|
||||
Christoph Harbsmeier
*Universiteit van Oslo. Hierdie lesing is op 2 Junie 2007 gehou tydens die opening van die kongres van die Internasionale Vereniging van Akademies.
Ek glo daar is iets wesensontstellends omtrent Europese tradisies van intellektuele geskiedenis. Kom ek probeer verduidelik: ’n Frustrerende aantal eietydse waarnemers het ’n knaende en versnellende intellektuele Coca-Kolonisering van die denke van intellektuele dwarsoor die ontwikkelende wêreld en - inderdaad dwarsoor die wêreld - gediagnoseer. Engels as medium is ’n radikaal stremmende faktor in die boodskappe wat ’n mens deur medium van Engels aan die wêreld probeer oordra. Die taal is oorweldigend nuttig vir wêreldwye kommunikasie. Geïnternasionaliseerde Engels ís oorweldigend - op meer as een vlak. Kulturele en politieke sleutelwoorde het leenwoorde of leentradisies uit die Engels geword. Wat lyk en klink na Chinees, Japans en politieke sleutelwoorde dwarsoor die wêreld, het ontlenings of leentradisies vanuit Engels geword. Wat na Chinees, Japans, Hindi of Swahili-sleutelwoorde gelyk het, het oplaas leentradisies geblyk. Sover dit politieke en kulturele gonswoorde betref, het Engels die mode(l)taal geword. Die res van die tale in die wêreld is blote replikatale. Tale dwarsoor die wêreld word al hoe meer reproduksietale. Ganse kulture, begin ’n mens wonder, kan dalk op dieselfde wyse reproduksies word? Daar is niks wesensvreemds aan hierdie kulturele kopiëring nie. Daar was eerstens die knaende hellenisering van Rome, die Romeinse Ryk, later van Europa, daarna van Noord-Amerika, van die Amerikas, van Indië, van Japan, van China, van Afrika, van die wêreld. Die Griekse en Romeinse erfenis herleef, vertaal en uitgebrei tot die gees van sekulêre modernisering vanaf die Franse Revolusie en verder, het sinoniem geraak met intellektuele vooruitgang. Die vloei van konseptuele invloed tussen beskawings en kulture was grondig asimmetries oor die gevarieerde geskiedenis van die mensdom, en nie altyd as deel van ’n kolonialistiese of imperialistiese sameswering nie. Die Griekse lingua franca, (bekend as koinè Grieks) is as volkome dominant aanvaar, selfs toe die Griekse ryk al sterk aan die uitsak was en Rome reeds begin hiet en gebied het. Die enorme vloei van Arabies na tale soos Persies, Turks, Indonesies, Maleisies, ensovoorts was bloot gedeeltelik gekoppel aan Islamse ryksheerskappy. En in die fenomenale geval van Sanskrit het die volgehoue gesag van hierdie taal sigself gevestig oor groot dele van Suid-Asië, Suidoos-Asië en Oos-Asië, maar met weinig spore van Indiese konseptuele despotisme. Moderne Oosterse konseptuele despotisme kan nog steeds as ’n intellektuele manifestering van ’n fundamenteel militêr/ekonomiese en tegnologiese opkoms van eerstens Wes-Europa, en daarna die Verenigde State van Amerika (VSA), op die wêreldtoneel verskyn. Maar ’n mens herinner jou gou dat, by die hellenisering van Rome, ’n Romeinse militêre supermag geheel en al oorheers geraak het deur ’n vervalle Griekeland wat maar ’n blote afskaduwing was van sy kortstondige bloeityd van Alexandrynse imperialisme. Epiktetus, die Griekse slaaf, het die intellektuele meester geword van Marcus Aurelius, die keiser (1). Die Romeine het hulle konseptueel en filosofies oorgegee aan die verslane Grieke. En dit is ’n verhaal wat ek altyd met die grootste moeite by moderne Amerikaanse gehore moet probeer tuisbring: ’n mens word gedurig met ongeloof gekonfronteer. Die Japanners is nie werklik in die deurslaggewende 19de eeu gekoloniseer nie. Maar die anglifisering van die Japanners het reeds so ver gevorder, het ek by ’n onlangse besoek aan daardie land ontdek, dat ’n mens nie verkwalik sal word as jy die indruk kry dat feitlik ENIGE Engelse woord wat à la japonaise vermink word, ’n weergawe van aanvaarbare hedendaagse akademiese Japannees is nie. Dieselfde kan van Hindi gesê word. My eie enigsins uitgebreider ervaring met Maleisies suggereer dat die situasie lankal reeds heel soortgelyk is. Arabies weerklink vanaf die minarette oor die hele Maleisië, maar die maatskaplike en politieke sleutelwoorde van daardie Moslemsamelewing is uit en uit verangliseer. Wat ook al Arabies van oorsprong is, word oor die algemeen as via Engels verklaarbaar beskou. (Ek sê oor die algemeen, want ultra-fundamentaliste byt nog vas.) Om sin te maak, het hoe langer hoe meer en oraloor sinoniem geraak met sin maak“in Engels, of in Engels vertaal”. Net soos wat dit in die Europese Middeleeue sinoniem was met sin maak “in die Latyn, of in Latyn vertaal”. Vir niemand het dit ooit vreemd aangedoen dat Thomas von Erfurt, in die 13de eeu, sy Grammatica Universalis (“Universele Grammatika”) in Latyn en eksklusief oor Latyn geskryf het nie. Noam Chomsky se baanbrekende Syntactic Structures van 1957 handel weer uitsluitlik oor Engels. Die hoogs problematiese paradigma is dieselfde. Slegs die medium het verander. Selfs die formidabele Duitse filosowe, vir sover hulle begerig was om hulleself as internasionale deskundiges te vestig, is lankal reeds tot die verklaring en uitleg van Kant se Kritik des reinen Vernunft bekeer asof Kant ’n boek geskryf het met die titel Kritiek des reinen Verstandes. Natuurlik het Immanuel Kant niks van die aard gedoen in wat ons nou haastig sy Kaliningrad noem nie, maar die intellektuele kategorie of konsep van VERNUNFT is internasionaal nie respektabel nie, omdat dit toevallig nie lekker in Engels vertaal nie - indien daar hoegenaamd gepoog sou word om dit in Engels te vertaal. (Miskien is dit ’n teken van Britse gesonde verstand - trouens, enige gesonde verstand. En dit kom betekenisvol voor dat Kant nóg oor gesonde verstand, nóg oor verstandigheid geskryf het. Daar het jy dit!) En wat nie met gemak in Engels tereg kom nie, moet óf ingevoeg word as uiters swak voorbeelde van konseptueel afwykende verval, soos Schadenfreude, en Weltschmerz, of so nie, uitgeskuif word na die buitewyke van intellektuele vergetelheid - sinryk slegs vir verkrampte konseptuele romantici. Toe ek ingewillig het om u vandag toe te spreek, het ek gedink/gehoop dat ek dalk toegelaat sou word om ’n Union Académique Internationale in my gunstelingtaal, Frans, met u te bespreek. Toegegegee: ek het nooit gedink dat die raison d'être van hierdie eerbare instansie die beoefening van die Franse taal is nie. Maar ek het tog in die stilligheid daarna uitgesien om met u oor hierdie dinge, wat vir my so natuurlik in Frans kom, op Frans te kan gesels. Ek ervaar hier ’n sonderling koppige linguistiese embarras de richesse: Daar is so baie dinge wat gedurig ongesê bly bloot omdat dit nie gemaklik in Engels oorgedra kan word nie. Daar is ’n bepaalde je ne sais quoi wat my besonder goed sou laat voel het in die toespreek van ’n Union Académique Internationale (Internasionale Akademiese Vereniging) in die Franse taal, voordat dit tot ’n International Union of Academies (Internasionale vereniging van Akademies) herdoop word. Frans is onvanpas: Daar word algemeen aanvaar dat sommige variëteite van Franse wyn inderdaad nie goed reis oor lang afstande nie: by hulle aankoms in Australië word hulle nie danig hoog aangeslaan nie. Nogtans sal niemand by sy volle positiewe beweer dat Bourgogne rooi minderwaardig is teenoor Bordeaux rooi, bloot omdat die Boergondiese wyn nie goed reis nie. ’n Ware liefhebber van goeie kos sal groot moeite doen om iets te geniet wat minder goed reis, iets so kwesbaar dat dit op sy plek van oorsprong geniet moet word, in die omgewing waar dit tuishoort. Konsepte is soos wyn: sommige reis goed, ander verloor hulle kenmerkende trefkrag en kommunikatiewe neus sodra hulle die natuurlike omgewing verlaat. Maar waneer ’n konsep nie goed in ’n ont-Engelste Internasionale Basiese Konferensie-Engels reis nie, neig byderwetse geglobaliseerde, gerespekteerde intellektuele om dit sonder meer opsy te skuif. Ten opsigte van konsepte het hulle daardie sin vir estetiese fynproewerskap verloor wat vir Franse wynliefhebbers so belangrik is. (Terloops, let daarop dat ek sê moderne intellektuele “verontagsaam” hierdie plaaslike konsepte. Ek sê nie hulle “skryf dit af” nie. Want om iets af te skryf, lyk dit vir my, moet ’n mens weet wat die ding is wat jy afskryf.) Die gedagte wat ek wil tuisbring, is gewoon dit: baie uitstekende konsepte en nuanses reis nie goed in die teenswoordig ont-Engelste Internasionale Basiese Konferensie-Engels nie. Ek is dit volkome daarmee eens dat dit wil voorkom of hierdie verkrampte konsepte oënskynlik hul subtiele geur verloor by aankoms in daardie vreemdsoortige internasionale idioom. Maar dit is volkome ongeregverdig dat hulle om daardie rede ongeskik vir intellektuele verbruik of bespreking geag word. Hier volg enkele relevante voorbeelde uit China. ’n Chinese sleutelbegrip soos yìjìng verloor alle trefkrag wanneer dit lomp omskryf word as “spirituele diepte”. ’n Sleutelkonsep soos wat shényùn is, verloor alle betekenis wanneer dit as “spirituele resonansie” verpak word, en ’n sleutelkonsep soos jìngjiè verloor alles wanneer dit lomp omskryf word as “spirituele horison”. Hierdie omskrywings is my beste vertaalpogings. Maar hulle bevat geeneen van die bevrydende eienskappe van onvergeetlikheid of selfs bevatlikheid nie: Hulle word nooit opgeteken nie. Indien opgeteken, word hulle vergeet; indien onthou, nooit begryp nie. Nogtans is hulle die presiese konsepte waarvolgens geleerde Chinese leef en vir millennia geleef het. In China is dit gevaarlik maklik om groot gehore te oortuig dat die uiters sjarmante rede waarom Westerlinge enige gedagte aan ’n “spirituele horison” verontagsaam, is omdat hulle ongelukkig die stadium bereik het waarin hulle baie min besit van die ding waarna die tradisionele konsep van jìngjiè verwys, aangesien hierdie Westerlinge - as’t ware - ’n soort tekort het aan daardie sekulêre maar intens spirituele hiërargie van die esteties sublieme wat vir die Chinese geleerdes so onontbeerlik is. Erasmus van Rotterdam suggereer in sy briljante Adagia oor die enkele begripinskrywing, amousos, dat dinge nie altyd so was nie: “antiquitus enim nihil eruditum habebatur sine musica” (“in die oudheid is niks wat sonder musikaliteit is, as geleerd beskou nie”). Dit is hierdie dimensie van konseptuele musikaliteit wat in der waarheid glad nie goed in koiné reis nie. Basiese Engels is hierdie musikaliteit wat wegkook wanneer dinge opgekook en afgewater word tot daardie vreemde, wortellose, geglobaliseerde, ont-Engelste internasionale medium. My aanspraak is dat ons as moderne intellektuele hierdie soort konsepte teen ’n ongelooflike prys en tot ons eie skade verontagsaam; dat ons heelwat omtrent konseptuele estetiek te leer het van die Franse liefhebbers van goeie wyn. Om nou van hierdie hoë moraliserende perspektief af te daal, laat my dan terugkeer na ons banale en tog so beskamende vertrekpunt: die moderne intellektuele analise bestaan toenemend daarin om al wat ontleed moet word, af te kook deur dit tot sy gemene linguistiese deler, ons Basiese Konferensie-Engels, te relativeer. En ons moet oplet dat die uitwerking van hierdie “afkookproses” nie noodwendig negatief is nie: talle dinge word helderder in die afgekookte staat - dit wil sê, in die wêreld van die denke! Meer nog, aangesien ons hierdie blywende en alomteenwoordige behoefte het aan die vertaling van alles in Basiese koiné Engels, is die merkwaardige gevolg daarvan dat hierdie waardige plaasvervanger van die koiné Akkadies, die Hellenistiese koiné Grieks, klassieke Arabies en post-klassieke koiné Latyn, voortdurend verryk word deur die behoefte om nuwe maniere te verkry om allerlei soorte nuwe dinge te sê wat nie inheems aan die koiné Engelse medium is nie. Koiné Engels is derhalwe geweldig verryk, terwyl dit terselfdertyd baie van sy idiomatiese krag en rykheid aan nuansering verloor deurdat dit alte dikwels gebruik/misbruik en gevorm word deur nie-inheemse sprekers van die taal - soos ek self. Laat my nou in groter besonderhede op die geval van China uitbrei. ’n Chinese spesialis in Chinese linguistiek sal tipies dink dat hy sy Chinese sinne ontleed het, tot die mate waarin hy of sy studente (talle studente in die geesteswetenskappe is vandag vroue, maar dit is ’n onlangse ontwikkeling) die struktuur onder Westerse sintaktiese morfologiese en semantiese konsepte gekategoriseer het: byvoorbeeld, hy/sy sal nou slegs tot rus kom wanneer hy “woorde” in die Westerse styl gevind het, en adjektiewe. Maar Chinees is ’n taal wat intensief oor ’n tydperk van meer as tweeduisend jaar deur Chinese linguiste bestudeer is, sonder ’n gedagte hoegenaamd aan ’n “woord”. En in Chinees funksioneer adjektiewe feitlik altyd as werkwoorde. Om nou die idee van “woorde” in te bring, skep meer probleme as wat dit oplos. En in die goeie ou dae is grammatikale feite tot Latynse kategorieë verskraal. Slegs die medium het verander. Die aard van die vooroordele het dieselfde gebly. ’n Chinese historikus sal byvoorbeeld tipies dink dat hy Chinese geskiedenis onder die knie het, na gelang van die mate waarin hy enige begrip van “geskiedenis” as historia ipsa, “die historiese proses as sodanig” oorgedra het, terwyl die proses geskitter het in marginaliteit, indien nie totale afwesigheid nie (2). China mag die mees volgehoue en grootse tradisie van historiografie gehad het, maar ’n konsep van geskiedenis had dit nie, en moes dit van Japan leen. Chinese sal met groot selfvertroue Westerse konsepte soos feodalisme, revolusie, samelewing, regte, menseregte, politiek, ens. op die wesensfeite van die Chinese volk toepas. Soos feitlik al hulle akademiese Chinese genootskappe, subsumeer hulle sodoende die Chinese feite onder die moderne (lees: verwesterse) konseptuele skemas. Geen wonder dat hulle oorsee moet studeer om dit goed te leer doen nie. ’n Chinese geleerde van Chinese literatuur sal tipies dink dat hy die Chinese letterkundige erfenis sodanig begryp het dat hy ’n Westerse persepsie van literatuur - wat vir China totaal vreemd aan die Chinese tradisie was tot die verwesterende 19de eeu – waarin die Chinese geleer het om hul letterkundige wêreld ondergeskik te stel aan ’n leërskare van vreemde kategorieë. ’n Chinese student van Chinese filosofie sal tipies dink dat hy Chinese filosofie begryp het deur eerstens ’n verwesterse idée van filosofie op die Chinese getuienis af te dwing, wat volkome vreemd aan die Chinese tradisie is, en deur daarna na eienskappe soos logika, idealisme en materialisme, in die slegte ou dae, en hedendaags na meer modieuse (relevante) eienskappe soos metafisika, etiek, verbruikerisme, skeptisisme, ens. ens., te soek. ’n Chinese student van die geskiedenis van wetenskap sal tipies begin dink dat hy die Chinese geskiedenis van wetenskap onder die knie het na gelang van die mate waarin hy geslaag het om die totaal vreemde persepsie van “wetenskap” op Chinese intellektuele geskiedenis af te dwing en dan na voorgangers of verhale van historiese gebeurtenisse van Euklidiese aksiomatiese sisteme en ’n formele bewysteorie begin soek. En so ook met geologie, chemie en ander wetenskappe. ’n Chinese student van kunsgeskiedenis sal tipies begin dink dat hy sin gemaak het van sy eie erfenis nadat hy die Westerse begrip van “KUNS” afgedwing het op die Chinese materiaal waarmee hy moet werk, en daarna die begrip“KUNSTENAAR”toepas, wat weereens ’n kategorie is wat tot in die moderne tyd aan Chinese denke vreemd gebly het. Jy kan ’n skilder wees, maar nie ’n kunstenaar nie. Wat die Chinese hoog aangeslaan het en dikwels steeds hoog ag, is die geleerde persoon met artistieke begaafdheid of vaardighede, maar nie die “bloot” gespesialiseerde professionele kunstenaar nie.
’n Tipiese Chinese student van die geskiedenis van godsdiens sal tipies begin dink dat hy sin gemaak het van China wanneer hy met welslae ’n vreemde kleed van religie oor die Chinese gegewens en bewyse getrek het, en ’n soort dualisme tussen die heilige en die profane, wat dit vir hom moontlik maak om Westerse metodes op hierdie Oosterse mense van China toe te pas. Dis nodeloos om te sê: Daar is geen konsep van religie in China nie ’n Chinese student is módeng, i.e. “modern en byderwets” vir sover hy hom oorgegee het aan die konseptuele diktatuur van eerstens Amerikaanse en tweedens Europese akademiese diskoers. Ons het heelwat gehoor van Karl Wittfogel en andere oor Oosterse Despotisme, maar wat ons teenswoordig duideliker sien, is Oosterse konseptuele despotisme, verwesterse konsepte wat hulleself oral indruk in die plek van plaaslike inheemses (3). Daar word baie gepraat oor die beangstigende veries aan biodiversiteit. Ek is hier besorgd oor die ewe ongebreidelde verlies van soveel konsepte en so ’n ryk verskeidenheid van konsepte in die vinnig globaliserende intellektuele wêreld. ’n Interessante reaksie hierteen is die polities korrekte en post-koloniaal apologetiese Konseptuele orientalisme wat op sekere plekke floreer. Daar is nou ’n neiging om die konseptuele “ander” as ’n teenmiddel te gebruik teen die heersende konseptuele verveling met ’n al hoe verder terugwykende en swak begrepe, oorverteerde Latynsgebaseerde Westers/Europese tradisie. Maar wat nodig is, is ’n veel radikaler kuur. Sê nou maar ’n mens probeer - in plaas daarvan om die mees byderwetse linguistiese teorieë meganies op die feite van Chinees toe te pas, eerder om jou basiese linguistiese ontleedinstrumente vir die Chinese taal op grond van tradisionele Chinese filologie en pre-moderne Chinese primêre bewyse te ontwikkel? Sê nou maar ’n mens probeer Chinese geskiedenis (en dalk selfs dele van die wêreldgeskiedenis) studeer deur jou ontleedinstrumente te slyp aan die ryk konsepte in die enorme skat van Chinese historiografie en Chinese historiese bronne? Sê nou maar ’n mens kon die Chinese letterkunde benader deur jouself te verplaas na die tradisioneel Chinese uitkyk op hul eie literêre erfenis, in plaas daarvan om die een of ander hedendaagse literêre teorie op die feite van Chinees toe te pas? Sê nou maar taalfilosowe uit daardie weerstandige geval van Chinees sou probeer uitvind wat daar te leer is omtrent menslike taal in die algemeen, in plaas daarvan om Chinese besinnings oor taal as minder of meer belowende prototipe van moderne ontledingsfilosofie af te maak? Ons kan tot in ewigheid bly “sê-nou-maar”… En die Chinese antwoorde wat ’n mens kry, sal dikwels uiters teleurstellend wees. Die Chinese linguis, historikus, filosoof, politieke wetenskaplike sal nog steeds sy eie inheemse konsepte in sy onomkeerbaar verwesterse moedertaal bly verduidelik: sy Moderne Standaard Chinese moedertaal is immers deel van ’n beweging van radikale verwestersing, ’n radikale verwerping van Chinese tradisies. Maar genoeg hiervan! Ek herhaal myself. Maar ek herhaal myself omdat die geskiedenis haarself onophoudelik herhaal. En dit bly doen. Feitlik oral, of so lyk dit altans. In China self het daar van die heel begin af stemme opgegaan teen hierdie aggressiewe storting van Westerse konsepte. Daar was altyd ’n toonaard van patriotiese intellektuele tradisionalisme, soos byvoorbeeld in die geval van die merkwaardige student Qian Mu (1895-1990) wat ek nooit ontmoet het nie, en Mao Zedong se leermeester Liang Shuming (1893–1988), met wie ek die voorreg gehad het om hierdie sake redelik breedvoerig te bespreek, en vir wie dit altyd belangrik gebly het om verwesterse perspektiewe en Westerse denkpatrone daarvan te weerhou om die egte inheemse Chinese perspektiewe op hul eie kultuur te vervals. Dit is bowendien belangrik om te erken dat studente soos Qian Mu onder die eerstes was wat eksplisiet geprotesteer het teen wat ons nou byderwets identifiseer as die gevare van Oosterse konseptuele despotisme. Die erkenning van hierdie gevare in die moderne intelektuele geskiedenis was nooit ’n Westerse voorreg nie. In hedendaagse China is daar ’n nuwe modetendens van fundamentalistiese kulturele patriotisme, nie net in navorsingsaangeleenthede nie. Die bisarre religieuse kulturele fundamentalisme van Indiese Hindutva het basiese parallelle met die kulturele fundamentalisme van staatsbefondste patriotiese Confucianisme. En hierdie huidige ontwikkelings staan nie los van huidige ekonomiese ontwikkelings, die ekonomiese en politieke opkoms van Indië en China nie. In sowel Indië as China tref ons ’n nuwe golf van “konseptuele patriotisme” aan. ’n Tyd gelede het dit my geluk om vyf boeke te koop met titels soos Zhongguo keyi shuo bu (“China kan ‘nee’ sê”). (Daar moet baie meer sulke boeke wees.) Hulle onderwerp is presies dit: Die belangrikheid daarvan om “nee!”te sê vir die aflaai van Westerse sleutelwoorde en waardebegrippe op China. Voormalige President Lee Kuan Yew se Singaporeaanse idee van ’n Instituut van Oos-Asiese Filosofieë om filosofiese fondamente vir “Asiese Waardes” te bevorder, word deur die Chinese regering van die dag op ’n veel groter skaal bedryf. Daar is ’n desperate soeke na die konseptuele wortels van wat ook al Chinese identiteit is. (Mense het vir millennia in China geleef sonder die konsep van ’n identiteit. Miskien omdat hulle die ding had, had hulle nie nodig om daaroor te praat nie. Teen die tyd dat die Westerse konsep ’n modemalheid geraak het (onder die naam van rèntóng, “identiteit”), was dit te laat: selfvertolking in terme van identiteit was gedoem om in verwesterse moderne terme gedoen te word. Daar is egter uitsonderings hierop. En een flagrante uitsondering is die man wat - so verstaan ek - deur die Chinese onlangs met ’n baie groot meerderheid van stemme as die belangrikste Chinese persoonlikheid van die 20ste eeu bekroon is, ver voor Mao Zedong, wat hy as nr. 2 ver uitgestof het. Ek verwys nou na die skrywer van ridderverhale, Jin Yong (gebore in 1924, en volgens gerugte tans ’n PhD-student aan Oxford!) en wat in die Weste publiseer onder die naam Louis Cha. Die een eienskap wat Jin Yong so beroemd maak in China is dat boekwinkels hele vertrekke aan sy werk toedeel, die feit dat hy in ’n Chinese styl skryf wat chemies vry is van alle Westerse invloede. Hy is ’n moderne Chinese skrywer wie se prosa volkome vry is van enige Westerse oorsprong of Verwesterse Chinees in sy woordeskat. Aangesien Jin Yong Engels goed ken, is hy by uitstek bevoeg om alle spore van Engels uit sy prosa te weer. (Vir diegene wat nie ’n sterk grondslag in Engels het nie, is dit veel moeiliker.) As ’n buitelandse Chinees, paradoksaal, staan Jin Yong uit as ’n toonbeeld van Chinese kultuuridentiteit, onbevlek en onbesoedel deur die alomteenwoordige Amerikaanse invloed wat feitlik alle Chinese media oorspoel. Die verbruik van tekste in China bestaan oorwegend uit die verbruik van vertaalde tekste, van teksmateriaal wat uit Amerikaanse Engels vertaal is. Die Chinese taal is getransformeer deurdat dit so omvattend as medium dien vir vertaling uit Engels. In enige groot Chinese woordeboek maak die leenwoorde uit Engels maklik die groot gros uit van woordeboekartikels (-inskrywings). Die beplande skepping van Moderne Standaard Chinees in die vroeë twintigste eeu was deel van ’n grootskaalse verwerping van die Chinese tradisionele erfenis. Confucius, Laozi, Boeddhas, die lot. Modernisering het verwestersing geword met betrekking tot al die kulturele sleutel- en gonswoorde. Die leidende konsepte was vryheid, demokrasie, wetenskap, sosialisme, ensovoorts. En die moderne Westerse woordeskat is op ’n enorme skaal uit Japan in die Ooste ontleen. Vanselfsprekend sal enige poging om jou pad terug te vind na die wortels van Chinese intellektuele beskawing noodwendig deur hierdie verwesterse leenterminologie moet geskied, (wat Japanners toevallig tipies op die basis van klassieke Chinees geskep het)! Sowel die tradisionalistiese filosoof Qian Mu as Mao Zedong se leermeester, Liang Shuming, het ’n gematigde maar klaarblyklik verwesterse vorm van Chinees geskryf. Nie een van hulle sou baie daarvan gehou het om aan hul konseptuele afhanklikheid van die Weste herinner te word nie. En sover ek weet het geeneen van hulle op hierdie konseptuele eienskap van hul filosofiese diskoers gekonsentreer nie. Om in hul eie tydsgewrig ernstig opgeneem te word, moes sleutelwoorde soos wetenskap, etiek, vooruitgang, demokrasie, filosofie en logika sentraal staan aan die wyse waarop hulle dit wat vir China spesiaal was, verklaar en toegelig het. Hulle het onbedorwe Chineesheid sterk voorgestaan, in Westerse terme (4), hoewel miskien nie op Westerse voorwaardes nie. Maar nie die groot romansier Jin Yong nie. Uitdagend besing Jin Yong ’n suiwer Chinese etos waarin denkbeelde soos vryheid, demokrasie, wetenskap, die samelewing, politiek, politieke bewegings, politieke partye, teorieë, filosofie, sosiologie, antropologie, die logika ens, ens, hoegenaamd geen rol speel nie. ’n Etos waarvolgens ’n mens nie ’n versameling van wettige regte is nie, maar eerder ’n versameling van morele verpligtinge en sterk persoonlike verbondenheid. Jin Yong se etos is dié van ’n semi-historiese, denkbeeldige, vervloë era, ’n wêreld in sigself, ver verwyder van die banale werklikhede van die 21ste eeu. En nogtans spreek dit vanself dat die morele en psigologiese paradigmas van selfvertolking wat in Jin Yong se Knights’ Tales geskep word, inderdaad boekdele spreek omtrent hedendaagse, uiters moderne maar tegelyk diep atavistiese maniere van selfvertolking in eietydse China. Dit is asof talle Chinese hulleself nostalgies in ’n mitologiese narratiewe heelal ingraveer waarvan die romans van Jin Yong, alias Louis Cha, ’n enigsins ikoniese prototipe is. Soos Goethe dit gestel het: Hier bin ich Mensch, hier darf ich's sein. “Hier is ek mens, hier mag ek dit wees.” (5) Net so, by die lees van Jin Yong/Louis Cha, voel die Chinese: "Hier is ek Chinees. Hier mag ek dit wees, sonder bemiddeling deur enige uitlandse konseptuele of intellektuele weldoener." Dit is natuurlik alles ’n blote sentimentele, nostalgiese literêre spel, maar dit is ’n sielkundig - miskien self polities - ernstige spel. ’n Kultureel simptomatiese alledaagse gebruik. In hierdie laat stadium van kulturele ontwikkeling is dit hoegenaamd geen oordrywing om te sê dat die verstedelikte Indiërs en die verstedelikte Chinese vir seker dikwels daartoe gekom het om vir hulleself eksoties aan te doen, net soos ’n Duitser so ’n bietjie voel dat hy etnies raak wanneer hy sy Sauerkraut of varkskenkels verslind, en beslis wanneer hy met ’n rebelse hart sy leerbroek aantrek. ’n Mens kan onbepaald inheems raak in jou eie verouderde tradisie. En jy kan bepaald “etnies eet” oral waar jy nie jou keuse effektief omskryf sien deur geregte soos T-bone steak, MacDonald's en Kentucky Chicken, gevolg deur Starbuck nie. Die keuse van konseptuele Coca-Cola in plaas van inheemse tee hoef egter nie altyd of noodwendig ’n kommersiële oorname deur kapitalistiese reklame te beteken nie. Dit kan ewe goed ’n kwessie van smaakvoorkeur wees. Maar dit is ’n aangeleerde smaak: verkry deur nabootsing van die meer welvarende, nabootsing van wat as meer gevorderd ervaar en daarom dalk geassosieer met wat instrumenteel tot groter welvaart geag kan word. In Freudiaanse terme: konseptuele despotisme het tot geïnternaliseerde konseptuele onderhorigheid gelei, in ’n verworwe spontane smaak vir konseptuele gedienstigheid jeens die Weste. Miskien draai ek nou ’n bietjie wyd. Maar in China kom ek soms in die versoeking om selfs ’n soort konseptuele masochisme te diagnoseer waardeur Chinese intellektuele hulle verlekker het in die vernietiging van hul eie konseptuele erfenis in hulle wedloop na verwesterende vooruitgang. ’n Mens bemerk soms by hulle ’n soort trots in die onvermoë om jouself in jou moedertaal uit te druk sonder om op Engels terug te val. Almiskie: die verwesterlikte modernisering is nie ’n enkele ding nie; dit vertak tot baie dinge as gevolg van die verskeidenheid van kulturele konserwatisme, die traagheid en weerstand van daardie moderniserende kulture. Daar is nie een globale perspektief nie. Daar is ’n veelvoud van duidelike konseptuele moderniteite. ’n Konkrete voorbeeld sal die essensie van hierdie konstellasie van veelvuldige konseptuele moderniteite illustreer. Neem die persepsie van vryheid. Die Chinese zìyóu is nie ’n leenvertaling van liberty/freedom nie, net soos wat liberty ’n transkribering is van libertas, en libertas weer ’n leenvertaling van die klassieke Griekse eleutheria. Maar juis hierin lê die probleem: in hedendaagse gewone Chinees kom die word zìyóu, waarmee“vryheid” vertaal word, tipies veel nader aan die negatief gelade Engelse “licence” as aan die positiewe “vryheid”. Baie raak verlore en vermink in konseptuele oordrag. Vryheid word oorgedra as losbandigheid/immoraliteit. En die Chinees vir menswaardigheid, the dignity of man, zinyán, word universeel in China vereenselwig met van hoë status eerder as met “menswaardigheid”. Sowel menseregte as intellektuele eiendomsreg vaar swak in China, deels omdat die presiese konsep van ’n reg, quánlì rampspoedig naby klink aan quánlì,“mag, die vermoë om ‘dinge’ reg te stel”. Die konsep van ’n “reg” is moeilik om in tradisionele China te kry (6). Hierdie konseptuele folklore, die wysgerig geïnspireerde maatskaplike antropologie van die gebruike van abstrakte konsepte onder die gewone mense, het ’n mooi tradisie in Noorweë (7). ’n Historiese studie van hierdie soort konseptuele antropologie vanuit ’n filosofiese en sinologiese perspektief word onderneem in die internasionale projek wat ek organiseer: “Konsepte wat geskiedenis maak: die konseptuele modernisering van China”. Dit werk in die rigting van ’n geglobaliseerde Chinese Aanhangsel (pendant ) by die merkwaardig ambisieuse Dictionnaire culturel en langue française (Kulturele Woordeboek in die Franse taal), deur Alain Rey (4 vols. Parys: Robert, 2006). Daar is na my wete in geen ander taal iets soortgelyk aan Alain Rey se Dictionnaire nie. Dis alles uiters Frans. Soos Barbara Cassin se omvattende konseptuele woordeboek wat veral bekend is vir sy briljante oksimoroniese subtitel: Dictionnaire des Intraduisibles (“Woordeboek van die Onvertaalbares”, Parys: Robert, 2000). Vive la différence! Vive les nuances historiques – intraduisibles! (8) (Lank lewe die verskil! Lank lewe die onvertaalbare historiese nuanses!) (Verskoon die Frans! Ek is klaar.) _________ (1) Soos Rudolf Wagner onder my aandag gebring het, is die oorheersing van Aramees in ’n groot kulturele gebied eweneens nie gegrond op die despotisme van enige supermag nie, maar op iets soos vrye keuse van die ontvangers. (2) Shi, dikwels misvertaal as “geskiedenis”, verwys na 1. geskiedenisboeke; 2. argivarisse in klassieke Chinees. Lìshi verwys na die geskiedenisboeke oor die eeue, slegs in die moderniteit, as ontlening uit Japannees, verwys dit na “geskiedenis”. (3) Ek sê: “hulleself opdring”. Dis is nie altyd ’n kwessie van die een of ander sondaar wat hulle op iemand afdwing nie. Dis veral nie nodig om ’n imperialistiese konseptuele sameswering te veronderstel nie. (4) Op ’n dieper filosofiese vlak het hulle baie gemeen gehad met die beroemde verwesteraars van Chinese filosofie, Feng Youlan (1895-1990), of Mou Zongsan (1909-1995). (5) Let op die rampspoedige verlies in die vertaling hier, wat jou ’n aanduiding kan gee van wat op enorme skaal in vertaling van Engels in Chinees en omgekeerd gebeur. (6) In Standaard Chinees klink hulle vir die man in die straat presies eenders. En ek kan eerstehands getuig van opwindende openbare misverstande onder Chinese menseregtespesialiste by die Nobel-Instituut in Oslo. (7) Ek let met blydskap op dat die dissipline van filosofiese konseptuele folklore in die 1950’s sterk verdedig is deur die Noorweegse filosoof, Arne Næss. Lees sy Interpretation and Preciseness. A Contribution to the Theory of Communication. Skrifter utgitt av Det Norske Videnskaps-Akademi i Oslo. II. His.-Filos. Klasse 1953. No 1, Oslo: I kommisjon hos Jacob Dybwad, 1953. (8) Hier is die miserabele beste wat ek vir ’n Engelse vertaling kan aanbied: “Long live the difference! Long live the historical nuances in the various languages of the world - untranslatable as they must often remain!” |