|
||||
Dertien jaar sedert die instelling van ’n belofteryke grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika bevind die ANC hom op die vooraand van sy nasionale konferensie in Desember in die grootste krisis van sy negentigjarige bestaan: die harde werklikhede van regering in Suid-Afrika het die party fyngemaal en sy gebrek aan inheemse denke en beleid vir ons komplekse samelewing brutaal blootgelê. Juis hierdie gebrek aan inheemse denke en beleid in die ANC laat min hoop dat selfs al sou ’n bekwame leier as die volgende president van die ANC verkies word, die party dit in homself het om Suid-Afrika werklik na “´n beter lewe vir almal” te lei. Dit is veral op die terreine van die ekonomie en kulturele diversiteit waar hierdie toedrag van sake sigbaar is. Wat die ekonomie betref: in plaas daarvan om Suid-Afrika se gemeenskappe met kundigheid en kapitaal te bemagtig, het die ANC onder sy huidige leierskap verkies om die einste rasgebaseerde ekonomiese stelsel wat tot maatskaplike ongelykheid gelei het, ongeskonde te laat en eerder op rassebasis ’n klein groepie swartmense by die stelsel in te lyf. Die gevolge was voorspelbaar: volgens die jongste skatting is die swart middelklas in die ware sin van die woord skaars 300 000 sterk, terwyl die gaping tussen ryk en arm toegeneem het tot van die hoogste ter wêreld. Wat kulturele diversiteit betref: in plaas daarvan om dit as nasionale bate te ontgin, is ’n gesaniteerde verbruikerskultuur met niksseggende simbole geesdriftig as nastrewenswaardig omhels. Die ANC se kommunikasiehoof, mnr. Smuts Ngonyama, het selfs onlangs in ’n regstreekse uitsending van die BBC onbeskaamd gesê dat hy “ook die Amerikaanse droom” vir Suid-Afrika droom. Ook hier was die gevolge voorspelbaar: in plaas daarvan om die miljarde rande van die land se onderwysbegroting aan moedertaalonderrig te koppel, word die onderwysstelsel al hoe ondoeltreffender en is dit, ironies genoeg, amper net die Afrikaanse kultuur wat werklik op ’n bloeitydperk aanspraak kan maak – wat waarskynlik moeilik sou gebeur het sonder die kapitaal waaroor die Afrikaanse wêreld beskik, anders as die ander taalgemeenskappe. Terwyl die ANC van die een binnegeveg na die ander strompel, bestaan die versoeking om moedeloos te word. Die argument lui dan dat die welstand van die land gaan afhang van wat die ANC in Desember doen. Om so te redeneer, is om net soos in die vorige bedeling, die land en sy gemeenskappe se welstand afhanklik van die sentrum van staat en party te stel! Waarskynlik die belangrikste prestasie van Suid-Afrika sedert 1994 is die volgehoue versterking van die burgerlike samelewing. Trouens, was dit nie vir nuwe kulturele, maatskaplike, religieuse en werkersenergie die afgelope vyf of ses jaar nie, sou ’n mens inderdaad in sak en as oor die ANC se doen en late kon sit. In hierdie nuwe burgerlike energie beskik die land oor die vertrekpunt vir ’n Suid-Afrika anderkant rasbeheptheid en maatskaplike ongelykheid. Maar waarheen moet hierdie burgerlike energie die land voer? In Die Vrye Afrikaan is al by verskeie geleenthede gepleit vir ’n Suid-Afrika as gemeenskap van gemeenskappe, ’n land waarin die welstand van ons gemeenskappe die leidinggewende gedagte is. Dit is egter nie genoeg nie. Gesprek moet nog gevoer word oor ’n staat wat sowel gemeenskappe met ’n sterk historiese selfbewussyn as Suid-Afrikaners wat verkies om hulleself eerstens as Suid-Afrikaners te sien, kan huisves. So ’n staat sal as’t ware sowel die geheel van ’n diverse nasie as sy verskillende dele met mekaar balanseer, en veel minder klem op die party plaas as wat tans gedoen word. Nog ’n allernoodsaaklike gesprek moet oor die ekonomiese stelsel gevoer word. As selfs die redakteur van Business Day na die huidige vorm van Suid-Afrikaanse kapitalisme as “verrot” verwys, is dit ’n teken dat die gesprek oor ’n inheemse ekonomiese stelsel wat welvaart meer eweredig versprei, maar wat ook eerder volhoubaarheid as verbruik tot die ideaal stel, gevoer moet word. Die debat is lankal nie meer tussen markkapitalisme en sosialisme nie, maar tussen ’n gemeenskapskapitalisme en die heersende ekonomiese orde. Nóg die staat, nóg die mark gaan op hul eie die land uit sy huidige ekonomiese probleme lei. Dan is daar ook die kwessie van selfrespek in Suid-Afrika. Dit is te veel dat Suid-Afrikaners die bemarkerstaal van ’n “wêreldklasland” hoor, terwyl dienslewering, onderwys, gesondheid en dergelike agteruitgaan. Die versugting om “wêreldklas” te wees, word ingegee deur die alte geldige verlange na herwonne selfrespek, maar hierdie land sal sy selfrespek nie in die eerste plek deur ’n suksesvolle nabootsing van uitheemse voortreflikheidsnorme herwin nie, maar danksy voldoening aan die land se eie behoeftes met behulp van tuisgemaakte oplossings wat die beste uit die buiteland neem, sonder om dit klakkeloos hier toe te pas. Terwyl Desember se ANC-konferensie vinnig nader, kan die res van Suid-Afrika hulle dus goed besig hou met die bou van ’n Suid-Afrika waarin die sentrum nie alles is nie, maar waarin die sentrum die spieël van ’n groter, selfrespekterende ons is. |