|
||||
Selig S. Harrison
*Bestuurder van die Asië-program by die Sentrum vir Internasionale Beleid (Washington) en hoofnavorser aan die Woodrow Wilson Internasionale Sentrum vir Vakkundiges (Washington). Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]
In die stryd wat hom binne-in die Bush-administrasie afspeel oor die Irannese politiek is daar twee duidelike kampe. In die een kamp staan adjunk-president Richard Cheney en sy geallieerdes by die Pentagon en in die Kongres, gedryf deur die Amerikaans-Israeli Komitee op Openbare Geleenthede (Aikog), wat druk vir die bombardering van nie net Natanz se uraanverrykingsaanleg nie, maar ook van Iranse militêre basisse wat naby die grens van Irak geleë is. In die ander kamp is daar die minister van buitelandse sake, Condoleezza Rice, wat hoop om op die diplomatiese weg voort te gaan. Sy wil samesprekings met Teheran wat in Mei in Bagdad begin is aangaande die stabilisering van Irak, uitbrei en versterk. Maar sy het die afskaffing van die militêre opsie slegs bekom teen die prys van ’n gevaarlike ooreenkoms: ’n verskerping van skelm operasies met die doel om die Islamitiese republiek te destabiliseer. Dit is bevestig deur ’n presidensiële opdrag, uitgereik aan die einde van April 2007 (1). Hierdie operasies word al tien jaar lank uitgevoer, maar in die afwesigheid van ’n amptelike dekmantel het die Central Intelligence Agency (CIA) net via middelmanne opgetree. Pakistan en Israel het byvoorbeeld wapens en geld verskaf aan rebellegroepe in die suidooste en die noordweste van Iran, waar Baloetsj en Koerdiese minderhede (Soenniete) lank reeds teen die sentrale Persiese Sjiïetiese magte veg. April se presidensiële magtiging laat die verskerping van “nie-dodelike” operasies toe wat regstreeks deur die VSA uitgevoer word. Bo en behalwe die toename in propaganda-uitsendings, die veldtog van waninformasie en die werwing van Iranse uitgewekenes in Europa en in die VSA om sodoende politieke onenigheid aan te moedig, bevorder die nuwe program die ekonomiese oorlog, veral die manipulasie van wisselkoerse en op ander wyses, wat Iran se internasionale bank- en kommersiële aktiwiteite in die wiele ry. Die inhoud van die nuwe opdrag is onthul nadat dit aan die inligtingskommissies van die twee kamers van die Kongres voorgelê is, soos deur die wet vereis word. In Teheran word hierdie insident oral bespreek. Op verrassende wyse is konserwatiewes en hervormers dit eens om te verklaar dat hierdie dokument ’n baie slegte skuif is, terwyl die moontlikheid van ware samewerking tussen die twee lande moontlik was met betrekking tot Irak en Afghanistan. Die stabilisering van hierdie twee state is in belang van Teheran, volgens die opperverantwoordelikes van die departement van buitelandse sake, die nasionale veiligheidsraad, die kantoor van president Mahmoed Ahmadinejad en ’n hele aantal verskillende Irannese dinkskrums. Samewerking met die VSA is volgens hulle moontlik, maar slegs in ruil vir ’n progressiewe herstel van verhoudings tussen die twee lande, wat veronderstel dat Washington sy strategie van “regime-verandering” sal prysgee. In Irak “is die VSA soos ’n jakkals wat in ’n strik gevang is,” verduidelik Amir Mohiebian, hoofredakteur van die konserwatiewe dagblad Reselaat. “Moet ons die jakkals vrylaat terwyl hy ons wil verorber? As die VSA hul politiek verander, sal samewerking moontlik wees.” Aan die ander kant van die joernalistieke spektrum bevestig Mohammed Adrianfar, die hoofredakteur van Hammihan (en ’n kennis van oud-president Akbar Hashemi Rafsandjani) wat in September verkies is tot hoof van die Irannese Raad van Deskundiges (2), dat “die atmosfeer hier neig tot onderhandeling en die totstandkoming van verhoudings. Mense soek stabiliteit. ’n Mens hoor nie meer die slagspreuk ‘Dood Amerika!’ nie, en die leiers is hiervan bewus. Dit is paradoksaal om te sê dat twee vyandige regerings gemene belange in Irak en Afghanistan het.” Die verantwoordelikes wou nie reguit antwoord op die vraag of Teheran Sjiïetiese organisasies in Irak ondersteun nie. Maar Alaeddin Boroedjeri, president van die die Majlis (die parlement) se kommissie van buitelandse sake, kritiseer Washington vir sy beskerming van Baath-lede en ander Soennietiese elemente, en verklaar sonder omhaal van woorde dat Iran die aanvaarding van ’n Sjiïetiese gesag in Bagdad nodig ag vir stabilisering en ’n vereiste vir enige samewerking tussen Washington en Teheran. Volgense hierdie joernaliste en vele amptelike tussengangers, sou dit ’n belangrike gebaar wees van die Withuis se kant om die burgermag in Irak, die Moedjahiediens van die volk (MEK), af te takel. Hulle het Saddam Hoessein in sy oorlog teen Iran (1980-1988) bygestaan en, selfs al is hul 3 600 vegters ontwapen na die Amerikaanse inval in Irak, bly hulle in vestings gegroepeer. Die Amerikaanse inligtingsdienste gebruik hulle vir spioenasie- en sabotasiesendings in Iran en vir die ondervraging van Iraniërs wat daarvan beskuldig word dat hulle die Sjiïetiese burgermag help in Irak. Tot baie onlangs het hulle in Irak radio- en televisiesenders tot hul beskikking gehad, maar na druk deur Teheran op Bagdad uitgeoefen is, is hierdie senders na Londen verskuif. Toe die gematigde Mohammad Khatami egter as president van Iran verkies is in 1997, het die Amerikaanse departement van buitelandse sake, in ’n gebaar van versoening, die Moedjahiediens by die lys gevoeg van terroriste-organisasies, skuldig aan grootskaalse menseregte-oortredings ... en hulle is steeds daarop. Dit sou ’n sterk boodskap stuur om paramilitêre magte af te breek, verduidelik Abbas Maleki, raadgewer by die nasionale veiligheidsraad. Maar Alireza Jaffarzadeh, president van die politieke vleuel van die Moedjahiediens, die nasionale weerstandsraad van Irak, tree gereeld op oor die konserwatiewe Fox News. Hy speel ’n rol wat vergelyk kan word met dié van Ahmad Chalabi tydens die voorbereiding op die inval in Irak, deur te probeer om die Kongres se ondersteuning na militêre aksie teen Iran te swaai. Die benoeming van die Moedjahiediens as terroriste-organisasie het die Clinton-administrasie se bereidheid om met Teheran te onderhandel, duidelik gemaak. Toe Newt Gingrich, indertydse republikeinse speaker van die kamer van verteenwoordigers, gesorg het dat 18 miljoen dollar se krediet gestem is vir “nie-dodelike” geheime operasies om “die vervanging van die huidige regime in Iran aan te hits,” het die Withuis die CIA tot versigtigheid gemaan. Die Bush-administrasie het egter vinnig van koers verander. Cheney deel die menings van Gingrich en het dit reggekry om die skeptici te oorreed dat druk op Iran vir Washington voordelig sal wees in sy onderhandelings met die oog op die staking van Iran se uraanverrykingsprogram. Om mee te begin, het die nuwe administrasie die sluimerende projek weer op dreef gekry en uitgebrei; verder, in Februarie 2006, het dit danksy die Kongres ’n totale krediet van 75 miljoen dollar deurgestoot om “vryheid van spraak en van beweging vir die Irannese volk te bevorder.” Uiteindelik het die administrasie begin om geheime maniere te soek om die regime op militêre gebied te bemoei. Die maklikste was om Pakistan en Israel te beweeg om rebellegroepe te bewapen en te finansier wat reeds aktief was in die Baloetsj- en Koerdiese gebiede. Die Pakistanse inligtingsdienste (ISI) het wapens en geld verskaf aan Joendoellah-vegters (“soldate van God”) – ’n gewapende groep gebaseer in Baloetsjistan en wat swaar verliese veroorsaak het vir eenhede van die Revolusionêre wagte in 2005 en 2006, gedurende ’n reeks gevegte in Zahedan en in die suid-ooste van die land. Op 2 April 2007 het die Voice of America ’n onderhoud uitgesaai met die leier van die beweging, Abdolmalek Rigi, wat voorgestel is as die “hoof van die populêre weerstand in Iran.” Ons menigte informele kontakte in die Baloetsj-nasionalisme (3) het die bestaande skakels tussen Rigi en die ISI bevestig, ’n stelling wat bekragtig is deur ’n korrespondent van die ABC-kanaal. (4) Wat die Israeli-intelligensiediens, Mossad, betref, is daar kontak ouer as vyftig jaar met die Koerde van Iran en Irak. Dit verleen waarde aan ’n brokkie inligting, bekom deur die Amerikaanse joernalis Seymour Hersh, waarvolgens die Israeliese inligtingsdienste “opleiding en gereedskap” verskaf aan die Party vir ’n Vrye Lewe in Koerdistan (die PJAK in Iran) (5) – terwyl die PJAK verbind is aan die Werkers van die Turkse Koerdistan (PKK) – wat deur Washington en Ankara as ’n terroriste-organisasie beskou word. In ’n onderhoud wat Lee Anderson gevoer het, het ’n hooggeplaaste Koerdiese amptenaar verklaar dat die PJAK basisse in die Irakkese Koerdistan gebruik het om aanvalle teen Iran te loods wat “in die geheim deur die VSA ondersteun is.” (6) In weerwraak het Teheran talle basisse in Irak se Koerdistan gebombardeer, wat proteste uit Bagdad ontlok het. Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is dit in Khoezestan, ’n provinsie geleë in die suid-weste van die land wat 80 % van sy ru-olie produseer, waar Teheran gekonfronteer word met die separatistiese bedreiging wat potensieel die heel ergste kan wees. Die Arabiese Sjiïete van hierdie provinsie deel dieselfde etniese en geloofsidentiteit as hulle wat in Irak bly, op die ander oewer van Chatt-al-Arab. Ahwaz, die hoofstad van Khoezestan, is slegs 120 km weg van Basra, waar die troepe van die Britse besetting gebaseer is. Laasgenoemde beplan om in die komende herfs beheer van die stad en provinsie aan die Irakiërs oor te gee. In die lig van die geskiedenis van die streek is dit geen verrassing dat Teheran die Britse intelligensiedienste wat in Basra gestasioneer is, daarvan beskuldig dat hulle onmin stook nie. In 1897 het die Arabiese prinse van Khoezestan, met die steun van Engelse soldate en oliemanne, van Persië afgeskei om ’n protektoraat onder die beheer van Londen, “Arabistan”, te vorm wat eers in 1925 aan Persië teruggegee sou word. Tot op hede kon die separatistiese faksies, wat regoor die provinsie versprei is, nie ’n verenigde militêre mag skep soos die Joendoellah in Baloetsjistan nie, en daar is geen teken van hulp uit die buiteland nie. Maar hulle organiseer gereeld gevegte teen die regering se veiligheidsmagte en blaas olie-aanlegte op. ’n Menigte van hierdie faksies saai propagandaprogramme in Arabies uit vanaf senders in die buiteland. Ahwaz se Beweging vir Nasionale Vryheid, kampvegter van onafhanklikheid, besit ’n satellietkanaal, Ahwaz TV, wat ’n faksnommer in Kalifornië op hul skerms plaas (7). ’n Ander satellietkanaal, Al-Ahwaz TV, wat ook deur Irannese uitgewekenes in Kalifornië besit word, word gekoppel aan die Britse Ahwaz Vriendskapsvereniging, wat streeksoutonomie vir die provinsie vra binne ’n federale Iran (8). Nagenoeg die helfte van die 75 miljoen dollar wat deur Washington in 2006 toegestaan is, word bestem vir gebruik deur die Voice of America, Radio Farda en ander uitsaaiers wat deur Irannese bannelinge besit word. Twintig miljoen gaan aan nieregeringsaktiviste vir menseregte in Iran en die VSA. Om fondse direk na Iran te stuur “is ’n baie moeilike saak,” het die adjunkminister van buitelandse sake, Nicholas Burns, gesê ; dus “werk ons saam met Arabiese en Europese organisasies om demokratiese groepe binne die land te help.” (9) Een van die Iraniërs wat deelgeneem het aan ’n werkswinkel georganiseer deur die VSA in Doebaï verlede jaar het aan ’n Irannees-Amerikaanse joernalis, Negar Azimi, gesê: “Dit was ’n opleidingskamp vir revolusionêres, soos in ’n James Bond-verhaal.” (10) Die pogings om die Islamitiese republiek te destabiliseer en die ekonomiese druk wat wil hê dat Iran sy kernprogram opskort, werk in teen die verlangde resultaat, om minstens vier redes: - heel eerste het hierdie pogings aan die harde kampvegters ’n verskoning gegee om sowel die Iraniërs wat vir ’n regime-liberalisering werk om te krap, as die intellektuele op besoek met dubbele Iranees-Amerikaanse burgerskap, soos byvoorbeeld Haleh Esfandiari van die Woodrow Wilson Internasionale Sentrum vir Vakkundiges, wat drie maande tronkstraf opgelê is vir vae beskuldigings van spioenasie; - verder, deur hulp te verleen aan etniese minderhede, het Washington president Ahmadinejad toegelaat om homself in die rol van beskermer van die Persiese meerderheid te plaas – die minderhede vorm altesaam ongeveer 44 % van die bevolking ; - derdens skryf Ahmadinejad die ekonomiese probleme toe aan druk van buite, terwyl sy eie bestuursfoute eintlik die hoofoorsaak hiervan is ; - laastens sal dit heeltemal moontlik wees om kompromieë te onderhandel met betrekking tot die stabilisering van Irak en Afghanistan, maar op voorwaarde dat dit ’n einde sal bring aan pogings van ondermyning en dat president George W. Bush nie sy dreigement van 28 Augustus sal deurvoer en “sal antwoord op die moorddadige aktiwiteite van Teheran” in Irak nie. Hoewel druk sekerlik afgeneem het, sal ’n kompromis oor die kernvraag onwaarskynlik wees in die afwesigheid van ’n wysiging van die militêre posisie van die VSA in die Golf. Opskorting van verrykingsaktiwiteite in Natanz sou egter moontlik wees indien Israel terselfdertyd sy reaktor in Dimona toemaak. (11) “Hoe kan ons onderhandel terwyl vliegdekskepe die Persiese Golf in gestuur word, wat maklik met taktiese kernwapens toegerus kan wees?” vra Alireza Akbari, wat die adjunkminister van verdediging in president Khatami se regering was. “En hoe wil julle hê moet ons onderhandel terwyl julle bespreking van Dimona weier?” In plaas daarvan om die regime te skud, het Amerikaanse druk eerder die Iraniërs omgekrap. Die ekonomiese sanksies is nou wel meer doeltreffend as die hulp wat in die geheim aan die rebelle verskaf word, maar uit die 40 Europese en Asiatiese banke wat handel dryf met Iran het slegs sewe hul bande met dié land verbreek op aandrang van Washington. Iran dryf al hoe meer sy internasionale handel deur die 400 finansiële instellings gebaseer in Doebaï, waarvan die meeste Arabies is. Vanjaar se handel tussen Iran en die Verenigde Arabiese Emirate beloop byna elf miljoen dollar en Stuart Levey, die adjunkminister van finansies, se dreigemente van weerwraak teen maatskappye wat handel dryf met Iran (in ’n toespraak gelewer in Doebaï op 7 Maart 2007) is ’n totale vermorsing van tyd. Die administrasie het onlangs baie meer geteikende maatreëls in plek gestel teenoor besighede wat sake doen met die Revolusionêre wagte en die bonyads – stigtings onder beheer van die geestelikes – maar tot op hede is die resultate nie juis waffers nie. ’n Gerespekteerde Europese Ambassadeur wat in Teheran werksaam was, het opgemerk: “Watter doel dien dit tog? Wat help dit tog om onophoudelik die rooi doek te swaai? Dit maak die bul woedend, maar dit maak hom nie dood nie.” _________ (1) Kyk “Tempêtes sur l’Iran”, Manière de voir, n° 94, Junie-Julie 2007. http://www.monde-diplomatique.fr/mav/93/ (2) Hierdie groep bestaan uit geestelikes op wie die onus rus om die oppergeestelike leier aan te wys – tans die ajatolla Ali Khamenei – en om toesig te hou oor sy optrede. (3) In Afghanistan’s Shadow : Baluch Nationalism and Soviet Temptations, Washington: Carnegie Endowment for International Peace, 1980. (4) Brian Ross en Christopher Isham, ABC News, 3 April 2007. (5) “ The Next Act ”, The New Yorker, New York, 27 November 2006. (6) “ Mr. Big”, The New Yorker, 5 Februarie 2007. (7) BBC World Media Monitoring, 4 Januarie 2006. (8) Al-Ahwaz News, British-Ahwaz Friendship Society, 11 Februarie 2006, http://www.ahwaz.org.uk/2006/appeal-donate-to-al-ahwaz-tv.html (9) Council on Foreign Relations, New York, 11 Oktober 2006. (10) “ The Hard Realities of Soft Power ”, New York Times Magazine, 24 Junie 2007. (11) Vir ’n meer omvattende bespreking van die kernkompromis met Iran, kyk “The Forgotten Bargain”, World Policy Journal, Washington, Winter 2006. |