|
||||
Bruce Cumings
*Professor in geskiedenis aan die Universiteit van Chicago, skrywer van North Corea, Another Country, New York: The New Press, 2004. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Die tweede ontmoeting tussen die leiers van die twee Koreas, wat vandeesmaand in die Noord-Koreaanse hoofstad, Pjongjang, plaasgevind het, maak deel uit van die versterking van betrekkinge tussen die twee lande en stel ’n beslissende draaipunt in verhoudings tussen Pjongjang en Washington in die vooruitsig. Die spitsberaad, wat aanvanklik in Augustus sou plaasvind, is uitgestel vanweë die oorstromings in Noord-Korea. Maar in werklikheid moes die beraad al ses jaar gelede gehou gewees het. Dit is in Pjongjang waar die twee staatshoofde van Noord- en Suid- Korea mekaar in Junie 2000 vir die eerste keer in hulle geskiedenis ontmoet het. Nou was dit weer mnr. Kim Jong-Il, leier van die Demokratiese Volksrepubliek van Korea (DVK), se beurt om Seoel toe te gaan, maar uiteindelik is dit weer hy wat sy Suid-Koreaanse eweknie in Pjongjang sal ontvang. Die president van die Republiek van Korea, mnr. Roh Moo-Hyun, en sy voorganger, mnr. Kim Dae-Jung, het ’n einde aan dekades van kil verhoudings gebring met die toepas van die sogenaamde “sonskyn”-versoeningsbeleid. As die tiende grootste nywerheidsmag ter wêreld, het Suid-Korea ’n duidelike voorsprong bo die DVK. Vir Seoel is dit ’n geringe prys om vir sy geduldige oopmaakbeleid te betaal, deur vir Kim Jong-Il te laat dink dat dit hy is wat die plek en datum kan bepaal. Deur die uitnodiging te aanvaar, hoop mnr. Hyun ongetwyfeld ook om politieke voordeel te trek: die Suid-Koreaanse president, wat nie vir nog ’n termyn verkiesbaar is nie en wie se gewildheid aan die taan is, wil waarskynlik sy opvolger se kanse verbeter vir die naderende verkiesing in Desember. Die DVK het lank gemeen dat hy die politiek in die Suide kon manipuleer, en dalk was sy invloed groter as wat dit blyk, as ’n mens kyk na die ommeswaai in Suid-Koreane se opinie van hulle Noordelike bure sedert die versoeningsbeleid in 1998 ingestel is. Waar propaganda hulle vroeër die kommuniste as “sadisties” laat beskou het, sien die inwoners van die Suidelike skiereiland hulle nou as langverlore familielede, gelei deur ooms wat op ’n dwaalspoor is, en ’n bietjie eksentriek. Die spitsberaad is die uitkoms van hierdie buitengewone omkering in persepsie. President Hyun staan die gedagte voor van ’n Koreaanse skiereiland as toekomstige spil van die bloeiende ekonomie in Noordoos-Asië, en wil ’n nuwe “era van Noordelike ekonomie” aan die nageslag laat. Die spitsberaad geskied teen die breër agtergrond van ’n onverwagte ontspanning in verhoudings tussen die Amerikaanse president George W. Bush en mnr. Kim Jong-Il, soos die kernontwapeningsooreenkoms op 13 Februarie 2007 getuig – ’n keerpunt waarvan die oorsprong duister bly. In 2006 het Pjongjang die Amerikaanse nasionale dag gevier met die afvuur van sewe missiele, onder meer ’n langafstand Taepodong II en enkele middelafstandvuurpyle. Kort daarna doen die Noord-Koreaanse leiers hulle eerste kerntoets, waarop die Verenigde Nasies (VN) sanksies instel wat vir die eerste keer deur Rusland en China gesteun word (1). President Bush het nog altyd aangevoer dat hy nie “slegte gedrag sal beloon nie”. Hy het nog altyd enige direkte onderhandeling met Noord-Korea verwerp: “Ons onderhandel nie met die bose nie, ons oorwin dit,” soos die Amerikaanse vise-president Richard Cheney dit in 2004 gestel het. Tog het die Februarie-ooreenkoms gevolg op geheime onderhandelings tussen die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, Christopher Hill, en die Noord-Koreaanse minister van buitelandse sake, Kim Jwe-jwan, tydens direkte ontmoetings in Beijing en Berlyn. Daarna is dit voorgelê vir multilaterale, sesparty samesprekings (die twee Koreas, China, VSA, Japan en Rusland) oor die Noord-Koreaanse kernprogram wat twee jaar gelede begin is. Indrukwekkende resultate is bereik: die DVK se plutonium-reaktors word verseël en gedemonteer; sanksies en embargo’s wat sedert die Tweede Wêreldoorlog deur Washington afgedwing is, word stelselmatig opgehef; die DVK word verwyder van die lys van “skurk-state” wat deur die Amerikaanse ministerie van buitelandse sake saamgestel is; Noord-Korea laat weer die Internasionale Agentskap vir Atoomenergie (IAAE) se inspekteurs in hulle land toe; vordering word gemaak met ’n vredesooreenkoms wat ’n einde aan die oorlog in Korea sal bring – en by dit alles, die vooruitsig op ’n volkome normalisering van verhoudings. Nietemin moet ’n mens onthou dat al hierdie inisiatiewe reeds aan die gang was toe mnr. Bush aan bewind gekom het. En daarby moet ’n mens voeg dat mnr. Bill Clinton se administrasie ook reeds ’n plan saamgestel het om die staking van die Noord-Koreaanse ballistiese program te beding. Die ooreenkoms is in 2000 onderteken, maar mnr. Bush het toegelaat dat dit disintegreer, met die gevolg dat Pjongjang vandag met ’n aansienlike ballistiese kapasiteit sit. Dit bly nog ’n raaisel hoe die besluit in Washington geneem is om die onderhandelings met Pjongjang te hervat en sodoende ’n stokkie te steek voor die interne konflikte binne die Amerikaanse regering. Die VSA en die DVK bereik op 19 September 2005 ’n ooreenkoms rakende sekere beginsels wat die weg berei na kernontwapening, onder meer die Amerikaners se belofte om nie Noord-Korea aan te val nie. Drie dae later stel die Amerikaanse departement van finansies, wat die DVK daarvan beskuldig dat hy in onwettige aktiwiteite met die Banco Delta Asia in Macao betrokke was, egter sanksies teen die land in wat veroorsaak dat die DVK van die internasionale finansiële stelsel afgesny word. Vandag weet ons dat daar maar weinig elemente in die Amerikaanse departement se klagstaat was, en dat dit in werklikheid daarop gemik was om die September-onderhandelings te kelder. Die enigste onwettige aktiwiteit wat die Amerikaanse departement van finansies kon opspoor, dagteken uit 1994 en behels relatief klein bedrae: 250 miljoen dollar in vervalste note wat gedeponeer is (ingeligte waarnemers bevestig dat die departement van finansies in der waarheid besorg was oor die DVK se (wettige) goudtransaksies met die Banco Delta Asia). Twee jaar verloop voordat Amerikaanse amptenare uiteindelik erken dat die aangeleentheid bloot ’n weerspieëling van onenigheid binne die Amerikaanse regering was: dit was ’n set om die voortgesette normalisering in verhoudings tussen Washington en Pjongjang te dwarsboom (2). Die Banco Delta Asia-aangeleentheid verdwyn weer net so vinnig soos wat dit kop uitgesteek het toe die VSA al die gekonfiskeerde deposito’s aan die DVK terugbetaal, sonder enige boete. Soos die deskundige Leon W. Sigal dit stel, het die ooreenkomste van Februarie 2007 “die VSA ferm terug op die spoor gebring van ’n versoening met Noord-Korea”. Mnr. Hill verklaar in Augustus optimisties dat hy verwag om voor einde 2007 ’n volledige inventaris van al Noord-Korea se kernwapens en -programme te sien, gevolg deur ’n volledige aftakeling van alle kernaanlegte in 2008. Hy laat blyk dat me. Condoleezza Rice moontlik Pjongjang toe sal gaan. Daar is selfs gerugte van ’n moontlike spitsberaad tussen mnre Bush en Kim Jong-Il. Dit sou ’n goeie skuif wees. Maar die feit bly staan dat geen ander Amerikaanse regering nog ooit so lank geneem het om tot ’n gevolgtrekking te kom waarvan die logika oogluikend is nie. Tot met die ooreenkoms in Februarie was mnr. Bush aan die stuur van die mees onbeholpe buitelandse beleid in die geskiedenis van die VSA, en veral ten opsigte van die DVK. In Oktober 2002 stuur hy die onder-minister van buitelandse sake, James Kelly, na Pjongjang om die Noord-Koreane daarvan te beskuldig dat hulle in die geheim ’n tweede kernprogram voer met die gebruik van hoogsverrykte uraan (Highly Enriched Uranium, HEU). Die hoof van die Withuis begrawe daarna die ontwerpooreenkoms wat mnr. Clinton in 1994 beding het, in gevolge waarvan die Jongbioen-plutoniumaanleg vir 8 jaar opgeskort is (3). Noord-Korea kap terug deur hom uit die verdrag op die nieproliferasie van kernwapens te onttrek en weer beheer te neem van Jongbioen, waar 8 000 stawe plutoniumbrandstof in betonvate geneutraliseer is, en begin met die vervaardiging van ’n tot dusver onbekende aantal kernwapens. Hierdie besluite lei nie tot die geringste vergeldingsmaatreëls nie. Die VSA se gebrek aan aksie van 2002-2003 word deels verklaar deur die onophoudelike konflikte binne die regering oor hoe daar op die Noord-Koreaanse treitering geantwoord moet word. Soos met die huidige krisis rondom HEU-installasies in Iran, vra sommige Amerikaanse amptenare, veral in die visepresident se kringe, dat die Noord-Koreaanse aanlegte gebombardeer word; ander voer weer aan dat so ’n aanval tot ’n nuwe Koreaanse oorlog sal lei. Maar aangesien president Bush deur die oorlog in Irak besig gehou word, word geen aksie onderneem nie, al neem Washington vir Seoel kwalik oor sy toenaderingsbeleid tot Pjongjang. Die spanning tussen die VSA en Korea raak merkbaar. Die raamwerkooreenkoms van 1994 verwys nie na HEU nie, maar die meeste deskundiges meen dat die DVK gekul het en transaksies met die Pakistanse kernwetenskaplike, Abdul Qadeer Kahn, aangegaan het. Bewus hiervan, lig die Clinton-administrasie die nuwe Bush-span in 2000 hieroor in, en maan dat die HEU-kwessie nie die vorige ooreenkomste aangaande plutonium en missiele in gedrang moet bring nie. HEU is ’n uiters moeilike tegnologie om te bemeester, en dit kos jare om ’n verrykte-uraanbom te maak (4). Die ontwerpooreenkoms in 1994 asook die een rakende missiele is op streng beheermaatreëls gebaseer. Tussen 2000 en 2002 slaan mnr. Bush hierdie inligting in die wind en voer ’n beleid van konfrontasie. En as daar een ding is wat Amerikaanse onderhandelaars in die 1990’s geleer het, is dit juis dat dit geen doel dien om Pjongjang op dié manier uit te tart nie. Mnr. Kelly keer inderdaad met leë hande na Washington terug. Die tydstip wat vir sy besoek gekies is, kom neer op die mees absurde uittarting. Sy boodskap lewer hy aan die Noord-Koreane kort ná die amptelike aankondiging van die nuwe resolusie van voorkomende aanvalle op “die Spil van Boosheid” in September 2002. Enkele maande later val die VSA Irak binne. Die DVK redeneer derhalwe soos volg: die VSA sou nooit Irak binnegeval het as Saddam Hoessein oor kernwapens beskik het nie. Dus maak hy groot gewag van die bestaan van sy kernafweermag. Ons weet ook nou dat die Amerikaanse inligtingsdiens se feite oor die Noord-Koreaanse uraan-verrykingsprogram nie veel meer werd is as dié wat hulle oor massavernietigingsingswapens in Irak verkondig het nie. Soos Irak, het Pjongjang ook duisende aluminiumbuise gekoop, maar dit het geblyk dat dié buise nie robuust genoeg is om in die hoëversnellingsdromme gebruik te word wat vir sentrifuge benodig word nie. In 2002 het hierdie selfde buise na bewering “´n aansienlike produksiekapasiteit” verteenwoordig. Sedertdien het die VSA nog nie enige betroubare gegewens vrygestel oor die grootskaalse voorsiening wat die ontwikkeling van ’n verrykte-uraanbom sou verg nie. Die bom wat Pjongjang verlede jaar laat ontplof het, het met plutonium gewerk en nie met verrykte uraan nie. Oor die rede waarom die DVK besluit het om die wapen te toets, kan daar net bespiegel word. Noord-Korea het reeds vyftien jaar gelede die wêreld oortuig dat hy oor atoomwapens beskik. In 1992 het die CIA geraam dat Pjongjang een of twee bomme besit, en dié skatting het vir ’n dekade lank gegeld. Die vaagheid rondom die “Noord-Koreaanse bom” het die DVK se posisie versterk: soos dit ook die geval met Israel is, bied die waarskynlikheid dat ’n land kernwapens het sonder dat hy juis toetse doen of amptelike verklarings maak, ’n geloofwaardige afskrikmiddel sonder dat dit noodwendig ander lande in die streek noop om ook kernwapens aan te skaf. Wat het Noord-Korea gehoop om te bereik deur hierdie vaagheid te beëindig, sonder enige klaarblyklike voordele? Die toets was dalk ’n boodskap aan China, wat in September sy olie-uitvoer na die DVK staak in reaksie op die missieltoets in Julie 2006. Volgens hierdie hipotese sou Pjongjang sy bom getoets het om te wys dat hy hom nie laat intimideer nie, en eers daarna stem hy weer in om die sesparty-samesprekings te hervat. Waarom het mnr. Bush dan besluit om ’n ooreenkoms te sluit? Deels omdat die algemene verkiesing in 2006 die Wit Huis se hoop op ’n langtermyn Republikeinse oorwig verpletter het. En ook omdat die Amerikaanse president se politieke verswakking op binnelandse gebied met ’n soortgelyke tendens op internasionale vlak gepaard gaan. Hierdie verklarings is egter nie heeltemal oortuigend nie. In 2003-2004 het dit werklik gelyk of die Noord-Koreaanse leiers ’n aanval gevrees het. Maar die Amerikaanse magte was op daardie tydstip oor-aangewend, en die Pentagon was derhalwe nie in staat om ook eenhede op die Koreaanse verhoog te ontplooi nie. Die DVK se strategie was ongetwyfeld om ’n verklaarde kernmoondheid te word, vir twee jaar lank sanksies te verduur, en dan weer met die volgende Amerikaanse president te onderhandel. Iets het dus gebeur, nie in Pjongjang nie, maar in Washington. Die mees waarskynlike hipotese is dat die Withuis gereken het Iran verteenwoordig ’n nog groter proliferasiegevaar. Indien ’n skikking met Noord-Korea bereik kon word, sou Teheran onder aansienlike druk wees om ’n einde aan sy eie kernprogram te maak. Sou mnr. Bush besluit om sy militêre mag teen Iran te gebruik, moet Noord-Korea óf geneutraliseer, óf vergeet word. Die afgelope aantal jare het bilaterale betrekkings tussen Washington en Seoel op skouspelagtige wyse agteruitgegaan. Deur sondes van doen en laat, en die gevolglike skepping van ’n gevaarlike situasie met Pjongjang, het die Amerikaanse president die norme en verwagtinge van die historiese verhouding met Seoel vertrap. In Suid-Korea het die “anti-Amerikaanse” gevoel nooit die vorm van ’n diepliggende verwerping van Amerikaanse mag, kultuur en waardes aangeneem soos in die Midde-Ooste nie. Maar sedert 2001 sien ’n mens ’n aansienlike agteruitgang van die VSA se beeld in die land, veral onder die jeug. Waar die oorgrote meerderheid Suid-Koreane ’n gunstige opinie van die land gehad het voor mnr. Bush by die Withuis ingetrek het, is die openbare mening vandag verdeeld: in ’n peiling voel 43 % positief of taamlik positief, en koester slegs 22 % van die jeug ’n baie positiewe houding jeens die VSA (4). Hierdie ommeswaai is gekoppel aan die Amerikaners se beleid teenoor Pjongjang en die Suid-Koreaanse bevolking se begeerte om hulle “sonskyn”-beleid te handhaaf. Die Bush-benadering het beteken, soos die Suid-Koreaanse leiers ook onmiddellik besef het, dat Seoel by ’n oorlog ingesleep sou raak waarvoor hy nie gevra het nie. Kort na die openbare aankondiging van die voorkomende oorlogsbeleid, lig een van president Roh se raadgewers Washington in dat ’n aanval teen die DVK sonder Suid-Korea se instemming die bondgenootskap met Seoel sou vernietig. Die Suid-Koreaanse regering probeer by herhaling ’n versekering van Washington kry dat Pjongjang nie aangeval sal word sonder om hulle te raadpleeg of hulle instemming te verkry nie. Dié waarborg het hulle nooit ontvang nie. In ag genome dat Noord-Korea Seoel binne enkele ure sou kon verwoes met sy spervuur-artillerie wat in die berge noord van die Suid-Koreaanse hoofstad versteek is, verstaan ’n mens die volslae ontsteltenis wat die Bush-benadering in Suid-Korea veroorsaak het. Die verhouding tussen die twee lande het so versleg dat dit ’n grootskaalse poging sal verg om die vertroue te herstel. Die Februarie-ooreenkomste sou die weg na ’n oormaking kon baan. Verder sou die VSA sy betrekkinge met die DVK kon normaliseer soos wat hy in 1994 en 2005 onderneem het om te doen, en ook die waarborg verskaf dat Seoel ’n vetoreg het oor enige militêre optrede in die skiereiland, en dat die Amerikaanse magte wat in Suid-Korea gestasioneer is, nie in ’n moontlike konflik rakende Taiwan gebruik sou word nie. Laastens sou hy ook sy anachronistiese militêre teenwoordigheid in die land kon verminder. Sodanige vooruitgang is vandag nog ondenkbaar: Suid-Korea, China en Rusland het reeds al drie die VSA aangemoedig om sy verhoudinge met die DVK te normaliseer. In ’n sekere sin het die DVK gewen en gekry wat hy gesoek en reeds in die 1990’s aan die hand gedoen het: om sy kernprogram as onderhandelingsmiddel te gebruik in ruil vir ekonomiese hulp en die normalisering van sy verhouding met Washington – ’n voorstel wat telkens deur die VSA verwerp en bespotlik gemaak is. Die diplomatieke suksesse van die 1990’s was in werklikheid die werk van die Suid-Koreaanse president en Nobel vredespryswenner Kim Dae-Jung, wat uiteindelik daarin geslaag het om mnr. Clinton te oortuig dat Pjongjang van sy kernprogram en -missiele sou afsien in ruil vir ’n nuwe verhouding met die VSA. Mnr. Kim Dae-Jung het gemeen dat Noord-Korea nie die stasionering van Amerikaanse troepe in die Suide sou teenstaan indien betrekkinge genormaliseer word nie. Waarom? Omdat China en Japan se mag mnr. Kim Jong-Il tot eweveel kommer stem as dié van die VSA. Die Suid-Koreaanse president het gereken dat sy Noordelike eweknie bereid sou wees om by nuwe veiligheidsooreenkomste aan te sluit as deel van die internasionale opset wat die VSA sedert 1945 in Noordoos-Asië tot stand gebring het. Sodoende sou Washington minstens Noord-Korea se neutraliteit bekom, indien nie ’n vriend of bondgenoot nie, wat ’n teenwig sou bied teen die herrysende China en Rusland, en indien nodig ’n remmende effek op Japan sou kon hê. Waarskynlik hoop Pjongjang om die verskillende partye teen mekaar af te speel, soos hy met Moskou en Beijing tydens die Koue Oorlog gedoen het. Dit is onmoontlik om te weet of die nuwe denkrigting enige impak op president Bush gehad het, maar in die 21ste eeu verteenwoordig dit vir die VSA ’n logiese strategie in Noordoos-Asië. Aan die einde van die vreemde reeks gebeure wat ons tans aanskou, mag mnr. Bush hom dalk nog aan die kant van die “boosaardige” Kim Jung-Il bevind, met beide van hulle in die rol van vredemakers. Indien dit gebeur, des te beter: liewer laat as nooit. ________
(1) Die twee lande het ten gunste van die sanksies, uit hoofde van hoofstuk VII, gestem slegs nadat hulle die versekering gekry het dat dit nie die gebruik van militêre mag sou meebring nie. (2) Hierdie maneuver word in detail aan die lig gebring in ’n New York Times-artikel, “How U.S. Turned North Korean Funds into a Bargaining Chip”, 11 April 2007. (3) George Bush en sy raadgewers beweer dat Noord-Korea nie die ooreenkoms nagekom het nie, terwyl die agtjaarlange opskorting in werklikheid nooit onderbreek is nie. VN-inspekteurs het daagliks die terrein besoek, en al die installasies, dig verseël, is permanent dopgehou. (4) Lees Selig Harrison se gedetailleerde artikel, “Did North Korea Cheat?”, Foreign Affairs, New York, Februarie 2006. (5) Meredith Woo-Cumings in David I. Steinberg, dir., Korean Attitudes Toward the United States, M. E. Sharpe, 2005, pp. 62-63; Pew Global Attitudes Project, www.pewglobal.org/commentary/display.php?AnalysisID=67; William Watts in Steinberg, pp. 268-72. |