blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Sarkozy 2007-10-18
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]

 

Bekoor deur sy geesdrif en sy energie, soos die kinders deur die rottevanger van Hameln, het talle mense van alle oortuigings geswig voor die toorkuns van mnr. Nicolas Sarkozy. Des te meer daar die hoofstroommedia nog nie opgehou het om hom te verheerlik deur hulle oorgawe aan ’n operasie van massabedwelming nie. So het daar dan in Frankryk ’n soort kollektiewe hipnose ontstaan voor ’n president besete van onstigtelike hiperaktiwiteit en borrelend van dikwels newelagtige inisiatiewe.

             Die skille begin egter van die oë afval namate die ware aard van die jongleur – liberaal en brutaal – onthul word. Dit was duidelik vanaf die eerste ekonomiese en maatskaplike aankondigings (belasting op hoë verdieners, ’n fiskale skild, boedelbelasting, mediese toelae, ekstra werksure) getrou aan die wese van die neoliberalisme self. En dit het nog ooglopender geword sedert mnr. Sarkozy se uitsprake by die somerkongres van die Beweging van Franse Ondernemings (Medef) op 5 September, asook by die veertigste verjaardagviering van die Vereniging van Maatskaplike Joernaliste (AJIS), op 18 September (1).

             “Die hantering van die vraagstuk van die spesiale bedelings van afgetredenes,” het mnr. Sarkozy geoordeel, “moet nou voorrang geniet” en “sonder verdere omhaal hervorm word”, aangesien “die verskille in situasies wat hierdie of daardie spesifieke voordeel, afkomstig van voor die Tweede of selfs die Eerste Wêreldoorlog, geskep het, grootliks verdwyn het.” Die hervorming moet lei tot ’n nuwe verlenging van die duur van salaristrekkers se pensioenbydrae tot 41 jaar, in plaas van die huidige 40 jaar.

             Hy het ook die begin van ’n “groot debat oor gesondheidsbefondsing” aangekondig, want volgens hom “is dit nie die taak van die staat se mediese versekering om vir alles te sorg nie”. ’n Deel moet “kom uit individuele bydraes tot ’n bykomstige dekking”. Met ander woorde, uit individuele mediese dekking vir die rekening van die pasiënt, soos in die Verenigde State, waar meer as 50 miljoen mense sonder enige mediese dekking is (2).

             Die president het sy voorneme herbevestig om “nog verder te gaan” met die “onafwendbare” aftakeling van die huidige 35 uur werkweek. Hy het bygevoeg dat hy die stelsel van vroeë aftrede beëindig wil sien. En dat hy van voorneme is om “prosedures en sanksies wat sowel doeltreffender as fermer is” teen werkloses wat werksaanbiedinge weier, te bepaal. Dus ’n frontale, ongekende aanslag teen maatskaplike winste. Die linksgesindes het hulle nie misgis toe hulle “die mees omvattende anti-maatskaplike offensief van die laaste vyftig jaar” (3) afgewys het nie.

             Ook die nuwe benadering in die Franse buitelandse beleid, soos op 27 Augustus uiteengesit voor die konferensie van Franse ambassadeurs, het genoeg om ’n mens hard met die aarde kennis te laat maak. Wat die Nabye en Midde-Ooste betref, kom dit neer op ’n Kopernikaanse rewolusie vergeleke met Parys se internasionale posisie soos deur generaal De Gaulle vasgestel by die stigting van die Vyfde Franse Republiek in 1958.

             Terwyl hy sy alliëring met president George W. Bush en die hardste teses van die neo-konserwatiewes bevestig, hervat mnr. Sarkozy op sy beurt die idee dat “die eerste uitdaging en sonder twyfel die belangrikste” wat Frankryk in die gesig staar, ’n “konfrontasie tussen Islam en die Weste” is. Afgesien van die absurditeit daarvan om die probleem in hierdie terme te stel, is daar nie ’n woord oor Washington se foute nie, nóg oor die verrotting wat veroorsaak is deur die niebeslegting van die Israels-Palestynse konflik.

             Oor Iran is sy stellings in so ’n mate op dié van die Amerikaanse departement van buitelandse sake geskoei, dat sy minister van buitelandse sake, Bernard Kouchner, kon verklaar dat ’n oorlog teen Teheran ’n denkbare opsie is. Dit is om sig daarop voor te berei dat die minister van verdediging, Hervé Morin, laat blyk het dat Frankryk weer sy volle plek in die geïntegreerde militêre struktuur van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) kan opneem.

             As talentvolle taktikus en meestermaneuvreerder het mnr. Sarkozy oor die laaste weke met sy ekskursies op die terreine van maatskaplike en buitelandse sake onthul dat hy geen strateeg is nie. Hy weet nie hoe om ver te sien nie.

_________

(1)        Die volle teks van hierdie twee toesprake is beskikbaar op die amptelike webwerf van die Franse presidensie by www.elysee.fr

(2)        Kyk na Michael Moore se dokumentêre rolprent Sicko.

(3)        Associated Press, 18 September 2007.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=919
Artikel nagegaan:
    -