blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Izak de Villiers se “Nuwe Romantiek vir Afrikaners”: ‘n Lesing gelewer by ‘n byeenkoms van ‘n werksgemeenskap van die SA Akademie, Johannesburg, 25 November 2004 2004-12-02
Danie Goosen

Ons begin met enkele formele opmerkings oor die gesprek oor Afrikaners en hoe die lesing van Izak de Villiers daarbinne pas. Daarna sal kortliks na enkele inhoudelike temas in die betrokke lesing verwys word.

1. Formele opmerkinge
As ons werklik 'n sinvolle gesprek oor Afrikaners en hul toekoms wil hê, sal ons moet skerm teen 'n nuwe soort sensuur waaraan dit onderwerp word. Dit is meestal 'n selfopgelegde sensuur, 'n sensuur vanuit Afrikaners self, en nie 'n sensuur van elders of vanuit die staat nie. Slegs enkele voorbeelde illustreer die punt.

a). Die sensuur vanuit die argument van moegheid.  
Sommige deelnemers aan die gesprek voer dikwels aan dat hulle moeg is vir die gesprek. Maar waarom dié sensuur vanuit die argument van moegheid?

 Die argument oor moegheid is 'n moeë argument. Dit vooronderstel dat vrae na identiteit iets is wat afgehandel en agterweë gelaat kan word. Die teendeel is egter waar. Identiteit is iets wat altyd weer opnuut opgeneem, bevestig, ontken of verander moet word. Identiteit is 'n dinamiese ding. Daarom word daar ook altyd weer daaroor nagedink.

 Die vraag na ons identiteit is 'n vraag wat altyd weer 'n appèl op ons menswees maak. Daarvoor raak 'n mens nie moeg soos wat ons vir 'n cliché moeg raak nie. Stel jou voor 'n Sokrates of 'n Plato of 'n Aristoteles sou ooit moeg geword het vir die vraag na die wese van die dinge! Dié vraag appèlleer altyd weer. So ook die vraag na ons identiteit.

 Izak de Villiers se lesing is deel van die groter gesprek oor Afrikaners. En as sodanig is dit 'n voorbeeld vir ons. In die betrokke lesing is daar nie 'n spoor van moegheid te bespeur nie. Inteendeel, sy apologie vir 'n nuwe romantiek onder Afrikaners getuig juis van 'n energieke soeke na antwoorde. Geen moegheid nie, maar eerder die driftige soeke. Al sou 'n mens ook met hom verskil, is die punt is dat die onderliggende stemming in sy werk nie ene van tamheid en selfs satheid is nie, maar eerder van bevestiging. Daarmee wil die lesing ten diepste 'n antwoord wees op die eise wat vandag aan ons gestel word, en nie 'n vlug voor dié verantwoordelikheid nie.

b). Die sensuur vanuit die argument van ouderdom. 

Sommige Afrikaners wat aan die gesprek oor Afrikaners deelneem, voer aan dat dié gesprek slegs deur middeljarige mans gevoer word. Daarom, word afgelei, is die gesprek nie ter sake is nie.
 
 Waarom die sensuur vanuit die ouderdomsargument? Dui dié sensuur - meestal uitgeoefen deur middeljariges op ander middeljariges - nie op 'n verlies aan sin vir die volwasse argument nie? Het ons nie hier te doen met 'n geabdikeerde volwassenheid wat in die jeug 'n soort utopie van verlore kanse ervaar en in die proses hul eie volwasse verantwoordelikheid ontduik nie? Talle bloedjong mense sal waarskynlik daarmee saamstem, ironies genoeg.

 In De Villiers se lesing is daar nie 'n spoor van selfopgelegde ouderdomsinhibisie nie. Inteendeel, sy apologie vir 'n nuwe romantiek getuig van 'n verfrissende jeugdigheid. Ouderdom self is nie 'n argument vir of teen die gehalte van 'n argument nie.

 Dikwels word die gesprek oor Afrikaners deur afkeur in die verlede onderlê. Die De Villiers-lesing word daarenteen deur 'n affirmatiewe stemming, 'n ja-sê stemming gekenmerk. Die vraag is natuurlik of daar 'n verband is. Is daar 'n verband tussen die ouderdomsargument en die afkeur wat die debat dikwels kenmerk? Ek dink daar is. Dit kan so geformuleer word. As die verlede iets is wat jou net met afkeur vervul, bly daar vir jou net een weg oop en dit is om volledig anderkant dit te tree. En juis dan is die sogenaamde jeug die utopiese allerantwoord, die onskuldige oersuiwerheid waarby ons moet aanhaak. Vadermoord is dan nodig om by die onskuld van 'n jeugdige toekoms uit te kom.

 As die verlede egter soos by De Villiers iets is waarby - ook krities - aansluiting gesoek moet word, dan word die voorwaardes geskep vir 'n volwasse opvatting van jou eie identiteit. Dan is daar nie pure jeugdige onskuldiges en onsuiwere ouere skuldiges nie. Dan, soos de Villiers self sê, soek jy die waarheid tussen die grootste van die verlede en die skande van die verlede, sonder om die skande ten koste van die grootsheid te beklemtoon.

c). Die sensuur vanuit stereotipering.

Sommige deelnemers aan die gesprek oor Afrikaners sensureer dit met kategorieë uit die verlede. Dié kategorieë het intussen tot uitgediende slagspreuke verhard. As sodanig hou hulle bloedweinig verband met die eise wat vandag aan Afrikaners gestel word. Nogtans word hulle ingespan.

 Die idee van 'n Afrikaner is juis so 'n voorbeeld. Wie homself as Afrikaner beskryf, word summier as 'regs' getipeer. Met watter gevolge?

 Om die woord 'Afrikaner' aan regs te bind, beteken dat 'n sensuur geplaas word op 'n wesenlike moontlikheid wat in enige woord en ook in die woord 'Afrikaner' skuil, naamlik om die woord binne 'n nuwe konteks ook 'n nuwe inhoud en betekenis te gee. 'n Mens kan vandag met groot oortuiging aanvoer dat dit ons verantwoordelikheid is om die woord 'Afrikaner' 'n nuwe, oop en onbevange inhoud te gee. Die eis op ons vandag is om aan die woord Afrikaner 'n sterk demokratiese inhoud te gee. Die eis is op ons om die woord Afrikaner te plaas binne 'n oop horison, binne 'n omvattende denkraamwerk waarin die Afrikaner een te midde van talle deelnemende gemeenskappe is. Die eis is op ons om die woord uit sy eng nasionalistiese raamwerk te haal en daaraan 'n demokratiese gemeenskapsgevoel te gee. Deur die woord per definisie met regs te identifiseer, word dié verantwoordelikheid ontduik.

 Om sensuur vanuit ou kategorieë op die woord Afrikaner toe te pas, is om ironies genoeg 'n tipies fundamentalistiese ding te doen. So word die beswaarmakers teen die fundamentalisme self fundamentalisties. Waarom? Omdat hul sensuur op die woord Afrikaner dit juis - soos in die fundamentalisme - aan die verlede vasspyker en so in één betekenis vasvang. Maar so word die beswaarmakers die blote negatiewe spieëlbeeld van dit waarteen hulle beswaarmaak.

 Teen hierdie agtergrond geoordeel is De Villiers se lesing verfrissend. Daarin is nie spore van 'n selfopgelegde sensuur vanuit die argument van regsheid te vind nie. Inteendeel, in sy onbevange apologie vir 'n nuwe romantiek is dit eerder die teendeel daarvan. Dit word eerder gemerk deur die bereidheid om die woord oop te breek en met nuwe energie te vul.

2. Inhoudelike opmerkings.

a). Izak de Villiers vooronderstel dat dit hoegenaamd nodig is om opnuut oor so iets soos Afrikaners na te dink en daaraan 'n nuwe - romantiese - inhoud te gee. Oor die romantiek self later enkele opmerkinge. Oor die noodsaak om vandag nuwe inhoud aan die woord te gee, stem ek saam. Die grondliggende ervaring dat Afrikaners, ten spyte van ons relatiewe ekonomiese welvaart, as kultuurgemeenskap met 'n ernstige vorm van gebrek aan selfvertroue te doen het, is iets wat herskepping noodsaaklik maak. As kultuurgemeenskap  (en nie as 'n versameling individualiste en dikwels suksesvolle ondernemers nie) ly ons aan 'kosmiese disoriëntering', soos sommige sou sê. Ons verlede is gekriminaliseer, terwyl ons meestal 'n vae denkbeeld van ons toekoms as kultuurgemeenskap het.
 
 Daarom die dwingende noodsaak van herskepping. En die noodsaak van iets soos die idee van die nuwe Afrikaner. Dié motief by De Villiers moet myns insiens hartlik ondersteun word. 

b). As 'n mens vandag oor Afrikaner-wees praat, moet dit geplaas word binne 'n radikale demokratiese idioom. Afrikaners van die toekoms moet die demokratiese etos vir hulself toeëien en 'n deelnemende gemeenskap te midde van ander gemeenskappe word. Dié demokratiese etos moet, soos hierbo gesê is, gesitueer word binne 'n oop en onbevange horison, dit is binne die horison van 'n groter geheel van dinge. In die proses behoort ons twee dinge te vermy, naamlik om in 'n minderwaardige staat van selfontkenning in te gly of nog steeds ou, misleidende en selfopgeblase drome van sentrale beheer in stand te hou. As 'n selfrespekterende en demokratiese gemeenskap wil ons 'n skeppende rol in die land speel sonder selfontkenning en selfopgeblasendheid.

 Juis dit doen De Villiers. Hy sluit aan by die demokratiese tradisie en soek in sy lesing 'n tussenposisie op tussen selfontkenning en selfopgeblasenheid. Die sterkpunt in sy hele lesing lê juis hier. "Ons hoef nie," sê hy, "bevelhebbers van 'n land te wees nie, maar ons hoef ook nie die emosionele en professionele varkwagters van 'n bedeling te word nie."

 De Villiers sê dat die Hegeliaanse sintese (in hierdie geval die sintese tussen die meerderheid en die minderheid) nie gesluit mag word nie. In ander woorde, die 'dialektiese gesprek' tussen meerderheid en minderheid mag nie nou en soos in die apartheidsverlede ten gunste van een van die partye tot dié gesprek met 'n onbreekbare sintese afgesluit word nie. In ons eie taal: As die minderheid in die verlede die meerderheid onder sy idee van eenheid toegemaak het, staan ons tans voor die wesenlike gevaar dat die meerderheid die minderhede onder sy idee van eenheid toesluit. Om daarteen in naam van die demokratiese etos te waarsku, is 'n legitieme ding om te doen. Om die waarheid te sê, die politieke gebeure loop altyd weer die gevaar om in die rigting van sodanige sluiting van die 'dialektiese' gebeure te beweeg. Altyd weer dreig een groepering om sy idee van die algemene op andere af te dwing. Maar daarom is daar ook altyd weer die noodsaak om in naam van die demokratiese tradisie te voorkom dat dié sluiting gebeur. Ons steun dié oproep van De Villiers.

c). Dit bring my by die idee van die 'romantiek' en in die besonder by die verhouding tussen romantiek en politiek.

 Dwarsdeur De Villiers se lesing word die noodsaak beklemtoon van die wil (en byvoorbeeld nie van die intellek nie). Afrikaners, sê De Villiers, moet in die eerste plek die wil openbaar om as gemeenskap voort te bestaan. Sonder dié wil is niks moontlik nie. Daarom sê hy ook: "Gegee die praktiese omstandighede waarin 'n Suid-Afrikaanse demokrasie hom bevind, sal elke geslag Afrikaner 'n wilsbesluit móét neem hoe hy as kultuurgroep of volk sal wil voortbestaan..." Telkens weerklink die wil in sy lesing. Die opmerkings hieronder is nie om die belangrikheid van die wil te onderskat nie. Maar méér is nodig.

 Vanuit sy klem op en voorkeur vir die wil is dit te verstaan waarop De Villiers ook by die idee van die 'romantiek' aansluiting vind. In 'n gewisse sin van die woord is die Europese Romantiek van die 18de en 19de eeue die eintlike manifestasie van die romantiese gees. En part en deel van dié Romantiek is sy onbeskaamde voorkeur vir die wil teenoor die intellek. As die Europese Verligting die intellek beklemtoon het, het die Europese Romantiek altyd weer die klem op die wil geplaas.

 My bedoeling met die kort verwysings is nie om vir die intellek teen die wil en vir die Verligting teen die Romantiek voorspraak te maak nie. Daaroor kan 'n mens natuurlik lank en breedvoerig gesels. En 'n mens sou in hierdie verband kon aanvoer dat die voor-moderne Europa daarin geslaag het om die intellek en die wil sáám te bedink. 'n Mens sou ook kon aanvoer dat die moderne spanning tussen die Verligting en die Romantiek eintlik 'n verwording teen die agtergrond van die ou Europese tradisie verteenwoordig. Dit verteenwoordig 'n verval van die ou Europese "sintese" tussen intellek en wil. Dié enorme teoretiese vraag is egter nie hier regstreeks ter sake nie. My bedoeling met die verwysings na die wil by De Villiers lê elders.

 Carl Schmitt het in sy werk uit die 1920's oor die Romantiek en die politieke reeds gewys op wat vir ons problematies van dié tradisie is. Dit hou verband met die samehang tussen die beroep op die wil en die politieke. As 'n mens Schmitt se beswaar teen die Romantiek in ons terme kan vertaal, kan 'n mens sê dat die Romantiek ons op 'n nie-politieke pad ('n pad onder meer van verinnerliking en versubjektivering) plaas. Anders geformuleer, met sy klem op die wil soek die Romantiek dikwels 'n wêreld op wat die politieke drama tussen politieke akteurs voorafgaan. As sodanig bied die Romantiek nie vir ons 'n politieke logika nie, maar verskuif dit eerder die aandag na die pre-politieke en selfs die nie-politieke.

 Die politiek het te doen met die drama wat tussen akteurs binne instellings afspeel. Sonder instellings kan die drama tussen politieke akteurs nie plaasvind nie en kan die demokratiese etos ook nie wakker gehou word nie. Deur slegs 'n beroep op die wil te doen sonder om te vra hoe dié innerlike instansie in eksterne instellings beliggaam moet word, dui op 'n bepaalde tekort. Deur slegs op die wil te fokus, kan nagelaat word om te vra hoe die veelheid van gemeenskappe vandag in Suid-Afrika op 'n sinvolle wyse deur demokratiese instellings erkenning en selfstandigheid kan verwerf. Ek verwys na instellings soos skole en universiteite, verteenwoordigende liggame, ensovoorts. Alhoewel die wil belangrik is, is die vraag hoe dié wil in demokratiese gemeenskapstrukture beliggaam moet word miskien nog belangriker.

 Nou sê ek nie dat De Villiers met sy klem op die wil volledig nalaat om oor praktyke en instellings na te dink nie. Daar is inderdaad verwysings in die lesing na die noodsaak van instellings, onder meer na die Akademie self as 'n instelling wat 'n belangrike rol in hierdie verband kan en moet speel. Maar indien daar nie riglyne bestaan oor hoe die wil in demokratiese strukture beliggaam word nie, loop die wil - en dit wys die geskiedenis van die Romantiese wil - die gevaar om óf deur 'n geslote (dikwels totalitêre) logika toegeëien te word óf volledig deur 'n moralistiese, piëtistiese in die voeë en bane van die privaat wêreld ingelei te word. Nie een van die twee uitlopers van die romantiese wil dien die idee van die demokratiese Afrikaner nie.

d). Die laaste punt hou verband met veeltaligheid. De Villiers sê hy is nie "oortuig dat die toekoms van Afrikaans gebind is aan die Afrikatale nie. Elkeen," sê hy, "móét self sy huis in orde kry."

 Ek dink De Villiers is reg. Die plig en verantwoordelikheid om Afrikaans 'n lewende taal te hou, lê in die eerste plek by die Afrikaanssprekendes. Sonder die gekonsentreerde sorg vanuit die Afrikaanse wêreld vir Afrikaans sal ons taal sy goed pak en die geskiedenis vaarwel roep. Geen taal in die moderne wêreld het tot 'n selfstandige taal in die letterkunde, die wetenskappe, ensovoorts, ontwikkel sonder dié gekonsentreerde sorg vir homself nie.

 Dit is egter net die een kant van die prentjie. Die ander kant moet myns insiens ook verreken word. Die opbloei van die moderne Europese tale was nie net die gevolg van die gekonsentreerde sorg van spesifieke taalgemeenskappe vir die eie taal nie. Die eie opbloei was ook as gevolg van die feit dat die eie taal 'n konteks vooronderstel het waarbinne 'n veelheid van ander bloeiende tale as nastrewenswaardige voorbeeld ervaar is. So het die veelheid van tale binne byvoorbeeld die 19de eeuse Europa mekaar mimeties tot ontwikkeling aangespoor. Dit is bykans onmoontlik om aan die Russiese letterkunde van dié tyd te dink sonder om ook tegelyk te verwys na die voorbeeld wat die Franse, Duitse en ander Europese letterkundes daarvoor was. Die een letterkunde was op 'n duisend en een wyses mimeties afhanklik van die voorbeeld van die ander letterkundes. Deur die mimetiese wedywering onderling het hulle ontwikkel. So was die ander letterkundes 'n onontbeerlike voorwaarde vir die eie letterkunde.

 Die punt is miskien self te verbluffend eenvoudig om te noem: As die eie partikuliere taal wil groei, moet hy 'n wêreld vooronderstel wat sigself as veeltalig aanbied. Dit wil sê 'n wêreld waarin die veelheid as normatief aanvaar word. Sonder die wêreld van ander tale kan die eie taal mettertyd ook nie sy eie partikulariteit handhaaf nie. Afrikaners se taak is om mee te werk aan die vestiging van so 'n wêreld in Suid-Afrika.

 Die praktiese en ideologiese struikelblokke vir 'n werklik veeltalige Suid-Afrika is natuurlik buitengewoon. Ons is eenvoudig gekonfronteer met die gevolge van die koloniale wêreld en die internalisering deur die gekoloniseerde elites in Afrika dat die Europese tale meerderwaardig en daarom voorbeelde is wat ten alle koste nageboots moet word. Miskien is dit waarvoor De Villiers terugdeins as hy sê die toekoms van Afrikaans nie aan die Afrikatale verbind is nie. En wie sou kon aanvoer dat hy nie 'n punt beet het nie?

 Nogtans moet 'n mens nie ook die moontlikhede in hierdie verband miskyk nie. Binne die kritiese literatuur oor die kolonialisme is daar reeds 'n uitgebreide gesprek oor die noodsaak om die Afrika-tale te ontwikkel. Ngugi wa'Thiongo betoog byvoorbeeld met oortuiging dat die kolonialisme nie deurbreek sal word solank as wat die voorbeeld van die koloniale tale gehandhaaf word en Afrikane nie hul eie tale ontwikkel nie. Ekonomiese selfstandigheid, sê hy, kan slegs gebeur wanneer die moedertale toegelaat word om te groei. Navorsers ondersteun dié punt reeds 'n geruime tyd.

 Afrikaners behoort die demokratiese taal van mense soos Ngugi aan te gryp. 'n Sterk saak kan juis vir Afrikaans uitgemaak word indien by hierdie demokratiese en anti-koloniale stemme uit Afrika aansluiting gesoek word. Die oproep is eenvoudig:  Vir die gemeenskappe en teen die elites se toeëiening van die ekonomiese, politieke en kulturele bronne; vir die moedertale van Afrika en teen verdrukkende eentaligheidsprojekte; vir die selfstandigheid van die gemeenskappe en teen die afhanklikheid jeens nasionale en besigheidselites. Afrikaners staan voor die histories belangrike uitdaging om dié demokratiese taal hul eie te maak.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=78
Artikel nagegaan:
    -