blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Misdaad en ons gemeenskappe: Waarom sinlose geweld? 2007-10-18
Ad Verbrugge

*Dosent in filosofie, Vrije Universiteit van Amsterdam. Hierdie artikel is ’n vertaalde uittreksel uit die opstel “Zinlose geweld” in sy boek Tijd van onbehagen: Filosofische essays over een cultuur op drift (Amsterdam: SUN, 2004)

Die aard van 'n samelewing kan ’n mens haar etos noem, die gewone lewenswyse wat tot uitdrukking kom in ’n bepaalde leefwêreld met ’n verwante gedragskode waarvolgens ons met mense en dinge omgaan. Hierdie etos val origens nie gewoon saam met dit wat ons as lewenswyse bewustelik wil nie. En die bewussyn van ’n eie lewenswyse stem nie noodwendig ooreen met wat dit daadwerklik inhou en teweegbring nie. Oftewel, dit wat ons samelewing bewustelik as lewensideaal wil hê, bring bes moontlik ’n etos tot stand waarin ons ons van aangesig tot aangesig bevind met iets waarop ons nie bedag is en wat ons nie wil hê nie, soos misdaad en geweld. Die kritiese besinning op onsself impliseer dus in elk geval ’n kritiese besinning op die lewensideaal wat bepalend is vir ons lewenswyse en die wêreld wat dit met hom meebring.

Noudat die feitelike onregverdigheid in ons leefwêreld toeneem, moet ons onsself eerstens ’n eenvoudige vraag afvra: het ons onsself dan inderdaad op regverdigheid toegelê? Let wel, dit gaan hier uitdruklik nie meer oor instansies of strafmaatreëls nie, maar oor regverdigheid as lewenswyse, oor regverdig-wees.

             Enigiemand wat in die feitelike daaglikse lewe om hom rondkyk, kan kwalik tot die gevolgtrekking raak dat ons onsself werklik inspan om aan ’n leefwyse van regverdigheid gestalte te gee. Ons word dagin en daguit oor die televisie oorspoel met gewelddadige films, gangsta-rap floreer en sadomasochisme word byvoorbeeld as ’n bestanddeel van moderne seksualiteit aangeprys. Wat soek die moderne mens eintlik in hierdie soort prikkeling, en wat doen hy met sy lewe? Het die enorme sug na hierdie prikkeling (opwinding) iets te make met die genoemde toename in misdaad en geweld?

Om mee te begin, kan ’n mens die reg op die bogenoemde prikkeling en verstrooiing verklaar in terme van die behoeftebevrediging van die vry persoon. Sodra ’n mens die reg van die vrye persoon absoluut stel, mag hierdie mens, mits en solank hy die vryheid van andere respekteer, sy behoeftes inderdaad bevredig net soos hy wil.

              Maar wat gebeur met die mens wanneer ons hierdie formele vryheid van die individu met sy onuitputlike behoeftes en verlangens absoluut stel? Dan kom die inhoud van die vrye wil spontaan in die onmiddellike bevrediging van sy eie genot tereg; ’n mens doen dan hiervolgens in die eerste plek soveel as moontlik dit waarin jy sin het.

Maar as die vryheid wat absoluut gestel word, dié is van die individu wat volgens die beginsel van die markekonomie die maksimale bevrediging van sy eie behoefte nastreef en homself in die onmiddellike uitlewing van sy gevoel as hoogste norm vir sy lewe beskou, moet ons nie verbaas wees as die mens begin leef asof die wêreld vir sy plesier daar is nie, soos so dikwels deur advertensies gesuggereer word. Die wêreld is oënskynlik daar vir ‘jou verbruik’ en om aan jou ’n ‘lekker tyd’ te besorg. En sodra die solipsistiese (alleengeldende) gevoelsbelewing van die individu sentraal staan en die wêreld daartoe aangewend word, verdwyn die medemens se bestaansreg van die toneel.

             Die formele wil tot absolute vryheid van die individu mond uit in ’n lewenswyse (etos) wat selfs die sfeer waarin hierdie vryheid werklik gewaarborg word, uit die oog verloor, naamlik die gemeenskap met sy sedes en gewoontes. Gaandeweg slyt die gedeelde simbole, rituele en omgangsvorme (al is dit bloot ’n groet) waarin ons mekaar wedersyds erken en waarin ’n gemeenskap gestalte kry, sodat ons ook in ons optrede ware gemeenskapsgesindheid uitdra.

Wanneer dit in beginsel radikaal deurgevoer word, ontstaan daar ’n lewenshouding waarin die feitelike omgewing sy eie reg en wesenlikheid verloor en bloot nog beoordeel word op grond van die moontlike genotsimpuls wat dit aan iemand kan verskaf. Hierdie soort lewenshouding kan daartoe lei dat mense mekaar net maar gebruik en misbruik vir hul eie doeleindes, of selfs ’n skop daaruit kry om ander te kwets of af te jak. Voer dit nog verder deur, en dit kan uiteindelik daartoe lei dat enigeen wat hierdie optrede op watter wyse ookal verhinder, uit die weg geruim moet word – desnoods met geweld.

Hierdie soort verabsolutering van die vryheid van die individu hou dus die gevaar in dat dit tot ’n lewenswyse lei wat wesenlik asosiaal is. Wanneer hierdie radikale individualisering uitwaarts gekeer word, disintegreer die gemeenskap, wat by uitstek die voorwaarde is vir enigiemand se ware vryheid. In die ontstaan van lewensfere waarin die gemeenskapsentiment verdwyn het, word ook die reg as uitdrukking van die algemene wil van ’n gemeenskap abstrak: iets wat nie meer werklik uitgeleef word nie, maar nog slegs as juridiese ‘spelreël’ bestaan.

Wanneer iemand naamlik in ’n milieu opgroei waarin iets soos ‘die gemeenskap’ alle betekenis verloor het en hy werklik hoegenaamd geen besef meer het van die waarde van medemense nie, sodat selfs misdaad en straf skimagtige konsepte geword het waarvan hy die betekenis nie meer ken nie, dan weet hy in ’n bepaalde sin nie meer waarmee hy in sy misdaadpleging besig is nie. Hy word geteken deur sy milieu, ’n milieu wat ons à la Hegel die ‘gepeupel’ wil noem.

             Die term ‘gepeupel’ word nie hier gebruik om die armlastige deel van die samelewing aan te dui nie; armoede maak niemand tot gepeupel nie. Die term dui primêr op die maatskaplike agtergrond waarin deugde soos regskapenheid, gemeenskapsbewussyn, eergevoel (in onder meer werksaamheid en selfstandige broodwinning) en verantwoordelikheidsin die onderspit gedelf het. Die lewenswyse van die gepeupel kan inderdaad die gevolg wees van erge armoede en uitbuiting, maar dis nie noodwendig die geval nie. Bowendien het rykdom sy eie gepeupel.

Die ontstaan van gepeupel is eerder inherent aan kultuurverlies. Met kultuur word dan nie bedoel die gemiddelde aantal konsert–, museum– of teaterbesoeke per staatsburger nie, maar ’n beskawing wat omsien na die sedelike ontwikkeling van sy burgers, sodat hulle hulself deel kan voel van ’n gemeenskap en hul lewens saam daarop kan instem.

             In die verabsolutering van die individuele vryheid van die persoon met sy eindelose behoeftes en begeertes kweek ons ’n samelewing van kultuurlose gepeupel wat hulleself asosiaal en gewelddadig manifesteer.

Daar word nog nie genoegsaam besef dat die konsep van die aboluut vrye individu, wat sy vryheid in die maksimale benutting van sy eie gevoelsbelewing ontplooi, self ontworteld is nie. Daardie individu het dan immers net homself, met sy eie subjektiewe gevoelens en verlangens, en geen hoër verwysingsentiteit wie se lewe vir hom as voorbeeld kan geld vir sy lewe nie.

Die appèl op die moderne mens om as vrye individu die kruik se bodem te vind en hoofsaaklik die eie sin te volg en die eie behoeftes maksimaal te bevredig, is eerder ’n uitgesproke magtige en totalitêre ideologie wat hom op alle terreine van die lewe laat geld.

Die vrye individu van die 1960’s het mettertyd ’n berekenende verbruiker geword vir wie die maat van sy handelinge hoofsaaklik aan sy individuele welsyn gemeet word, wat weer in terme van maksimale behoeftevervulling beoordeel word.

             Soos al lank bekend is – en ook uitvoerig deur Hegel en Marx gepostuleer is – word die menslike behoeftes sowel gevorm as gedryf deur die maatskappy self; geen enkele menslike behoefte is natuurlik en nie deur die samelewing getransformeer of selfs geskep nie. Ek is nie slegs op ander aangewese vir die bevrediging van my behoeftes nie; ek laat my ook deur hulle lei. Selfs die behoefte om jou van ander te onderskei, word deur die mark opgeslurp in die vorm van ’n bykans oneindige verskeidenheid van aabiedinge wat die individu noodwendig moet laat voel dat hy volstrek sy eie behoeftes bevredig. Ondertussen word sy behoeftes self gemanipuleer en uitgebuit deur die markmeganismes waarin hy opgeneem is en wat hom die belofte van geluk in die oor fluister.

             En die mees openlike van hierdie massale en nimmereindigende behoefteskepping en –eksploitasie is in die fenomeen van die alomteenwoordige reklame, wat ons oral in die rol van verbruikende indwing en die slaaf van tallose behoeftes maak.

Ons leef in ’n wêreld wat ons voortdurend aanpraat in die eindeloosheid maar daarmee tegelyk ook mateloosheid van ons behoeftes. Feitlik alle denkbare menslike behoeftes, hoe bisar ook al, word deur die mark aangeblaas, of dit nou wettige dinge is soos rekspring, of onwettig, soos kinderpornografie. Die suggestie wat in die moderne mark gewek word, is dat ons in hierdie behoeftebevreding onsself volkome uitleef. In der waarheid verloor die individu hom juis aan die sferiese kragte waarin hy vasgevang is; kragte wat eers voelbaar word wanneer ’n mens toegelaat word om ’n slag onbevange om jou rond te kyk.

             Dat die mens nietemin dink dat hy in hierdie ongebreidelde bevrediging van sy behoeftes by uitstek homself is en homself bevry het van alle beperkings wat die ‘sisteem’ hom as individu sou oplê, kom onder meer deur die feit dat hy in hierdie bevrediging ’n uitdruklike selfgevoel het, dis immers hyself wat geniet. Die geïndividualiseerde behoeftebevrediging neig dan ook na ’n belewingsolipsisme waarin die wêreld slegs van belang is vir sover dit iets bied wat beleef kan word.

’n Huwelik kan dan byvoorbeeld verbreek word omdat één van die eggenote sy sin daarin verloor het en dit saai begin vind. Hoewel dit miskien vir die kinders tot las raak, meen hy (as outonome persoon) dat ’n egskeiding sy goeie reg is – ’n mens leef trouens maar éénmaal, en jy moet beslis die maksimum daaruit haal.

As hy nog ’n tikkie sinieser word, oorweeg hy miskien selfs die risiko van kokaïnehandel en is hy selfs bereid om ’n paar jaartjies opgesluit te word ter wille van die rykdom wat daarna op hom wag.

Die kwaadaardige gesig van hierdie solipsistiese (selfgesentreerde, alleengeldende) behoeftebevrediging kom nog meer sinister na vore wanneer die dionisiese roes die oorhand kry oor die selfbewussyn en die individu nie meer in ’n stemming is om te redeneer nie. Die roes van die solipsistiese belewing lei dan tot sensasionele ‘skoppe’, ‘trips’, drankmisbruik of vorms van verslawing wat in hul chaotiese en destruktiewe gedaante in geweld en by uitstek sinnelose geweld tot uiting kom, juis en presies omdat die denke dan verdwyn het.

             Sinnelose geweld is die soort geweld wat ontstaan wanneer die skynvryheid van die individuele belewing sentraal gestel word; dit is inderdaad geweld wat redeloos is, juis ook omdat die rede nie meer die beskaafde element van ons bestaan is nie (waarmee hoegenaamd nie beweer wil word dat die antwoord op die kwaad enkel en alleen in die ontwikkeling van die rede lê nie). Die struktuur van ’n solipsistiese leefstyl waarin slegs die eie genot sentraal staan en bedagtheid op die werklikheid wegval, is van so ’n aard dat iemand in plaas van sy individuele vryheid nou juis die nie-gekose noodlot oor homself bring.

Iemand dink in sy belustigheid dat hy die lewe kies, maar hy gryp die dood, soos Goethe se Faust ook oorgekom het. Die ‘self’ wat ontplooi word, word later erken as dié self wat homself verloor in sy verblindende lus en sodoende met homself as sy eie noodlot gekonfronteer word. Hoe dikwels sien ’n mens nie dat die plegers van sinnelose geweld in hul misdaadsroes hul verstand as’t ware kwyt was nie? Vervolgens kom hierdie solipsistiese geweldplegers dan met die volle werklikheid van die lewe in aanraking, ’n werklikheid waarvan die strafreg nog steeds deel uitmaak.

             In die verskillende vorms van verslawing en ander neuroses word die onvryheid van die individu teen die kragte wat in hom werk, voelbaar. Die domein van die narkotiese roes kan die skuilplek word waarheen die individu wegvlug uit die beklemmende leegheid van sy wêreld, die trauma’s uit sy jeug en die verskillende frustrasies uit sy latere lewe. Die narkotiese roes kan ewe maklik ook die plek word waar hierdie frustrasies en trauma’s losbreek.

Juis in ’n wêreld waarin alles rustig moet gaan en die kind van sy geboorte af die indruk kry dat die wêreld net om hom draai, is daar nie meer plek vir die negatiewe kante van ons bestaan: die swaarkry, die trae, die moeisame, die pyn, die siekte, die teëspoed, die dood, ensovoorts nie. En tog is omgang met hierdie negatiewe dinge van die lewe ’n gegewe waarvoor elke mens en elke generasie opnuut te staan kom. Dit staan ons momenteel nie aan om ons te veel hieroor te bekommer nie. Selfs ’n tragedie word aangebied asof dit kalm-komies sou moet wees, terwyl dit juis behoort te dien om die mens uit hierdie selfvoldane ligsinnigheid van hom te ruk.

             Die verleidelike skynwêreld soos wat dit daagliks aan die moderne mens opgetower word, maak die kans op frustrasie, woede en neurotiese fiksasies slegs nog groter. Dis nie verniet dat menige jongmens wat min kanse het, verlei word deur die respek wat die ikoon afdwing, die weelde en luukse waarin hy leef, soos in videosnitte afgebeeld word nie. Soos dit ook aan tallose moderne films duidelik gesien kan word, het die figuur van die die misdadiger self ’n eienaardige soort kultus-statuur verkry. Hierdie droomkarakter lyk veel eerder na kompensasie vir die diepe frustrasie waarmee menige mens saamleef, om naamlik niks te beteken of te hê nie, deur niemand gerespekteer te word nie.

Die lewenswyse wat hierbo geskets is, kom tot stand as gevolg van ’n ideologie van die individualiteit volgens die vrye eie gevoelsbelewing. Selfs die uitgesproke gemeenskaplike sfere van gesin en skool het die neiging om die individuele gevoelsbelewing van die kind sentraal te stel. Ook die volwassenes bied aan die jeug dikwels geen ander ideaal as hierdie roesagtige behoeftebevrediging nie. Meer nog, die leefstyl van die adolessent is implisiet ook die ideaal van die mededingende en fiksheidsbehepte veertiger in sy/haar oefenspanbroek, ontrimpelde gelaat en ‘son’geblonde hare en met ’n nuwe vriendin/vriend aan die sy.

Dis nie moeilik om die logika agter hierdie proses in te sien nie. Trouens, waar die vryheid van die individuele belewing sentraal voorop staan, is ’n bepaalde, moeilik te verworwe deug beslis nie die menslike lewensideaal nie. Eerbare volwassenheid en geleerdheid is dan op sigself geen eg inhoudryke begrippe meer nie; hulle word hopeloos outyds geag. Dit beteken egter nie dat hulle nie in die menslike lewe betekenis het nie. Inteendeel, hul afwesigheid het juis fundamentele gevolge vir die menslike etos. Dit impliseer naamlik ’n wesenlike rigtingloosheid in die lewensgang tussen geboorte en dood: daar is naamlik nouliks nastrewenswaardige voorbeelde van volwassewording, laat staan nog oudwording.

En so word die jeug geruime tyd reeds massaal op hulleself teruggegooi, word hulle daarin ‘gehelp’ deur die kommersiële popkultuur. Talle volwassenes het kwalik ’n begrip van wat dit is om van lewenshouding volwasse te wees, laat staan nog dit nastrewenswaardig te vind om soiets te beoefen. Veel eerder sien ons die teenoorgestelde: ’n haas histeries aandoende verheerliking van die onskuldige jong kind (wat so lekker eiewys is). Volwassenheid bly hierdeur ook iets abstraks, iets wat nog skynbaar slegs deur ’n leeftyd uitdrukking kan vind.

Die probleme waarmee ons in ons samelewng te kampe het, is ewenwel so kompleks en diepgewortel (en boonop in ’n globale proses ingebed), dat daar van ’n eenvoudig oplossing geen sprake kan wees nie.

Die vraag is egter of ons wel weet watter ander lewenswyse ons sal moet nastreef, en of ons hoegenaamd nog die krag daarvoor het. Om mee te begin, sou ons miskien weereens die wysheid van ons tradisie ernstig moet opneem, sonder dat dit beteken ons moet na ’n ‘idilliese’ gister terughunker. Hoe moet ons dan ook ’n begrip kry van ’n ‘goeie lewe’ binne die gemeenskap as geheel? Daarvoor het ’n mens gemeenskaplike simboolinhoude en omgangsvorms nodig waarin die gemeenskapsin tot uitdrukking kom en bewaar word.

’n Samelewing wat geen werklike deug nastreef en nie sy eie kwaad herken vir wat dit is nie, is ’n samelewing wat hom ook nie kan versoen met die geweld waaraan hy blootgestel is nie. Geweld lok in so ’n geval slegs meer geweld uit, en die woesteny tier voort. En so ontpop die proses wat Friedrich Nietzsche aangedui het as die nihilisme. So bekyk is sinnelose geweld presies wat dit is: die geweld wat in sy sinneloosheid die tendens of sin van die moderne samelewing self aandui, naamlik sinloosheid.

Dit is hierdie sinloosheid wat hom in sinnelose geweld op homself wreek. Dit openbaar dus die nietigheid van sin. Maar presies in die vernietigende uitwerking van die nihilisme manifesteer dit sy wese, naamlik dat hy nie met homself kan saamleef nie en deur die goeie verlos moet word. Dit is in hierdie sin waarna hierdie oproep tot herbesinning op ons samelewing gestem is.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=928
Artikel nagegaan:
    -