blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Kapitaal versus kultuurgemeenskappe en die armes: Le Monde diplomatique: Die magspel van die bestuurders 2007-10-18
Gérard Duménil en Jacques Bidet

*Onderskeidelik ekonoom en navorsingsdirekteur by die CNRS (EconmiX); en filosoof en emeritus-professor aan die Universiteit van Parys 10-Nanterre. Medevoorsitters van die kongres Marx International V, wat van 3 tot 6 November 2007 by die Sorbonne en Parys 10- en Nanterre-universiteite gehou word (netx.u-paris10.fr/). Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected].

 

Met die storm van neoliberale globalisering wat voorttier, het linkse politiek ’n resessie binnegegaan. Frankryk, land van die veronderstelde uitsondering, val ook in by ’n neiging wat nou feitlik die reël geword het: ’n historiese verswakking in die antagonisme tussen wedywerende politieke strewes. Met sy diskoers ontleen aan die reaksionêre regses en sy liberale ekonomiese beleid het mnr. Nicolas Sarkozy daarin geslaag om by die mees verswakte lae van die werkersklas ’n aanklank te vind. Hy het dit reggekry om hulle te oortuig dat hý die vermoëns in pag het om die hoop wat vroeër deur die linkses beliggaam is, te verwesenlik. Dié linkses wie se ideoloë nou in sy kamp is en van wie hy die leiers geneutraliseer het. Het die finale konvergensie van kragte oor die “laaste stryd” geseëvier?

Die uitdaging van die linkse mag, wat deur dekades van stryd gedra is, is in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog vergestalt in die “sosiaal-demokratiese kompromie”, in sy talle variante, van die middelmoot tot by die randgroepe. Kapitalisme het voortgegaan om hom in koloniale oorloë en ekologiese verwoesting te ontplooi, maar die voorregte van kapitalistiese eiendom het gekwyn: lae reële rentekoerse, karige verspreiding van dividende, matige styging in die aandelemark, die oorwig van die niefinansiële sektor. Nasionale nywerhede, openbare dienste, bestaansorg, en maatreëls vir werkverskaffing en ontwikkeling is ingestel. ’n Hele “sosialisties-neigende” dinamika, soms gedra deur die linkse politieke magte, wat in 1968 ’n hoogtepunt bereik.

En skielik is die stukrag gebreek. Aan die einde van die 1970’s herwin die kapitaliste hulle offensiewe vermoë. Hulle betree ’n nuwe historiese fase, dié keer neoliberaal. Drie dekades later lyk dit of die saak geskik is. Die geskiedenisblaaie is skoongevee. Die koers wat ingeslaan is, lyk onomkeerbaar. Twyfel ontstaan oor selfs die gedagte van linksgesindheid, nie alleen oor die uitvoerbaarheid van sy planne nie, maar oor die toekoms wat dit verteenwoordig het. ’n Gevoel van leegheid, soos by die verlies van geloof. ’n Sluipende wanhoop wat ’n mens verlam.

Wat weerhou nog die “linkses” daarvan om hulle eie geskiedenis te begryp, ’n bestekopname te maak – van hulle onstuitbare opgang tot met hulle historiese ondergang – en om te begin werk aan ’n nuwe toekoms, al is dit ook ’n moeilike een?

Hoewel ons graag na Marx wil teruggryp, moet ons terselfdertyd byvoeg dat die skuld deels by die Marxisme self lê. Dit is laasgenoemde wat in die algemene kultuur die splyting gebring het tussen twee opponerende kampe: arbeid teenoor kapitaal. Maar in hierdie grondliggende mite lê ’n foutiewe denkrigting opgesluit. Die moderne maatskaplike orde bestaan nie uit een nie, maar twee dominante magte – binne die wêreld van die “kapitaliste” is daar ook ’n ander mag: dié van die organiseerders, private en openbare bestuurders, deskundiges van elke soort – die “bestuurders-en-bekwames”. Dit is hierdie twee magte, onderling verbonde maar nietemin antagonisties, wat saam ’n bolwerk teen die “fundamentele werkersklas” vorm. En dit is uit hierdie hoek dat die moderne klassestryd verstaan moet word – ’n spel tussen drie kampe, en nie twee nie.

Tydens die “sosiaal-demokratiese kompromie” wat in die glorieryke dertig jaar na die Tweede Wêreldoorlog geheers het, is ’n bondgenootskap tussen die “fundamentele” klasse en die bestuurders-en-bekwames gevorm, wat op allerlei maniere deur sosialistiese of kommunistiese partye verteenwoordig is. Die fundamentele klasse het die dryfveer gevorm; die bestuurders-en-bekwames, die arbeiders se kapstok. Die inspirasie het uit twee komponente gekom. Die nasiestaat word ’n maatskaplike staat. Beheer oor maatskappye en politici het in ’n groot mate
die kapitaalbesitters ontglip. Daar is gepraat van ’n gemengde ekonomie, tussen kapitalisme en sosialisme. Nou moet ons nog net die profiel van dié verskynsel omskryf, en die toestande begryp waaronder dit verdwyn het.

Laat ons vir hierdie doel weer by Marx se analise begin. Sy sentrale gedagte is dat die klassestruktuur in die moderne wêreld nie soos in vorige stelsels berus op die natuurlike superioriteit van sommiges nie, maar op die bevestiging van vryheid en gelykheid tussen almal, soos wat ’n mens verwag om in ’n markekonomie te sien. Maar, onderstreep Marx, dié stelsel funksioneer net as die werker self ’n ontginbare kommoditeit word. So ’n ekonomie is dus kapitalisties, en nie slegs markgeörienteerd nie. Die mark op sigself behels nie net ’n verhouding tussen klasse nie, dit is die grootste faktor daarvan. Dit lei tot privaat besit van vervaardigingsmiddele. En dis met hierdie mark-matriks, aldus Marx, wat daar weggedoen moet word, want dit kondisioneer die res.

Maar, voeg hy by, nou sien ’n mens ook binne die moderne maatskappy die ander rasionele koördineringsbeginsel na vore kom, wat in staat is om op maatskaplike vlak uit te brei en die mark te marginaliseer en mettertyd te vervang: en dit is “organisasie”, waarby vervaardigingsbesluite vooraf en nie meer agterna nie, in ewewig gebring word. Hieruit sal die werkersklas sy opkomende krag kan put; die werknemers sal uiteindelik besit van die maatskappye neem, die rewolusie sal ’n post-mark-era inlui, gebou op gesamentlike organisering tussen vrye, gelyke werkers.

Hierdie “grootse verhaal” som die utopie van die 20ste eeu op, die inspirasie vir heroïese rewolusies, bevrydende stryd en hervormings, wat die lotsbestemming van die wêreld sou verander. As grondliggende teoretiese rigsnoer bevat dit egter ook ’n verskuilde gesig, want dit verdoesel die feit dat organisasie op sy beurt ook, soos die mark, ’n klassefaktor is: die ander faktor. En dat die moderne vorm van die samelewing op twee voetstukke rus. Klasse-oorheersing spruit hier uit twee relatief uiteenlopende kragte, waarvan die een in kapitalistiese besit lê, en die ander in “bevoegdheid” – waar laasgenoemde in beheer is van ekonomiese, administratiewe en kulturele organisasie (1).

Hierdie paradigma, wat ons “neo-Marxisme” noem, veronderstel ’n grootskaalse hersiening van hoe die klassestruktuur soos die klassieke Marxisme dit gesien het, ontleed moet word. Laasgenoemde sal moet verklaar hoekom hy onbewus bly van hierdie tweeledige dominansie, wat nietemin deur die sosiologie opgemerk is en vir die gesonde verstand duidelik is. Hoekom laat hy hierdie gedagte buite rekening, en gaan hy voort om burokrasie as ’n patologie te hanteer, eerder as om organisasie as ’n klassefaktor te sien?

Die rede is dat klassieke Marxisme self, anders as kapitalistiese besit, histories na vore gekom het as ’n diskoers van stilswyende, ietwat verborge kompromis tussen die bestuurders-en-bekwames en die werkersklas. En dit is om hierdie rede dat hy die amptelike leerstelling van die “arbeidsbeweging” kon bou, beide in die “werklike sosialisme” en in die “sosialisme-in-kapitalisme”. Binne hierdie historiese strominge ontwikkel daar ’n ambivalente klas-identiteit, wat deurentyd ontken word, en wat gerig is op ’n kompromie tussen die “werkersklas” en die kern van ekonomiese en kulturele bestuur. Die samewerking tussen alle partye (met die “vereniging van werkers” as amptelike doelwit) neem, in wisselende grade, die vorm aan van ’n geörganiseerde ekonomie onder beskerming van openbare instansies. Die mag van die massas word vereenselwig met die mag van die organiseerders.

Die geskiedenis van die kapitalisme in die 20ste eeu word sodoende beheer deur die wisselwerking in die boonste magskringe, tussen die twee maatskaplik dominante magte. Geldelike beheer voer die botoon tot in 1933 (begin van die New Deal in die VSA). Daarna neem organisatoriese bestuur oor, tot in die 1970's. Waarna dit opnuut die finansiële sy is. Wanneer laasgenoemde die oorhand kry, dwing hy die maatskaplike veranderingsdinamika wat aan hom eie is, op die organiseerders af. Wanneer die bestuurspool oorheers, beteken dit dat hy ’n alliansie met die werkersklas teen die finansiële wêreld gesluit het.

Deur hierdie bril gesien, begryp ’n mens die uiteenlopende, dog nietemin parallelle, lotsbestemming van die kapitalisme en die werklike sosialisme. Dit noop ’n mens om aan die een kant te kyk na die toename in mag van ’n “bestuursmag” in die Weste, waarneembaar op die vlak van firmas, groot maatskappye en state, en aan die ander kant na die “proletariër-rewolusie” in die Ooste, wat vinnig die mag in die hande van die organiseerders geplaas het, en van hulle die alleenheersende klas gemaak het. Die parallellisme tussen die twee verskynsels laat ’n mens dink dat hulle spruit uit dieselfde diepliggende strukturele dryfvere, inherent aan die samelewing in sy moderne vorm. Tot so ’n mate dat die sameloping van die stelsels, of die oorgang van die een na die ander, telkens die onderwerp van debat is.

Hierdie historiese alliansie tussen die werkersklas en die bestuurders-en-bevoegdes het diverse vorme aangeneem, en tot in die 1960-1970’s bly groei. Dit was ’n beslissende faktor in die gevegte van die Derde Wêreld, die rewolusionêre stuwinge in Latyns-Amerika, en in studente- en werkersopstande oor die wêreld heen. Om slegs Frankryk as voorbeeld te neem: ’n ganse studentejeug, reeds ryk aan die belofte van die hiërargiese posisie wat universiteitsgrade in die samelewing kon waarborg, skud in 1968 die ou kulturele raamwerke waarop die tradisionele regse politiek sy klasverwante mag gebou het. Meegevoer deur hierdie stukrag hef die werkersklas sy strydbyl omhoog: veertig dae van ongeveer landwye stakings. En dit was maar die begin, is daar gesê ...

Waarom het die geskiedenis sedertdien ’n ander koers ingeslaan, met ’n skielike terugswaai na die finansiële pool?

Omdat die inperking van die finansiële wêreld se magte en inkomste binne die sosiaal-demokratiese kompromie nie ongesiens verbygegaan het nie. Die kapitalistiese klasse se ideoloë, van Friedrich von Hayek tot Milton Friedman, het van meet af aan die aard van die proses begryp, beide op lands- en internasionale vlak. Die geldwêreld herwin sy strydlus (namate die herinnering aan die 1929-krisis vervaag), en sy mag word herstel, onder meer met die opkoms van ’n nuwe finansiële stelsel, dié van die Euromarkte, buite bereik van die sentrale banke se beheer.

Elke struikelblok wat die na-oorlogse kompromie op sy pad teëkom – beginnende by die dollarkrisis in die vroeë 1970’s – verswak sy fondamente. Die kompromiste se onvermoë om die strukturele krisis van die 1970’s die hoof te bied, veral die vinnig stygende inflasie, bevoordeel die opkoms van nuwe magte, soos beliggaam deur mev. Margaret Thatcher en mnr. Ronald Reagan, wat met ’n “yster”-wil die werkersweerstand die stryd aansê. In 1979 styg rentekoerse tot ongekende vlakke, ’n vars bries vir die kapitalistiese klasse wie se inkomste ’n laagtepunt bereik het. Krisis in die skuldgeteisterde Derde Wêreld. Werkers en bestuurders moet die gordel stywer trek.

Die algemene kapitalistiese neigings tot kommersiële en finansiële globalisering, wat die vorige maatskaplike orde reggekry het om hok te slaan deur ontwikkelingsmaatreëls, kry so weer die oorhand, aangehelp deur sommige tegnologiese “vooruitgange”. Globalisering verander van aard. Dit bring ’n nuwe internasionale verdeling van arbeid, onder leiding van die Amerikaners, wat koloniale uitbuiting laat herleef en al die werkers van die wêreld teen mekaar laat meeding. Die Chinese wonder sou weer die wonde van Latyns-Amerika kon toesmeer.

In die proses word die bestuurders-en-bekwames deur die geldwêreld onder hande geneem. Ontneem van hulle vermoë tot inisiatief en afgewend van die doelwitte wat hulle binne die konteks van die nasiestaat nagestreef het, blyk hulle nou nie meer in staat om hierdie denkpatrone op ’n kontinentale vlak, soos in Europa, te herstel nie. Van die sosiaal-demokratiese kompromie beweeg hulle na ’n neoliberale een. Die samewerking geskied met wisselende ywer na gelang van die historiese konteks, met groter blymoedigheid in die VSA of die Verenigde Koninkryk as in Frankryk.

Wanneer politieke figure wat die bestuurders-en-bekwames verteenwoordig, hulle met neoliberale opsies vereenselwig, is daar nie sprake van individuele verraad nie. Dit gaan om meer as dubbelsinnige loopbaansbesluite: die historiese toestande wat tot die sosiaal-demokratiese kompromie gelei het, het verdwyn. Linkse politiek is iets van die verlede! En die vraag ontstaan vir die fundamentele klasse: hoe kan hulle hul politieke inisiatief herwin?

Om dit te beantwoord, moet ’n tweede punt eers opgeklaar word. Hoe beweeg jy van ’n driespel na ’n tweespel? Hoe kan die drievoudige skema van klasse gestalte kry in die binêre gedaante (links/regs) wat op die politieke verhoog heers? In die demokratiese skema van ’n meerderheidsregering verteenwoordig die linkse sy die polities problematiese terrein van ’n alliansie tussen die fundamentele klasse en die bestuurders-en-bekwames. Met die draai van 19de na die 20ste eeu, hetsy rewolusionêr of reformisties, het linkse strominge telkens tot stand gekom wanneer die werknemers hulle tot die lae van “bevoegdheid”, van bestuur en kultuur, gewend het, en meegesleur is in die historiese dinamika daarvan. Die intelligentsia en organiseerders van elke soort het ’n sleutelrol hierin gespeel, geneë om die voorhoede van die “arbeidsbeweging” te vorm.

Ongetwyfeld beskik die “organisasie”-faktor oor ’n geweldige potensiaal vir tirannie, maar dit kom slegs tot uiting wanneer dit op openbare wyse ten toon gestel word: uitgedruk in gemeenskaplike projekte, met doel en middele uitgestippel. Daarenteen het “die mark” as sodanig geen gesamentlike plan om te onthul of aan die algemene kritiek te onderwerp nie. As reklame en propaganda kan dit die burgers slegs die belofte van welvaart bied as onderdeel van die meganismes van profyt en individuele belang. Dit is dus nie om't ewe of jy van links of van regs regeer word nie.

Maar “links” is ’n term wat verwys na ’n onvaste iets waarvan die inhoud wissel na gelang van die bestuurders-en-bekwames se betrokkenheid in ’n sosiaal-demokratiese kompromie na links, of ’n kompromie na regs. Die werklike Linkses met ’n hoofletter, “links van links”, is nie ’n natuurlik gewaarborgde instelling nie. Dit is ’n gebeurtenis wat plaasvind wanneer die arbeiderstroming dit regkry om die bestuurders-en-bekwames mee te sleur in sy eie bevrydingsdinamika. In so ’n geval verslap die natuurlike band tussen die twee komponente van klasse-oorheersing, en die lus wat die massa saamsnoer, raak losser.

Vandag is die situasie egter heel anders. Die arbeiderswêreld het sy sentrale aard, sy strategiese posisie in vervaardiging wat van hom ’n dryfveer gemaak het, verloor. Die alliansie met die bestuurders-en-bekwames het problematies geword. Die fundamentele klasse bevind hulle in ’n geskiedkundige verleentheid.

Die probleem spruit aan die een kant daaruit dat die mag wat nodig is om kapitalistiese eiendom te marginaliseer, gevorm word deur ’n alliansie met ’n vennoot wat dit om sy eie redes doen, maar wat terselfdertyd – uit hoofde van die voorregte wat deskundigheid en bestuur bied – ’n klasse-teëstander bly. Omdat daar dubbele oorheersing is, moet die stryd op twee fronte gevoer word.

Aan die ander kant is dit ook duidelik dat die fundamentele klasse slegs kan seëvier indien hulle politieke eenheid kan bewerkstellig tussen die faksies waarin hulle geneig is om te verdeel. Hierdie ingebore verdeeldheid is duidelik sigbaar in hulle verspreidheid op die politieke skaakbord. Die regse “besittersklas” fassineer die onafhanklike arbeiders en die mees kwesbare lae van die werkersklas. Die linkse “organisatoriese bekwames” trek die salaristrekkers in die openbare sektor aan, veral dié wat hoop om maatskaplik hulle weg boontoe te baan deur die weë van bekwaamheid. Hierdie spanninge bring die eise om ’n program vir arbeiderseenheid duidelik na vore. Dit is hierdie politiek van eenheid en alliansie wat die moderne geskiedenis afgebaken het met hoogtepunte van bevryding, hervorming en rewolusie. Daar is geen alternatiewe hoofweg nie. Al uitweg vir die toekoms is om dit te ontwikkel van die mees plaaslike tot op die wydste skaal, van Europa tot wêreldwyd. En om die doelwitte te verskerp.

Dit gaan nie slegs om die gedeelde besit van sekere produksiemiddele en die regverdige verdeling van inkomste nie. Dit gaan terselfdertyd om samelewingstoestande, met ander woorde geslagsverhoudings, die omgewing, arbeidstoestande, gesondheid, onderwys, navorsing, stads- en streeksbeplanning, ens. Die stryd teen kapitalisme, wat gebaseer is op die opgaar van winste, op abstrakte rykdom, was nog altyd ’n stryd om daadwerklike lewenstoestande, om beheer oor die vervaardiging van maatskaplike bestaan.

Hoe kan die fundamentele klasse dan die inisiatief herwin? Hoewel nodig, kan die vorm van politieke organisering wat eie aan hulle is, naamlik die “party”, selfs in die meervoud, nie ’n antwoord vir die hele probleem bied nie. Slegs ’n verskeidenheid van outonome bewegings, hetsy langdurig of by geleentheid, sal die stryd van dag tot dag op die twee fronte kan help voer: teen die telkens nuwe houe wat die kapitalisme toedien, en teen die “elite” se geneigdheid om die stukrag van die arbeiderstryd tot sy eie voordeel in te span. Dit is dus uit die simbiose, die saamspan van intellektuele kragte, beide moreel en polities, tussen partye en bewegings, wat ’n Linkse politiek met ’n hoofletter sal uitstyg en in staat sal wees om die kapitalistiese mag teen te staan.

Die kapitalistiese “wêreldstelsel” kan nie ontleed word volgens die model van die nasiestaat met sy klassestruktuur soos dit hier beskryf word nie. Dit bring kern en periferie in stryd met mekaar. Dit maak klasseverhoudings asimmetries, skep oorheersing en oorlog. Maar in die loop van die geskiedenis, waar die moderne denkpatroon van produksie en regering gelei het tot klassieke nasiestate, vandag op kontinentale skaal, sien ons op die lange duur hierdie selfde matriks gestalte kry in die vorm van ’n wêreldstaat in wording. Met al die militêre, ekonomiese en kulturele mag wat hy het, is die VSA, as sistemiese, imperialistiese kern van die wêreld, vasberade om die dominante speler te word in hierdie ontluikende “staatheid” van ’n nuwe planetêre klas.

In ’n groot mate kry hy dit ook reg. In teenstelling met die twee wêrelde wat eie aan die Koue Oorlog was, of ’n “triade” – VSA en Kanada, Europese Unie en Japan – verrys daar ’n oorheersende hiërargie wat imperialisties en eenpolig is, ’n pool geskep deur ’n konsentrasie van kapitaal, wat die heruitvoer daarvan na die res van die planeet beheer. Teenoor hierdie nuwe soort konsentrasie van wêreldmag wat aan die ontkiem is, begin ’n nuwe eenheid van stryd en weerstand gestalte kry, ontstaan daar ’n samehorigheid in die stryd tussen klasse, rasse en geslagte. Dit is nog maar ’n brose bewuswording, wat van die een kant af belig word deur krake in die neoliberalisme, en van die ander kant af bedreig word deur die teenstrydighede wat enige soort nasionalisme en sektarisme geneig is om aan te wakker. Hier kan daar nie op partye gereken word om die wêreld te organiseer nie. Dit is die vorm van die beweging wat tel. In die soeke na sy maatskaplike basisse, sy “globale” gestalte, en ook sy ideologie, moet ’n ander Marxisme vir ’n ander wêreld nog grootliks geskep word.

_________

(1) In die boek Altermarxisme, Un autre marxisme pour un autre monde, Parys: PUF, 2007 beskryf die skrywers in hoofstukke 5 en 6 twee afsonderlike dog saamlopende teoretiese beskouings van die klassestruktuur in ’n kapitalistiese samelewing.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=926
Artikel nagegaan:
    -