in die grondlegging van modernistiese verfilmingsbeginsels. In ’n wêreld waar die kwade tussen 1939 en 1945 op groot skaal geseëvier het, moes daar besin word oor die toestand van die mens. In rolprente was daar ’n merkbare soeke na ware betekenis en ’n verwerping van maklike antwoorde, selfs al het hierdie besinning aanleiding gegee tot rou, onherbergsame atmosfere. Modernistiese films het vrae uit die regte lewe probeer beantwoord sonder om noodwendig ooit uitsluitsel te kry.

Ingmar Bergman, sonder twyfel die bekendste Skandinawiese regisseur van alle tye, is in 1918 in Swede gebore as die seun van ’n pastoor. Sy ouers se onstuimige verhouding is terloops die fokus van The best intentions, ’n uitsonderlike en diep ontroerende film wat Bergman self geskryf het en wat met die Goue Palm by die Cannes-filmfees in 1992 bekroon is.

In Bergman se The seventh seal en Wild strawberries (albei vervaardig in 1957), word moeilike metafisiese kwessies soos die soeke na God, die aanvaarding van die dood en die interpretasie van die lewe uiters bekwaam behandel.

In The seventh seal keer ’n kruisvaarder genaamd Antonius terug na sy vaderland, maar word oorweldig deur ’n gevoel van ontnugtering wanneer hy die gevolge van die Swart plaag oral rondom hom sien. Die Dood daag op om sy lewe te neem, maar Antonius oorreed hom om eerder ’n skaakwedstryd teen hom te speel en sy lot deur die uitslag te laat beslis. Wat volg, is ’n intense ondersoek na die betekenis van alle komponente van menslike bestaan. In Wild strawberries keer dr Isak Borg terug na sy ou universiteit, waar hy vereer gaan word; tydens die lang reis daarheen kyk hy terug oor sy lewe en probeer sin maak uit die gebeure, drome, fantasieë en verspeelde geleenthede. Persona, vrygestel in 1966, is ’n ander modernistiese meesterstuk waarin Bergman die rolprent as medium self bevraagteken en ons simpatieke verhouding met die karakters bespreek.

Michelangelo Antonioni is in 1912 in Italië gebore, en terwyl hy geput het uit die neorealistiese beweging wat die dryfkrag agter die befaamde na-oorlogse Italiaanse rolprentbedryf was, het hy uiteindelik meer intellektuele stukke gemaak, wat minder op die werkersklas gefokus het as die werk van mede-regisseurs soos Vittorio de Sica en Roberto Rosselini.



 

In Antonioni se L’Avventura, wat in 1960 uitgereik is, verdwyn ’n welgestelde vrou tydens ’n uitstappie op ’n eiland en word nooit weer opgespoor nie. Die soektog waarmee die film begin, vorder nie juis nie en selfs die karakters vergeet mettertyd om die soektog voort te sit. Daar is ’n vryheid van vorm en inhoud wat in die meer klassieke films van vroeër totaal en al afwesig was, en ’n onwilligheid om lewenslessies vir die kyker op te dis.

In teenstelling met die enorme sukses van Franse films in die 1960's, is Antonioni se werk dikwels deur kykers beskou as te ernstig en ontoeganklik. Die regisseursbewerking van Giuseppe Tornatore se Cinema paradiso bevat ’n toneel wat sy vinger plaas op die afstand tussen Antonioni se films en die skare filmkykers wat populêre eerder as intellektuele vermaak gesoek het: Aan die einde van ’n vertoning van sy Il grido (The outcry, 1957), word die rolprent in die teater luidkeels uitgejou deur ’n skare wat nie dié onkonvensionele film verstaan nie.

L’Avventura word vandag deur talle invloedryke filmpublikasies, soos die Britse Sight and Sound, beskou as een van die beste films van die twintigste eeu, en hierdie reputasie het Antonioni reeds in die 1960’s in staat gestel om films eers in Engeland en toe in die VSA te maak. Die interessantste projek was Blowup, wat (op ’n veel meer dinamiese wyse as Persona) deur die oë van ’n fotograaf, vertolk deur David Hemmings, die geloofwaardigheid ondersoek van die beelde wat deur ’n kamera vasgevang word.

Antonioni het ’n verbluffende vermoë gehad om die kamera uiters kreatief te gebruik; die doelbewuste kunsmatigheid van Zabriskie point se beelde (die storie behandel die verbruikerskultuur in die VSA) en die komplekse laaste skoot van The passenger (waar die kamera oënskynlik deur veiligheidstralies beweeg) is vandag nog asemrowend.

Wat het van die Italiaanse en Sweedse rolprentbedrywe geword na Antonioni en Bergman? Laasgenoemde het nog altyd die res van sy landgenote verdwerg, hoewel daar sporadies wel noemenswaardige produksies is: die jong regisseur Lukas Moodysson se films ondersoek belangrike maatskaplike kwessies, en in Suid-Afrika is Kay Pollak (byna sewentig jaar oud) se As it is in heaven na etlike maande steeds baie gewild onder kykers.

Met die Italiaanse rolprentbedryf het dit effens beter gegaan: Federico Fellini het jare lank die fakkel gedra as meesterfilmmaker, maar La dolce vita en die briljante dateer uit die vroeë 1960’s en hy het in die laaste dertig jaar voor sy dood in 1993 – met die uitsondering van Amarcord in 1973 – dikwels sy gehoor teleurgestel. Bernardo Bertolucci en Pier Paolo Pasolini het op hulle beurt die 1960’s en 1970’s gevul met interessante prente.



 

Meer onlangs het Roberto Benigni en Giuseppe Tornatore weer hoop laat opvlam met onderskeidelik Life is beautiful en Cinema paradiso, maar dié hoop was van korte duur en latere films het glad nie dieselfde sukses behaal nie. Nanni Moretti, regisseur van Dear diary en The son's room (wenner van die Goue Palm in 2001), blyk vandag Italië se enigste relatief belangrike regisseur te wees, hoewel sy naam waarskynlik by min mense ’n klokkie sal lui.

Ingmar Bergman het in 1970 ’n ere-Oscar ontvang vir sy werk, maar het (nes Alfred Hitchcock en Stanley Kubrick) nooit self ’n goue standbeeldjie as beste regisseur ontvang nie. Fanny and Alexander het wel ses Oscar-nominasies ontvang (’n ongeëwenaarde rekord vir vreemdetaalfilms by die Oscar-toekennings) en vier kategorieë gewen, waaronder beste kamerawerk en beste vreemdetaalprent. Hierdie half-outobiografiese film, waarvan die verkorte teatervrystelling drie uur lank was (in plaas van die verstommende vyf-uur-weergawe wat op DVD beskikbaar is), was een van sy grootste kommersiële suksesse.

Vanaf die middel-1980’s was albei regisseurs taamlik skaars. Antonioni, wat in 1995 saam met Wim Wenders Beyond the clouds geregisseer het, se laaste werk as regisseur was die kortfilm Il filo pericoloso delle cose (“Die gevaarlike draad van dinge”) wat saam met twee ander kortfilms (een deur Steven Soderbergh en ’n ander deur Wong Kar-Wai) ’n saamgestelde film getiteld Eros uitgemaak het. In hierdie film, Antonioni se laaste, loop die hoofaktrises meestal kaal rond, omring deur uiters oppervlakkige en banale simboliek soos ’n groot motor wat agressief deur ’n baie nou ingang probeer boor. Dit is ’n tragiese verleentheid: een van die grootste filmregisseurs van die twintigste eeu het ’n sagtefokusfilm gemaak wat laataand oor ’n naweek op e.tv vertoon sou kon word.

Ingmar Bergman het na sy amptelike aftrede as filmregisseur in 1984 steeds enkele televisiefilms geregisseer en After the rehearsal is so hoog aangeslaan dat dit op die kringloop geplaas is. So ook is Saraband – Bergman se eerste film geskiet met ’n digitale kamera en ’n opvolgprent tot sy briljante voorstelling van huwelikstruwelinge in Scenes from a marriage – na sy sukses op internasionale televisiekanale vrygestel in filmteaters.

Een van die modernisme se groot aktrises, Alida Valli, wat in talle Antonioni-prente gespeel het, is verlede jaar oorlede. Nou, met die gesamentlike dood van twee auteurs van die filmiese moderniteit, het dié tydperk finaal verstryk. Postmodernisme in rolprente maak al die afgelope tien jaar baie opgang, veral met betrekking tot die verwysingryke wêrelde van Quentin Tarantino se uitbundige films. Postmoderne rolprente probeer nie meer om ’n sekere boodskap aan ons te kommunikeer of om ons te distansieer sodat ons objektief en onbetrokke die situasie op die skerm kan bekyk en bedink nie; hulle gebruik alle vorige middele om ’n storie dikwels met verwysing na hulself te vertel en ons allereers te vermaak met die oudiovisuele speletjies wat hulle speel. Postmodernisme is dalk lankal reeds op die tafel, maar eers met die dood van hierdie twee groot meesters van die modernisme kan ons dié belangrike fase van filmgeskiedenis finaal vaarwel toeroep.

Bergman het ’n baie groot impak gehad op vandag se filmmakers: Woody Allen (veral ’n film soos September) en Todd Field (In the bedroom; Little children) is regisseurs in wie se werk die gees van Bergman opvallend is – ’n fynsinnige ondersoek na die emosionele impak van aksies (veral binne ’n verhouding), uitgevoer met ’n baie beperkte rolverdeling.

Kondig die dood van die laaste suiwer modernistiese rolprentmakers die einde aan van die rolprent as ’n medium waarmee ernstige sake soos die lewe en die dood, die soeke na God en menseverhoudings bespreek kan word? Natuurlik nie: daar is immers nog baie vrae wat onbeantwoord bly, en vandag is die postmodernistiese invalshoeke legio. Toe neorealistiese films soos The bicycle thief in die laat 1940’s gemaak is, sou niemand kon raai waarheen Europese films op pad was nie.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=933
Artikel nagegaan:
    -