|
||||
Heilna du Plooy
Aangaande die naam van die roos
Miskien sal mense later sê: In dié tyd het dit stil geword in daardie tuin. Daar was iets skugters aan die witstinkhout, die soetdoring en kiepersol, aan die olien en witpapierbaskanniedood toenemend ongehoord.
Miskien sal mense ook onthou dat in dié dae daar die blomme was soos rose en die purperwinde oral voor die flappe en die jakobregops uitgeblom sou swyg in ongewenste beddings.
Maar niemand sou kon weet van die vrou in die kruietuin wat haar hoof soos ’n stom monnik buig oor roosmaryn, basieliekruid en kruisement, oor salie, tiemie en oor pietersielie.
Sy weet daar is twee bokke buitekant, altyd die bokke, altyd twee: een om die las te dra, die loodswaar las wat groot krag vra, die ander om sy bloed te gee.
Die vrou maak in ’n groot sak bymekaar wat kosbaar en in onbruik is. Dit rem haar af, die letterlike las, maar sy stap teen die stilte in, oor die bult en uit in die woestyn.
Daar ver sal sy die sak uitskud, die klanke saai in die woestyn. Want sê nou eendag draai die wind, waai die wind opnuut ’n reënwind uit. Dan sal die sand self sing en tuit
in varkensknol en duinetee, in aasblom, slangkos en in brakslaai, breek weer die landskap duisendvoudig duisendvoudig blou in sterreblomme uit.
Lemoene I
Sy pluk lemoene in die tuin. Hoeveel lemoene, vra die vrou, kan ek in my hande hou?
Sy wil vir almal van die vrugte vat. Hoeveel lemoene, wil sy vra, kan mens in jou arms dra?
Buite die tuin waai ’n woedende wind. Hoe ver gaan ek kom? dink die vrou, en sy buig oor haar vrag soos oor ’n kind.
Een lemoen val, dan val daar meer. Vir hoe lank, wonder die vrou, kan mens so teen die wind in beur?
Jare daarna kom die vrou weer te staan voor ’n boom. Sy dink oor haar lewe soos oor ’n droom.
Sy gee nie meer om oor hoeveel nie. Waarheen, vra sy nou, waarheen? Lemoene is padkos. Die vrou pluk net een.
Lemoene II
Ga nu maar liggen liefste in de tuin de lege plekken in het hoge gras, ik heb altijd gewild dat ik dat was, een lege plek voor iemand, om te blijven. - Rutger Kopland
Die kinders sou sy aan die hand moes neem, dink sy wanneer die dwarrels duiwels draai uit die vergange ouland en die sweem van uitsig op die hoogtes haar verraai.
Die sagte kinders sal sy gou moet roep, die tyd vir loop is klein en afgemeet, maar in die leë plekke in lang gras sal hulle rus en die lemoene eet.
Die vrugte sal sy oopbreek om te deel en meededeel ver onder hoë wind. Die son en hierdie aarde sal hul neem en eet, uit bekers sap sal hulle drink.
Vertel dán, hart van vlees, die stilte opgeskort, van somergroei wat in die winter vrugte word.
* “Aangaande die naam van die roos” het oorspronklik verskyn in ’n Honderd jaar later, red. Johann Lodewyk Marais by Protea. Die twee lemoengedigte het oorspronklik verskyn in Versindaba 2006, red. Marlise Joubert ook by Protea. |