|
||||
Piet Strauss
*Hoofleier van Die Voortrekkers en moderator van die NG Kerk. Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van ’n lesing gehou op 10 Augustus 2007 in Orania.
In ’n gesaghebbende opname – geïnisieer deur Die Voortrekkers – onder 389 jong Afrikaanssprekende leerlinge in Junie 2005 het 40% van die ondersoekgroep beweer dat die negatiewe verlede van Afrikaners ’n effek op hulle lewe het. Slegs 26 % was van oordeel dat ander in Suid-Afrika bewondering of waardering vir Afrikaners het. ’n Beduidende deel van die groep was dus deeglik bewus van woelinge in Suid-Afrika oor die sogenaamde “omstrede” verlede van Afrikaners (’n uitdrukking van die historikus FA van Jaarsveld).
Openlike identifisering met Afrikanerskap
En tog, verrassend genoeg, was daar ’n openlike identifisering met Afrikaners deur ’n groot persentasie van die ondersoekgroep. So het 93 % van hulle verklaar dat hulle trots is om Afrikaner te wees, en 86% dat hulle glo dat hulle kinders ook so genoem sal wil word. Hierdie tendens is bevestig deur ’n opname van die vakbond Solidariteit teen die einde van 2006 onder 160 leiers van Afrikaanse hoërskole. In hierdie opname het 76 % verklaar dat Afrikanerskap vir hulle baie belangrik is. Dat ons hier met ’n nuwe golf Afrikanergeesdrif te make het, is onlangs bevestig met die meesleurende gewildheid van Bok van Blerk se lied “De la Rey…” Talle jongmense, waaronder die Nasionale Jeugraad van Die Voortrekkers, het op hierdie gewildheid kommentaar gelewer deur te sê dat dit niks met rassisme of radikaliteit of aggressie te make het nie, maar ’n blote uitdrukking is dat hulle Afrikaners is. In die opname van Solidariteit het sommige sonder meer en sonder enige inhibisie verklaar dat hulle nie net Afrikaners nie, maar Boere is. “As Bok van Blerk sê ons is Boere, is ons Boere!”. Selfs die ANC se Minister van Kultuur, Pallo Jordan, wat ’n ding sien kom het, het na die impak van die lied verwys en verklaar dat hierdie jonges binne hulle regte optree. In my eie gesprekke met Presidentsverkenners onder Die Voortrekkers die afgelope maand, is die waarneming van ’n nuwe geesdrif rondom Afrikanerwees bevestig. Op my stelling dat hulle glad nie skaam is om Afrikaners genoem te word nie, het hulle bevestigend geantwoord. Dit gaan in hierdie opsig meer spontaan en makliker as 10 of 20 jaar gelede. Twee verdere waarnemings kan hier gemaak word.
Nie definieer
Die eerste is dat hierdie strewe na Afrikanerwees nie daarop ingestel is om die begrip “Afrikaner” te definieer en vanuit so ’n definisie in en uit te sluit nie. Inteendeel, die gevoel skyn veel eerder te wees dat almal wat hiermee assosieer, welkom is. Hy of sy, so loop die oortuiging, is ’n Afrikaner wat met Afrikaners assosieer. ’n Uitdrukking wat in Vrystaatse Voortrekkerkringe hiervoor gebruik word, is: “Ek is ’n Afrikaner en klaar.” Ek “maak” dit tot in die Afrikanerkultuurhuishouding deur assosiasie en nie omdat daar iewers ’n gesagvolle raad is wat oor my toelating besluit en dit amptelik aankondig nie. En, los die intellektuele gefuif met julle seksionele voorwaardes of groepiedefinisies, omdat selfs die eienskappe wat ons met mekaar deel, vrye assosiasie impliseer. Hierdie vrye assosiasie is gekoppel aan die wete dat dit nie om ’n vooruitbeplande denkskema wat in- en uitsluit, gaan nie, maar ’n spontane golf van emosie en innerlike oortuiging is wat soms stilweg, soms soos stormwater, gewilliges meesleur en op die oog af nie sommer gestuit gaan word nie. ’n Afrikanergevoel wat niemand wat buite is, wil benadeel of verontreg nie en moeg is vir die gevoellose druk om sy eie bestaan te regverdig, te verdedig of te omlyn. So asof apologie die enigste metode tot oorlewing is. Afrikanerwees is weer “in”. Dit is by baie jong Afrikaners nie ’n debatspunt nie, maar ’n gegewe. Om eie helde soos De la Rey te hê, is weer ’n natuurlike behoefte. Boonop weier die jong Afrikaner om met sy volk se verlede soos ’n albatros om sy nek rond te loop. Is dit nie ons eie Oom Paul Kruger wie se woorde onder jong Voortrekkers weerklink nie: “Neem uit die verlede wat goed is…”?! Aanvaar ons dan sonder enige kommentaar die magsgeoriënteerde en –beluste stelling dat hulle wat die bewind oorneem, altyd reg is? Van wanneer af is mag altyd reg? Die tweede waarneming wat hier ter sake is, is die moontlikheid dat die druk en negatiwiteit wat ook jong Afrikaners tans in hulle geboorteland ervaar, sorg vir die oplewing om by vernuwing te waardeer wat hulle eie is. Dit is asof die innerlike besef dat ons ook sekere regte het en kan aanspraak maak op ’n sinvolle lewe waarin ons ons kultuureie koester, sterker klop as die negatiewe gevoelens oor ons groep en die eensydige, veralgemenende afskryfpogings van hulle wat ons welsyn verafsku. Dit bly waar. As jou eie onder druk kom, waardeer jy dit wat die moeite werd is daarin opnuut en meer. Daarom kommunikeer die sêding: “Afrikaner, jy mag maar aan jou eie kant wees”, so sterk met ons jonges. Onder die huidige druk kom Afrikaners in groter groepe meer gereeld en makliker by mekaar uit en vorm ons alliansies waarin dit wat gemeenskaplik is, beklemtoon word en verskille opsygeskuif word. Dit is asof kleiner verskille weelde word waarsonder ons kan klaarkom. En asof ons krag nie in ons getalle geleë is nie, maar in dit wat vir almal reg en goed is.
Ruimte deur die staat gewaarborg
In die nuwe situasie in Suid-Afrika na 1994 word dit al hoe meer opvallend dat jong Afrikaners se opvattings oor geregtigheid reeds gekleur word deur die beginsel van gelykheid. In die opname van Solidariteit het 95 % van die respondente verklaar dat hulle van regstellende aksie vrygestel moet word, omdat dit op ongelykheid neerkom. Die huidige implementering daarvan sou tot ’n wrok lei wat in rassisme omsit, omdat hierdie wrok ’n teiken soek. In die Voortrekkeropname van 2005 het 43 % van die leerders uit grade 10 tot 12 gevoel dat hulle in Suid-Afrika nooit op ’n gelyke voet vir werk of beurse sal kan aansoek doen nie, terwyl 65 % van diskriminasie aan hulle eie persoon gewag gemaak het. Die Nasionale Jeugraad van Die Voortrekkers het as tema vir 2007 die stelling “Gelyke geleenthede” gekies omdat dit volgens hulle hul kernstrewe in Suid-Afrika verwoord. Wat deesdae opvallend is, is dat jong Afrikaners, soos hulle ouer eweknieë, nie verder kom as gelykheid en vrye assosiasie as ideale binne ’n eenheidstaat nie. Indringende gesprekke hieroor ontbreek, wat daarop dui dat die geesdrif daarvoor op ’n laagtepunt is. Meer nog, Suid-Afrika is wat hulle betref nie ’n Afrikanerrepubliek nie, maar slegs een waarin Afrikaners gelyk en daarom regverdig behandel moet word. Volgens hulle kan en gaan die kultuur van Afrikaners slegs oorleef binne die ruimte wat die Suid-Afrikaanse regering daarvoor waarborg. Wat hulle entoesiasme egter knou, is die knaende gevoel dat ’n Afrikanervriendelike omgewing of ruimte vir hulle as minderheid slegs deur gedurige stryd waarvan die uitkoms nooit gewaarborg kan word nie moontlik is. Die voortbestaan van Afrikaners en Afrikaans in Suid-Afrika word deur baie jong Afrikaners beskou as die enigste moontlike toekomsruimte vir hierdie kultuur, omdat dit by wyse van emigrasie na die buiteland ’n swakker kans sou hê. Hulle is daarvan oortuig dat die tweede en derde geslag by emigrasie kultureel inskakel by die land van hulle verblyf. ’n Assosiasie wat hulle ook van emigrante na Suid-Afrika sou verwag.
Kultuur vra nie na ras
’n Ander opvallendheid onder jong Afrikaners is dat hulle kultuur en ras nie langer saamkoppel nie, maar glo én ervaar dat mense van verskillende rasse aan dieselfde kultuur kan behoort. In ’n kwalitatiewe opname wat Eion du Toit in opdrag van sekere kultuurorganisasies onder jong Afrikaners tussen 18 en 35 gedoen het, het ’n groot aantal gewag gemaak van die voordeel dat sommige kultuurorganisasies ook ruimte maak vir gekleurdes wat met Afrikaans en Afrikaners as eie taal- en kultuurgroep assosieer. In Die Voortrekkers, wat sterk staan op Afrikanerwees as toelatingsvereiste, is die woordjie “blank” reeds in 1993 uit die grondwet gehaal. ’n Saak wat nie meer ’n debatspunt binne of buite die beweging is nie. Die uitgangspunt is dat kultuur nie rasbepaald nie, maar siels- of hartsbepaald is. Iets van Spreuke 4 vers 23, dat uit die hart van die mens die oorspronge van die lewe is. Ons het hier te make met ’n verskynsel wat klop met die ervaring en die werklikheid waarin jong Afrikaners hulleself al hoemeer tuis vind. Die ervaring is dat hierdie assosiasie met kultuurgroepe in Suid-Afrika oor rassegrense heen steeds ’n redelike nuutjie bly en daarom beperk is. In ’n onderhoud met ’n Afrikaanse tydskrif oor die moontlike transformasie van Die Voortrekkers het ek onlangs verklaar dat ek nie kennis dra van hoeveel gekleurdes daar in die beweging is nie, omdat dit vir ons oor kultuur gaan en nie oor ras nie. Ek beskou dit dus nie as ’n geregverdige of wettige faktor om op te roem as dit kom by die aantal gekleurdes in Die Voortrekkers nie. Dit is immers inkonsekwent as jy sê dat jou toelatingsvereistes net kultureel van aard is, maar jy hou boek van ander oorwegings soos ras. Boonop gaan dit by Die Voortrekkers om die reformasie van ’n Christelike kultuurbeweging vir jong Afrikaners en nie ’n Suid-Afrikaanse politiek- en rasgeoriënteerde transformasie nie.
Kultuur nie staatsgebonde
Die onlangse verstrooiing van Afrikaners oor baie lande heen het ’n ou waarheid onderstreep: kultuur is nie land- of bodemgebonde nie. Wat jong volks- of kultuurgenote saambring, is nie noodwendig “bloed en bodem” (à la Hitler) nie, maar hulle assosiasie met ’n gemeenskaplike taal en kultuur. Talle dekades van Voortrekkers en ander Afrikaanse kultuurorganisasies wat bestaan het in Suid-Afrika, Namibië en die ou Rhodesië bevestig dit. So erken die Namibiese Voortrekkers hulle eie landsvlag tydens seremonies, maar handhaaf hulle ook die erkende Voortrekkervlag, wat die vlag van die ou Republiek van Natalia was. Hierdie toedrag van sake onderstreep die waarheid dat kultuur nie staatsgebonde is of staatkundig ingeperk kan word nie. Kultuurorganisasies en kultuur vorm, soos geloof, gemeenskaplikhede wat bo-oor staatsgrense heensny en mense saambind. Net so kan Afrikaners in verskillende lande Afrikaners bly. As ’n kultuurgemeenskap ’n bepaalde staat met ’n bepaalde regeringsvorm nodig het om te kan bestaan, kan dit, soos die betrokke staatsowerheid, soms erg wisselend en onbestendig wees.
Christelike begronding In beide die opname van Die Voortrekkers en Solidariteit was daar sterk sentimente vir Christenskap as ’n lewenshouding. In eersgenoemde het 92 % van die respondente hulle positief uitgespreek oor ’n Christelike grondslag vir ’n jeugbeweging, terwyl 97 % van laasgenoemde hulle ten gunste van Christenskap uitgespreek het. |