blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Hulle was ook ons: Paul Kruger: Republikein van sy tyd 2007-10-18
Pieter de Klerk

*Vakgroep Geskiedenis, Vaaldriehoekkampus, Noordwes-Universiteit.

 

In die geskiedenis van Suid-Afrika en ook in die geskiedenis van Afrikaners beklee die figuur van Paul Kruger (1825-1904) ’n besondere plek. Reeds tydens sy lewe is hy gesien as die verpersoonliking van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), waarvan hy die staatspresident was. Vir baie Afrikaners het hy reeds kort na sy dood uitgegroei tot meer as ’n historiese figuur; hy het ’n volksimbool geword. Hulle kon hulle vereenselwig met sy stryd teen Britse oorheersing en sy onafhanklikheidsideaal en ook met sy politieke beskouinge. Hierdie beskouinge is egter in die loop van die tyd op verskillende wyses geïnterpreteer.

Daar is baie oor Kruger en sy politieke opvattinge geskryf, maar min intensiewe studie van sy beskouinge gedoen. Kruger het ’n groot aantal toesprake gelewer, veral by volksbyeenkomste en in die Volksraad, en talle uitlatinge wat hy tydens sy presidentskap in die openbaar gemaak het, is opgeteken. Baie skrywers het net ’n seleksie van Kruger se toesprake gebruik, en dit bring onvermydelik ’n bepaalde eensydigheid in hul interpretasies mee. ’n Selektiewe benutting van Kruger se uitlatinge maak dit ook moontlik om bepaalde beskouinge in sy woorde in te lees.

Reeds in geskrifte wat tydens sy lewe verskyn het, is Kruger se politieke beskouinge op uiteenlopende wyses geïnterpreteer. In die jare kort voor en tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 het Kruger in die hele Westerse wêreld die verpersoonliking van die Boere en hul verset teen die Britte geword. In werke wat die Britse optrede in Suid-Afrika verdedig het, is hy voorgestel as ’n outokratiese regeerder wat nie net die regte van Britse onderdane in die ZAR onderdruk het nie, maar wat ook daarop uit was om van die hele Suid-Afrika ’n Boererepubliek te maak. Hy was volgens sommige van hierdie skrywers ’n man met agterlike beskouinge, en die groot struikelblok in die pad van vooruitgang in Suid-Afrika. Skrywers wat simpatiek teenoor die Boere gestaan het, het hom daarenteen beskou as ’n ware demokraat en soms ook as liberaal en versiende in sy opvattinge. Daarbenewens was hy volgens hulle ’n Boerepatriot wat sy volk teen die Britse imperialisme probeer beskerm het.

Meer as drie dekades later, in die jare voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog, is die Krugerfiguur vir propagandistiese doeleindes aangewend en het verskeie boeke en artikels oor hom in Duitsland, Nederland en België verskyn waarin hy as ’n voorloper van die Nasionaal-Sosialisme voorgestel is. In Suid-Afrika het aanhangers van Nasionaal-Sosialistiese denkbeelde, wat wou wegdoen met die parlementêre stelsel en ’n republikeinse staat stig waarin die Afrikanervolk op ’n “organiese” wyse verteenwoordig sou word, probeer aantoon dat Paul Kruger eintlik ’n “organiese” staatsbeskouing gehuldig het. Na afloop van die oorlog het hierdie geskrifte gou vergete geraak.

Die sterk oplewing van Afrikanernasionalisme gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu het verder meegebring dat Kruger, ook deur sommige wetenskaplike historici, voorgestel is as ’n vroeë Afrikanernasionalis. Vandag word Kruger se nasionalisme meestal nie sonder meer as ’n vorm van Afrikanernasionalisme beskou nie. D.W. Krüger, wie se biografie van Paul Kruger tans gereken word as die mees gesaghebbende van die talle biografieë wat daar van hom verskyn het, skryf dat Kruger nie, soos sy tydgenoot S.J. du Toit, ’n Pan-Afrikaanse nasionalis was nie, maar eerder ’n eksklusiewe Transvaalse nasionale strewe gehad het.

F.A. van Jaarsveld toon aan dat die omvang en inhoud van Kruger se geskiedenisbeskouing beperk was tot sy volk, die Transvaalse Boere; dit dui eweneens op ’n nasionalisme wat nie wyer gestrek het as Transvaal nie. G. Schutte, ’n Nederlandse kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is van mening dat in Kruger se Transvaalse nasionalisme lojaliteit teenoor die Transvaalse staat, en nie organiese Afrikaanse volkseenheid nie, die vernaamste element was. Sy nasionalisme het die grense van die Afrikanergroep oorskry en almal wat hulle, ongeag herkoms en geloof, as getroue Transvaalse burgers bewys het, ingesluit.

Kan Kruger se politieke opvattinge as Calvinisties beskou word? Meningsverskille hieroor hang nie net saam met verskillende interpretasies van Kruger se beskouinge nie, maar ook met verskillende sieninge van wat onder Calvinisme verstaan moet word. Die Potchefstroomse historikus J.S. du Plessis het in 1952 ’n seleksie van Kruger se toesprake en verkiesingsmanifeste gemaak. In sy verklarende aantekeninge by hierdie bronnepublikasie skryf hy dat Kruger waarskynlik beïnvloed is deur die Nederlander A. Kuyper (1837-1920), vader van die sogenaamde Neo-Calvinisme, en dat uit Kruger se toesprake blyk dat hy onder meer Kuyper se bekende beginsel van soewereiniteit in eie kring wat betref die verhouding tussen staat en kerk gehuldig het.

Die sosioloog T.D. Moodie, wie se interpretasie van die Calvinisme seker nie die instemming van die meeste mense wat hulself as Calviniste beskou sal geniet nie, sien in Calvyn se uitverkiesingsleer die oorsprong van die beskouing wat volgens hom deur die Boere, en die latere Afrikaners, gehuldig is, naamlik dat hulle die uitverkore volk van God is. Hy probeer aantoon dat hierdie beskouing in Kruger se toesprake na vore kom en is van mening dat Kruger veral daarvoor verantwoordelik was dat hierdie opvatting inslag by Afrikaners gevind het.

A. du Toit, ’n politieke filosoof, het egter Kruger se gebruik van terme soos “Godsvolk” en “verbondsvolk” ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat hy laasgenoemde begrip slegs in verband met die Ou Testamentiese volk Israel gebruik het. Hy het nie die Transvaalse Boere as ’n besondere uitverkore volk gesien nie. Verder toon hy, en ook Schutte, aan dat Kruger se opvattinge wel heelwat gemeen gehad het met negentiende-eeuse Nederlanders wat tot die Gereformeerde Kerk behoort het, maar dat Kuyper se laat negentiende-eeuse vernuwingsbeweging binne die Nederlandse Calvinisme nie ’n neerslag in Kruger se beskouinge gehad het nie.

Verskeie skrywers meen dat die agtiende-eeuse Verligtingsdenke ’n belangrike invloed op Kruger se beskouinge gehad het. F.P. Smit se omvattende studie oor Kruger se staatsbeskouinge berus op ’n deeglike ondersoek van al Kruger se opgetekende uitlatinge. Kruger se bekende woorde “die stem van God is die stem van die volk” beteken volgens hom dat Kruger sowel die oppergesag van God en van die volk aanvaar het en dat hy geen teenstrydigheid daarin gesien het nie; vir hom was “beide begrippe onafskeidbare onderdele van dieselfde Christelike en republikeinse staatsbeskouing”.

Indien die oppergesag van God as ’n Calvinistiese beginsel beskou moet word en volksoewereiniteit as ’n beskouing wat onder meer deur die agtiende-eeuse Nederlandse Patriotte ondere invloed van die Verligtingsdenke aanvaar is, dan was Kruger “Calvinis en patriot”. D.W. Krüger meen dat Kruger se beskouinge oor die soewereiniteit van God en dié van die volk as ’n “natuurlike samesmelting” van Calvinisme en liberale demokrasie gesien moet word. In ’n resente wetenskaplike artikel word, myns insiens tereg, verklaar dat Kruger in sy politieke opvattinge, veral in die beskouing dat die volkstem die koningstem is, hom ’n “intellektuele afstammeling van die Franse Rewolusie” toon.

Wat was Kruger se beskouing oor die beleid wat teenoor die swart inwoners van die ZAR gevolg moet word en hoe het hy hul politieke toekoms gesien? Dit is ’n vraag wat verskeie twintigste-eeuse skrywers gestel het in die lig van latere ontwikkelinge en veral die ontstaan van die apartheidsbeleid.

Smit, en verskeie ander skrywers, wys daarop dat Kruger besef het dat die “naturelle-vraagstuk” een van die moeilikste is waarmee Suid-Afrika te kampe het en dat hy verklaar het dat iemand wat ’n oplossing daarvoor vind die land se grootse weldoener sou wees. Kruger het geglo dat dit sy regering se plig is om die Christelike beskawing en godsdiens na “die onbeskaafde en barbaarse naturelle” uit te brei. Eers moet die swartmense egter verplig word om die gesag van die “blanke staat” te eerbiedig.

Hy was sterk gekant teen slawerny en slawehandel en het geglo dat swartmense ewe veel reg het op beskerming deur die wet as die blankes; daarom moet hulle gelyke toegang tot die howe hê. Hy was egter teen gelykstelling van blank en swart en teen rassevermenging gekant. Tog het hy ook geglo dat, namate die swartmense “in beskawing toeneem”, hulle beter behandel moet word en meer geleenthede vir hulle geskep moet word.

In ’n tyd toe die meeste Europeërs (in Europa en in Suid-Afrika) die swartmense van Afrika beskou het as mense wat op ’n laer beskawingsvlak as hulself is en onder Westerse voogdy behoort te staan, kan Kruger se siening nie as eng beskou word nie en was hy meer liberaal en versiende as die meeste Boere van die ZAR. Sy beskouinge weerspieël tog in groot mate dié van die Boere van daardie tyd en Kruger self het nie ’n betekenisvolle bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die rasse-opvattinge en rassebeleid van die Afrikaners nie.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=918
Artikel nagegaan:
    -