blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Kapitaal versus kultuurgemeenskappe en die armes: SA se uitgeholde demokrasie 2007-10-18
Andrew Nash

*Senior lektor in politieke wetenskap, Universiteit van Kaapstad.

 

Deurdat Suid-Afrika in globale kapitalisme heropgeneem is, dra sy demokrasie baie van die eienskappe van kapitalistiese demokrasieë oor die wêreld. Anders gestel: demokrasie is oor eeue heen deur die kapitalisme uitgehol, en Suid-Afrika het daardie uitgeholde vorm van demokrasie geërf, in die mondering van “people’s power”.

Maar selfs wanneer demokrasie in Suid-Afrika die kenmerke van kapitalistiese demokrasieë dwarsoor die wêreld aanneem, gebeur dit hier in bepaalde opsigte. Ek wil iets sê oor hoe dit gebeur, en ook oor een eienskap van demokrasie — of dan hoe ons oor demokrasie praat en dink — wat moontlik uniek aan Suid-Afrika kan wees.

Eerstens het die vestiging van demokrasie in Suid-Afrika tot ’n groeiende gaping gelei tussen die politieke leierskap wat deur die meerderheid van die bevolking en die mense self erken en herken word. Die ANC is nou deel van die staat, en die transformasie van staatsinstellings het gelei tot die skepping van groter afstand tussen die staat en die mense.

Natuurlik word die nuwe Suid-Afrikaanse staat nie meer deur die meerderheid ervaar as instrument van uitsluiting en onderdrukking soos dit onder apartheid die geval was nie. Daar is talle inisiatiewe om aan mense ’n gevoel van deelname aan beleidvorming te gee deur byeenkomste, imbizos, buitengewone sittings van wetgewende liggame in townships en so meer. Maar in die praktyk, namate die staatsinstellings ontwikkel en na gelang hulle poog om verhoudings tussen kapitaliste en werkers te bemiddel, beklemtoon hulle prosedures wat feitlik altyd tot voordeel van kapitaal werk.

Kom ek gee ’n ietwat willekeurige voorbeeld. In Julie 1998 stort die Injaka-brug, toe nog onder konstruksie in Mpumalanga, ineen, waardeur 14 werkers sterf en 9 ernstig beseer is. In Januarie 1999 begin die Departement van Arbeid ’n ondersoek na die ineenstorting van die brug. Die ondersoek duur drie jaar, waartydens die konstruksiemaatskappy die departement etlike male voor die hof daag. Dit het ’n dossier van 30 000 bladsye uitgebring en etlike vervolgings aanbeveel. Die dossier is hierop na die Departement van Justisie gestuur, wat dit toe laat wegraak het. Die onderhoude met mense wat aan die brug gewerk het, moes weer opnuut gevoer word, en deskundiges moes ’n tweede maal ondersoek word. Oplaas, in Oktober 2005, het die Departement besluit om nie te vervolg nie. In plaas hiervan het hulle die saak verwys na ’n geregtelike ondersoek in Mpumalanga, waar die kwessie van wie vir die 14 sterftes verantwoordelik was, verder nagespeur kon word.

In 2006 luister ek oor SAFM na ’n radiodebat oor die ineenstorting van die Injaka-brug en die nadraai daarvan, gelei deur die gasheer John Perlman. Daar was ’n ingenieur wat in besonderhede verslag gedoen het van die foute wat daar was ten opsigte van die ontwerp, beplanning en aanstelling van die verantwoordelike ingenieurs. Die ander gas, ’n amptenaar in die Departement van Justisie, het nie nodig gehad om op enige afsonderlike punt te reageer nie. Elke keer was sy antwoord, “Elke ding wat jy sê, mag waar wees. Maar dit maak nie saak wat die probleem was nie. Ons het die korrekte prosedure gevolg."

Teen daardie tyd het hulle dit vir ongeveer agt jaar gevolg. Die prosedures het na nêrens gelei; daar is nog steeds niemand opgespoor wat vir die ineenstorting van die brug of die dood en besering van die werkers aanspreeklik gehou kan word nie. Dit is moontlik — hoewel ek nie met sekerheid kan sê nie — dat ’n verdere rondte van prosedures gevolg kan word om seker te maak dat die prosedures wel korrek gevolg is. As daar nog nie sulke prosedures is nie, sal hulle moontlik spoedig in plek kom. En so raak ons demokrasie hoe langer hoe meer ’n kwessie van prosedure.

Maar die vraag wat ek wil vra, is dít: In ’n geval soos hierdie, waar die belange en sake van werkers en hulle families aan die een kant, en groot konstruksiemaatskappye en ingenieursfirmas aan die ander kant op die spel is, watter kant word dan deur hierdie prosedures begunstig? Watter kant het die vermoë om advokate te huur om agt jaar lank te bly spook met die kwessie of iemand vir die ineenstorting van ’n brug verantwoordelik was?

Daar kan gesê word dat dit in hierdie geval die staat is — dit wil sê, die Departement van Arbeid en die Departement van Justisie — wat in belang van die werkers optree wat gesterf het of beseer is. Maar daar kan nouliks beweer word dat dit die werkers of hul families is wat besig is om te besluit wat in hulle belang is of hoe hulle belange nagestreef behoort te word, soos wat die kapitaliste kan doen in hul opdragte aan hulle advokate. Dit is die demokratiese staat self wat hierdie afstand skep tussen werkers en die prosedures wat oorweldigend waarskynlik die kapitaliste se belange sal bevorder.

Die rede waarom hierdie insident uitstaan, is omdat die gaping tussen prosedure en realiteit so bisar is. Dit toon ook hoe die proseduralisme van die staat een klas bo ’n ander bevoordeel, in weerwil van sy oënskynlike neutraliteit - of selfs as gevolg daarvan. Die een prosedure word verhef bo uitkoms, die prosedure kan altyd ingewikkelder gemaak en ’n ent langer uitgerek word. Prosedure kan gevolg word tot tyd en wyl daar ’n uitkoms is wat die magtiger klas se belange uitstekend pas, selfs al maak die uitkoms geen sin nie.

Dieselfde sort proseduralisme oorheers dikwels die staat se onderhandelings met die werkersklas en ook met die armes. Dink maar aan die manier waarop die Minister van Finansies jaarliks ’n bepaalde bedrag vir die salarisse van werkers in die openbare sektor opsy sit, en hoe unies dan binne die perke van die begrote bedrag moet onderhandel. Dink maar aan die provinsiale grensdispute by Khutsong en Matatiele. Dink aan die manier waarop die polisie gebruik word om protesoptogte en versperrings op te breek. Dit is maklik vir die staat om te sê dat hulle nie een of ander kant kies nie, maar dat hulle procedures volg of diesulkes straf wat nie procedures volg nie. En hierdie muur van prosedure vorm ’n al hoe groter skans tussen die demokrasie en die mense.

Tweedens het demokrasie in Suid-Afrika ’n nuwe etiese landskap met hom saamgebring. Die etiek van die mark en die etiek van die strooptrein het die etiek van massa-“struggle” en die bevrydingsbeweging vervang. Ek glo dat dit nou verwant is aan die ontwikkeling wat ek pas beskryf het, waarin ons demokrasie al hoe proseduraler word, eerder as wesenlik. Albei ontwikkelings is afhanklik van die skepping van ’n groep professionele politici en administrateurs wat apart staan van die massa van gewone mense, maar wel namens die mense optree.

Nie so lank gelede nie, is mense soos Aartsbiskop Tutu deur die ANC aangeval oor die vrae wat hy oor die strooptrein gestel het en die etiese karakter van ons demokrasie in die algemeen. Dit het in Julie 2006 verander, toe Mbeki sy Mandela-lesing gebruik het om op Tutu se temas uit te brei, met klagtes oor die duiwels wat aan ons almal fluister, “Word ryk! Word ryk! Word ryk!” Maar dis nie bloot ’n kwessie van ’n handjievol korrupte of inhalige individue nie. Die hele karakter van Suid-Afrika is aan die verander.

Die fokus van etiese diskoers het van kwessies van mag, oorheersing en ongelykheid na kwessies van korrupsie verskuif. Die breër raamwerk van etiese diskoers het verskuif van kwessies van die historiese rigting van maatskaplike verandering na kwessies van ekonomiese groei en dienslewering. Daar is massiewe groei in die instansies van etiese systapping, elk met sy eie gedragskode, maar dit doen niks om die vermenigvuldiging van etiese probleme te kortwiek nie. Politieke etiek begin nie meer met die erkenning van onbillikheid nie, en beantwoord dit nie meer met die instelling van nuwe vorms van etiese lewe wat in staat is om die stryd teen onbillikheid te handhaaf nie. In plaas daarvan, soos in Mbeki se lesing en talle ander gevalle, begin dit met die erkenning van die bestaan van ’n etiese krisis en reageer daarop deur by ons aan te dring om ons tot die norme van ubuntu en dies meer te bekeer.

Die neoliberale ideologie sien die mark as die bepaler van die waarde van alles. In die konteks van hierdie ideologie is daar iets verdags omtrent verteenwoordiging, openbare diens, algemene welsyn. Die waarde hiervan kan nie so maklik deur die mark bepaal word nie, daarom het ons toesighouding daaroor nodig en monitering daarvan om seker te maak dat dit nie met die funksionering van die mark inmeng nie. Wat ons demokrasie ondermyn en aan bande lê, is nie bloot die korrupsie van verteenwoordigers van die publiek wat hulle deel van die mark wil hê nie, maar ook ’n verskraalde begrip van korrupsie, wat dit slegs in terme van die mark sien.

Die derde eienskap van ons demokrasie wat ek kortliks wil aanraak, het nie slegs te make met hoe dit werk nie, maar hoe ons daaroor dink. Ons word dikwels meegedeel dat Suid-Afrika nie bloot nog ’n kapitalistiese demokrasie is nie. In Suid-Afrika, word ons ingelig, is ons deel van ’n nasionale demokratiese rewolusie, of is ons minstens besig met die skepping van ’n nasionale demokratiese samelewing. Hierdie frases word deur allerlei agendas lewend gehou, maar die uitwerking wat dit het, is om verwarring te skep waar helderheid dringend benodig word.

Daar is iets mistieks omtrent die diskoers van die nasionale demokratiese rewolusie. Vir almal van ons, in feitlik elke faset van ons daaglikse lewens, lyk Suid-Afrika na ’n kapitalistiese samelewing. Wanneer werkers ’n werk soek, wanneer ’n werkgewer opdragte aan ’n werker gee, wanneer ons behuising of vervoer of enige ander lewensnoodsaaklikheid nodig het — elke keer is dit die kapitalistiese imperatief van winsopgaring wat beslis hoe dinge gedoen moet word. En die staat tree daarvolgens op, maak seker dat private eiendom veilig is, dat enigiemand wat hierdie raamwerk oortree, gestraf word, ensovoorts.

Maar die teoretici van die nasionale demokratiese rewolusie (NDR) deel ons mee dat Suid-Afrika slegs na ’n kapitalistiese samelewing en staat lyk omdat ons nie weet hoe om te kyk nie. Hulle neem die standpunt in van die priester wat ons meedeel dat ons met nagmaal nie brood en wyn in ons monde sit nie, maar die liggaam en bloed van Jesus Christus, wat vir ons sondes gesterf het. Toe dit nog in die Pick ’n Pay-sak was, was dit net brood en wyn, maar wanneer dit eers geseën en op die altar geplaas is, moet ons glo dat dit iets anders is. Op dieselfde wyse leef ons ons daaglikse lewens binne die raamwerk van kapitalisme en sien ons die demokratiese staat sy norme gestand doen. Maar sodra ons die demokratiese staat begin bespreek, word dit iets anders, as ons geloof net sterk genoeg is!

Dis nie eers meer duidelik waarin ons veronderstel is om vertroue te hê nie. Die teorie van die NDR was oorspronklik ’n teorie van die oorgang na sosialisme. Daar is aangevoer dat, in samelewings wat deur imperialisme oorheers is, waar die werkersklas swak was en die kleinboerestand meer talryk, was dit ’n fout om die werkersklas tot sosialisme te mobiliseer. Eerder moet die stryd vir sosialisme deur twee stadiums gaan, beginnend by die mobilisering van alle klasse vir ’n nasionale demokratiese rewolusie, wat dan ’n samelewing sou skep wat nóg kapitalisties, nóg sosialisties, maar in lyn met die sosialistiese wêreldekonomie, dit wil sê, die Sowjet-Unie is. Eers wanneer dit alles bewerkstellig is, sal die stryd om sosialisme tot sy reg kom.

Ek dink die NDR was nog altyd ’n swak teorie, hoofsaaklik omdat dit ’n teorie van klassemanipulasie was – dit wil sê, ’n poging om vir elke klas die illlusie te skep dat hul doelwitte die doelwitte van die struggle was, terwyl hulle gereed maak om daardie struggle te verraai. Of dit nou ’n goeie of slegte teorie was, dit was nooit na ongeveer 1970 op die laatste op Suid-Afrika van toepassing nie, toe die werkersklas sterk en goed georganiseer was, en die kleinboerestand ’n uitgeputte mag. Hierdie kwessies is in die 1980’s heftig gedebatteer, en is nou deur gebeure agtergelaat. Ek sal dus hier niks verder daaroor sê nie.

In die nuwe Suid-Afrik, is daar nie meer ’n logiese manierom NDR te begryp nie. Vir die ANC eindig die tweetrek-rewolusie met die eerste trek, en vir die SAKP is dit bedoel om die spitwerk vir die sosialistiese struggle te doen. Die stryd om sosialisme kan egter pas begin wanneer die NDR afgehandel is, en geen mens weet wanneer dit sal gebeur het nie, omdat niemand weet wat ’n nasionaal-demokratiese samelewing is nie!

Daar is nie meer enige betekenisvolle teorie van nasionale demokratiese rewolusie nie. Daar is ’n diskoers oor die nasionaale demokratiese rewolusie, opgemaak uit reste van daardie teorie, wat nou´n klein maar belangrike rol speel in die ideologie van die nuwe Suid-Afrikaanse heersersklas. Net soos wat die burokrate wat die ineenstorting van die Injaka-brug gehanteer het, kan volhou dat hulle die korrekte prosedure gevolg het, kan die woordeskat van die nasionale demokrasie volhou dat massastryd in Suid-Afrika die korrekte prosedure moet volg.

Dalk is die belangrikste funksie van die NDR in die politieke diskoers van die nuwe Suid-Afrika om die idée te bevestig dat demokrasie noodwendig kapitalistiese demokrasie is. Maar daar is geen rede waarom ons dit moet aanvaar nie. As demokrasie beteken dat die mense die mag het om ’n samelewing te skep wat op so ’n wyse georganiseer is dat dit aan hul behoeftes, eerder as die behoeftes van winsneming, voldoen, watter voordeel het dit dan om dit ’n nasionale demokrasie te noem?

’n Waarlik demokratiese gemeenskap is een waarin die beperkinge van die kapitalistiese mark te bowe gekom is. Dit is ’n samelewing waarin mense mag in hul eie hande neem en aktief deelneem aan die vorming van die samelewing, nie slegs in imbizos en parlementêre verkiesings nie, maar in daaglikse besluitvormingsprosesse. Daar kan geen demokratisering wees sonder mobilisering nie, en mobilisering is afhanklik van die vestiging van gemeenskaplike doelwitte deur eerlike, oop en geduldige samespreking.

’n Demokratiese samelewing, in hierdie sin, is ook ’n sosialistiese samelewing. Dit is nie slegs ’n samelewing waarin materiële goedere op ’n ander wyse gedeel word nie - waarin gelykheid nie bloot ’n kwessie van formele regte is nie, maar van werklike lewensomstandighede. Dit is ook ’n samelewing waarin die kwessie van hoe ons behoort te leef, aktief gedebatteer en deur die mense besluit word, eerder as om aan die reklamebedryf oorgelaat te word.

Dit kan soms voorkom of struggles vir demokrasie en sosialisme by wyse van kortpaaie en manipulering aangehelp word, maar hierdie dinge eindig altyd in misleiding. Hierdie stryde vereis die grootste moontlike politieke en intellektuele deursigtigheid, en voortdurende hernuwing deur middel van bespreking en debatvoering. Ons het elkeen ’n rol om te vervul in hierdie proses.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=925
Artikel nagegaan:
    -