|
||||
Roelof Botha
*Ekonomiese Raadgewer, PricewaterhouseCoopers
Suid-Afrika se primakoers het sedert die middel van verlede jaar by ses verskillende geleenthede gestyg. Elkeen van die stygings het slegs ’n halwe persentasiepunt bedra, maar gesamentlik het die strenger monetêre beleid van die afgelope jaar die primakoers van 10,5% tot 14% laat beweeg, wat ’n wesenlike toename in die koste van finansiering behels. Na ’n swak oesjaar vir heelwat gewasse is hoër finansieringskoste ’n kommerwekkende verskynsel vir die landbousektor, veral aangesien daar duidelike tekens van wisselvalligheid bestaan in die toepassing van ekonomiese beleid. Aan die een kant probeer die Nasionale Tesourie ’n groeikoers van 6% nastreef, maar die monetêre beleid probeer nou die ekonomie “afkoel”, kort nadat ’n groeikoers van 5% behaal is. Dit maak eenvoudig nie sin nie, behalwe teen die agtergrond van die Reserwebank se oënskynlike obsessie met inflasiebekamping.
Vlieg in die salf Die bestaan van rigiede inflasieteikens blyk die vlieg in die salf te wees. Net toe die Suid-Afrikaanse ekonomie stewig op pad was na ’n groeikoers wat met die meeste ander ontluikende ekonomieë kon kers vashou, toe beweeg inflasie na bokant die 6% kerf, wat die boonste perk van die Reserwebank se teikengebied is. Die reaksie deur die monetêre beleidmakers was voorspelbaar, en rentekoerse is stelselmatig verhoog. Vroeë kommentaar deur sommige ekonome en die finansiële media dui op ’n kommerwekkende gebrek aan insig rakende minstens drie kernbelangrike besprekingspunte van die inflasiedebat. Ter agtergrond vir die debat speel die inflasieteikens tans die oorheersende rol in die toepassing van monetêre beleid. Sodra inflasie bokant die 3% tot 6% kerf, of selfs naby die boonste kerf beweeg, word rentekoerse verhoog. Drie kwessies moet in oënskou geneem word voordat die huidige monetêre beleidsbenadering goedsmoeds as die korrekte een aanvaar word.
Inflasiesyfers is histories Eerstens moet in gedagte gehou word dat inflasiesyfers nie op die toekoms gerig is nie, maar die somtotaal is van die vorige twaalf maande se prystoenames. Die tegniek met die verbruikersprysindeks (VPI) vir ’n bepaalde maand (byvoorbeeld Mei 2007) is om die maandelikse veranderings in die VPI vir die tydperk Junie 2006 tot Mei 2007 bymekaar te tel. In Junie 2007 word die nuwe maand s’n bygevoeg en verdwyn Junie 2006 uit die syfer. Die uitwerking hiervan kan in komende maande soos volg verloop: indien die Europese somer tot ’n laer olieprys lei en die rand effens verstewig, kan die maandelikse veranderings in die VPI tussen Julie en September vanjaar aansienlik laer wees as vir dieselfde tydperk verlede jaar, en siedaar! Inflasie is laer. Die logiese boodskap vir beleidmakers is tweeledig: wees geduldig en verskaf breedvoeriger inligting aan die publiek aangaande enige positiewe verwagtings oor inflasie (in komende maande).
Onbeweeglike teikens Tweedens is dit nodig om die keuse van die inflasieteikenvlak te bevraagteken. Sedert daar etlike jare gelede op die 3% tot 6% vlak besluit is, het die wêreldekonomie heelwat verander. Die ongekende stukrag in ekonomiese uitset wat in Asië ondervind word, met China en Indië aan die spits, het tot ’n oplewing in die pryse van talle kommoditeite gelei. Dit het verder ook deurgesyfer tot die vervaardigingsektor, veral in die toegevoegde waardeketting van metale en minerale. In dié omstandighede geld ’n situasie dikwels waar aanbodkant-uitbreiding effens traag is vergeleke met sterk vraagtoenames. Die gevolg is dat inflasionêre druk oral in die wêreld toegeneem het. Streng monetêre beleid is nie noodwendig die antwoord op hierdie probleem nie, eerder ’n meer aanpasbare beleid wat oorweging skenk aan tydelike wysigings van die inflasieteikens (byvoorbeeld na 4% tot 7%).
Die koste van inflasiebekamping Die derde voorbehoud verteenwoordig waarskynlik die gesaghebbendste motivering vir ’n buigsamer monetêre beleidsbenadering, naamlik ’n beoordeling van die kostes verbonde aan die riglyn waarvolgens rentekoerse verhoog word sodra inflasie bokant ’n toenamekoers van ongeveer 4,5% beweeg. Die belangrikstes hiervan is :
· Eerstens toon geldmarkkoerse ’n omgekeerde verwantskap met ekonomiese groei (met ’n sloering van ses maande), soos duidelik deur die grafiek geïllustreer. Ekonomiese groei het gelukkig nog nie sedert die einde van 2004 momentum verloor nie, maar die jongste rentekoersverhoging kan wel die ekonomie na ’n laer rat oorskakel. · Tweedens veroorsaak hoër rentekoerse dat sakeondernemings se kostestrukture ook verhoog, deurdat die finansiering van bedryfskapitaal duurder word. ’n Opname onder private firma’s deur PricewaterhouseCoopers wat einde verlede jaar voltooi is, het getoon dat sodanige finansieringskoste ’n wesenlike aandeel in totale bedryfskoste verteenwoordig. · Derdens sal hoër rentekoerse in sommige bedrywe tot laer aanvraag lei, wat die vase koste per eenheid sal verhoog en sodoende opwaartse druk op die produksieprysindeks plaas. · Laastens dra hoër verbandpaaiemente direk tot ’n verhoging van die VPI by.
Daar behoort oorweging geskenk te word aan beleidsmaatreëls wat as ’n teenvoeter dien vir hierdie nadelige uitwerking van hoër rentekoerse. Die koste van bedryfskapitaal het die afgelope jaar met 28% gestyg, wat geensins daartoe bydra om sakevertroue te verhoog en sakebeplanning te vergemaklik nie. Heelwat klein ondernemings en eerste huiskopers gaan begin sukkel om kop bo water te hou vir die res van die jaar. Belastingverligting van die rentekoste van behuising van lae- en middelinkomstegroepe is een beleidsopsie wat oorweeg kan word. ’n Tweede is die subsidiëring van die rentekoste van belangrike indiensnemingsektore (soos landbou) en klein ondernemings deur middel van ’n bedryfskapitaalfonds wat deur die Nasionale Tesourie geadministreer word. Indien die regering die nuwe groeikoersmikpunt van 6% en volgehoue werkskepping met erns bejeën, sal innoverende beleidsopsies ingestel moet word om die huidige onbuigsame monetêre beleidsbenadering teen te werk. Gelukkig wil dit voorkom of inflasie na aan sy boonste draaipunt in die huidige opswaaifase is. Dit beteken dat die primakoers vroeg volgende jaar weer sal begin daal en moontlik teen die middel van 2008 op ’n vlak van tussen 11% en 12% kan beweeg. |